Elza Rademeyer Omnibus 4. Elza Rademeyer
Elza Rademeyer
Omnibus 4
Kronkelpad na geluk • Jy behoort aan my • Hamerkopnes
Jasmyn
1
Die dawerende slag van die slaghuisdeur laat Jessica gesteurd opkyk van agter die lessenaar, maar toe tant Mart verby haar stoom toonbank toe, haal sy haar skouers op. Moeilikheid vir oom Josie, dink sy so in haar enigheid. En dit is ook so.
“Joos Landman, dis die laaste keer wat ek my deur jou laat verneuk. Van môre af laat kom ek al my vleis van die Paarl af. Jy kan maar my rekening sluit!”
Oom Josie sug hardop toe hy met die slagtersmes in sy hand oor die toonbank leun. “Wat is dit tog nou weer, ou Mart?”
“Jy vra nog! Wat dink jy moet ek met daardie twee pikswart beespote maak wat jy gister saam met Tom gestuur het? My loseerders is gewoond aan ordentlike kos, Joos Landman. Hulle eet nie swart sult nie!”
“As jy daardie vinger van jou weer hier in my oog wil steek, kap ek hom morsaf met hierdie mes. Tom! Watse pote het jy gister losieshuis toe gevat? Wittes of swartes?” roep oom Josie sommer so in een asem na iewers daar agter.
“Altemit kon dit die swartes gewees het. Ek kan nie nou meer onthou nie,” bereik Tom se antwoord hul ore.
“Natuurlik was dit swartes. En as jy dit nie nou omruil vir wittes nie, sien hierdie slaghuis my nooit weer nie.”
“Jou vinger mik al weer hier na my oog! Nou waar’s die pote? Het jy dit saamgebring?”
“Saamgebring?” hyg tant Mart verontwaardig. “Jy verwag tog nie ek moet met die pot stomende vleis hier in die straat af loop nie?”
Oom Josie sug, en Jessica trek vinnig ’n sedige gesig toe tant Mart na haar kant toe loer.
“Het jy die swart pote dan al in die pot, Mart?” vra oom Josie.
“Dis nie ek wat dit in die pot gesit het nie. Dis Siena. Hoe moes sy nou weet?”
“Nou verwag jy van my om jou twee wit pote in ruil vir die twee swartes wat jy klaar gaargemaak het, te gee?” vra oom Josie ongelowig.
“Halfgaar. Dis nog nie …”
Die skril gelui van die telefoon onderbreek Jessica se belangstelling in die twisspel tussen oom Josie en tant Mart en sy antwoord werktuiglik: “Biesiesdal se slaghuis, goeiemôre!”
Dis ’n gilletjie van haar wat oom Josie en tant Mart skoon laat vergeet van hul rusie. Hulle kyk verstom na haar. Hoekom rek haar oë al groter en groter? Toe sy die gehoorstuk terugplaas en na hulle staar, is dit kompleet asof sy dwarsdeur hulle kyk sonder om hulle raak te sien. Dis oom Josie wat eerste in beweging kom toe hulle sien hoe sy begin wieg op haar stoel, en hy vang haar dan ook net betyds.
“Bel die dokter, Mart! Sy moes slegte tyding ontvang het.”
Tant Mart gryp haar hart vas. Van skone skok wil haar bene nie roer nie. Haar oorlede Sarel se dood was nét so skielik! Hy’t ook die oggend gehoor sy tweelingbroer is oorlede, en daardie selfde aand toe loop staan sy hart ook.
“Mart! Bel nou in hemelsnaam die dokter!” ruk oom Josie se paniekerige bevel haar uiteindelik uit haar beswyming, maar terwyl sy nog sukkel om die telefoniste van die handsentrale in die hande te kry, gaan Jessica se oë oop en sy begin stamelend praat.
“Ek kan dit nie glo nie! Is dit waar, oom Josie? Is dit regtig waar? O, hoe wonderlik!”
Vir ’n vlugtige oomblik wonder oom Josie: Sou Jessica nie dalk voor die hemelpoorte te staan gekom het nie? Maar haar oë is dan nog so helder?
En toe die telefoniste antwoord gee, skreeu tant Mart ongeduldig in haar oor: “Wag net so ’n rukkie. Dit lyk my die kind is besig om by te kom.”
“Wat is verkeerd, my kind?” vra oom Josie bekommerd.
“Verkeerd? Niks is verkeerd nie. O, dis fantasties!” en Jessica beur orent. “Ek het gewen! Oom Josie, ek het ’n motor gewen!”
