Vlam van verlange. Schalkie van Wyk
“As ek ’n tant Emma het – ek bedoel, as tant Emma werklik bestaan en my ma se jonger suster is – waarom het sy jóú gestuur om my te kom haal? Hoekom het sy nie self gekom nie? En waarom was sy nie op my ma se begrafnis nie? En hoekom het my ma nooit oor haar gepraat nie?” Carli se oë vernou agterdogtig. “Het my tant Emma ’n … ’n onsmaaklike verlede?”
“Gebruik jy altyd jou verbeelding om vir jouself bangmaakstories te vertel, Carli?” vra hy en lag hoofskuddend. “Ek verseker jou: dokter Emma de Winter is ’n gesiene persoon in ons klein gemeenskappie, nie ’n krimineel met ’n duistere verlede nie. Ek weet sy en jou ma het in hulle jeug rusie gehad en hulle het nooit weer versoen geraak nie. Tant Emma het in ’n koerant van jou ma se begrafnis gelees, maar sy het my eers gisteraand daarvan vertel. Ek twyfel of sy jou ma se begrafnis sou bygewoon het, want tant Emma doen niks vir die skyn nie. Hoeveel vrae het ek nou al beantwoord?”
“Drie. Hoekom het tant Emma jou met ’n ou flenterbakkie gestuur om my te kom haal? Ek wed sy ry met ’n blink motor rond as sy ’n dokter is. Is haar blink motor nie goed genoeg vir my nie omdat sy en my ma rusie gehad het?”
Meyer maak sy mond oop asof hy haar wil antwoord, besluit dan daarteen en vryf met sy regterhand oor sy linkerwang. Hy frons en sug oorwonne. “As ek nou lieg, sit ek in ’n groter verknorsing, daarom sal ek dit ruiterlik erken: ek wou tant Emma verras het.”
“Hoe?” vra sy onbegrypend.
“Met jou, natuurlik. Tant Emma is my voog, ’n nuuskierige en besitlike ou mens … e … ouerige persoon van sestig. Ek is ’n man van dertig, maar in tant Emma se oë is ek nog die weekoue baba wat my ma in haar sorg gelaat het. As ek tuis is, wil sy altyd weet wat ek doen of waarheen ek op pad is. Veral naweke, want gedurende die week hou haar praktyk haar besig. Sy sou nooit kon glo dat ek al die pad hierheen in ou Disselboom sou kon ry nie, daarom sal ek haar behoorlik verras as ek met jou in my ou bakkie by die huis opdaag.”
Carli lees die erns in Meyer se oë, weet dat hy die waarheid praat, en sê met ’n gevoel van intense teleurstelling: “Tant Emma het jou nie gestuur om my te kom haal nie. Jy weet nie eens of sy my wil ken nie.”
“Tant Emma sal vanselfsprekend bly wees as ek jou –”
“Nee, Meyer,” val sy hom beslis in die rede, bewus van ’n nuwe hartseer wat in haar binneste knaag. “Tant Emma het haar eie lewe, haar man en kinders en haar praktyk om haar besig te hou. Erken dit maar: sy sou my nooit kom haal het nie. En daag ek ongenooid op haar drumpel op, sal ek net ’n verleentheid vir haar wees.”
Hy frons nadenkend, sy lippe saamgepers, en skud dan sy kop. “Ek kan nie met sekerheid sê wat tant Emma van jou sal dink nie, Carli, want ek en sy het nooit jou ma of hulle rusie bespreek nie. Ek weet net tant Emma is alleen soos jy, want anders as wat jy dink, is sy nooit getroud nie. Sy en jou ma was kwaaivriende, maar jy en sy het nie rusie gehad nie, daarom is dit moontlik dat julle vriende kan wees, en julle is mekaar se enigste familie. Is jy nie net ’n klein bietjie nuuskierig om jou tant Emma te ontmoet nie?”
“As tant Emma soos my ma is … Tant Emma ken my nie. Sy het my nie nodig nie.”
Hartseer en verwyt voer ’n tweestryd in Carli se binneste voordat sy met hoorbare bitterheid sê: “Ek veronderstel jy is tant Emma se uitverkore kroonprins, soos wat my oorlede broer my ma se kroonprins was. Dankie vir jou moeite en die uitnodiging, Meyer, maar nee, dankie. Ek sien nie kans vir nog ’n vrou met ’n yskoue glashart soos my ma nie.”
“Kroonprins se voet! Carli … wag!” roep Meyer toe Carli haar arm onverwags losruk uit sy greep. Hy tree vinnig nader aan haar, plaas sy hande op haar skouers en vervolg met dringende erns: “Ek het nooit geweet tant Emma het ’n ouer suster gehad nie – nie voor gistermiddag toe sy my van jou ma se dood vertel het nie. Dis toe dat sy my ook van jou vertel het. Ek het nie jou ma geken nie, Carli, maar ek ken tant Emma. Ek erken: sy is die ene draadwerk, maar haar hart is so groot soos ’n Karoo-nag. Kom kuier net vir ’n uur of wat saam met my by haar. Dalk hou julle van mekaar; dalk hou jy genoeg van haar om weer te kom.” ’n Glimlag laat lig sy mondhoeke. “En volgende keer sal ek jou met ’n effens nuwer voertuig kom haal.”
