Ruiter van my drome. Schalkie van Wyk
as jy hulp nodig het, my liefie!” roep Ragie en neurie ou liefdesliedjies om aan haar gelukkigheid uiting te gee.
Zandri ruk die swaar houtvoordeur oop juis toe Ferdinand sy hand uitsteek om die voordeurklokkie te lui en sê bars: “Bel en maak ’n afspraak as jy in die toekoms met die eienares van Reënboogrant wil praat, Ferdinand.”
Hy lyk ’n oomblik lank onkant gevang en dan skuif ’n donker masker van ergernis oor sy gelaat. “Jy het baie verander, Zandri,” sê hy ingehoue.
Sy woorde laat haar huiwer. Verbeel sy haar, of was daar ’n tikkie verlies in sy stemtoon – so asof hy eens werklik van haar gehou het, mymer sy, maar verwerp byna onmiddellik die gedagte. Sy het haar verbeel Ferdinand was eens haar vriend en vertroueling, maar hy het haar bloot gebruik om vrye toegang tot haar oom Alexander se perde te kry. Sy weet dit.
“Dis korrek, Ferdinand. Ek is ’n enkelma met ’n ses-jarige kind,” antwoord sy koud.
Hy kyk na haar asof hy tot in haar siel wil kyk, sy donkerbruin oë byna swart, en skud sy kop stadig. “Ek glo jou nie,” sê hy eindelik.
“Dis ’n skielike verandering. Gisteroggend kon jy nie wag om my aan my moederskap te herinner nie,” spot sy.
Hy pers sy lippe hard saam en sy sien sy adamsappel beweeg toe hy sluk. “Ek het dit nie beplan nie. Ek bedoel, ek het nie Odette se skinderstories geglo nie, maar toe ek jou sien . . . Dalk was dit my manier om wraak te neem.”
“Wraak? Waarvoor tog? Omdat jy glo ek het Klara omgepraat om saam met my Engeland toe te gaan, sewe jaar gelede?” vra sy verstom.
Hy draai weg sodat hy oor die voortuin uitkyk. “Seker maar. My ma was maande lank siek oor Klara se besluit om weg te gaan en ek . . . e . . .” Hy draai terug na haar en sê saaklik: “Wat my redes was, is nie belangrik nie. Ek vra om verskoning oor my optrede, Zandri. Kan jy my vergewe?”
“Nee, ek vertrou jou nie, Ferdinand. Toe ek klein was, was jy kamma my vriend, omdat jy al jou vrye tyd op Reënboogrant tussen die perde en in oom Alexander se geselskap wou deurbring. Jy sou veearts word en hy en oom Martiens kon jou enigiets oor perde leer. Nou gee jy weer voor jy is my vriend, omdat jy jou arme tant Ragie in ’n ouetehuis wil prop. Hoekom, Ferdinand? Ek dink tant Ragie is ’n pragtige mens en ek en oom Martiens sal haar geselskap baie geniet. Sy sal gelukkig wees by ons.”
“Sy het ernstige rugprobleme wat ’n operasie –” begin hy protesterend.
“Ek is ’n fisioterapeut, Ferdinand,” val sy hom saaklik in die rede. “Dis dwaas om ’n rugoperasie te ondergaan as dit nie absoluut noodsaaklik is nie. Ek sal sorg dat tant Ragie gereelde fisioterapie ontvang.” ’n Moedswillige glimlag kuier om haar lippe. “Tant Ragie se toestand kan nie so ernstig wees as sy jou met ’n swaar tas probeer aanrand het nie.”
“Ja . . . ja, ek het daarvan vergeet. As sy tasse kan rondswaai, is sy seker gesond genoeg om my ma te gaan help,” sê hy fronsend.
“Jy is die selfsugtigste, mees gevoellose man wat ek ken, Ferdinand Adelmann!” vaar Zandri kortasem van ergernis uit. “Tant Ragie is ’n gekwalifiseerde hospitaalsuster, nie jou ma se gedienstige slavin nie. Het tant Ragie nie die reg om self te besluit wat sy met haar lewe wil doen nie?”
Ferdinand frons verward. “Ek het aanvaar tant Ragie het dit geniet om my ma te verpleeg. My pa het gesorg dat tant Ragie geldelik vergoed word en haar pligte was veel minder veeleisend as in ’n hospitaal. Ons was almal dankbaar oor tant Ragie se teenwoordigheid in die huis, want my ma se gesondheid het wonderbaarlik verbeter terwyl sy haar versorg het.”
“Vanselfsprekend, jou onnosele vent, want jou ma het dit geniet om ’n voltydse lyfbediende te hê,” sê sy bitsig. “Lees my lippe, Ferdinand: Jou ma het nie ’n hartkwaal of ’n nierkwaal of enige ander kwaal behalwe ipekonders nie. Vra dokter Kemp of jou eie broer as jy my nie glo nie. Maar al kry jou ma skielik al die kwale onder die son, sal tant Ragie haar nie gaan versorg nie. Tant Ragie is nou deel van Reënboogrant en sy kan so lank as wat sy wil hier bly.”
