Thula-thula (Afrikaanse uitgawe). Annelie Botes
In haar onregwysheid, sal die mense sê, praat Gertruida ’n klomp opmaakstories. Want as daar ’n man van onkreukbare integriteit is wat dit nié aan sy dogter sou doen nie, is dit Abel Strydom.
Toe druk iemand van agter iets tussen haar vingers in. ’n Wildekastaiingblom. Toe sy omkyk, staan Braham agter haar. Sy laat val die blom en trap daarop.
“Ek sal in Die Koffiekan wag tot twee-uur.”
Antwoord nie. Kyk hom koud aan.
“Laat weet as jy my nodig het, Gertruida.”
Vyftig treë.
Sy haal die tang en draadjies uit haar sak en gaan sit op die nat trap. Vandat sy Sondag teruggekom het van die begrafnisondernemer, was sy nie weer in die huis nie. Sy wil nie in die dooies se hangende asems en vuil onderklere vasloop nie. Al is dit koud en nat en ver om te loop, gaan slaap sy eerder in die kliphuis.
Ver weg raas die paddas by die rivier. Voor donker wil sy vir die rivier gaan sê die grafte is toegegooi, twee-en-twintig jaar se marteling is verby.
Sy wóú Braham Fourie ignoreer. Sy het nie sy hulp nodig nie. Of dié van enige man nie. Nie nou of ooit nie.
Die suidoostewind waai die stuifreën in haar gesig waar sy
op haar rug op die onderste trappie lê. Dis koud, maar helend.
Dit het lanklaas gereën.
Terwyl die dominee die kluit op die voetenente van die kiste krummel, het die reën uitgesak. Die slotgesang is in stortreën gesing. “Bly by my, Heer, terwyl die skemer daal …” As sy Abel en Susarah nie so gehaat het nie, sou sy kon huil. Maar sy kan nie meer huil nie. In die loop van twee-en-twintig jaar het sy haar gestaal teen vóél. As mens vóél, dan pyn jy. Sy het genoeg gehad van pyn.
Dit pyn as jou pa ’n bruistablet-houertjie in jou opdruk. Dit pyn as die kinders jou by die skool koggel en sê jy stink. Dit pyn as jy op ’n volmaannag geboorte gee aan ’n skandekind. Dit pyn as Braham Fourie met ’n ander vrou personeelfunksie toe gaan.
Later raak mens pyndood. Asof daar skubbe op jou vel en in jou hart groei.
Sy rol op haar sy en stut haar op haar elmboog; lek die reën van haar lippe af. Haar langbroek kleef yskoud aan haar bene.
Nog nooit was sy so angsloos nie. En terselfdertyd so rigtingloos. Haar gedagtes is ’n warboel. Soos karsiek as hulle in die somer op die plaaspad ry. Om warrelend te dink, is ál manier wat sy ken. Om raas te kry omdat sy vergeet het, of omdat sy wegglip in ’n wêreld van haar eie, is normaal.
“Gertruida?” roep Juffrou Robin saggies in sub A. “Kyk na my, Gertruida …”
Dis sleg om terug te kom klas toe waar sy móét inkleur en luister en in ’n ry staan. Dis lekkerder om in haar gedagtes met Bamba tussen die rivierriete op Kiepersolkloof te speel. Hy blaf en hap na die water en jaag die kolganse. Sy trek vir haar ’n huis in die sand met ’n riet. Die sandvertrek waar haar kamer is, het nie ’n deur nie, ook nie ’n bed nie. Dan roep sy vir Bamba; hulle sit in die sandhuiskamer en eet droë kraakbeskuitjies. Sy eet nie botter nie, want dit word snotterig in haar mond.
“Dis jou beurt om te lees, Gertruida. Kom,” sê Juffrou Robin en druk haar vinger onder die eerste woord.
“Ek sal later lees.”
Die kinders lag. Hulle druk hulle neuse toe, en maak sagte woorde met hulle lippe, sodat Juffrou Robin nie moet sien of hoor nie. Tergwoorde. Hulle sê sy stink en sy is dom. Sy wil hulle doodmaak.
“Nee, Gertruida, dis nóú leestyd.”
Toe lê sy op haar arms; knyp haar oë toe. Sy sál nie lees nie, want sy ken die boek uit haar kop. Sy wil teruggaan rivier toe en in haar sandhuiskamer sit. Buitendien, dis lekker as Juffrou Robin so baie met haar praat. Dit voel of Juffrou Robin haar liewer het as vir die ander sub A’tjies. As sy gehoorsaam is en lees wanneer dit haar beurt is, hurk Juffrou Robin nie by haar en vryf haar rug nie. En sy praat nie sag en mooi met haar nie. Maar as sy weier om te lees, pleit Juffrou Robin by haar.
