Elza Rademeyer Omnibus 4. Elza Rademeyer

Elza Rademeyer Omnibus 4 - Elza Rademeyer


Скачать книгу
dat hy nie vir haar gesê het dat hy oorspronklik ’n ander afspraak vir vanaand gehad het nie, dink sy vaag. Miskien het oom Josie hom eers hier voor die losieshuis gevra. Alles was so deurmekaar toe hulle hier aangekom het. Bennie het nie eens binnegekom nie. Ook maar goed, anders het hy gesien hoe woes dit hier gegaan het met tant Mart se reëlings vir die partytjie!

      Hy los haar nie toe die nommertjie ten einde loop nie, maar talm eers om te hoor watter nommer volgende aan die beurt gaan kom. Dis dieselfde tyd dat tant Mart van die kombuis af die eetsaal binnekom, vir Bennie raaksien en reguit op hulle afpyl.

      “Ag, hier is jy dan,” sê sy in haar skik. “Ou Joos het my sowaar laat verstaan jy sal nie kan kom nie.”

      “Eintlik het ek ’n ander afspraak gehad, mevrou. Maar ek kon dit gelukkig verskuif tot ’n ander keer. Ek hoop nie ek verontrief u nou met – ”

      “Nooit nie. Ek is maar te bly jy’s hier. Jy moet sommer vir my tant Mart sê …”

      “Jan van Zyl,” sê Jessica bitsig, en trap so hard op Bennie se toon dat hy verbaas na haar kyk. “Dis ’n heerlike wals, kom ons dans,” en sy glip ook sommer onder sy arm in en du hom dansvloer toe.

      “Jan van Zyl?” vra hy fronsend toe hulle buite hoorafstand is. “Hoekom jok jy so? My naam is mos nie Jan van Zyl nie?”

      “Vanaand ís jy Jan van Zyl.”

      Hy kom tot stilstand en sy gesig is die ene vraagteken. “Hoekom is ek Jan van Zyl?”

      “Tant Mart sal nie toelaat dat ek met Bennie de Lange dans nie, wat hy’s ’n wewenaar met vyf kinders. Sy vrou is drie maande gelede eers dood, en hy’t boonop rooi hare nes ek.”

      “Ek verstaan. Jou … e … vriend se naam is ook toevallig Bennie de Lange. ’n Wewenaar met vyf kinders, rooi hare en … Maar ons kan mos aan tant Mart verduidelik dat ek nie dáárdie Bennie de Lange is nie?”

      “Nee, jy verstaan nie regtig nie,” sê Jessica, haar hart wild aan die bons oor die onmiskenbare teleurstelling in sy stem. “Kom ons dans. Ons blokkeer die vloer. Ek sal jou vertel hoekom jy vanaand Jan van Zyl is.” Toe vertel sy hom terwyl hulle dans.

      Hy lag so lekker toe sy hom klaar vertel het dat van die ander dansers se koppe na hulle kant toe draai. “Ek sal saamspeel,” belowe hy haar.

      “Ek wonder van watter Van Zyls hy is?” mymer tant Mart.

      “Van wie praat jy nou?” wil oom Josie nuuskierig weet.

      “Van Jan van Zyl wat daar met Jessica dans.”

      Oom Josie rek sy nek, en toe hy Jessica en Bennie sien, praat hy sonder om te dink. “Waar kom jy daaraan dat sy naam Jan van Zyl is?”

      “Hy sê dan so. Hoe hou jy jou dan nou so onnosel? Julle was dan die hele dag saam.”

      Eers toe onthou oom Josie weer van die speletjie wat hy en Jessica speel. “O, ek sien nou van wie jy praat. Ek dag jy sê daardie lang javel wat anderkant Jessica-hulle dans se naam is ook Jan van Zyl. Kom ek en jy gaan maak ook ’n draai op die vloer, of hoe?” maak hy gou ’n plan om haar nie tyd te gun om na te dink oor sy blaps nie, en hy herhaal die naam in sy gedagtes, sodat hy hom nie dalk later weer voor tant Mart verspreek nie.

      Laataand, toe die laaste gaste ook gereed maak om te vertrek, vou Bennie Jessica se skraal handjie in syne toe. “Wat doen jy môremiddag na kerk? Kan ek jou nie kom oplaai, dan ry jy saam met my uit Geluk toe nie?”

      “Sal ek welkom wees? Ek ken nie eintlik die Nels nie.”

      “Daar is niemand op die plaas behalwe die werkers nie. Oom Nel is al klaar weg na sy dogter toe vandag, en die plaas behoort eintlik klaar aan my.”

      “O. Sal ek dan vir ons ’n mandjie pak vir middagete? Ek weet daar is ’n rivier op die plaas. Ons kan daar gaan eet.”

