Sirkusboere. Sonja Loots
die hel vandag los.”
“Ek sal saamgaan,” het Kinôsie probeer.
“Hier is te veel werk vir jou. En Jan kan nie so leeglê op my werf nie. Hy is ’n yslike lummel met hare in sy broek. Hy moet sy kant bring.”
Kinôsie het vir Fenyang in die turksvylaning gaan kry en gedreig om hom met ’n sweep tot op die perd se rug te slaan as hy nie self opklim nie. Fenyang was net betyds om die hek vir KaMongoele oop te maak, en weer agter hulle toe te maak.
“Jy kan bly wees, Matraskop. Jy is nét betyds.”
Ná hy kalmeer het, het Piet vir Fenyang les gegee. Sodat Jan darem ook kan weet waaroor dit nou eintlik gaan, het hy gesê. “Die Boere soek vir Mampoer omdat hy vir Sekoekoeni vermoor het. Maar Mampoer kruip by Niabel weg, so nou gaan Niabel ’n pak slae kry.”
“Ja, Baas.”
“Dis ’n parmantige stammetjie dié. Weet jy wat het Niabel gedoen toe generaal Joubert hom vra waar is Mampoer?”
“Nee, Baas.”
“Hy het gesê: ‘Mampoer is in my mond en as jy hom wil vat, sal ek jou byt.’ Lekker astrant. Lekker dómastrant.”
“Ja, Baas.”
’n Maand lank het hulle in Piet Joubert se laer buite die grotte gebly. Sowat ’n duisend burgers, met bykans net soveel handlangers. Die Boere het beurte geneem om wag te staan, sodat Nyabele se mense nie by kos of water kon uitkom nie. As hulle iets sien roer, het hulle geskiet. Voor die voet geskiet, selfs ook as dit kinders of vroue was. Hulle sou daar bly tot Niabel vir Mampoer uitlewer.
Saans om die kampvure was daar vrolikheid. Daar is grappe gemaak, stories vertel en hier en daar het iemand ’n kitaar gehad. Twintig jaar later kon Fenyang nog van daardie liedjies onthou. Ek kry ’n skilpad langs die pad, sou hy kon sing as hy wou. Hoepaidee, hoepaida. Ek tel hom op, hy pie my nat, hoepaidee, aida.
Van Piet af was daar nie net harde woorde nie. “Arrie, dit was fluks van jou,” het hy geprys as Fenyang ekstra vroeg opgestaan het om vuur te maak vir die oggendkoffie. Hy het vir Fenyang die name geleer van voëls en plante wat hulle om hulle gesien het, en lang Hollandse voordragverse, wat Fenyang nie eers probéér onthou het nie.
“Kom hier vrome mens tesamen, laat ons andere gaan vermanen,” het Piet voorgesê.
“Ja, Baas.”
Dan slaan Piet maar oor na raaisels. “Klein Daantjie Donderbos, waar hy loop daar bars die grond. Wat is dit, Jan? Dink bietjie.”
“’n Geweer.”
“Nee man, waar het jy nou al gesien ’n geweer lóóp?”
“Ek weet nie.”
“’n Ploeg, my outatjie. ’n Ploeg! Slim, nè?” Dan vou Piet dúbbeld soos hy lag. Hy was daardie jare nog nie so verdrietig soos op sy oudag nie. terwyl Fenyang so om sy voete grootgeword het, was hy nog vol grappe en sêgoed.
En toe was dit tyd om op te pak en huis toe te gaan. Nyabele se mense was later so mal van die honger dat hulle onder die koeëls ingehol het. Die burgers het aangelê en geskiet, op vroue en kinders ook. Fenyang het dit gesien, want hy moes die perde se leisels vashou sodat die diere nie weghol nie. Hy was daar toe die laastes uitgerook en afgemaai is as hulle by die grotbek uitgesteier kom. Hy het dit alles gesien en hy was náár daarvan.
“Lekker sag geword hier tussen die wittes, hè, Janneman,” het Piet hom getreiter. “Lyk my jy het vergeet hoe jou mense kan moor. Silkaats het kinders soos jy se rug soos ’n skarnier geknak. Hy het klonkies geklap dat hul tande uitbreek en dan het hy hulle dit laat sluk. En dink jy miskien Mampoer het fyn gewerk met Sekoekoeni?”
Fenyang het stil gedink dat hy die name anders geken het as wat KaMongoele gesê het. Mzilikazi. Mampuru. Nyabele. Mens moes kophou as KaMongoele vir jou les gee. Jy het later nie mooi geweet of jy Fenyang of Jan is nie.
