Sirkusboere. Sonja Loots

Sirkusboere - Sonja Loots


Скачать книгу
oorlogsmemoir. Hy sou ook probeer bemiddel en beïnvloed, maar hy was verkeerd oor die bui in Engeland. Hy hét nou wel vol sale getrek: In Liverpool, Belfast en Londen het hulle geluister na sy praatjies en gelag vir sy grappies. Hulle het gehou van sy diplomasie en was verras deur sy gematigde standpunt. Maar as dit kom by skadevergoeding en hulpverlening, was hul aandag nie by hom nie. Hulle was nie in sak en as soos die Boere nie. Die ou opstootjie daar doer in Afrika was van verbygaande belang. Die Britte was reeds weer bedrywig met ’n skermutseling in Somaliland; en aan’t vergeet en voortstorm en byhou met al die nuwe dinge wat elke dag bring.

      Selfs die vurige ou Boerevriend Lloyd George se aandag was nie meer by die oorlog waarteen hy so fel gekant was nie. Verby was die dae toe hy in oorvol stadsale voor die vlagwuiwende, fluitjieblasende, voetstampende Birmingham-buffels en die stoelgooiende skares van Glasgow vir die Boere in die bresse getree het. Hy was besig om opgang te maak in die politiek, maar hy het nou vir voordeliger sake geveg as vir die vernielde Boere daar in verre Afrika. In die parlement het hy die agterbankers wakker gepraat, met soveel drif dat hulle hul kenne uit hul onderbaadjies gelig en moeisaam hul bene van die banke se rugleunings afgeswaai het. Hy het hulle aandag gehad, maar dit het nie meer oor Ben en sy makkers gegaan nie. Die Britse onderwyswet wat Balfour probeer deurdruk het, ja, dít het hom geïnteresseer. Dáároor kon hy ure lank praat.

      “Ek het my bes gedoen om julle saak te stel,” het hy gesê toe Ben hom gaan opsoek. “Jy weet ek was nooit ten gunste van ons oorlog teen jou en jou mense nie. En jy weet hopelik watter prys ek vir my standpunt betaal het.”

      Ben het ’n wenkbrou gelig. Hy het nie geweet nie.

      “Ons pro-Boers was gehate mense, Ben. My teenstanders het doringdraad om bakstene gedraai en dit gegooi na die verhoë waarop ek staan en praat het. My seun is so geboelie dat ek hom uit die skool in Dulwich moes haal. En op die gholfbaan het die jingo’s my stokke gebreek.”

      Hy het vir Ben koerantknipsels gewys oor ’n vergadering in Glasgow waar dinge so warm geraak het dat Lloyd in vermomming by ’n agterdeur moes uitglip. Hy het vir sy lewe gevrees. “Lees hier. Daar was ’n skare van dertigduisend. Met stokke en messe, en lús vir baklei. Dit was Chamberlain se mense en hulle wou niks goeds hoor van die mans wat besig was om hul seuns in Afrika dood te skiet nie. Ek was gelukkig om betyds weg te kom. Twee mense is daardie aand in die oproer dood.”

      Twéé, het hy gesê, asof twee verdomp saak maak. Wat is twee simpel sotte teen al die derduisende wat op die slagveld stukkend geskiet is? Hulle moere. Hulle moere, wie hulle ook al was.

      “En skielik was Lloyd George nuus,” het Ben gesê. “Dit het jou reputasie gevestig. Invloed gebring.”

      Die politikus het sy skouers opgehaal. “Hulle weet nou met wie hulle te doen het. Ek is nie net die wilde Wallieser wat in die parlement oor streeksakies spartel nie. Vir my gaan dit oor die groot goed. Nasionale agendas.”

      Wat sê mens vir só ’n man? Ben het met ’n bek vol tande daar gesit en gewonder wat die oorlog hóm in die sak gebring het. Wat was hy anders as ’n armgat generaal, flenters geveg en so rigtingloos aan’t ronddraf soos ’n afkophoender? Ja, hy het sy wrokke lekker wárm gebroei daar in Lloyd George se huis in Wandsworth, ’n huis met ’n kok en ’n huishoudster, waar invloedryke vriende die drumpel deurtrap. Hy is gasvry ontvang, maar die pecking order was duidelik.

      “Julle Boere laat my dink aan die ou Walliese verbondsvolk,” het Lloyd oor sigare en sjerrie verduidelik. “Die hele Boerebevolking is so groot soos Carmarthenshire. Jou nasie bestaan ook uit pastorale gemeenskappe, soos ons voor die nywerheidsrevolusie was. Julle leef van die land af, en die Bybel is julle enigste boek.”

      Ben het onthou dat daar in sy ouerhuis ’n plank was waarop ’n Bybel en ’n paar gebedeboeke staangemaak was. Dit was die somtotaal van die Viljoens se huisbiblioteek. Hy het opgekyk na die rakke vol boeke wat Lloyd van sy skoolmeesterpa geërf het. Boeke oor die geskiedenis, opvoeding, godsdiens en die natuurwetenskap, ensiklopedieë, Engelse poësie, Shakespeare se dramas en romans van Dickens en Hugo. Alles in groot teekiste aangery uit Lloyd se grootworddorp Llanystumdwy.

