Sirkusboere. Sonja Loots
weggesak in die modder, en met groot moeite uitgesleep het, net om te vind daar hang ’n drenkeling aan die stiebeuel?
“Vertel eers hoe lank is jy al in die land,” sê Ben die eerste keer.
“Lank. Langer as twintig jaar. Agttien-tagtig in die Kaap aan wal gestap en dadelik tuis gevoel.”
“Tuis! Tussen daardie klomp moerskonte van die Kaap?”
“Ja.”
Ben moet maar skoorsoek, Frank laat hom nie uitlok nie. Dis die Boere se oordrewe republiek-politiek wat so klink, weet hy. Wat weet Ben in elk geval van die Kaap in daardie jare? Dit was die mooiste plek wat Frank in sy lewe gesien het. Die berg met sy dramatiese missluiers; die lang, lae huise met groot stoepe in die stadskom; die grasieuse mense in die strate. Die Maleiers het toerings gedra, spits strooihoede met ’n woelsel rooi en wit katoen daaronder, en hier en daar het die ouer mans nog kaparrings tussen hul tone vasgeknyp. Frank het hom vergaap; dit was wonderlik eksoties. “In die Kaap kon ek voel hoe ’n nuwe wêreld wink,” sê hy. “By die huis was daar ’n hoop skuld, ’n wyf wat by die dag al dikker raak en ’n baba wat huil elke keer as ek hom wil optel. Hier in Afrika was daar geléénthede.”
“Wás,” sê Ben. “Nou’s daar net suur gesigte oral waar jy kyk.”
“Couldn’t agree more,” sê Frank. “Ek wens mense wil nou van die oorlog vergeet.”
“Nie sommer nie.”
“Mens kan nie vir ewig dikbek bly nie.”
“My mense is deur hel.”
“Ons kry álmal swaar. Nie net die Boere nie. Toe ek Januarie in die Kaap aankom, sien ek die sinkgebou wat ek voor die oorlog op die hawehoof gebou het, is gesloop. Ek kon dit nie glo nie! ’n Replika van die San Giovanni-doopkapel! Gesloop. Sommer net gesloop. En niemand het my eers laat weet nie.”
“Ag Here, kêrel,” sê Ben. “Soek jy nou simpatie? Oor ’n sinkgebou? Weet jy hoeveel mense se huise en plase is afgebrand? Weet jy hoeveel rykdom is verlore? Hoeveel skatte?”
“Ek praat van my brood en botter. Van my vroeëre voorspoed het niks oorgebly nie. Ek moet van voor af begin.”
“Ten minste hét jy iets om mee te begin.”
“Dis nie so maklik nie.”
“As die oorwinnaars so praat, dink net hoe voel die verloorders,” sê Ben.
Só het die verskille tussen hulle af en toe opgevlam, maar tóg het hulle mekaar weer en weer opgesoek.
“Watse visblikkies en verfpotdeksels het jy hier vasgespeld?” vra Ben en beduie na die kastige medaljes wat Frank aan sy kruisbande en baadjielapelle vasgespeld het.
“Dekorasies. Medaljes. Toegeken vir vernuf. Hierdie is die Goue Arend van Mysore, ’n skitterende getuigskrif van hoe beïndruk die maharadja was deur my titaniese talente.”
Ben lag. “Maar geen medalje hier vir beskeidenheid nie.”
“Grootpraat is in my gene. My oupa was een van Engeland se laaste Shakespeariaanse narre, ’n uitgeslape ou spotvoël. My vader ’n rondreisende akteur. Dis nie beroepe vir beskimmeldes nie. En ek was nog nie eers nege nie, toe werk ek al as ’n skoublaffer.”
“Watseding?”
“Skoublaffer. Kermiskraaier. Fairbarker in Engels. Jy staan voor een van die sideshows en roep na verbygangers. Hulle loop verby en jy moet hul aandag wegkry van die limonadestalletjies, die gejelliede palings en die geroosterde grondboontjies. Jy moet hulle oorreed om ’n kaartjie te koop vir die attraksie wat jý adverteer.”
“En dít kry jy reg met grootpraat.”
