Liefde onder die sterre. Susan Pienaar
nooit nie.”
Nico kom in en soen Tillie hallo. “Ek los julle om te gesels. Ek het werk wat wag.”
Tillie lê agteroor teen die kussings. “En toe? Wat dink jy van hom?”
Sy weet dadelik van wie Tillie eintlik praat, maar hou haar dom. “Nico is ’n bitter gawe ou. As jy nie oppas nie, vat ek hom by jou af.”
Tillie lag borrelend. “Ag, toe nou, jy weet ek praat van Kallie. Is hy nie gorgeous nie?”
Lisa frommel haar neus op. “Ek het nie juis opgelet nie.”
“Come on, girl. Jy’s nie meer verloof nie. En Dewald in al sy glorie is nie ’n patch teen Kallie nie.”
’n Skraal vrou kom hou ’n skinkbord vir Lisa. “Ek het somme vi twie gegoi.”
Lisa neem ’n glas. “Dankie, dit gaan lekker wees.”
“Lisa, dis Truitjie, ons huishoudster,” sê Tillie.
“Hallo, Truitjie,” glimlag Lisa.
Truitjie sit Tillie se glas op die bedkassie neer en knik vriendelik voor sy uitstap.
“Praat al die werkers hier soos sy?” wil Lisa weet.
“Net party, hang af of hulle hier gebore is. Emma – Kallie se huishoudster op Arendsfontein – praat anders.”
Lisa vat ’n paar slukkies. So dan is Emma die huishoudster, nie Kallie se meisie nie. En Nadia dan?
Tillie kyk stip na Lisa. “Ek wéét jy moet gesien het hoe ’n hunk Kallie is.”
Sy kan dit netsowel oor kry. “Hy is seker aantreklik, maar ek stel nie in die minste in hom belang nie.”
Ongeërg kyk Lisa in die kamer rond. Op die pragtige houtvloer lê twee roomkleurige matte. Die koningsgrootte bed lyk na die enigste nuwe toevoeging in die vertrek. Die roomkleur gordyne lyk baie duur, nuut ook. “Het die gordyne maar hier gehang toe julle getroud is?”
Tillie skud haar kop. “Nee, ek het dit gemaak. Mooi, nè? Dis brokaat. Vir next to nothing in Kaapstad gekoop. Daar’s regtig moewiese bargains, as jy weet waar die plekke is. Gelukkig was die paar lelike plekkies aan die kante, ek kon dit afknip. Die lining was ’n bietjie duurder.”
“Dit lyk asof dit duisende rande gekos het,” sê Lisa en dink: nog dieselfde ou Tillie, draai steeds sente om asof hulle nog twee studente met bloedweinig geld is. Hulle was nog altyd albei lief vir naaldwerk. Op Tukkies het hulle vir niemand teruggestaan wat klere betref nie. Lisa het die ontwerpe gedoen en Tillie het help knip en stik. Als met winskooplap.
Tillie tik met ’n toon teen haar been. “Haai, het ek jou al van Nadia vertel?”
“Nee, wie ís sy?”
“Dis nou Kallie se vierjarige dogtertjie.”
“Dan wás Kallie getroud?”
“Nee. Christa – Nadia se ma – het vyf jaar gelede vir ’n paar weke op Arendsfontein gekuier. Nico sê Christa het nie ’n vaste werk gehad nie, en sy en Kallie het glo vreeslik baklei, toe vat Kallie haar terug Kaapstad toe.”
Lisa is teen haar sin nuuskierig. “Hoekom bly Nadia nie by haar ma nie?”
“Christa het die pasgebore babatjie vir Kallie gegee.”
Sjoe. Lisa wil nie uitvra nie. “Gaan ons die kleintjie baie sien?”
“Jip. Sy is deesdae meer hier by ons op Rooiklip as op Arendsfontein.”
“Hoekom?”
“Kanna – die vrou wat Kallie gehelp het om Nadia groot te maak – is twee maande gelede dood. Nadia treur nog, bedags hou ek liewer ’n ogie oor haar.”
Die arme kind. “Dis vreeslik om oor ouers te rou. Gelukkig was jy en Talien my tweede familie. Nadia het nou vir jou.”
“Ek mis Talien steeds.”
“Ek ook,” knik Lisa. “Is daar dan niemand anders by wie Nadia kan bly nie?”