“Hierdie kind van jou het nie aptyt vir oorlog nie,” het Piet vir Kinôsie gesê toe hulle terugkom op die plaas. “Hy kry sagte handjies en sagte voetjies hier op my plaas. Wanneer stuur jy hom vir kafferkatkisasie? Dit sal die kleinserigheid uit hom kry.”
Kinôsie was bly oor die halfpond wat Piet vir Fenyang in die hand gestop het, maar Mathlodi het vir hom min kos ingeskep en lank voor opstaantyd die komberse van hom afgepluk.
“Die kind weet nog niks,” het Kinôsie geraas.
Fenyang hét nie geweet nie. Hy is eers later daardie jaar manneskool toe en daar het hy die eerste keer gehoor hoe Andries Pretorius en Paul Kruger haar weggevoer het van haar mense, die Ndzundzas van KwaMukopani. Toe eers het hy gehoor hoe sy op ’n wa gelaai en aangery is Potchefstroom toe, voor die landdroskantoor staangemaak en ingeboek is. Hoe die inboekelinge onder die burgers verdeel is en hoe sy ma later deur die wit veldkornet Piet Cronjé geruil is by ’n ander burger vir twee komberse.
Sannie wás een van die kinders wat Pretorius van die Makapansgrotte af gebring het, sou Piet beaam as jy hom sou vra. Niks fout daarmee nie. Die oorlog teen Makapan was ná die Sandrivierkonvensie, die ZAR was sy eie baas. Bowendien was sy huis in orde, die Inboekwet was lankal van krag. Daar was duidelike instruksies vir gewapende botsings met kaffers. Offisiere moes sorg dat geen kinders gevang word terwyl nog geveg word nie. Slegs indien kinders gevind word wat onversorgd blyk te wees, kon hulle na die laer teruggebring en ingeboek word. Bowendien, sou hy kon byvoeg, burgers kon eers ’n halfdag ná afloop van die slag uitgaan op soek na sulke onversorgde skepseltjies.
Nee, Piet was nie self by die Makapansgrotte nie. Maar die wet het dit mos nie verbied dat ’n kind van een diensheer na die ander oorgedra word nie. Solank daar ’n kontrakboek was met die naam, vroeëre woonplek, vermoedelike ouderdom en vroeëre besitter van die kind. Natuurlik het hy die boek gehad, dit was iewers in die sideboard as jy dit wou sien. En ja, die kinders moes goed behandel en so goed moontlik opgevoed word. Niemand het daarmee gestry nie. Nie dat Sannie so danig klein was toe sy by hom aangekom het nie. Sy was al ’n opgeskote meidjie.
Haar naam was Matlhodi Kekana, maar by die boere het sy sommer Sannie geword, het Fenyang gehoor. Op die plaas het Sannie nie meer haar eie taal gepraat nie, maar Afrikaans.
“Hoe oud was sy?” het hy gevra.
“Sy was toe ’n indombisana; die boere het van haar ’n vrou gemaak.”
Ná die inisiasieskool was hy oud genoeg om te weet watter vrot vleis aan die been van daardie woorde sit.
Hy weet nie dáárvan nie, sou Piet sê. Hy was mos nie saam na die Makapansoorlog nie.
Maar Fenyang was in elk geval kwaad. Hy was oud genoeg om kwaad te word oor die storie van Sannie wat uit KaMongoele se potte moes eet, by sy vure moes warm word en in een van die hutte op sy plaas moes bly. Saans moes sy op ’n stoeltjie in die middel-deur sit en luister hoe hy Bybel lees. Sy moes saam met die huisgesin hulle gesange en psalms sing, want KaMongoele soek nie heidene in sy huis nie.
“Ons was nie toe soos ’n swart man en ’n wit man nie,” het Kinôsie vir Fenyang vertel oor sy eerste jare op Palmietkuil saam met Piet Cronjé. “Ons was sáám.”
Piet en Kinôsie het transport gery, op ’n wa wat aan Kinôsie behoort het. Piet het grond besit, maar hy was sonder ploeg en daar was nie genoeg hande nie. Saam het hulle van onder af begin. Ewe hard gewerk, dié twee. Daar was ’n soort vriendskap tussen hulle. Kinôsie het by KaMongoele se huis geëet as hulle terugkom van ’n reis af. Saam aan tafel.
“Eendag het ek vir hom gesê sy vrou kook lekker kos,” het hy vir Fenyang vertel. “Toe sê hy nee, dis die vrou in die kombuis.”
So het Kinôsie agtergekom van Mafenyang, wat toe nog Sannie was, en lankal nie meer Mathlodi nie. “Ek het vir KaMongoele gevra wie die vrou se mense is. Hy het gesê sy het nie mense nie, hý is haar mense en as ek haar wil hê, moet ek vir hóm bogadi betaal.”
Hulle het op ’n prys ooreengekom. Tien skape en vyf koeie.
“Die