Thula-thula (Afrikaanse uitgawe). Annelie Botes
Sy stap waenhuis toe om die winkelgoed in die bakkie te kry. Daar is water in haar skoene en die begrafnishemp kleef teen haar borste. Sy wil nie die kos in die huis inneem nie. Sy sal dit aan die koeltekant van die watertenk bêre, en die brood met haar knipmes sny. Die knipmes was al meermale haar redding as sy in die veld swerf.
Haar pa het die mes in 1992, toe sy in standerd twee was, uit Switserland gebring toe hy terugkom van ’n landboutoer. Die datum staan in die flappie van die leersakkie. Dieselfde jaar het sy vir haar juffrou gevra of sy die klas se verklarende woordeboek vir die middag mag koshuis toe neem. Sy wou kyk wat beteken allergie, terapie, geneties, trauma, masturbasie, omdat dit al lankal in haar kop rondmaal.
“Hoekom soek jy dáárdie woorde, Gertruida?” het die juffrou met groot oë gevra.
“Sommer.”
“Moenie jok nie, Gertruida, waar kom jy daaraan?”
“Ek het dit gedroom.”
Sy kon sien die juffrou gaan wéér aan haar torring. Sy wil nie praat nie. Haar pa sê sy mág nie praat nie. Toe verbeel sy haar daar is ’n slymwors in haar keel. En sy gooi voor die juffrou se voete op. Opgooi is maklik as sy aan slymwors dink. Dan bekommer die juffrou haar oor jou en gee jou jou sin. Dis lekker as iemand oor jou bekommerd is. Dit maak jou belangrik as jy die woordeboek mag koshuis toe neem.
Allergie. Oorgevoeligheid vir allergene.
Terapie. Behandeling van siektes, kwale.
Geneties. Betreffende die genese van iets.
Trauma. Verwonding, letsel.
Masturbasie. Seksuele selfbevrediging.
Sy het min daarvan verstaan. Dit het haar laat dink aan wanneer haar pa die Bonsmaras brandmerk. Sy kry altyd die beeste jammer. Sy wens sy was ’n bees, dan hoef sy nie snags in haar kamer te slaap nie. ’n Brandmerk word later gesond. Die dinge wat in haar kamer gebeur, maak haar siek.
Toe sy die bakkiedeur oopmaak, ruik sy lemoene. Haar kop duisel van hongerte. Van deurmekaar dink; van óú prentjies herroep. Van onsekerheid of dít wat sy onthou die waarheid is. Het sommige dinge nie dalk ánders gebeur nie, of op ander tye? Hoe kon sy sulke groot woorde vir so lank onthou? Kon sy regtig lees toe sy skool toe is? Of onthou sy dit met die begrip van ’n kind? Of kleur sy haar kindertyd in met die kennis en insig en vaardigheid van ’n grootmens?
Watter verskil maak die waar en wanneer? Want niks en niemand sal die mistige wolk van herinneringe uit haar verstand kan wegvee nie. Skrikgoed. Naggoed. Roerende skadu’s wat soos reusehande lyk teen die dowwe gordyne van haar verste terugonthoue. Of soos boomtakke. Soms is dit reuke en geluide. Kon sy haar dit alles verbeel?
Nee. Haar ma-hulle het dit net voortdurend by haar ingeprent dat sy haar verbeel.
Ondanks die reën voel haar arms vuil waar die mense by die begrafnistee aan haar geraak het. Toe sy die winkelsak op die tenk se voetstuk neersit, lui die telefoon weer. Sê nou dis Braham? Sy woorde by die graf draal in haar: Laat weet as jy my nodig het …
Sy het hom nodig.
Sy wíl hom nie nodig hê nie.
Sy haal die Victorinox uit haar broeksak. Vryf die rooi hef blink.
Die jaar toe sy die Victorinox gekry het, was ook die jaar toe haar ma haar uit die kerk gevat en sy buite pak gekry het omdat sy so hard gesing het met “Op berge en in dale”. Sy kyk nooit in die gesangeboek nie, want dan moet sy styf teen haar ma staan om uit een boek te sing. Sy hou nie van haar ma nie. Dis beter om al die gesange in jou kop te bêre, dan hoef jy nie teenaan jou ma te staan nie.
Toe vat haar ma haar buitetoe en sê sy terg die Here as sy sing “Albertus dra sandale”. Sy het nie aspris verkeerd gesing nie. Sy het gedink dis wat die grootmense sing. Van toe af, as hulle “Op berge en in dale” sing, het sy in haar kop weggehardloop Kiepersolkloof toe. Berge en dale toe.
