Sirkusboere. Sonja Loots

Sirkusboere - Sonja Loots


Скачать книгу
het van ’n wipplank gespring, bo-oor dertig kastige soldate wat in dubbelgelid in inspeksiestand aangetree staan, tot op ’n matras aan die ander kant. Die soldate was gewapen met gevelde bajonette en hulle het opdrag gehad om ’n sarsie skote af te vuur sodra hulle sy stem hoor.

      “Vuur,” het Frank geroep sekondes nadat sy voetsole losgeraak het van die wipplank, selfs voordat hy nog behoorlik oor hul koppe geseil het. Die kuns was om ver genoeg te spring sodat jy nie tussen die soldate land nie, of bo-op hul bajonette nie, om nie te vroeg die skietbevel te gee nie, maar ook nie só laat dat die toertjie alle waaghalsigheid inboet nie.

      Toe hy die eerste keer ongedeerd op ’n matras land, terwyl die rook en die reuk van die skote nog in die lug hang, het hy vir ’n oomblik weer die óú uitgelatenheid geproe, die euforie wat volg as jy wegkom met roekeloosheid. Daarna het hy die toertjie elke aand herhaal.

      Nadat Frank op ’n keer sy enkel verstuit het, het die tuimelaar George Feeley, ambisieus en honger vir aandag, aangebied om in sy plek te spring. Maar Feeley het reeds die eerste aand verbrou. Hy het te kort geland en ’n bajonet het sy been deurboor. Die wond het ontsteek, die been moes later bo die knie afgesit word en Feeley het teruggekeer na Engeland.

      “Dit was vernederend, toe dink hy maar ’n storie uit,” het Frank gesê. “Hy vertel nog steeds vir almal dat sy been by Elandslaagte deur een van julle Boere se Creusotkoeëls verbrysel is.”

      Ben het sy glas hard op die kroegtoonbank neergesit. Hy was onmiddellik woedend. “By Elandslaagte! Was hy daar?”

      “Nee. Maar dis ’n beter storie as die waarheid,” het Frank gesê en gelag. “En Feeley het ’n goeie verbeelding. Hy vertel glo dat hy later niks kon sien in die rook en stof nie, maar dapper aangehou het om kolonel Chisholme se spoggerige rooi syserp oor die gevegsterrein te volg.”

      “Dapper se gat!” het Ben uitgebars. “Dis hoe jy weet hy praat stront. Niemand glo agterna meer in verdomde donnerse dapper-heid nie.” Hy het vir sy eie emosie geskrik.

      Frank het hom nie juis aan Ben gesteur nie, hy wou sy storie kláár vertel. “Hulle sê as hy op dreef is, vertel Feeley hoe hy platgeval het as die koeëls om hom fluit, hoe dit soms die grond so naby aan hom getref het dat dit sand oor hom laat spat het, maar hoe hy elke keer weer opgestaan en vooruit beweeg het.”

      “Genóég.” Ben het vinnig opgestaan en sy stoel het hard omgeval. Sy vuiste was gebal.

      “Tot hy uiteindelik in die hardloop neergevel is,” het Frank dit gewaag, toe Ben se stoel opgetel en beduie hy moet sit. “Kom, Ben.” Hy het sy hande as ’n vredesgebaar in die lug opgehou. “Ek vertel jou maar net watse stront Feeley alles loop en verkoop. Have a laugh, ou vriend.”

      “Dis nie snaaks nie. Dit was nie ’n grap nie. Enigiemand wat daar was, sal wéét. Hulle het op hul perde gesit en ons manne met lanse stukkend gesteek. God, die goed wat mens daar gesien het.” Ben het die emosie probeer sluk, maar dit het in sy keel vasgesit. “Mans en seuns het tussen die rotse rondgekruip en om genade gesmeek. Daar was dinge wat ek nie kon aanskou nie, ek het myself gedwing om weg te kyk.”

      Ben het stilgebly. Magteloos. Dis onmoontlik om die hart van die hel vir iemand aan die verstand te bring as hulle nie daar was nie.

      “Pigsticking,” het Frank sag, skaars hoorbaar, gesê.

      Ben het sy binneste voel ruk. “Wát?”

      “Miskien moet ek jou nie eens vertel nie. Dis glo hoe hulle dit beskryf het. Agterna.”

      Ben het vir Frank aangegluur. Twee of drie jaar gelede sou hy opgespring, soos ’n dier gebulk en die Engelsman se gevreet skeef ingeslaan het. Maar nie meer nie. Wat sê mens as jy so iets hoor? Niks. Jy sê absoluut niks. Jy suip. Mettertyd bedaar jy weer. Dis mos die nuwe manier van doen. Hou jou bek en bedaar. Sit in die hoek en shut up.

