God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles. George Claassen
I know don’t care enough about religion even to call themselves atheists. And that, I think, is one of the great things about science – that it has made it possible for people not to be religious.”[46]
Religieë kan nie langer die werklikhede van wetenskaplike ontdekkings lukraak en selektief aanvaar, maar evolusie se bevindings en fisika se noukeurige radiodatering verwerp omdat dit die skeppingsboodskap van heilige boeke weerspreek nie. Danksy evolusie weet ons vandag sonder twyfel dat tydens die eerste 80 persent van die geskiedenis van lewe op Aarde alle spesies uit sagte weefsel bestaan het, sonder skelette en harde doppe. Daarom is die fossielrekord so totaal onvolledig – net ongeveer 0,1 tot 1 persent van alle spesies wat al op Aarde gelewe het.
Danksy radiodatering deur fisici wat hoogs gesofistikeerde instrumente gebruik, weet ons dat die Aarde en ons sonnestelsel ongeveer 4,57 miljard jaar oud is, en die oudste rotse, gevind in Kanada, ongeveer 4,3 miljard jaar (ouer rotse is vernietig deur bewegings van die aardkors).
Kom ek draai Christus se woorde teenoor die Fariseërs, wat die skare se lofuitinge probeer stilmaak het, om: “As hulle stilbly, sal die klippe uitroep.”
Die klippe van evolusie en fisika se bevindings roep lankal uit en dis tyd dat religieuse leiers van alle godsdienste nie langer gelowiges hieroor mislei nie. Die wetenskap is ’n menslike aktiwiteit wat nie behoort te bedreig nie, maar eerder te bevry. Dat soveel gelowiges so lank die wetenskap selektief aanwend tot hul voordeel, maar verwerp wanneer dit nie inpas binne die kraal van hul geloofsingesteldheid nie, is ’n groot sementblok aan die been van vooruitgang.
Carl Sagan som die rol van wetenskap in die samelewing treffend op:
“. . . at the heart of science is an essential balance between two seemingly contradictory attitudes – an openness to new ideas, no matter how bizarre or counterintuitive, and the most ruthlessly sceptical scrutiny of all ideas, old and new. This is how deep truths are winnowed from deep nonsense. The collective enterprise of creative thinking and sceptical thinking, working together, keeps the field on track.”[47]
Dít bly ons as enigste rasionele spesie op Aarde se uitdaging: om die diep waarhede van die diep onsin te kan onderskei – geen maklike taak nie.
Dié bundel onderhoude oor waarskynlik een van die wesenlikste en mees voortdurende vrae van die mens se makrokosmiese bestaan, Waarvandaan kom ons en waarheen is ons uiteindelik op pad?, ondersoek deurlopend ook die vraag, op meer mikrokosmiese vlak, Wie is ons? En wie is George Claassen dan?
Ek is ’n joernalis en dosent in wetenskapjoernalistiek wat die afgelope sewentien jaar reeds intens met die ontdekkings van die wetenskap in my joernalistiek gemoeid is. Ek het grootgeword op ’n Hoëveldse plattelandse dorp, Middelburg, destyds in die Oos-Transvaal en vandag in Mpumalanga. My ouerhuis is gekenmerk deur ’n pa en ma wat krities gedink het, groot lesers was en ’n algemene nuuskierigheid oor die lewe met al sy fasette by ons vier kinders aangemoedig en ingeburger het. Om my in die joernalistiek te begeef, was dus nie vreemd nie omdat ek nuuskierigheid en die soeke na meer kennis, meer bevraagtekening, die daagliks meer doelgerigte optel en aanwending van metaforiese mikro- en teleskope as onontbeerlik vir die beroep beskou.
As ek ’n brief aan my drie kinders sou kon skryf oor hoe om irrasionele aansprake in hul alledaagse lewe te hanteer, sou ek dit nie beter kon stel as die wetenskaplike Richard Dawkins nie. In sy uiteensetting van waarom ’n mens nie sommer enigiets hoef te glo nie, veral waar dit nie op bewyse gegrond is nie – die ononderhandelbare van die wetenskaplike wêreldingesteldheid – skryf hy: “The way scientists use evidence to learn about the world is much cleverer and more complicated than I can say in a short letter. But now I want to move on from evidence, which is a good reason for believing something, and warn you against three bad reasons for believing anything. They are called ‘tradition’, ‘authority’, and ‘revelation’.”[48]
Ek was eens gelowig, intens gelowig, en besit ’n Bybel met heelwat onderstreepte tekste. Deur jare se bestudering van wetenskaplike bevindings en die belangrikheid van bewyse voordat ek iets kan en hoef te glo, het ek geleidelik van my geloof afstand gedoen. Dit was geensins ’n Damaskuservaring nie, maar uiteindelik ’n onbeskryflike bevryding om nie meer my hele bestaan te grond op geloof in ’n mitiese, mensgeskepte goddelikheid nie. Tradisie kan nie meer bepaal waarom ek nou juis in ’n skepper-god, verlossing en ’n hiernamaals moet glo nie, want die wetenskap se bevindings het lankal daardie geloofstradisies ongeldig verklaar en ongedaan gemaak. Outoriteit of gesag nog minder, want waarom moet ek die “outoriteit” van ’n groep Midde-Oosterse mans aanvaar wat meer as 2 500 jaar gelede sonder die wetenskap se bevindings en verklarings hul bygeloof probeer vestig het as die enigste waarheid?
