Liefde onder die sterre. Susan Pienaar
naar?”
Haar oë vlieg verskrik oop. Kallie sit haar aandagtig en bekyk, sy grysblou oë in die bruingebrande gesig bekommerd. Lisa weet dat as sy nie so mislik was nie, sy definitief nou sou gebloos het.
“Ek makeer niks,” sê sy vinnig. “Kyk waar jy vlieg, netnou vlieg jy in iets vas.”
Kallie lag haar sowaar uit! Sy tande is wit en egalig en rondom sy grysblou oë kreukel fyn lagplooitjies … wat lag die man so vir haar?
“Die vliegtuig kan homself vlieg.” Kallie los die stuurstok en lig sy hande. “Sien? En lugverkeer is glad nie ’n probleem nie. Hoor jy nie hoe ons ouens so af en toe met mekaar gesels nie?”
Al wat sy deur haar oorfone hoor, is ’n vae gemompel van los woorde. Hoekom praat die mense nie in volsinne sodat sy kan snap wat hulle bedoel nie?
“Ons is feitlik daar,” sê Kallie. “As jy mooi kyk, sal jy Nico en Tillie se huis daar voor sien. Die wit stippel daar anderkant,” beduie hy na links, “is my plek.”
Lisa trek haar oë op skrefies, maar sy kan om die dood nie Kallie se huis sien nie. Dan sien sy ’n wit gebou onder haar en voel hoe haar maag omdop toe die vliegtuig begin sak. Die grond kom vinnig nader en Lisa knyp haar oë toe. Sy probeer die naarheid wegsluk.
Toe die vliegtuig tot stilstand kom, vroetel Lisa benoud na haar sitplekgordel en maak die knip los. Voel-voel soek sy na die deurhandvatsel, gooi die deur oop en dink ernstig daaraan om te spring. Sy moet so gou moontlik buite kom en op vaste grond staan. Maar Kallie is reeds uit en moet gesien het wat haar plan is, want hy keer haar.
“Wag net ’n oomblik, magtig! Jy gaan ’n been breek in daai skoene van jou.” Hy hou sy arms uit. “Kom, sit jou hande op my skouers.”
Sy maak so. Dit duur net ’n paar sekondes, maar dis genoeg om die hitte van sy hande deur die dun lap van haar rok te voel, en die gespierde lyf teen hare toe haar skoen veroorsaak dat sy nietemin struikel toe sy grondvat.
Toe sy stewig staan, kan Kallie haar nie gou genoeg laat los nie. Dit neem haar ’n rukkie om haar hart tot bedaring te bring. Genade, die man het die vreemdste uitwerking op haar! Die narigheid is so te sê weg, dadelik. Hy maak die deur toe en gee haar handsak aan. Met ’n laaste deurdringende kyk stap hy weer om die vliegtuig en haal haar bagasie uit.
Hy bring dit vir haar. “Voel jy nou beter?”
“Ja, natuurlik.” Sy draai weg van sy ondersoekende blik en sien hoe Nico uit ’n viertrekvoertuig klim.
“Hallo, Lisa! Welkom op Rooiklip.” Nico soengroet haar. “Ek’s wraggies bly om jou te sien. Tillie het omtrént vir Truitjie laat bak en brou vir jou koms.”
Die mans laai haar bagasie in Nico se voertuig, druk aan die gesels. Toe hulle wegtrek, kyk Nico na Kallie. “Jy’s natuurlik ook genooi om saam te kom eet.”
“Dankie, maar ek moet terug plaas toe. Nadia is vandag by Emma. Ek sal kyk of ek vanaand kans kry om iets te kom eet.” Hy knik skuins oor sy skouer na Lisa. “Buitendien, ons twee gaan nou net in die pad wees. Laat die meisies eers alleen gesels.”
Lisa kyk deur haar venster na die huis – dis dan binne loopafstand van waar hulle geland het. Hoekom ry hulle? En wie is Emma en Nadia? Dalk sy meisie?
Nico lag en Lisa sien hy kyk oor sy skouer na haar. “Dis nou my vroutjie wat gesê het dat jy nie die entjie huis toe mag stap nie. Sy’t my ook gewaarsku dat jou tas vreeslik swaar gaan wees.”
“Dis gaaf van jou,” glimlag Lisa. Tillie het natuurlik aan haar skoene gedink. Sy kry dikwels die aapstuipe as sy die pryse sien. En sy weet Lisa reis swaar. Sy huiwer eers, maar sit dan tog vorentoe en tik teen Kallie se skouer. Hy draai om.
“Dankie vir jou moeite, dat jy my kom haal het. Jy moet sê wat ek jou skuld.”