Oom Josie het nie die vaagste benul waarvan sy praat nie. Hy wonder of sy nie dalk yl nie, maar tant Mart hoor ook Jessica se woorde, en sy jubel sommer haar blydskap oor die telefoon uit. “Wonderlik, my kind. Dink net hoe gaan ons toer!” Toe onthou sy dat sy nog met die gehoorstuk in die hand staan en plak dit kaplaks! in die telefoniste se nuuskierige ore neer.
“Tant Mart, ek het sowaar daardie motor gewen!” juig Jessica haar blydskap uit toe dié by hulle aansluit.
“Nou kan ek en jy gaan toer. Ek het geweet jy sou die een of ander tyd ’n groot prys losslaan. Jy neem mos al vir jare deel aan daardie woordbou-kompetisie.” Tant Mart is tog te ingenome.
So stadigaan begin daar vir oom Josie ’n lig opgaan, en hy is die eerste om haar geluk te wens.
“Haai, ja, baie geluk, my ou dogtertjie,” val dit tant Mart ook by en Jessica kry ’n moederlike drukkie. “Dink net hoe lekker kan ek en jy nou gaan vakansie hou. Ou Joos sit mos vasgespyker hier in sy slaghuis.”
“Het Jessica jou straks al genooi?” vererg oom Josie hom. “Jy gaan dan seker die motor bestuur, want sover ek weet, het Jessica nog nie ’n rybewys nie.”
Dis ’n teer puntjie wat oom Josie nou aanraak, want tant Mart ken nie eens elke dag die voor- en agterkant van ’n motor uit mekaar nie. Laat staan nog om een te bestuur!
“Jy’s nou net weer jaloers, ou Joos. Dis oor jy weet jy kan nie saamgaan nie. Gelukkig weet ek ek kan my losieshuis net so in Sofie se hande los wanneer ek na ’n kant toe wil gaan. Iets wat jy nie kan doen nie, want jy kan ou Koos Stoepsitter nie vir ’n dag alleen in die slaghuis vertrou nie. En niks verhoed my en Jessica om vir ons ’n chauffeur aan te stel nie.”
“Wag nou maar eers, tante,” plaas Jessica self ’n demper op tant Mart se opgewondenheid. “Ek het nog nie eens die motor nie. Ek moet dit Saterdag in die Kaap in ontvangs gaan neem. Hoe gaan ons die motor hier kry, oom Josie?”
“Maklik,” sê oom Josie met ’n ondeunde vonkeling in sy oë. “Ons neem ou Mart saam om jou motor terug te bestuur van die Kaap af. Maar ek sal jou aanraai om liefs saam met my terug te ry. Ou Mart kan jou straks verongeluk.”
Tant Mart snork verontwaardig, maar dan rek haar oë. “Goeiste, ek het skoon vergeet van die groente op die stoof. Dis sweerlik houtskool verbrand!”
Oom Josie stuur vinnig vir Tom agterna met die wit beespote. “Loop gee die goed tog daar af, Tom. Eerdat sy weer ’n lawaai hier kom loop opskop. En jy skryf die pote op in haar boek, Jessica. Sy sal maar net moet betaal!”
Dinge het net weer teruggekeer tot normaliteit in die slaghuis toe die deur weer oopgaan, en amper snak Jessica hardop na haar asem. Daar kom nie elke dag ’n vreemdeling op Biesiesdal nie. En daar was beslis in haar leeftyd nog nie so ’n aantreklike vreemdeling soos hierdie een nie!
Hy knik sy kop in ’n groet toe hy by haar verbyloop toonbank toe, en sy knik half verdwaas terug. Bloos eensklaps vuurrooi toe hy oor sy skouer terugloer na haar.
Oom Josie vryf sy hande genoegsaam toe hy die man in oënskou neem. Hy hou van wat hy sien. Hy hoop nie dis net weer ’n reisiger nie. Dalk ’n nuwe onderwyser? ’n Aantreklike man met wakker oë en ’n oop gesig. Die soort man wat hy graag sou wou hê Jessica eendag mee moet trou.
“Ek wil graag so twee braaitjoppies en ’n stukkie wors vir twee persone hê. Miskien moet u dit maar liefs vier tjoppies maak.”
“As julle twee mense gaan wees wat gaan eet, gaan vier tjops ook nog te min wees, ou vriend,” sê oom Josie vriendelik. “Daar’s nêrens in die wêreld nog sulke lekker skaap soos hier in Biesiesdal se distrik nie.”
Jessica verwonder haar dat oom Josie so openlik kan staan en jok sonder om te blik of te bloos. Net gister het hy nog vir háár vertel Biesiesdal se skaapvleis kan nooit naby regte Karoo-skaap kom nie!
“En waar is nefie nou eintlik?”
Jessica laat