Die volgende September toe haar ma se tweelingsuster, Tannie Lyla, kom kuier het, het sy vir haar ’n gesangeboek as present gebring. Dis lekker om jou eie gesangeboek te hê. Dan kan jy die woorde self lees, en jy hoef nie naby jou ma te staan nie.
Sy was só bly oor haar Victorinox met die rooi hef wat in die swart leersakkie aan haar broekrek kan hang.
“Kom,” sê haar pa, “sit op my knie, dan wys ek jou wat die mes kan doen. Die Switsers is meesters met messe maak. Dis ’n Victorinox. Kom.” Klap op sy knie asof sy ’n hond is wat teen hom moet opspring. “Niemand in die skool het só ’n duur Switserse army-mes soos jy nie.”
Sy wou nie op sy knie sit nie. Sy wóú nie.
Maar die rooihefmes was mooi; dis lankal dat sy ’n knipmes begeer.
Mens hoef net tien minute te sit. Al is dit sleg. In die dag as die son skyn en daar is dálk iemand wat kan sien wat jou pa doen, is dit anders as snags. Snags sit jy nie op sy knie nie; dan staan jý op jou knieë.
“Eina!” skree jy in die nag. Hard, sodat jou ma moet hoor. “Eina!” Dit brand waar hy met sy plat hand teen jou kaal heup klap en sê jy moet stilbly. Hy sê dis die plek waar jou babatjies eendag moet uitkom, en hy moet die gaatjie groot maak, anders gaan jou babatjies vassit in jou maag. Hy sê dis ’n pa se plig.
Jy wil nooit babatjies hê nie. Jy wil nie die gaatjie groter hê nie. Jy wil hê Bamba moet by jou voete opkrul, en jou Lulu-pop moet in jou arm lê en jou ma moet hoor as jy roep. Niemand traak wat jý wil hê nie. Niemand klop om in jou kamer in te kom nie, en jy mag nie ’n sleutel hê nie. Dis anders as by die koshuis waar mens moet klop voor jy by iemand se kamer ingaan, en waar mens ’n sleutel móét hê om jou studiekassie in die studiesaal te sluit.
Jou pa sê jy mag nie ’n sleutel vir jou kamer hê nie. Al sê jou ma dat jou pa die beste weet, weet jy dis ’n jok. En jou pa jok ook, maar jy mag nie vir grootmense sê hulle jok nie.
“Eina!” skree jy in die matras.
Skree help niks. Niemand hoor nie.
Jy verander in Doringrosie wat honderd jaar slaap. In jou verbeelding kan niemand by jou kom nie, want die kasteel is oorgroei van rankrose vol dorings. Jy is nie Gertruida Strydom nie; jy is ’n slapende prinses op ’n verebed. In jou slaap, al slaap jy nie, maak jy ’n prentjie van die prins wat deur die roosdorings breek om jou wakker te soen.
Toe Braham Fourie in haar standerdagtjaar as Afrikaansonderwyser by die skool begin, het hy nie soos ’n prins gelyk nie.
Later vergeet mens die tien minute se knie sit. Hoe jou kortbroek se rek in jou maagvel insny soos dit van agter verrek word. Kneukels wat teen jou stuitjie boor as hy sy hand inwurm. Jy hoor nie meer die gehyg agter jou rug nie. Voel nie die rukbewegings en die laaste stamp-stamp teen jou rug nie. Jy skuur die slymstreep aan die agterkant van jou kortbroek teen die stoepmuur af. Gaan sit met Lulu by die rivier; hou haar teen jou bors. “Thula Thula Thula baba Thula sana”, sing jy die liedjie wat Mama Thandeka jou geleer het.
Tien minute is kort.
Jou Victorinox hou vir altyd.
Eendag as jy in ’n bobbejaan verander wat in die berge bly, sonder deure of mure, gaan jy jou knipmes saamneem. Jou Switserse army-mes waarmee jy kan turksvye skil in die veld, ’n ystervark afslag as jy naar is van honger. Skroewedraaier, botteloopmaker, balpuntpennetjie, tandestokkie. Knyptangetjie vir dorings uittrek. Liniaaltjie en kompas vir rigting hou as die mis oor die berg kom en jy skaars ’n halwe tree voor jou kan sien. Op die punt van die liniaaltjie sit ’n vergrootglasie vir vuurmaak as jou vuurhoutjies nat of op is. Pinkiegrootte-flitsie om in die nag in Bamba se oë te lig om te kyk of hy dood is.
Haar pá het die mes vir haar gebring en gegee. Met liefde.
Abel het haar gewys hoe die mes werk terwyl sy op sy knie sit. Ook met liefde.
Daar is ’n kloofbreë verskil tussen haar pa en Abel.
En die liefde is iets wat sy nog nooit kon verstaan nie.
Die nooienshaarvaring