Elza Rademeyer Omnibus 4. Elza Rademeyer

Elza Rademeyer Omnibus 4 - Elza Rademeyer


Скачать книгу
stel voor u ry nou agter my aan en gaan lê ’n klag van ontvoering by die polisiekantoor. Dit is die regte prosedure. Hulle kan dan die saak opneem en u dogter probeer opspoor.”

      “En dan beduiwel hulle alles, en onse dogtertjie is dalk kant en klaar aangerand of iets wanneer hulle op Knysna aankom? Nee, dankie, brigadier,” sê oom Joos ontsteld. “Ek sal self my kind loop soek tot ek haar kry.”

      Niks kan oom Josie van mening laat verander nie. Tant Mart steun hom boonop, en na ’n lang geredekawel gee die verkeersman moed op. Toe oom Josie se motor wegry, skud hy sy kop en kyk hulle agterna tot die motor om ’n draai verdwyn. Het die ouman nie van Knysna gepraat nie? Bennie de Lange? Gits, is dit nie dalk Bennie de Lange van die plaas Doupan van wie hulle gepraat het nie? Nee, seker nie. Dit sou net té toevallig wees.

      “Klein Brak Motel,” lees oom Josie na ’n rukkie hardop en verminder dadelik spoed. “Mart, my rug is gedaan. As ek nie nou eers ’n bietjie bene rek nie, haal ons nooit vanaand Knysna nie. Kom ons gaan geniet eers ’n verkwikkinkie.”

      Die verkwikkinkie word toe twee verkwikkinkies, en toe hulle daar wegry, dreig tant Mart se oë om toe te val.

      “Joos, kan ek maar slaap?”

      Oom Josie blik haar skuins aan en sy hart word sag. “Slaap maar, ou dier. Ek weet jy’s moeg.”

      Tant Mart se valstande glip uit haar mond uit. Gelukkig vang sy dit net betyds en druk dit ongemerk in haar rok se sak. Om te dink ou Josie het haar “ou dier” genoem. Wanneer laas het hy só mooi met haar gepraat? Vir ’n hele ruk is haar vaak skoon weg, maar toe hulle George binnery, is dit eens so erg. Die dag was net te uitputtend.

      “Mart, ek wonder of ons nie maar hier moet oorslaap nie. Kyk, die son sak al.”

      “Josie, ek dink ook nie ons moet verder nie. Jy weet jy kan nie in die aand ry nie. Jou oë is al te swak. Al daardie ligte van voor af! Nee, ek dink ons gaan soek liewer ’n losieshuis en slaap net hier.”

      “Ek glo nie die plek gaan ’n losieshuis hê nie. Ons sal in ’n hotel moet tuisgaan, Mart.”

      “Maak nie aan my saak nie. As ek net iewers my kop op ’n kussing kan neerlê.”

      “Hier is ’n hotel! Sommer hier by ons,” sê oom Josie opgewonde, en minute later staan hulle in die voorportaal by die ontvangstoonbank.

      “Moet ek vir ons twee chalets bespreek, of net een?” vra Bennie ondeund.

      “Twee,” sê Jessica, en bloos toe sy agterkom hy terg haar.

      “Goed,” sê hy, “maar ek dra die kosmandjie na jou chalet toe. Ek sal maar by jou kom bedel vir ’n stukkie kos.”

      “Jy kan dalk kry, mits jy baie mooi vra, natuurlik.”

      “Mag ek vanaand die gas wees van die skone dame?”

      Hulle lag vir hul eie verspottigheid en kom dan ooreen om eers te gaan stort of bad voordat hulle eet. Jessica kyk hom agterna totdat hy in die derde huisie van haar af verdwyn, en draf dan met ’n singende hart die badkamer binne. Wat ’n wonderlike dag, dink sy opgewonde. Wat ’n wonderlike man! Dit voel alles so onwerklik. Om te dink sy ken hom nog nie eens vier volle dae nie, en tog voel dit asof sy hom al ’n leeftyd ken. Nee, nie slegs ken nie, maar liefhet!

      Julia Mouton sit gespanne en wag dat die deur van Jessica se chalet moet toegaan. Was dit nie dat sy toevallig by die garage voor Mosselbaai stilgehou het om brandstof in te neem en daar by die petroljoggie verneem het van die twee se plan om Oudtshoorn om te ry nie, sou hulle haar lekker van hul spoor af gehad het. Gelukkig het die petroljoggie hul gesprek onthou. Dit kon nogtans gelol het, maar gelukkig het sy Bennie se motor voor die krokodilplaas raakgesien. Daarna was dit maklik om hulle tot hier te volg.