“Ek het die guns vir Tillie en Nico gedoen.” Hy draai fronsend vorentoe.
Lisa sit afgehaal terug. Die pés! Hy probeer nie eens om sy woorde in ’n bietjie suiker te rol nie. Kon hy nie maar net gesê het dit was ’n plesier nie? Is hy dalk ’n vrouehater? Wat het Tillie besiel om die man so ’n guns te vra? Sy’t ’n paar goedjies om met dié vriendin van haar uit te klaar …
Nico hou voor die groot huis stil. ’n Swart-en-wit skaaphond kom blaffend en stertswaaiend aangehardloop en spring teen Kallie op. Hy vryfkrap met albei hande oor die hond se ribbekas. “Dag, Maja. Hoe gaan dit met ons honne?”
Lisa bly sit. Sy wil nie op haar heel eerste dag hier deur ’n hond opgevreet word nie. Kallie stoot Maja se pote af en kom maak haar deur oop.
“Jy kan maar uitklim, Maja byt nie.”
Maar hier sit sy al weer hoog, en die voertuig se trap is laag. Sy strek haar bene na die trap en haar rok skuif ’n hele ent op. Sy pluk vervaard aan die soom, maar dit help nie veel nie. Sy sien skrams hoe Kallie haastig anderpad kyk.
Toe Lisa oplaas wel uit is, draai Kallie dadelik weg van die voertuig. “Dan sien ek julle vanaand as ek tyd kry.” Hy stap flink terug na sy vliegtuig.
3
Lisa staan stil toe Maja versigtig aan haar kom ruik en ’n nat neus teen haar been druk. Nou wil sy net in die huis kom en gaan sit. Die dag was lank! Nico stap agter haar met die breë stoeptrappe op.
Sy stap by ’n groot woonkamer in. Die pragtige heuningkleurige plankvloer val haar dadelik op en sy ruik laventel. Daar is kosbare ou meubels, gemaklike rusbanke, ’n groot TV en ’n Persiese mat op die vloer. Lisa is beïndruk, en nog meer toe hulle in ’n breë gang afstap en sy ’n groot moderne kombuis links van haar sien. Maar waar is Tillie dan?
“Hier’s jou kamer,” beduie Nico. “Die een daar aan die onderpunt van die gang is my en Tillie s’n.”
Dis ’n groot huis. Vier ruim slaapkamers. Haar kamer het ’n en suite-badkamer, ’n dubbelbed en ’n spieëlkas, met wit ingeboude kaste. Hier is aangebou, die huis is beslis gemoderniseer.
Nico sit haar pakkasie langs die bed op ’n matjie neer. “Maak jou tuis en sê as jy iets nodig het.”
Sy knik. “Dankie, ek maak so.”
“Wat sal jy drink? Sap? Tee?”
“Sap sal heerlik wees, dankie.”
“Ek sal dat Truitjie bring.”
“Haai, hier is ek!” roep Tillie. Lisa volg haar stem.
Die eerste indruk wat die hoofslaapkamer by haar skep, is van ruimte en lig. Op ’n yslike groot bed sit Tillie, geklee in ’n blou satynkortbroekie en toppie. Haar kort, blonde hare blink en haar blou oë glinster soos altyd.
Lisa stap nader. “Hallo, jong! Hier bekommer ek my morsdood oor jou en jy lyk so vars en uitgerus.”
Tillie strek haar arms uit. “Uiteindelik! Ek dog jy kom nooit hier uit nie.”
Lisa gee haar ’n drukkie. “Dis daai Kallie se skuld dat ek laat is.” Sy gaan sit op die bed en glimlag. “Jy lyk soos altyd. Ek het verwag jy gaan bleek en sieklik lyk.”
“Ek’s fine,” en Tillie vryf liefdevol oor haar plat magie, “maar ek bekommer my oor my ou babatjie.”
Wat ’n gedagte. ’n Nuwe lewetjie is besig om binne Tillie te groei! Ongelooflik. “Wat sê die dokter, wanneer sal die bloeiery stop?”
“Hy kan nie sê nie. In sommige gevalle ná ’n paar dae. Andersins tot twaalf weke! En ek kan enige tyd skielik erg begin bloei … en die baba verloor.”
Lisa glimlag opgewek toe sy Tillie se lip sien bewe. “Nou ja, kom ons vertrou joune hou ná ’n paar dae op.” Sy skop haar skoene uit en maak haar gemaklik op die bed. “Wanneer sien jy weer die ginekoloog?”
“Oor ses dae, en ek hoop regtig die bloed is dan iets van die verlede.”
“Vat Nico jou?”