Sy verkyk haar aan die volmaaktheid van sy digte, geboë wenkbroue, bewonder die fyn lagplooitjies langs sy oë en raak bewus van ’n opwellende golf van verlies wat dreig om haar te oorspoel, want sy weet reeds sy kan nie aan sy versoek voldoen nie. Haar ma het haar twee-en-twintig jaar lank laat voel asof sy ’n aangelaste lap is, onbelangriker as die kleingeld in haar beursie, en nou vra Meyer haar om dieselfde rol in haar tant Emma se lewe te speel.
“Tant Emma sal nie van my hou nie, Meyer, maak nie saak hoe goed of lief sy teenoor jou is nie. My eie ma kon nie eens van my hou nie.” Onrus werp ’n skadu in haar oë toe sy aarselend vervolg: “Dalk skort daar iets met my, want Vincent se ma is ook nie lief vir my nie.”
“Vincent wie?” vra Meyer saaklik.
“Vincent Schoeman.” Sy beduie na ’n dubbelverdiepingwoning links van hulle. “Die Schoemans is ons bure, en my ma en tant Renette het besluit ek en Vincent moet eendag trou.”
“Is dit wat jy en Vincent wil hê?” vra hy, sy stemtoon gelykmatig.
Carli haal haar skouers op. “Ja, wat. Ons ken mekaar so goed, want ons het saam grootgeword. En ons hou van mekaar. Almal sê ek en Vincent is ’n volmaakte paartjie.”
“Selfs Vincent se ma wat nie lief is vir jou nie?” vra hy skepties.
“My beste vriendin, Mariska, sê alle ma’s dink geen meisie is goed genoeg vir hulle seuns nie, maar dis gelukkig net totdat hulle oumas word,” antwoord Carli met ’n onbesorgde glimlaggie, besef dat sy haarself nie glo nie, en sug ongeduldig. “Ek dink tant Renette – sy is Vincent se ma – weet self nie wat sy wil hê nie. Sy sê altyd ek is haar aanstaande skoondogter, maar sy vertel my en Vincent in dieselfde asem dat ons nog veels te jonk is om te trou. My ma is getroud toe sy mondig was.”
“En jy was al mondig, klein Carli?” vra hy met oordrewe verbasing, sien die blos van verleentheid oor haar gesig kruip en lag haar goedig uit. “Tant Emma het my vertel hoe oud jy is – jonk genoeg om nie oorhaastig te trou nie. Of is jy en Vincent gretig om huis-huis te speel?”
Sy woorde laat haar beledig voel, want dis te na aan die waarheid: haar en Vincent se toekomstige huwelik is in haar oë net ’n voortsetting van die huis-huis-speletjies van hulle kleintyd, dink sy en vermy Meyer se ondersoekende blik.
“ ’n Mens trou nie net na ’n begrafnis nie,” antwoord sy ongemaklik.
“Nee, ’n mens trou net as jy seker is van jou liefde,” sê Meyer doodluiters. Hy wag totdat sy fronsend opkyk na hom en vra ernstig: “Is jy baie, baie seker jy wil nie by tant Emma gaan kuier nie, Carli? Jy kan selfs jou Monster saambring. Tant Emma hou van kinders en honde.”
“Arme Monster! Hy sit nog al die tyd onder jou bakkie vas. Hoe gaan ons hom daar uitkry?” vra Carli ontsteld.
“Jy en Monster het ’n baas nodig, want julle is ewe hulpeloos,” antwoord hy treiterend en loop na die agterkant van sy bakkie. Hy hurk, kom orent met die protesterende Floorsie in sy regterhand en sit die kat in die mik van die naaste skaduboom neer.
“Waf!” blaf Monster en skiet soos ’n pyl uit ’n boog onder die bakkie uit, om stertswaaiend onder die boom waarin Floorsie sit stelling in te neem.
“Monster het nooit vasgesit nie,” sê Carli bedroë en blik met ’n verleë glimlaggie na Meyer. “Baie dankie vir jou hulp, Meyer. Ek … e … sal met Vincent se ma praat. Sy was my ma se beste vriendin en sy sal weet of ek … e … sy sal my alles oor tant Emma kan vertel.”
“Met ander woorde: jy dink nog steeds ek is ’n vuil, armoedige leuenaar,” spot hy.
Hy is ongetwyfeld vuil, maar hy is en bly die aantreklikste man wat sy nog ooit gesien het. Sy selfversekerdheid is nie verwaandheid nie, en daar is ’n unieke warmte en teerheid in hom wat haar soos ’n magneet trek, dink sy en kyk haastig weg, bang dat hy haar bewondering in haar oë sal lees.
“Ek