Vlam van verlange. Schalkie van Wyk
vol kinders is nie, maar nou sal sy vir die res van haar lewe daaroor wonder – en dis alles Vincent se skuld.
“Ja, hy is getroud en die pa van ses kinders, maar ek weet nie wat hy vir ontbyt eet nie. Enige verdere vrae kan skriftelik en in triplikaat aan my gepos word.”
“E-pos of slakkepos?” vra Mariska, haar oë vonkelend.
Carli kyk na haar vriendin en lees ’n boodskap van woordelose begrip in haar oë. Dis wat Mariska nog al die jare doen, besef sy: stuur met haar oë boodskappe van begrip as Vincent haar met sy nuuskierige vrae irriteer. Mariska is wyser as sy en Vincent, want sy speel altyd die rol van ’n goedige ouer suster wat die vrede tussen hulle bewaar. As sy en Vincent die dag trou, sal sy Mariska vra om by hulle in te trek, dink sy en glimlag vir Mariska.
“Jy praat in jou slaap,Vincent,” terg Mariska en stoot hom liggies teen die skouer. “Gaan stel jou nuuskierige ma gerus en gaan slaap klaar. Jy is altyd effens dommerig as jy nie genoeg geslaap het nie.”
Vincent knik. Hy gaap tot sy oë traan en draai terug huis toe. “Ek is selfs te vaak om dom te voel,” mompel hy. “Bel my as jy moeg is van jou hond se geselskap, Carli, maar eers teen vanmiddag,” vervolg hy en drentel weg.
“Arme drommel. Tant Renette gaan hom onder die stort druk en hom saam kerk toe sleep,” sê Mariska simpatiek.
“Dis sy eie skuld. Vincent is ’n man onder die manne, maar stap hy by hulle huis in, is hy skielik drie jaar oud. Verbeel jou, tant Renette kyk elke oggend of sy hare netjies gekam en sy naels skoon is voordat hy universiteit toe gaan!” sê Carli misnoeg.
“Jou ma en tant Renette was albei twee-en-veertig toe jy en Vincent gebore is. My ma sê tant Renette het besluit sy is ’n ouma, daarom behandel sy Vincent soos ’n oulike kleinkind.”
“Jou ma is ’n slim vrou,” sê Carli met ’n skraal glimlaggie. “My ma het doodgewoon besluit ek bestaan nie. Dit was nie baie aangenaam vir my nie, maar dit het my selfstandig gemaak. Wat doen ek met tant Renette as ek en Vincent die dag trou?”
Mariska kyk haar onthuts aan en bars skaterend uit van die lag. “Stommerik! Het jy vergeet jy besit nou hotelle en ander eiendom in byna elke land in Europa, Amerika en Asië? My ma sê jy is nou so ryk dat sy jou eintlik jammer kry.”
“Dankie. Ek het myself jammer gekry nadat my prokureur … e … oom Wim my ma se testament voorgelees het. Hy het my verseker ek hoef my nie oor die bestuur van die trust te bekommer nie, want hy en die ander direkteure sorg daarvoor. Maar ons praat nie nou oor my erfenis nie. Wat doen ek met tant Renette as ek en Vincent eendag trou?” vra sy weer.
“Ignoreer haar, klim saam met Vincent op ’n vliegtuig en hou vir die res van julle lewe vakansie in jou eie hotelle,” stel Mariska met ’n ondeunde glimlag voor.
“Dis presies wat ek sal doen! Ek dink ek is vir die eerste maal bly ek het ryk geërf,” sê Carli verlig.
Mariska sug verlangend. “Dit moet hemels wees om soveel geld te hê dat jy nooit hoef te werk nie.”
“Dit is nie. Ek wil net baie kinders en kleinkinders en agterkleinkinders hê – hope van hulle, sodat my huis altyd propvol van my eie mense is.” Carli frons spytig. “Ek wens ek en Vincent kon sommer môre trou, maar tant Renette sal ons nie toelaat nie.”
“Julle is albei mondig, Carli. Niks verhoed julle om môre te trou nie,” sê Mariska ingehoue, haar stem effens hees.
Die beeld van ’n lang, donker man met spatsels sonlig in sy diepbruin oë verskyn onverhoeds voor Carli se geestesoog. Sy ervaar weer die tintelende warmte van sy groot hand op haar arm, hoor die diep timbre van sy stem in haar ore en wens hy was by haar. Vreemd hoe veilig en gelukkig sy in sy geselskap gevoel het, selfs toe hulle rusie gemaak het …
“Waf!” blaf Monster haar onverklaarbare verlange na Meyer aan skerwe en kom sit voor haar, sy leiband in sy bek, sy regteroor gespits.
“Jou liewe ding! Het jy moeg geword om Floorsie dop te hou?” vra Carli vir die groot hond, knip die leiband aan sy halsband vas en draai na Mariska. “Tant Renette het Vincent oortuig ek en hy is veels te jonk om te trou, daarom moet ons wag. Ek en Monster was op pad kafee toe. Kom jy saam?”