      3

rule.jpg

      Nadat Feeley sy been verloor het, is Frank se sirkus deur ’n hele reeks ongelukke getref, lastig en duur, en een oggend het Salvator Bugeja se leeus hom aan die bors, arms, kop en gesig gebyt. Die temmer het maande lank in die hospitaal om sy lewe geveg, hom verbeel dat hy staande toegejuig word in die Folies Bergère in Parys en oor vergete vertonings in Alexandra Palace in Londen geyl. Hy is later ontslaan, maar toe hy op die skip na Engeland klim, was hy vermink en platsak, al wat hy gehad het was die tweehonderd pond wat Frank met die groetslag in sy baadjiesak gestop het.

      “Eliza het vreeslik geraas,” het Frank agterna vir Ben vertel. “Sy’t gereken ek moes die geld eerder vir die bank gegee het. ’n Deel van ons skuld gedelg het.”

      “Tweehonderd pond ís ’n trop geld,” het Ben gesê.

      “Salvator het elke pennie daarvan verdien. Hy was ’n kunstenaar. Hy was wêreldklas.”

      Salvator se ongeluk het Frank swaarmoedig gestem. Dit het hom laat glo daar skuil rampspoed in die saagsels. Een aand in die Kaap het ’n wolkbreuk tydens die aandvertoning losgebars. Die tent was so vol soos dit in daardie dae geraak het, en die ponies aan’t galop in die ring toe die wind begin ruk, vlae reën teen die seil begin slaan en die lampe wild aan hul toue begin swaai.

      “’n Sirkustent is nie ’n sambreel nie,” het Frank aan Ben verduidelik. “Reënbuie rinneweer dit. Die tent kom altyd tweede, dit eindig altyd in trane.”

      Die kwartpale het kant toe gespat, die middelpaal het geknak en die gewig van die reën het die tentkoepel met ’n sagte sug op alles en almal laat neersyg. In die donker het benoude sirkusgangers knipmesse gebruik om skeure in die seil te sny sodat hulle na buite kon klouter; en toe Fillis sy tent die volgende oggend in die daglig beskou, was dit ’n verflenterde Aspoesterrok.

      Frank het lang tafels van die sitplekplanke gemaak, die agter-gelate handskoene, kieries, hoede en baadjies daarop uitgepak en eenkant op ’n lendelam stoel gaan sit om te kyk hoe die vorige aand se plesiersoekers kom vroetel vir besittings wat hulle nuwer en meer waardevol begin voorstel het omdat hulle gevrees het dat dit vir altyd verlore was. Dit was met teleurstelling dat elkeen sy klam en vuil kledingstuk geëien en weer van ’n losgetrekte naat, verweerde voering of deurgeskifte gat onthou het.

      Fillis kon sien hoe hul fantasieë druipstert wegsluip. Dit het sy keel laat toetrek. Hy moes wegkom. Oppak en verkas.

      “Daar is altyd iets snaaks aan enige tragiese situasie,” het daardie staaltjie van hom geëindig.

      “Nie altyd nie,” het Ben verskil.

      “terwyl ek die volgende oggend die skade staan en takseer, sien ek ’n man daar ronddwaal. Hy begin my volg en mompel aanhoudend oor ’n verlore handskoen. ’n Handskoen, terwyl ek meer as ’n duisend pond se skade gely het! Hy was knaend, hy wou nie weggaan nie. Ek het op hom geskree en drie sjielings op die grond voor sy voete neergegooi. Vir nuwe handskoene en sodat hy my in vrede kan los. Eers toe hy buk en die geld optel, besef ek hy is simpel. Oorlogsimpel. Skrapnel in die brein.”

      “Wat is snaaks daaraan?”

      “Die nadraai was ’n geveggie met Eliza. Sy het gedink ek moes eerder vir háár ’n nuwe paar handskoene gekoop het. Dít was vir my snaaks. As jy weet wat ek bedoel.”

      Dae lank het Frank die werkers aangejaag wat die tent moes lap. Die herstelwerk was skaars klaar toe gee hy opdrag dat alles opgepak en op die trein gelaai word. “Ons gaan op toer, ons is kláár met die Kaap,” het hy vir sy werkers gesê, maar stilgebly oor die feit dat die stadsraad hom in elk geval ’n maand vantevore finaal kennis gegee het.

      terwyl Frank opgepak en van die Parade af padgegee het, was Ben nog in Engeland. Hy het dikwels gewonder wat sy eertydse oorlogsmakkers sou sê as hulle moes weet hoe hy met die vyand flikflooi. En die vrinne wat langs hom in die veld gesneuwel het, wat tussen klippers lê en leegbloei het en agterna haastig toegespit is, wat sou hulle dink? Wat sou húlle sê as hulle vanuit hul bossiesbegroeide grafte kon sien tot in die bevoorregte Britse kringe


Скачать книгу