      Uiteindelik gaan Jessica se deur toe, en toe Bennie in sy chalet ingaan, klim Julia uit haar motor en stap vasberade agter die groen struike en bome waaragter sy haar motor versteek het, uit. Reguit op Bennie se chalet af.

      3

      “Het julle vir ons slaapplek?” vra oom Josie.

      Die ontvangsdame onderdruk ’n gaap. “Ja, meneer. Vul net vir my die register in, asseblief.”

      “Joos, my bril lê nou in die motor. Skryf jy,” sê tant Mart.

      Die ontvangsdame neem die register toe oom Josie klaar is, en praat terselfdertyd na agter. “James, neem hulle tasse kamer toe, asseblief.”

      Toe hulle reeds met die trap op verdwyn het, kom die ontvangsdame agter dat die register nie volledig ingevul is nie. “Ag, foei tog, ek sal ook nog so oud raak,” praat sy hardop met haarself en verander die “meneer” na “meneer en mevrou Landman”. Dubbelkamer. Toe tel sy haar breiwerk op en gaan sit gemaklik agteroor.

      “Hier is u kamer,” sê James en talm ’n rukkie. Toe dit nie vir hom lyk asof hy ’n fooitjie gaan ontvang nie, stoot hy die kamerdeur oop en loop onmiddellik nadat hy die tasse by die deur ingeskuif het.

      “Dis ’n groot kamer,” sê tant Mart. “Kyk, daar is ’n deur. Jy moet seker daar ingaan, Joos.”

      “Dis dan ’n badkamer,” sê oom Joos toe hy die deur oopmaak.

      Tant Mart kom loer oor sy skouer en toe weer na die dubbelbed in die kamer. “Sou hulle straks reken ons moet op die één bed slaap, Joos?”

      Oom Josie krap sy yl haartjies deurmekaar. “Dit lyk vir my so. Hulle het seker gedink ons is getroud! En nou, Mart?”

      “Nee, hoe vra jy dan nou vir my!” Sy stap na die deur toe en loer uit in die gang. Verlate. “En nou, Joos?”

      Oom Josie gaan sit tam op die bed. “Nou slaap ons op die een bed en klaar. Ek sukkel nie weer die trappe hier af ondertoe nie.”

      Gelukkig is tant Mart se valstande nog in haar roksak, anders het dit sweerlik weer uit haar mond geval. “Jy bedoel, ons slaap albei op hierdie bed?”

      “Ja, Mart. Tensy jy dalk in die bad wil slaap?”

      “In die bad? Haai, Joos!”

      “Martatjie, bloos jy tog nie, ou dier?”

      “Ag, Josie, man.”

      “Toe maar, ek sal jou niks maak nie, Mart. Ons is tog albei grootmense. Ons kan mos in die badkamer loop aantrek en uittrek.”

      “Maar dit kan wees dat ek dalk snork, Joos.”

      “Dit kan wees dat ek ook snork, Mart.”

      “Dit sal my nie hinder as jy snork nie. My oorlede man het vreeslik gesnork.”

      “Nou maar dan het ons mos nie ’n probleem nie. Wat het jy daar in die kosmandjie?”

      “Ek weet self nie. Sofie het die mandjie gepak terwyl ek ingepak het. Hier is toebroodjies, hoender en ’n botteltjie … Haai, Joos, sy’t medisyne ook ingesit!” Tant Mart bring ’n botteltjie jenewer te voorskyn.

      “Tag, aan ’n beter ding kon sy nie gedink het nie! Net wat ons nodig het om ons senuwees te kalmeer. Daar in die badkamer het ek glase gesien. Toe, ou Mart, gooi daar vir ons so ’n viervinger van daardie medisyne.”

      Goeie medisyne, en goeie Sofie wat so aan alles gedink het, dink tant Mart later die aand toe sy skugter op die randjie van die dubbelbed gaan lê. Haar senuwees is nou so gekalmeer, dit voel of sy as ’t ware nog nooit senuwees gehad het nie. En toe oom Joos ’n paar minute later snorkend begin asemhaal, weet sy nie of sy spyt of bly is dat hy so gou slaap nie.

      Haar toiletsakkie moes tussen Bennie se bagasie beland het, ontdek Jessica net voordat sy in die bed wil klim. Onversorg wil sy tog nie lyk wanneer Bennie hier by haar kom eet nie, dus trek sy gou weer vir haar ’n sweetpak aan alvorens sy na Bennie se chalet draf.

      Daar is stemme binne, hoor sy voordat sy aanklop. ’n Vrou se stem. Het sy haar dan nou misgis met die chalets? Nee, tog nie. Dis Bennie se stem wat sy hoor!


Скачать книгу