“Jy is te vuil om kafee toe te loop,” sê Mariska, ’n troebel uitdrukking in haar oë.
“Goeiste, ek het vergeet ek is die ene stof en olie! Maar ek kan nie vir Monster teleurstel nie. Ons sal om die blok loop. Toe, kom saam.”
“Nee, ons gaan kerk toe. Sien jou!” roep Mariska en draf weg oor die straat.
“Tot later!” roep Carli, verlig dat Mariska haar alleen gelaat het. Sy wil ongesteurd aan Meyer dink, want sy beeld bring ’n ongekende warmte diep in haar. Sy voel hoe dié warmte deur haar liggaam tintel met ’n sensasie wat sy teësinnig as begeerte herken. Sy wil hê dat Meyer haar styf in sy arms vashou en … Nee! Sy is ’n opperste dwaas, want sy droom oor ’n man wat sy moontlik nie weer sal sien nie. Sy gaan met Vincent trou want sy het hom lief – so lief as wat sy Mariska het.
Carli bly staan, geskok deur die besef. Is sy werklik lief genoeg vir Vincent om met hom te trou? vra sy haarself ontsteld af. Tant Renette sê liefde is iets wat stadig moet groei, gevoed deur kennis van mekaar en die waardering van gesamentlike ervaringe. Sy het ’n deeglike kennis van Vincent, het haar hele jeug saam met hom ervaar, maar miskien het tant Renette gelyk: sy is nog nie oud genoeg om Vincent met die volwasse liefde van ’n vrou lief te hê nie, besluit sy en begin draf saam met Monster om aan haar twyfelgedagtes te ontsnap.
Dis tipies van tant Renette, ’n besige prokureur en een van oom Wim se talle vennote in sy groot prokureursfirma, dink Carli en volg die kelner wat haar na Renette se tafel toe lei. In plaas daarvan om haar wat Carli is tuis te besoek, nooi sy haar vir ’n peperduur middagete in ’n gewilde hotelrestaurant.
Renette glimlag verwelkomend – ’n glimlag wat soos gewoonlik nie haar oë bereik nie, merk Carli op. Sy wag totdat Carli aan haar tafel sit en haar bestelling aan die kelner gegee het voordat sy vleiend sê: “Jy lyk pragtig, Carli – werklik chic! Ek besef jy is nog besig om jou ma se dood te verwerk, maar dis vir my ontstellend dat jy jouself in jou ouerhuis toesluit en meestal in verbleikte denims rondloop en met daardie aaklige gedierte in julle agterplaas speel. Jy is my aanstaande skoondogter, en vanselfsprekend bekommer ek my oor jou. Jy moet wegkom uit daardie huis van rou, daarom het ek jou hierheen genooi vir middagete.”
“Ons huis rou nie,” antwoord Carli impulsief, wonder of sy onhoflik was en besluit dan met ’n onverklaarbare gevoel van vryheid dat dit haar nie kan traak of sy goeie maniere het of nie. Sy het toegelaat dat tant Renette twee-en-twintig jaar lank aan haar voorskryf wat om te dink of te doen. Nee, dit was erger: tant Renette kon haar so maklik met ’n skerp antwoord of ’n meerderwaardige glimlaggie klein en dom laat voel. Haar eie ma het haar bloot geïgnoreer, maar tant Renette het altyd stekies ingekry. Nie langer nie, besluit Carli en lig haar ken onbewustelik.
“Dit was figuurlik gesproke, Carli,” sê Renette, haar glimlag simpatiek toe sy vervolg: “Ek was verstom om te hoor jy het julle getroue huispersoneel afgedank. Wat het jou besiel om dit te doen, my liewe meisie?”
“Ek wil my eie tee maak, self vir my koeldrank skink en my hond voer, tant Renette. Ek het vir elkeen van ons huispersoneel ’n groot Kersfeesbonus gegee, en ’n personeelfirma het gesorg dat hulle almal nuwe poste kry. ’n Skoonmaakdiens maak nou die huis twee maal per week skoon. Dit pas my,” antwoord sy met saaklike erns.
“Solank jy nie eensaam is nie.” Renette probeer om begrypend te klink, maar Carli merk die oorwegende lig in haar oë.
“As ek eensaam is, is dit omdat ek dit verkies, tant Renette. My vriende bel my gereeld, en Mariska boer by my.”
“Ja … Mariska beskik oor die besondere talent om by ’n mens te wees sonder om lastig te wees,” beaam Renette en vra met oordrewe belangeloosheid: “Is jy van plan om die Kerstyd saam met jou tant Emma en haar pleegseun deur te bring? Is dit waarom hy by jou was? Het hy jou uitgenooi vir ’n kuiertjie?”