Elza Rademeyer Omnibus 4. Elza Rademeyer
Julia se stem, dring dit skokkend tot Jessica deur. Dis Julia wat hier binne by Bennie is! En toe Julia se woorde skril opklink en Jessica die betekenis daarvan snap, moet sy verbete veg teen die duiseligheid wat haar oorval.
“Jy is die enigste man wat vir my kind ’n vader kan wees, Bennie. Jy kan my nie los nie! Waarheen moet ek dan gaan?”
“Ek is bereid om jou geldelik te help …”
Hoe sy teruggekom het in haar kamer, weet Jessica nie. Sy sal seker ook nooit weet nie. Haar bewegings is soos dié van ’n outomaat toe sy stadig verklee en in die bad klim. Julia en Bennie. Bennie wat nie verantwoordelikheid vir sy kind wil aanvaar nie. Bennie wat so sjarmant en liefdevol teenoor haar optree. Dieselfde Bennie by wie Julia Saterdagoggend in die woonstel was. Dit was nie ’n toevallige botsing daar in die voorportaal van die woonstelgebou nie, dit was ’n omhelsing!
“Bennie, hoe kon jy!” wurg sy dit hardop uit. Hoe kan hy dit regkry om haar so teer en minsaam te behandel as hy weet ’n ander vrou dra sy kind onder haar hart? Is die wêreld se mans dan almal verrot? Kry ’n mens nie meer ’n ordentlike man nie? Of is dit omdat hy so verskriklik aantreklik is dat hy swak is? “Ag, Bennie,” sug sy dit weer hardop uit.
As sy net uiting kan gee aan haar gevoelens, dink sy later toe sy uit die bad klim en traag die sweetpak nader sleep om aan te trek. Maar sy kan nie huil nie. Hoe rou en seer dit ook al hier binne-in haar is! Sy mag nie huil nie. Nie voor hom nie. Nie nou nie, en nooit nie!
Dalk kom bely hy netnou sy misstap aan haar, vlam die hoop skielik in haar op. Sy sal hom vergewe, hom sê sy verstaan. Hulle kán tog gelukkig wees vorentoe. Sy sal hom help om te vergeet, self vir hom ’n kind gee. Hulle kan saam bou aan ’n toekoms. Sy’t ook geld, dink Jessica. Sy kan ook bydra tot onderhoud vir Julia. Bennie moet net self vir haar kom vertel, haar kom verseker hy kan nie met Julia trou nie omdat hy ontdek het dat hy haar, Jessica, liefhet. Hy sal! O, sy is seker hy sal.
Die minute tik langsaam verby, en toe daar skielik ’n klop aan haar deur is, probeer sy naarstiglik om normaal voor te kom.
“Hallo, meisiekind. Het jy dalk kos vir ’n honger outjie?” begroet hy haar oënskynlik opgewek toe sy die deur oopsluit.
Kos? O ja, die kos, flits dit deur haar gedagtes en sy forseer ’n glimlag. “Ek het nog niks reggemaak nie, weet jy. Hopeloos te lank in die bad gelê, maar die water was so lekker.” Sou hy gebad het? Dit lyk tog so, want sy hare is nat. Wat het van Julia geword? Is sy weg, of wag sy dalk dat hy moet terugkeer na sy chalet?
“Dis geen probleem nie. Ons is mos nie haastig om in die bed te kom nie, of hoe?”
“Nee. Nee, natuurlik nie.”
“Dit was ’n heerlike dag, nè, Jessica?”
“O ja, ’n heerlike dag,” beaam sy so opgewek moontlik en bid dat hy nie die bewing van haar vingers moet raaksien toe sy begin om die tafel te dek nie. Hoe kan hy so opgewek klink? Gaan hy nie vir haar vertel van Julia nie?
“Die volstruisryery was prettig. Ek was in ’n stadium bang jy gaan nie bo bly nie.”
“Ek hét amper afgeval.” Stop tog nou die onsinnige praatjies, Bennie. Vertel my van Julia, skryn dit in haar binneste.
“En is jy nie bang jy droom vannag van die krokodille nie?”
“Brr! Dis darem aaklige goed.”
“Die kleintjies is darem mooi.”
Klein babatjies is net so mooi, dreig dit om deur haar lippe te kom, maar sy bly dan tog maar stil. Sy gaan hom nie uitlok nie. Hy moet uit sy eie begin praat. Dog, hoe later dit word in die aand, hoe lekkerder kuier hy. Heeltemal ontspanne en vol gesels. Totdat haar oorspanne gemoed dit nie meer kan verduur nie.
Sy kan nie langer ’n front van vrolikheid voorhou nie, besef Jessica. Sy gaan nou enige oomblik in trane uitbars, want sy’t die vervlakste skobbejak wat so tuis daar op die bed lê, lief! Sy’t hom met haar hele hart lief!