Ferdinand staan regopper en sê met ’n trotse lig van sy ken: “Ons Adelmanns het nie gunsies of gawes van buitestanders nodig nie. As tant Ragie fisiek gesond is, kan sy weer by my kom bly. Sy is my tante en my verantwoordelikheid, en sy het jare lank haar eie suite in ons huis gehad. Sal jy vir haar sê sy kan haar tasse bring, Zandri? Dalk kan ek in die sitkamer wag. Ek weet net nie wat ons vir my ma gaan sê nie . . .”
“Nee, jy kan nie en jy mag nie,” sê Zandri beslis en bly in die middel van die voordeur staan. “Dit kon jou nie skeel dat tant Ragie bitter ongelukkig was in die oue-tehuis nie. Toe sy uit desperaatheid daar wegloop, het jy haar probeer dwing om terug te gaan. En wat is al hierdie twak oor alzheimersiekte, boonop? Jy het ook verander, Ferdinand. Die Ferdinand wat ek geken het, was ’n bedagsame jongman wat my seer knie gesond gesoen het toe ek dit as kind nerfaf geval het. Is jou ma dan die enigste vrou vir wie jy deesdae omgee?”
“Moontlik,” antwoord hy kortaf, sy uitdrukking toornig. “Jy het gesê jy vertrou my nie – ek het heelwat meer rede om jou gesonde oordeel nie te vertrou nie. Ek het jou sewe jaar gelede gewaarsku: Bly weg van Josua Keyser af. Hy was destyds my vriend, so ek het geweet dat ’n gebroke vrouehart vir hom net nog ’n trofee was. Jy was so verlief op hom dat jy in ’n vreemde land gaan studeer en werk het, in die hoop dat Josua sy talle betekenislose beloftes aan jou sou nakom. Het julle steeds ’n verhouding?”
“Hoe raak dit jou?” vra sy koud, maar verstom dat Ferdinand sulke nonsens van haar kan dink.
“Dalk sal jy dié keer na my waarskuwing luister: Moenie te lank hier kuier nie, want ek verseker jou, Josua sal nie sy vrye tyd alleen deurbring nie.”
Zardi glimlag sonnig. “Jou waarskuwing was nooit nodig nie, liewe Ferdinand. Ek weet vir seker ek kan Josua volkome vertrou.” Sy tree agteruit, haar hand soekend na die deurknop. “As jy niks meer te sê het nie . . .”
Ferdinand beweeg so vinnig dat hy reeds langs haar in die voorportaal staan voordat sy kan keer.
“Jy is nie ’n welkome gas in my huis nie, Ferdinand! Ek kan oom Martiens en die stalwerkers vra om jou na jou voertuig te vergesel,” sê sy kil maar dreigend.
“Jy kan, maar jy sal nie, want dalk kan ek jou dinge oor Josua vertel waarvan jy onbewus is,” antwoord hy nadruklik en kyk haar afwagtend aan.
“Dan skinder jy nou nes Odette?” vra sy met ’n minagtende glimlag.
Ferdinand ignoreer haar, loop die enkele trappe af na die ruim sitkamer en gaan voor die noordelike venster staan. Hy begin praat met sy rug op haar gekeer. “Ek en Josua het professioneel in verbinding gebly omdat ons albei in navorsing oor die voeding van sportperde belangstel. Hy sal binnekort hier by my aansluit sodat ons saam my praktyk kan behartig en dus oorgenoeg tyd sal hê om op ons navorsing te konsentreer.” Hy swaai vinnig om, sy oë speurend in hare.
“Is jy bewus van sy besluit om hierheen te kom?”
“Ek is,” antwoord sy onbesorg en gaan sit in ’n gemakstoel.
“En?” vra hy ongeduldig.
“En wat, Ferdinand? Is jy bekommerd dat ek Josua sal nooi om saam met my hier op Reënboogrant te kom woon?” vra sy nydig.
“As julle trouplanne het . . .”
Wat is hierdie vyandskop van hom tog! Sy kan nie ophou terg nie, hy’t die kat so erg aan die stert beet. “As jy en Josua sulke goeie vriende is, waarom vra jy hom nie oor sy toekomsplanne uit nie? En waarom is al hierdie dinge oor ons verhouding nie vir jou ou nuus nie?”
“Ek stel in Josua se wetenskaplike kennis belang, nie meer in sy persoonlike lewe nie, maar met my tant Ragie hier . . . Oumense is soos ou bome: Hulle verplant nie maklik nie. Jy is oorgretig om vir tant Ragie ’n heenkome op Reënboogrant te gee, maar het jy aan haar verduidelik dat dit net tydelik sal wees, Zandri?”
“Waarom net tydelik? Hoop jy ek gaan oor ’n dag of drie dood, Ferdinand?” vra sy sarkasties.