      “As jy kan, sal dit gaaf wees.” Hy gee haar hand ’n drukkie, en toe sy ’n rukkie later onder Biesiesdal se sekelmaan met hom saamstap tot by die tuinhekkie, plaas hy ’n gloeiende kooltjie op haar wang met sy lippe. ’n Kooltjie wat brand en brand totdat sy in die vroeë oggendure met ’n geluksalige uitdrukking op haar gesig weggevoer word deur die slaap.

      ’n Verrassing wag die volgende oggend in die kerk op haar toe sy opkyk en sien dat dit Bennie is wat so geduldig langs die bank staan en wag dat die mense moet opskuif sodat hy langs haar kan plaasneem. Op die een of ander onverklaarbare wyse bevind sy in ’n stadium haar vingers verstrengel met syne tydens die diens. Eers toe hulle weer buite die kerkgebou kom, besef sy dat sy nie ’n woord kan onthou van wat die predikant gepreek het nie.

      Tant Mart oorlaai hul kosmandjie so dat hulle moet lag toe hulle van die losieshuis af wegry.

      “Eet jý so baie?” vra hy kamtig verbaas vir haar.

      Sy terg hom goedig terug. “Dis nie vir my nie, dis alles vir jou. Tant Mart het natuurlik gesien jy is ondervoed.”

      Jessica geniet dit om die plaas saam met hom te besigtig. Toe hulle moeg geloop is, gaan haal Bennie die kosmandjie in die motor en hulle volg ’n kronkelpaadjie tot onder op die rivieroewer. Nadat hulle geëet het, strek Jessica haar lui uit en gaan lê gemaklik op haar rug op die kombers, haar hande onder haar kop. Sy staar na die patroontjies van die vlieswolkies in die lug, en wys hulle die een na die ander aan Bennie uit.

      Toe hy stil raak, kyk sy na hom, betrap sy oë smeulend op haar deinende bors gerig, en toe sy ontdek dat haar bloes se knoop losgekom het, vou sy vinnig haar arms kuis oor haar bors. Dit ontlok ’n skor laggie by hom voordat hy haar in die kring van sy arms trek. Hy gaan haar soen, dring dit tot haar deur, maar daar is skielik geen weerstand in haar toe sy lippe nader kom nie. Dis hy wat self ’n rukkie later ’n einde maak aan sy liefkosings, wat algaande inniger geword het, deur haar weg te stoot van hom af.

      “Kom ons gaan liewer terug, meisiekind. Netnou raak ek heeltemal onverantwoordelik. Besef jy wat jy aan ’n man doen?”

      “Wat?”

      Hy kyk lank in haar oë. “Is jy werklik nog so onskuldig, of hou jy jou net dom?”

      “Seker maar albei,” sê sy met ’n skouerophaling, en begin dan vinnig om die eetgerei terug te pak in die mandjie. Dis waar, dink sy. Wat sy van ’n man se emosies af weet, is nie veel nie. Sy was nog nooit regtig danig met ’n man nie. Die jong mans wat sy ken, ken sy nie só nie. Dis nog net Johan van Niekerk wat haar een aand onverwags probeer vasdruk en soen het, en vir hom het sy geklap dat hy sterre sien.

      Bennie neem die reisdeken by haar, en toe hy sy hand onder haar elmboog sit om haar te ondersteun, verwonder sy haar oor die bewing van sy vingers. Sou sý die oorsaak daarvan wees? Voel hy ook soos sy? Asof haar begeerte na hom alle ander dinge oorheers? Is dit hartstog? Dié hartstog waarvan ’n mens in boeke lees? Dan is dit mos ’n gevaarlike emosie. Dit benewel dan ’n mens se verstand heeltemal. Sy sal versigtiger moet wees, maan sy haarself.

      Daar is net een uitweg, besluit sy toe hulle amper terug is by die motor. Sy moet verhoed dat hulle weer in afsondering by mekaar uitkom. En sy moenie toelaat dat hy haar weer soen soos hy dit so pas gedoen het nie. Dit het emosies in haar ontketen waarvan sy nog nooit vantevore bewus was nie.

      “Het jy regtig planne om môre Knysna toe te gaan?” vra hy vir haar toe hulle in die motor klim.

      “Nee, hoe sal ek daar kom? Oom Josie het sommer die storie uit sy duim gesuig.”

      “Ek het besluit om met my motor terug te gaan. Ry saam met my na my ouers toe, Jessica. Jy is tog met verlof.”

      Jessica kyk hom verbaas aan. “Jy is mos nou skoon laf!”

      “Hoekom sê jy so? Die een of ander tyd moet my ouers tog hul aanstaande skoondogter leer ken. Ek het gedink dis nou die ideale geleentheid daarvoor.”

      “Bennie! Besef jy wat jy sê? Watse onsin jy besig is om kwyt te raak?” roep Jessica onthuts uit.

      “Is dit onsin, Jessica?” Die sagte, warm blik wat uit sy oë straal toe hy


Скачать книгу