Sirkusboere. Sonja Loots

Sirkusboere - Sonja Loots


Скачать книгу
maar nog minder in die huis waar hy voorheen saam met Lenie gebly het. Eintlik wou hy glad nie terug wees in die land van verloorders nie. Sy ma moes maar wikkel en kekkel en regklap waar sy kan, maar hý was nie lus vir oorbegin nie. Vir wat moet hy krummels bedel by die nuwe bewind? Die bliksems! Hulle agterente, man. Hulle verdomde agterente. Hy sou g’n in hul verflenterde nes bly sit saam met al die ander uilskuikens nie. Dit was tyd om weg te bliksem. Hy moes nog net uitwerk waarhéén. Niemand sou Ben Viljoen se vlerke knip nie. Verdomp niémand nie.

      En toe knoop die enigste ander dopsteker in die kroeg ’n gesprek aan, in klopdisselboom Afrikaans met ’n swaar Engelse aksent. “Brandewyn,” sê hy en beduie na Ben se glas. “Hoe kry jy die goed by jou keelgat af?”

      “Niks fout met brandewyn nie,” sê Ben.

      “Nie as dit in ’n medisynekas staan nie. Julle Boere smeer dit mos aan koorsblare en aambeie en die duiwel weet wat julle nog alles onder lede het. Maar om dit te drink, o Here, nee. Dis te goor om te drink!”

      “Hang af. Van jou bui.”

      “Ek sien jy drink die gif skoon. Seker oor dit so droog is.”

      “Ja-nee, ons mors nie water nie,” gee Ben effens skiet. Glimlag. Hy het lanklaas só ’n potsierlike kalant op die lyf geloop. Regte Engelsmannetjie. So skraal soos ’n snoekerstok, met wit wenkbroue en ’n bokbaardjie wat lyk soos die kwassie waarmee Lenie altyd melk aan haar tertkorse geborsel het. Of waarmee sy waarskynlik steeds haar tertkorse borsel, al is hy nie meer daar om saam te eet nie.

      “Kom ons drink eerder iets ordentlik. Dis op mý.” Frank bestel joviaal twéé whiskeys.

      Ben haal sy skouers op en slaan die dop weg. As die snoekerstokkie sy geld op vrot geselskap wil mors, gaan hy wat Ben is nie kla nie. Tyd om die dag aan sy nekvelle te gryp en te verdrink. “Waarop drink ons?” vra Ben.

      “Ek weet nie. Wat ook al. Op mooi vroue. Of op vrede.”

      “Eerder op vroue. Vrede help my niks. Ek kon netsowel op St. Helena bly sit het.”

      Frank lyk geïnteresseerd. “So, jy was ’n krygsgevangene?”

      “Ja. Met komplimente van jou koningin.”

      “Mag sy in vrede rus,” skater Frank en daar gaan hy al weer. Nog ’n leë glas. Ben lus ook nog, maar dié heildronk drink hy nie saam nie. Selfs hý moet iewers die streep trek.

      “Is jy ’n soldaat?” vra Frank.

      “Ek wás. Nou weet ek nie meer nie. Dis vrede en ek sit ledig.”

      “Het jy nie ’n plaas nie, Boer?”

      “Nee.”

      “’n Boer sonder ’n plaas. Elke dag iets nuuts.” En Frank lag hom byna dood.

      “Ek het net ’n boek, en dit gaan my niks in die sak bring nie,” sê Ben suur.

      “Watse boek?”

      “Wat ek oor die oorlog geskryf het.”

      Frank lyk beïndruk. “’n Skrywer. Dis deftig. Wat is jou naam?”

      “Ben Viljoen.”

      “O. Die Boeregeneraal. Ek het al van jou gehoor. Slaan my dood. Hier sit jy en suip soos ’n doodgewone kroegvoël.”

      “My rang was nog nooit van enige hulp nie,” sê Ben. “Dit het die Britte gretig gemaak om my te vang, ja. Maar op St. Helena het hulle my in ’n tent laat bly en vir Piet Cronjé ’n huis gegee. En ná die oorlog is Botha, De la Rey en De Wet sonder my Europa toe vir die onderhandelings. Asof ‘generaal’ sommer ’n bynaampie is wat my ma my gegee het.”

      “Klink my hulle was nie lus vir jou nie,” waag Frank dit.

      “Of ek vir húlle nie. Hulle kan in hulle verdomde maai vlieg.”

      Frank antwoord nie, maar hy kyk met nuwe oë na Ben. Hy bestel vir hulle elkeen nog ’n dubbel-whiskey en takseer die generaal met die gladgewakste kantkuif. Hy raai die flambojante kronkel van sy mededrinker se snor verklap selfvertroue en flair, dalk selfs ’n verbeelding en ’n sintuig vir intrige. Ben is ’n haan onder die henne, dít kan hy sien. Maar die haantjie se krop sit tot barstens toe vol gedwarsboomde drome, raai hy. Hy weet hoe dít voel. Lo and behold, dink Frank, hierdie Boer is byna so keelvol soos ekself.