      Die dag toe Lloyd vir Ben aan sy vrou voorstel, het sy geglimlag en gesê sy is so bly die miserable squabble is nou gesettle. Duisende van sy mense dood, kinders wat in die konsentrasiekampe so uitgeteer het dat hul ribbes soos skeermeslemme deur die vel gesteek het voordat hulle van honger en ontbering dood is, kinders wat soos afgeskeerde baardstoppels op die oop aarde weggegooi is, en sy noem dit ’n squabble. Ben moes dit vat. Hy moes dit uit haar hand uit eet. Hy was ’n gas in hul land en hul huis, ’n bedelaar om raad.

      Hy het sy gasheer probeer pols oor Hollands as voertaal in skole. Moet die Boere dít ook nou prysgee?

      “Jy kan my niks vertel van daardie stryd nie. My oom Lloyd is nou nog half doof omdat ’n onderwyser hom ’n oorveeg gegee het ná hy Wallies in die klas gepraat het.”

      Maar meer as gemoedelike simpatie het Ben nie gekry nie. Hy het hard probeer dink aan ’n manier om iets met die man uit te rig, sodat die vriendskap nie vergeefs sou wees nie. Stel my voor aan Engeland se pro-Boers, het Ben gevra. My verslaande volk het ons eertydse bondgenote nou net so nodig as tydens die oorlog. En gee die ou bokram wat hom toekom, dít het Lloyd George darem gedoen. Die reël van diskrete etes saam met die dikgevrete deurwagte van Britse society was op die ou end al waarvoor hy goed was.

      Hy het Ben voorgestel aan sir Edward Clarke, wat so baie geld gehad het dat hy, behalwe ’n groot huis op die oewer van die rivier in die dorpie Staines, ook uit sy eie sak ’n gotiese klipkerk met gebrandskilderde vensters en ’n kloktoring vir die dorp laat bou het. En aan die formidabele Charles Scott van Manchester. En aan die sjokolademagnaat George Cadbury, met wie Lloyd aan’t konkel was om ’n koerant te koop sodat hulle menings kon swaai.

      Een diknek het ’n ander van Ben vertel, en wanneer hulle gerus was dat hy nie hul met-voorvader-se-voorletters-gegraveerde eet-gerei sou steel nie, het hulle hom na hul dinner parties en gentlemen’s clubs genooi. Na operas in die Savoy, herehuise, country manors en villas in die voorstede. Hy was een van die seisoen se rariteite. ’n Gawe grap om gaste mee te vermaak; min of meer op dieselfde vlak as die gesogte, eksotiese pynappels wat die gasvroue so graag op hul tafels ten toon gestel het voordat hulle dit op lange laas in dun skywe gesny het. Ontmoet ons vriend, generaal Ben Viljoen. Vars van die slagveld af. Vir die eerste keer vry ná sy lang verblyf op St. Helena. Dit is die stof van Afrika daar aan sy stewelpunte. Toe, skink vir ons.

      Daar is drankies geskink, horlosies aan kettings gerinkel, nóg drankies geskink, sigare opgesteek en kaarte geskommel. Sy Engelse gashere het na hom geluister, maar met ’n halwe oor. Die stemming was lighartig. Die swaar lyf van Victoria was in haar graf, en Edward se Engeland was jolig. Ben se gepieker het ’n trifle tedious geraak. ’n Mens sit nie met so ’n lang gesig langs ’n biljarttafel nie. Sny die kaarte, kêrel!

      Wat doen ’n verslaande generaal as ’n gefuif hom aan die gat byt? Hy hou sy glas sodat iemand dit kan volskink, natuurlik. Hy maak sy blinkgeskuurde bas by die oorwinnaars se etenstafels tuis en laai sy bord vol pap en room, geposjeerde en geroerde eiers, spek, ham, wors, gekruide niertjies, gerookte vis en koue vleis. Vir ontbyt. Vir middagete wei hy tussen die skinkborde vol galantiens, ham, tong, fisant, patrys, perskes, spanspekke, lemoene en bessies. Teen teetyd staan daar al weer torings toebroodjies en skons met konfyt en room. Aandete bestaan uit tussen agt en twaalf gange. Met sjampanje en wyn en whiskey en brandewyn heeldag lank, net wanneer jy wil. Ben het gesorg dat hy hom goed volstop.

      Wanneer hy dikgevreet was aan die kos, was daar die vroue met hul verregaande hoede en haartooisels, ritselende onderrokke, slepende some en styfgerygde middellyfies. Daardie gedurige getrippel op die hoëhaksteweltjies, die kloutjies waarmee hulle krummels uit hul koekbordjies pik, die gedimpelde dye onder die rokke! Dit het hom laat dink aan pienkgepoeierde weergawes van dinosourusse, die uitgestorwe akkedisse waarvan die Britte soms die geraamtes gevind het wanneer hulle steenkoolmyne uitgrawe.

      Wat staan ’n man te doen as hy soveel uitnodigings kry na soveel huise? Hy ruk op na die deure met die blink kloppers en donker posgleuwe en hy bars gewoon die wêreld van rankrosies en poeierdosies en silwersnuisterytjies binne. Boer op besoek was wat hulle wou hê en Boer


Скачать книгу