“Verskoon my net gou ’n rukkie,” sê sy. “Ek het my verbeel ek het ’n bekende hier anderkant opgemerk. Ek sal nou weer terug wees!” Voordat Bennie heeltemal oor sy verbasing kan kom, klap die deur agter haar toe.
Sy hardloop. Soos ’n wilde dier gaan sy aan die hardloop, uit by die kamp se hek, aan en aan, totdat sy besef sy is alleen buite die dorp. Toe spring sy om en hardloop weer die kamp binne. Die trane is droog gewaai op haar wange. Op ’n bankie in die verste hoek van die kamp gaan sy sit en druk haar kop tussen haar knieë.
“Hallo, hallo,” klink dit skielik langs haar en sy skrik haar yskoud toe sy opkyk en die mansfiguur voor haar sien staan.
“Ek het gesien jy hardloop. Oefen jy vir ’n marathon?”
“Ja, ek oefen sommer,” jok sy seepglad toe sy die alkoholwalm van die man ruik. “Ek neem judo en karate ook.” Dalk skrik dit hom af, hoop sy.
“Oulik. Ek hou van ’n meisie wat haar man kan staan, weet jy. Hoe lyk dit, wil jy nie saam met my ’n drankie gaan drink in my chalet nie?”
“Nee, dankie. Ek moet nou gaan slaap. Goeienag, meneer.”
“Nie so haastig nie,” keer hy haar toe sy opstaan en druk haar terug op die bankie. “En noem my sommer Charlie. Wat is jou naam, poppie?”
“Jes … Jasmyn,” korrigeer Jessica haarself vinnig.
“Die naam van ’n blom vir ’n blom van ’n meisie. Gaan jy môre ook nog hier wees, blommetjie?”
Walging stoot in haar op. Die man praat nie net sleeptong van besopenheid nie; hy is nog voor op die wa ook. Hoe gouer sy padgee van die nare vent af, hoe beter! besluit sy en kom orent. Hierdie keer laat sy haar nie deur hom stuit toe hy weer wil keer dat sy opstaan nie, maar druk sy arm ferm weg.
“My man wag vir my. Gee asseblief pad voor my.” Maar hy versper nogtans haar weg met sy groot liggaam.
“So, jy en manlief het ’n rusie gehad, nè? Hoekom dwaal jy dan anders hier buite in die donker rond? Kom, Charlie gee vir jou goeie raad: Vergeet van manlief, en kom saam met my. Môreoggend het manlief skoon vergeet van jul rusie en intussen kan ek en jy ’n lekker tydjie saam deurbring. Toe, wat sê jy?”
Jessica loer benoud oor haar skouer, en in haar hart verwens sy Bennie de Lange tot bo-op die maan, want dis sý skuld dat sy nou in hierdie dilemma is. As sy net hierdie vent se gorilla-arms kan ontglip en hardloop so al wat sy kan, sal sy dalk die chalet kan haal. Met sy logge liggaam en boeppens sal hy haar waaragtig nie kan inhaal nie, maar dis asof hy haar gedagtes kan lees, want sy arm glip eensklaps om haar middel.
“Kom nou, blommetjie. Kom ons gaan maak ’n dop en vergeet van die wêreld.” Hy begin dan ook sommer om haar in die rigting van die chalets te du, maar toe sy terugrem, steek hy vas en kry haar in ’n stewige greep beet. “Tierkat, maar jy’s moeilik, maar so hou ek daarvan!” En toe dwing hy haar kop agteroor.
Bennie staar verbyster na die toneeltjie in die skaduwees van die bome. Teleurstelling sak soos ’n donker wolk oor hom toe. Dít het hy nie van Jessica verwag nie! Skielik verstaan hy waarom sy so sonder enige teenstribbeling was toe hy voorgestel het dat hulle hier op Oudtshoorn moet oornag. Sy’t al die tyd geweet haar minnaar is hier. Dit sal hom geensins verbaas as die vent ’n getroude man boonop is nie. Natuurlik! Haar wewenaar!
Hy gaan haar soen, flits dit deur Jessica se verstand. Hy gaan haar waaragtig soen, en sy is uitgelewer aan die bullebak, want uit hierdie kragtige paar arms gaan sy nooit loskom nie. Daar is net een uitweg. Sy maak haar mond wyd oop. Die oomblik toe sy mond aan haar lippe raak, sink haar tande diep in sy bolip weg.
Wat presies daarna gebeur het, weet sy nie mooi nie. Sy onthou daar was ’n plofgeluid – sy self is eenkant toe geslinger – en daar was nog ’n slag soos wanneer ’n groot persoon die aarde tref. En terwyl sy nog besig was om orent te steier uit haar onbenydenswaardige posisie, het ’n arm haar ru opgehelp.
“Gaan dadelik na jou kamer