Toe haar rapport aan die einde van die jaar kom, staan haar ma by die kombuistafel en huil dat die trane in die bak met tjoklitkoekdeeg drup. Omdat sy dop.
“Is nie dop nie!” stry sy. “Juffrou Robin sê ek is slim! Ons moet net weer ’n keer deur die leesboeke gaan. Juffrou Robin sê Andrea gaan óók weer …”
“Ek skaam my vir jou, Gertruida! Jy’s ongehoorsaam! Tot Matrone kla oor jy jou neus optrek vir die koshuiskos, en oor jy bed natmaak. Jy’s ’n groot dogtertjie, maar jy gedra jou soos ’n baba wat …”
“Dissie waar nie! Dis oor daar in die nagte ’n likkewaan in die koshuisgange loop, ek het hom sélf gesien, en hy slaan kinders dood met sy stert en eet hulle.”
“Twak, Gertruida! Jy maak al weer stories op! Ek sweer, as Matrone weer kla, gaan ek weggooidoeke koop wat sy snags vir jou …”
Toe druk sy haar vingers in haar ore en hardloop uit die kombuis uit. Rivier toe. Niemand hoef te weet dat die plaas se likkewaan snags tot op die dorp loop en by die koshuis inkom nie. As sy tjoepstil in haar bed lê, hoor sy hoe maak hy keelgeluide in die gang. Matrone sê dis die warmwaterpype wat so maak, maar Matrone jok.
En niemand hoef te weet sy is bly dat sy dop nie, want nou hoef sy nie weer saam met die kinders te wees wat tergwoorde maak nie. En as sy nie wil lees nie, sal Juffrou Robin weer by haar hurk en mooi vra sy moet asseblief lees. Sy hou van Juffrou Robin.
In haar tweede sub A-jaar het die oom die Maandag skool toe gekom en sy moes by hom in die skoolbiblioteek prentjies teken en legkaarte bou en somme maak. Juffrou Robin het gesê dis die skoolsielkundige, Meneer Niemand. Sy het nog nooit só ’n van gehoor nie. Hoe kan mens iemand wees as jy niemand is?
Sy was nie bang dat Meneer Niemand sy vinger in haar sal opdruk nie, want haar ma was heeltyd by. Langs die plaaspad het haar ma gesê sy moenie vir die oom vertel van die bednatmakery en die nagmerries nie. “Mens praat nóóit met ander mense oor sulke goed nie, Gertruida. Nie eens met jou beste maatjie nie.”
“Ek het nie ’n beste maatjie nie. Ek het glád nie maatjies nie.”
Sy het al baie kere vir haar pa-hulle gevra of sy ’n maatjie kan plaas toe bring vir die naweek. Dalk sal iémand by die skool van haar hou. Maar elke keer sê haar pa nee. As sy vir haar ma vra, sê haar ma sy moet na haar pa luister, want hy is die hoof van die huis en hy weet altyd die beste.
Snags, as sy sê sy kry seer, sê haar pa ook dis alles vir haar eie beswil.
Dit was lekker by die sielkundige-oom. Sy het gewens Juffrou Robin kon hoor hoe mooi sy lees. Antwoord elke som dadelik. Sy wou vir hom wys hoe vinnig kan sy ’n legkaart bou. Maar elke keer as hy opstaan en sy sien die rits van sy broek, ruik die biblioteek na sardiens en dit klink of iemand die deurknop wikkel. Dan kan sy nie tel of inkleur nie. Dan lê sy op haar arms tot hy weer sit. Haar ma sê vir die sielkundige-oom dis van Anthonie se dood af dat sy só is.
Dis ’n jok.
Haar ma sê vir die oom goeters wat sy nie goed verstaan nie, maar dit klink of haar ma aan haar kant is. Haar ma sê sy wil haar kind beskerm teen ’n onnodige gegrawery, van genoeg tyd wat moet verbygaan, en dat sy nie wil hê haar kind moet onnodig geteiken word nie.
Teiken? Dit klink of iemand haar wil skiet. En haar ma keer. Dankie tog.
Die Sondag kry hulle mense vir middagete. Sy sit in die donker onder die tafeldoek in die ontbythoekie. Niemand sien haar nie, dan kan sy die grootmense afluister. Haar ma en Andrea se ma sit by die kombuistafel en rasper wortels en sny pynappelblokkies. Haar ma sê die sielkundige sê dis Anthonie se dood wat die probleem is.
Dis ’n jok, die oom het nooit so gesê nie.
Haar ma vertel vir Andrea se ma ’n klomp jokke oor wat die oom gesê het. Maar sy weet hy het nooit so gesê nie. Oor groen en rooi koeldrank wat sy nie mag drink nie, want dit gaan haar uit die slaap hou. Oor ’n blaasinfeksie, en oor haar verbeelding wat