“Soms bly sy ’n dag lank by Emma, maar sy verkies dit hier by my.”
Lisa kan nie help nie, sy is nou eenmaal nuuskierig. “Waar bly Kallie se ouers?”
“Albei is al dood. Hulle was nie meer jonk toe Kallie gebore is nie.” Tillie kyk op haar horlosie, sien haar sap raak en drink ’n paar slukke. “Truitjie gaan nou enige tyd ons kos bring.”
“Dankie tog, ek’s vreeslik honger.” Lisa vlieg van die bed af. “Ek gaan gou gemaklik aantrek.”
In haar slaapkamer gaan staan Lisa voor die venster. Sy het gisteraand voor sy in die bed geklim het gou die Karoo gegoogle. Dis maklik om boesmangras uit te ken, maar nie die verskillende soorte bossies nie. Vaal, lelike wêreld …
Die geklingel van breekgoed in die gang laat haar wakker skrik en sy rits gou haar tas oop. Sy trek ’n kortbroek en hempie aan, gaan was haar hande en gesig en stap terug na Tillie toe.
Tillie sit met ’n skinkbord op haar skoot en beduie na ’n opdienwaentjie. “Skep vir jou.”
“Dit lyk heerlik.” Lisa skep groente en slaai in, gaan sit dan kruisbeen met haar bord op haar bene. Die pampoen smaak na botterkaramel. Sy gaan vet word hier as sy nie oppas nie.
“Het jy en Kallie gesels?” vra Tillie.
“Nee. Ek was naar, toe los hy my maar om in vrede dood te gaan.”
“Ag, jy speel. Kallie is ’n gawe ou. Hy’t seker nie besef jy voel sleg nie.”
“Ek word lankal nie meer karsiek nie, maar genade, ek het nie geweet ’n mens kan so erg naar word in ’n klein vliegtuigie nie.”
“Shame, ek sal jou van my pilletjies gee as jy teruggaan. Gelukkig is ek nie meer soggens so mislik nie.”
Lisa eet ’n happie groenbone, beduie dan met haar ken na waar ’n klein matrassie eenkant teen ’n muur staan. “Maak julle al kindergoed bymekaar?”
“Nee, dis Nadia se matras. Soms bel Kallie om te sê hy sal haar die aand eers kan kom haal. Wanneer dit te laat word, slaap sy by ons oor.”
“Wat doen Kallie dan dat sy kind hier moet oorslaap?”
“Hy’s ’n veearts, jinne, ek dog hy sou jou vertel het! Hy word enige tyd uitgeroep. Boonop is dit nou die besigste tyd van die jaar. Eers skeertyd en nou begin die ooie lam. Kallie het nie tyd om hom te draai nie.”
“O?” Lisa vroetel lusteloos met haar kos terwyl Tillie verder voortborduur. Kallie is duidelik ’n flukse man met deursettingsvermoë, en dodelik aantreklik daarby. Maar hy bly ’n ongeskikte buffel wat met olifantvoete op haar menswaardigheid getrap het. G’n wonder Kallie en Christa het baklei nie. Sy het natuurlik nie toegelaat dat Kallie op haar kop sit nie, dís wat. Tillie praat iets oor vliegtuie, besef Lisa, sy moet aandag gee.
“Nico sê Kallie het op twaalf sy eerste solovlug met sy pa se vliegtuig gedoen.” En toe Lisa se oë rek: “Darem net hier op die plase, nè.”
Lisa prop ’n stuk aartappel in haar mond toe Tillie vol afwagting na haar kyk. “Goeie genugtig, maar dis jonk,” mompel sy by die kos in haar kies verby.
“Nico en Kallie se pa was mos broers, maar net Kallie se pa het gevlieg. Ek dink Kallie was so agttien toe’t hy eksamens geskryf en alles. En toe hy by Onderstepoort vir veearts geswot het, het hy sommer sy kommersiële lisensie gekry. Jy weet? Dit beteken hy kan passasiers vervoer.”
Lisa sien waarheen hierdie gesprek neig. Dit sal nie die eerste keer wees dat Tillie vir haar ’n kêrel soek nie.
“Moenie my onder Kallie se prestasies toegooi in die hoop dat ek –”
“Nooit,” val Tillie haar in die rede. “Ek gesels sommer, ek was so uitgehonger vir geselskap.”
Lisa