Sirkusboere. Sonja Loots
daar met sy God sit en worstel. Dikwels het die trane oor sy wange geloop. Veral wanneer hy oor die samesweerders teen Dawid lees, het die somberheid hom vasgedruk, want hy het gewéét hoe dit voel om die teiken van on-verdiende vyandigheid te wees. Op Palmietkuil se buurplase, in die dorp en selfs in die kerk, oral waar hy kom, kon hy verwyte aanvoel. Die hele Potchefstroom-distrik het geweet hý was die een wat ’n tiende van die vegtende Boere in Britse hande laat val het. Hulle sou hom nooit daarvoor vergewe nie. Dit was onmoontlik om iewers te gaan sonder om hom vas te loop in die vriende, familie, weduwees en kinders van dié wat by Paardeberg gesneuwel het. Die oorlog was al langer as ’n jaar verby, maar steeds het hulle met dieselfde ou stories gekom. Cronjé moes eerder dít gedoen het, Cronjé moes eerder dát gedoen het. Skielik was almal vol bravade. Skielik was almal baie bekkig oor waar hy fouteer het. Maar toe die lug geel was van die liddietdampe en alles gestink het van lyke en karkasse en allerverskriklike vrees, tóé wou niemand raad gee nie, want die waarheid was dat niemand raad geweet het nie.
En nou het hulle hom agterna staan en verkwalik. Oor Paardeberg, en omdat hy die broer was van Andries, wat in die oorlog vir die Engelse geveg het. Potchefstroom se mense was net mooi niks lus vir die Cronjé-pakkaas nie. Dat die twee broers ook nie met mekáár oor die weg kom nie, het vir hulle nie ’n windkraak van ’n verskil gemaak nie.
Piet sou graag vir Andries wou vra hoe hy iets so godskreiend laakbaar kon doen, maar sedert Andries se seun by Paardeberg gesneuwel het, was hulle soos vreemdelinge vir mekaar.
“Is dit mý skuld?” het Piet vir Andries gevra die laaste keer toe hulle gepraat het.
“Maar waar was jy?”
“Ek was daar. Daar by hom.”
“Langs hom?”
“’n Ent verder. Maar naby.”
“Hoekom was jy nie bý hom nie?”
“Ek sou nie kon keer nie, Andries.”
“Jy kon probeer het. Jy kon ten minste net probeer het om my kind veilig te hou.”
Hester het hom dit ook verwyt. Dit is deur sy hardkoppigheid dat hulle vasgekeer geraak het, het sy geglo. Omdat hy hardekwas was toe De Wet ’n helpende hand wou uitsteek. Was dit nie daarvoor nie, sou hulle altemitters nie vasgekeer geraak het nie. Sou haar swaerskind nie met ’n verbryselde lyf in die gras bly lê het nie, sou vriende en familie nie om hulle gesneuwel het nie, sou sy ná die oorlog haar kop omhoog kon hou.
Dit was nou die één ding wat hy altyd agterna van Hester sou onthou: Sy kon mos ’n stilte soos ’n brood knie en hom al hoe groter laat rys. Sy kon hom gaarmaak met die hitte van haar toorn, en hom porsie vir porsie uitdeel, en hom laat hou lank nadat jy al begin dink het hy moet al baie amper op wees. En dan kon sy jou nog aan die korsie laat wurg tot jou kake skoon lam is. Hester het ’n manier gehad met ’n stilte, en haar laaste een het langer gehou as al die ander saam. Sy het daardie stilte op die eiland begin insuur en hom saamgebring plaas toe en hom selfs op haar sterfbed vir Piet bly voer.
“Gaan jy vir altyd kwaad bly?” het hy dit op die laaste gewaag. “Tot héél aan die einde?”
Sy het nie geantwoord nie. Hy het haar hand styf vasgehou, al kon hy nie agterkom of sy ook sýne vashou nie.
“Hóékom, Hester?”
Hy het nie gedink sy gaan antwoord nie, maar sy hét.
“Want jy máák daarna, Piet.”
Hy het nie weer daar langs haar opgestaan nie. Hy kon sien dis tyd. Ná ’n ruk het hy vir haar al die óú liedere in sy hees stem gesing en uit die Bybel gelees. Die hele nag het hy daar by haar gesit. Sy met die roggel. Wanneer sy bewe of stuiptrekkings kry, het hy haar vasgehou.
“Ek sterf.”
Sy het nog net dié een keer gepraat.