      “En jý? Het jy geveg?” vra Ben ná ’n ruk. terwyl hy dit vra, kry hy al lag. Die Engelsmannetjie sal duidelik nie ’n vark kan slag nie, never mind ’n mens.

      “Nee. Maar ek het al baie gevare trotseer.”

      “Soos?”

      “Die land was nie altyd so mak soos nou nie, Boerbok,” vervies Frank hom. “Ek toer al sedert die 1880’s in die ongerepte binneland. Dikwels moes ek manalleen myle lange distansies aflê. Ek had my kwota noue ontkomings. Daar was robuuste blootstelling aan doodsgevaar op ’n menigte maniere.”

      “Noem één voorbeeld.”

      “Die keer toe inboorlinge my duskant Wepener gevange geneem het. Agttien-agt-en-tagtig, as ek reg onthou. Die kaffers was boos, want hulle dag ek is een van die troepe wat by die Basoetogrens sou oorlog maak. My sakdoektruuks het my gered. Hulle het gedink dis togati. Toorkuns. Toe ek weer sien, laat hulle my loop.”

      Ben lag. “Is dit die naaste wat jy ooit aan oorlog gekom het?”

      “Ek is nie ’n soldaat nie. Ek veg net met my skuldeisers,” sê Frank. “Veral deesdae. Voor die oorlog het dit goed gegaan met Fillis se Sirkus, maar nou is niemand meer lus vir grappies en poetse nie.”

      “Dan weet ek ook nou wie jý is,” sê Ben.

      “Ja. Aangenaam. Frank Fillis,” en Frank steek sy hand uit. “Befaamde volksvermaker. Impresario, arties en sirkusbaas. Skepper van kolossale skouspele en treffende tablo’s. En laaste maar nie die minste nie, eienaar van Afrika se eerste en enigste eenwielfiets.”

      Ben skud van die lag én hy skud die hand wat na hom uitgesteek word. Dis nie die eerste Engelse handjie wat hy in syne neem nie. Buitendien, die oorlog is verby en dit klink vir hom die vrede is vir hulle al twee ewe simpel.

      Hulle dop eers ure later dronk by die kroeg uit, en ’n week ná hul eerste ontmoeting stuur Frank ’n sirkuswerker met ’n nota na Ben se ma se huis: Confrère! Kameraad! Wat ’n goeie ontmoeting was dit nie! Ons moet weer beraadslaag. In dieselfde hoofkwartier. Vanmiddag om drie.

      Ben grinnik toe hy dit lees. Met alle plesier, laat hy weet.

      Dit is die begin van ’n trotse tradisie van kakpraat en kwaaidrink. Hulle daag in goeie kondisie op, altyd weer by dieselfde kroeg, en elke sessie begin stigtelik genoeg. Maar later bondel hulle inkapabel van hul stoele af en flenter dronk by die deur uit, en die volgende oggend word elkeen wakker met ’n hoofpyn wat soos ’n merrie teen die skedel skop.

      Frank amuseer vir Ben. Niemand in Krugersdorp se jeremiades is interessanter as die sirkusman s’n nie. Saans in die arena lyk Frank redelik presentabel met sy wit rybroek, swart stewels, rooi jas met lang flappende pante en perdesweep, maar as die son op hom skyn, slaan hy volgens Ben ’n potsierlike figuur. Hy het ’n spits gesig en maer beentjies en die details van sy monderings hang van sy bui af. Soms dra hy ’n aandbaadjie met ’n kniebroek daarby; die volgende dag ’n verbleikte tuniek uit die Soedannese oorlog, of ’n groen fluweelbaadjie met omboorsels van goue kant, of kruisbande vol kastige “medaljes”. Daarby dra hy altyd ’n leertas wat hy sy portmanteau noem. As Ben vir hom vra wat hy daarin hou, sê hy geheimsinnig: “Planne, Boerbok. Vir ’n blink toekoms.”

      Ben hou daarvan dat Frank sy eerste dop vinnig wegslaan en dan ’n lang inventaris moontlike gespreksonderwerpe aframmel, die een so gek soos die ander. “Wat sal daai massiewe suurheid van jou laat wyk, Boerbok? Wil jy hoor van al die beserings in Bombaai toe een van ons sitplekstellasies ineengestort het? Van die koningin se verjaarsdagviering in Kaapstad, toe ’n mak luiperd ’n tienjarige kind se kopvel afgeskeur het? Van ’n ontmoeting met ’n gewapen-de


Скачать книгу