En openbaring? In die lig van moderne wetenskaplike bevindings van die neurowetenskap en psigologie is openbarings wat kwansuis aan profete en ander heiliges deur die eeue gemaak is, vandag heel verklaarbaar, veral as dit op die skaal geplaas word wat bewyse en wensdenkery teenoor mekaar opweeg.
Vir my lê die wonder van die lewe, ons planeet en die heelal juis daarin dat ons nooit sal ophou om die onverklaarbare te ondersoek en vrae daaroor te stel nie, om dit nie aan ’n godheid toe te skryf wanneer ek dit nie kan begryp nie, maar steeds, volgens die natuurwette, verklarings te soek wat op bewyse berus. Geen tradisie, geen outoriteit, geen openbaring mag hier die bepalende faktore wees om iets te glo nie, net bewyse.
Waarom word ateïsme steeds as ’n vloekwoord en profaniteit beskou in die beoordeling van mense wat ongelowig is, ook opvallend só in die geledere van Afrikaanssprekendes? Sam Harris wys op die weersprekende verskynsel in ontwikkelde en Eerste Wêreld-lande waar die oorgrote meerderheid ’n oorwegend sekulêre en irreligieuse aard vertoon, maar die VSA as voorste ontwikkelde land midde-in die ontwikkelende kader van lande gesetel is waar ortodokse en evangelistiese religie ’n sterk opbloei beleef. Meningsopnames toon 57% van Amerikaners sê dat jy in God moet glo om goeie waardes te hê en om moreel op te tree. Verder verkies 69% Amerikaners ’n president wat die regering bestuur met “sterk religieuse geloof”. Harris ondersoek die aard van die geweldig negatiewe belewenis wat niegelowiges, agnostici en ateïste daagliks in sterk religieuse lande ondergaan. Meer Amerikaanse volwassenes is funksioneel ongeletterd (21%, waarvan 14% op Amerikaanse bodem gebore is) as Amerikaners wat twyfel oor die bestaan van God (net 3% van die bevolking stem saam met die stelling “Ek glo nie in God nie”).
“Ten spyte van hul feitlike onsigbaarheid, is ateïste die mees gestigmatiseerde minderheid in die VSA – selfs meer as homoseksuele, Afro-Amerikaners, Jode, Moslems, Asiërs of enige ander groep. Selfs ná 11 September 2001 sal meer Amerikaners vir ’n Moslem as president stem as vir ’n ateïs,”[49] skryf Harris oor navorsing wat in 2006 in die vakjoernaal American Sociological Review gepubliseer is.
Diskriminasie teen ateïste is in die Afrikaanse leefwêreld ’n werklikheid wat weerspieël word in die sensurering van ateïste, agnostici en ander twyfelaars se woorde in Afrikaanse koerante en oor die radio. Dit het ek al herhaaldelik eerstehands beleef en so ook wetenskaplikes wat openlik die religieuse aansprake van godsdienstige leiers en gelowiges bevraagteken.
Ek heg waarde aan die woorde van die Britse wetenskaplike Thomas Henry Huxley wat die proses van die wetenskap om onkunde te bestry teen die oormag van wensdenkery, bygeloof en doelbewuste en metodiese onderdrukking van kennis soos volg beskryf: “Die bekende is begrens, die onbekende onbegrens, oneindig; intellektueel staan ons op ’n eilandjie in die middel van ’n onbegrensde oseaan van onverklaarbaarheid. Ons werk in elke generasie is om ’n bietjie meer grond te herwin.”[50]
Jurie van den Heever
in gesprek met George Claassen
“Deur op ’n ewige lewe ná die dood te fokus, word ons aardse bestaan tot ’n soort wagkamer vir die dood gereduseer. Die mite dat mense siele besit wat ná die dood met die ewige lewe ‘beloon’ word, negeer eintlik die betekenisvolle bestaan wat op Aarde gelei kan word.”
Wie is Jurie van den Heever? En hoe loop die pad van jou lewe van geloof na ongeloof?
Ek is ’n Afrikaner en het in ’n feitlik uitsluitlik Afrikaanse omgewing in ’n klein Noord-Bolandse dorpie (Ceres) grootgeword. My pa was ’n staats-veeinspekteur