“Verbeeldingryke beskrywings,” korrigeer Frank. “Dink jou dit in. Jy het byvoorbeeld ’n hondmak hiëna op hok agter ’n fluweel-gordyn. Die kompetisie se plakkate sê hulle het die vetste vrou in die hele wêreld. Niemand wil ’n hiëna sien nie. Maar dalk voel hul anders oor ’n mensvretende monstruositeit wat onder die mantel van middernag met ghoulish glee geraamtes uit grafte grawe. Hoe sê mens ghoulish glee in Afrikaans?”
“Ons praat nie sulke stront in Afrikaans nie.”
Dan lag hulle dat die trane loop en klop mekaar broederlik op die skouer. Hoe later, hoe kwater.
“Ek was vier-en-’n-half toe my pa my die eerste keer op ’n ponie se rug gesit het,” vertel Frank.
“Ek was toe nog aan my ma se voorskootbande vas.”
“Skaars ses toe my vakleerlingskap in die sirkus begin het. En net mooi dertien toe toer ek alleen deur Engeland met my protégés en hul parafernalia.”
“Watse protégés?” vra Ben.
“My trop hoogs geniale honde. Ek het hulle geleer om allerhande manewales te bemeester. Manewales so moeilik dat baie mense daarmee sou sukkel.”
“En ek was negentien toe ek in die Kaap aangekom het. Ek het in ’n stadium my sirkus Indië toe geneem en drie jaar daar rond-getoer. Maar gou het ek weer die roepstem van Afrika gehoor.”
Ben lag hom uit. “Roepstem. Al wat Afrika ooit sê, is ‘voertsek’.”
“Vir jou miskien. Vir my het Afrika ’n allure. Binne drie jaar was ek terug op die delwersdorpe. Ek het goed geld gemaak, lekker geleef. In Kimberley het ek ’n huis langs Barney Barnato gekoop en baie saam met Cecil Rhodes geëet. In Johannesburg het ek ’n ouditorium gebou wat groot genoeg was vir gehore van amper tweeduisend.”
“Aitsa.”
“As jy dit gesien het, sou jy dit nooit weer vergeet het nie. Ek het my gehore verbyster. Ons repertoire was weergaloos. Professor Beaumont, wat met ’n vyftigpond-gewig op sy bors op die bodem van ’n watertenk sou ‘slaap’ tot ons toeskouers floutes begin kry. Wat onder die water sit en kaart speel het met sy dogters. O, en die dogters! Wulpse waternimfe met lang blonde lokke en twee troetelkrokodille.”
“Ek wás een keer by jou sirkus,” sê Ben. “Die verhoog was vol water.”
“O! Die waterpantomime! Ek het reuse-ystertenks in die amfiteater laat bou. Tweeduisend pond het dit my gekos. Saans is vyftigduisend gelling water uit die dak gestort en die arena omskep in ’n meer. En dan het ons ’n groot karnaval gehou. Het jy ook gedink dis ongelooflik? Sewe Indiese olifante, tagtig perde en veertig Belgiese danseresse. Onthou jy die kunstenaars in die kano’s? Het jy die nar gesien wat manewales op ’n vlot doen? En aan die einde van die aand het al die orkeslede in die water geduik!”
“Maar toe bars die tenke,” onthou Ben. “Die koerante het geskryf jy het groot geld verloor.”
“Nietemin ’n onvergeetlike skouspel. Fillis se verstommendste vertoning. My grootste triomf nog!”
“En nou sit jy hier en suip soos ’n doodgewone kroegvoël.”
“Touché, Boerbok, touché. So ’n bek kort whiskey.”
En dan bestel hulle nóg ’n ronde.
7
Nadat Frank maande lank saam met Ben gefuif en ure lank na dié se oorlogsverhale geluister het, nadat hy in die menagerie by die olifant gestaan en sy briljante ingewing gekry het, kom hy op ’n dag met ’n spoggerige perd op Palmietkuil aangery. Die perd se naam is Rovero en dit is die een ding in die wêreld waarop hy die heel trotsste is. In die dag se laaste, bedrieglike lig kom hy met ’n regop rug en ’n geverfde sirkussaal op sy swart ros daar aangery, oorgehaal om die generaal skoon dronk te slaan wanneer hy sy planne soos hase of duiwe uit sy hoed skud.
Hy kry vir Piet op sy stoep. Frank kan skaars sy oë glo. Jou wrintiewaar. Nes die mense gesê het hy sal sit, sit die arme ou drommel daar. Sy skouers is geboë, sy hande rus op sy knieë en sy smerige