“Jesus bloed het jou gereinig,” het hy gesê. Hy het gesê sy moenie twyfel nie en hy het haar hand vasgehou en vir haar gekyk en sy het vir hóm gekyk. Sy was te bang om haar oë toe te maak. Hy het later moeg geraak, sy kop langs haar op die kombers laat sak en met sy wang teen haar hand gelê. Wanneer sy dit beweeg, het hy opgekyk na haar. Toe sy later nie meer roggel nie, dog hy: Sy haal nou rustiger asem. Sy sal nog die dag sien. En toe raak hy aan die slaap, soos die dissipels wat nie kon waak nie. In ’n stadium het hy nog vir haar gesê dit gaan nou beter met haar. Sy het haar hand op sy kop gesit, asof sy hom wou troos. Toe hy weer opkyk, sien hy haar een oog is gebars. Toe hou hy haar gesig vas en sê vir haar: “Jy behoort aan Jesus. Ek is lief vir jou. Ek sal jou mis. Ek is jammer.” Al die heel moeilikste dinge sê hy vir haar. Toe eers.
Toe dit nog oorlog was, het hy dikwels gebid dat hy by haar sou wees wanneer sy sterf, of sy by hóm as dit andersom moes wees. En dat hulle tuis sou wees, op Palmietkuil, nie op die slagveld nie. Hy het sy wens gekry, maar hy sou nooit agterna die gevoel van verlatenheid kon beskryf wat hy gekry het toe hy na daardie ou bors van haar kyk en besef dit beweeg nie meer nie. Hy was lam daarvan. Hester was weg. Hester met die harde hakskene en die sagte borste. Hester, pynlik netjies en presies, behalwe vir die hare wat altyd om haar ore loskom.
Agterna was daar weer net stilte. Dit het vir hom gevoel na ’n nuwe, veel erger soort stilte. Dit het gekom van die lewendes én die dooies, van almal wat net mooi niks meer gehad het om vir hom te sê nie. Dan vat hy maar die Bybel en begin weer die psalms lees. Ja, ook sý siel was verskrik. Ja, selfs tot in sy gebéénte was hy verskrik.
5
Fenyang was bly as Piet so op sy stoep sit met die groot boek. Dan kon hý ook sit. Hy wou nêrens heen gaan nie. Hy wou net kyk hoe sy vroue mandjies vleg en hoe sy koring groei. Vanjaar sou niemand se kommandoperde sy oes opvreet nie. Dit was sýne. Fenyang Mokeyane s’n.
Dit wás droog, ja. Hulle wás honger. Die oorlog het al hulle kos en selfs die smaak uit hul mond gevat. Hulle het met leë hande op Palmietkuil teruggekom, hulle het niks meer in hul hande oorgehad behalwe eelte nie. Maar Fenyang het nie gekla nie. Daar was nog springhase in die veld en voëls in die bome. Hulle kon met ketties jag, die vroue kon veldkos soek. Die reën sou kom. Hy kon dit in sy bene voel. Hulle moes net wag.
Die terugkom was bitter, maar nie so bitter soos die weggaan nie. Fenyang was op die buurplaas toe hy die kommando in ’n stofwolk sien verbytrek. Hy is haastig agterna. Op Palmietkuil het hy die perde tot by hul blaaie in sy hawer gekry. Ver oor die honderd perde was dit. Hy is reguit groothuis toe. Rangkokoropane het op die werf gesit met sy kop op sy knieë, die sekel langs hom in die stof waar hy dit neergesmyt het. Hy het sit en huil, al was hy toe al tien jaar oud en taai.
“Hoekom keer jy nie?” het Fenyang geraas.
“KaMongoele sê ek moet die perde uitlos. Hy sê hulle kan maar vreet.”
Dit was ’n groot kwaad. Daardie stuk land was met húlle saad geplant. Dit was sý seun se sweet wat daar geval het. Die kind het in die donker geploeg en gesaai, snags, in die maanlig, nadat hulle klaar was met die baas se lande. Hy het soos ’n groot man gewerk waar die perde nou besig was om hulle dik te vreet.
Fenyang het óm die huis geloop en by die agterdeur gaan klop. “Baas, wat gaan aan by my hawer?”
“Vergeet die hawer,” het KaMongoele gesê. “Dis oorlog. Môre gaan ons saam met die kommando.”
“Wie gaan saam?”
“Ek en jy al twee. Ek het jou nodig.”
“En die oes?”
“Kokkerot is mos hier.”
KaMongoele het Rangkokoropane altyd só genoem. Vir Fenyang het hy Jan genoem. “Kokkerot en die vroue moet oes.”
“Wat as ek nie wil gaan nie?”
“Dan gee ek vir jou ’n trekpas en dan moet jy áf van my plaas af. Jy en al jou mense. Dan is ek eindelik ontslae van julle.”
Hulle