Ena Murray Omnibus 34. Ena Murray
vir die vreemdeling, maar toe verskyn iemand langs hom, iemand wat nie meer so ’n vreemdeling is nie.
“Erika! Is jy van jou sinne beroof? Kom dadelik terug!”
Sy gesig en oë vertel haar selfs op dié afstand dat daar nie vir haar ’n harem wag as hy haar in die hande kry nie, maar ’n antieke martelkamer, toegerus met kettings teen die mure en pynbank kompleet.
“Jy gaan nie ver kom nie. Die boot gaan sink!” Daar volg nog ’n geluid wat vir haar beslis soos ’n ongebreidelde, voorvaderlike vloekwoord klink, en terselfdertyd vind sy uit daar word nie net bangmaakstories aan haar opgedis nie. Sy sit al tot by haar kuite in die water. Die boot ís aan die sink!
“Wat op aarde gaan met haar aan? Is sy mal?”
“Is alle vroumense nie?” is die weervraag voordat die netjiese tropiese uitrusting stuk na stuk op die sand beland. Vanaf die sinkende bootjie kan Erika niks anders doen as om die ontkleedans te aanskou nie. Haar oorwerkte hartspier gee ’n stuiptrekking toe hy, net in sy onderbroek geklee, met ’n sierlike boog die meer aandurf, en sy dink onsamehangend: Dat die duiwel se trawante altyd so mooi moet wees . . .
Die volgende oomblik is daar net borrels waar sy was. ’n Wilde watertrappery volg en sy weet nie of sy bly of jammer moet voel toe ’n hand haar aan die een skoppende enkel beetkry nie. Sy kyk vas in ’n paar gloeiende swart oë wat langs haar uit die water dop.
“Los my, jou engel van die Bose!”
Sy word omgedraai op haar rug, stewig met een arm vasgepen.
“Jy is nader daaraan om ’n engel te wees as ek, juffrou Hough. Lê stil, of ek draai jou nek om!”
Sy kan nie anders nie, dít besef sy, en lyk maar bedremmeld toe sy haar binne rekordtyd terug op die sand bevind. Haar klere klou natuurlik soos ’n tweede vel aan haar vas en die baas van die gesinkte boot se oë blink geamuseer en bewonderend.
Maar daar is niks bewonderends in die oë van die man in die nat onderbroek nie. “Wat op dees aarde makeer jou, vroumens?”
“Ek . . .” Sy sluk, ruk haar kop agteroor sodat die nat slierte hare wegval van haar gesiggie, nou sonder ’n kriesel grimering, en haar blik ewe onstuimig in syne terugkaats.
“Hoe groot is jou haremkwartiere . . . en hoe vol is dit?”
Toe hy haar net fronsend verward staan en aankyk, vervolg sy driftig: “Klink my oorvol. Jy moet eers een vermoor om plek te kry vir ’n nuwe.” Toe sy mond oopgaan, spring sy hom uitdagend voor: “Of wil jy ontken dat dit ’n vrou was wat netnou so angsbevange binnekant jóú Oosterse paleis gegil het?”
“Daar het ’n vrou in my Oosterse paleis gegil, ja. Dis Anna.”
“En wie is Anna? Jou hoofvrou . . . of die opsigter oor die harem?”
Hy dink ’n oomblik. “Wel, ek sou sê laasgenoemde.”
Erika kyk hom agterdogtig aan. Hoekom kry sy die gevoel dat sy besig is om ’n groot gek van haarself te maak? Maar . . . die nare agterdog wil nie van haar wyk nie. Hierdie man is ’n Arabier en tot dusver het hy nog soos die graf geswyg oor besonderhede oor homself. Agter haar rug vee die toehoorder ’n glimlag agter sy hand weg.
“Dáár! Daar erken jy jy hou ’n harem aan! Meneer . . . e . . . De la Boeba, met watter doel voor oë het jy my hierheen genooi? En moenie my weer die ou storie vertel nie. Ek sluk dit nie.”
“My van is De la Buscagne,” help hy haar reg en lê nadruk op die Franse neusklank. “Dit wil voorkom asof jy self ook ’n doel voor oë gehad het. Wat wil jy graag hoor, juffrou Hough? Dat ek jou laat kom het as jongste toevoeging tot my harem? Ek kan daaroor nadink,” en sy donker blik vee oor haar nat liggaam. “Jy het blykbaar aspirasies in daardie rigting.”
Sy klou met alle mag aan ’n laaste bietjie waardigheid vas, rek haar tot haar volle lengte uit – en besef dadelik dis ’n fout. Haar dun, fyn bloese vertoon amper soos ’n sykous en elke kurwe en knoppie wys, vertel die oë haar. Sy laat haar skouers vooroor val asof ’n spier êrens skielik met ’n byl afgekap is.
“As jy dink ek sal my voete in daardie Oosterse paleis van jou sit, moet jy weer dink, meneer De la Buscagne,” en hierdie keer kry sy dit reg uitgespreek, hoewel die neusklank baie na die geblaas van ’n pofadder klink.
“Het jy ’n keuse, juffrou Hough?”
“Ek weet nie hoekom jy my hierheen laat kom het nie, maar ek speel nie saam nie. Ek haal die eerste vlug terug.”
“Hoe gaan jy dit doen? Jy het ’n enkelkaartjie gehad.” Hy sien die verwardheid in haar oë en stel haar amper vriendelik in kennis: “Mens koop nie retoerkaartjies vir dames wat op pad is na ’n harem nie, juffrou Hough. As jy eers eenmaal deel van ’n harem geword het, is jy daar vir altyd . . . of het jy nie geweet nie?”
Van agter haar rug is daar ’n geluid tussen ’n snork en ’n lag en sy werp ’n vernietigende blik na die vreemdeling. Hy lag nog! Almal op hierdie eiland is barbare! Dan wend sy haar weer tot die skamel geklede man . . . en wens hy wil liewer begin aantrek. Sy superblou onderbroek is ontstigtend.
“Hoekom het daardie vrou gegil?”
“Sy het geskrik vir ’n spinnekop.”
Sy pers haar lippe dadelik opmekaar. As sy haar sonde nie ontsien nie . . . “Hoe oud dink jy is ek?”
“Twintig. Ek weet dit.”
Skielik is dit asof hy verveeld raak vir die speletjie. Haar klere word in haar arms geprop.
“Trek aan.”
Sonder om verder aandag aan haar te gee, begin hy dieselfde doen, en na ’n oomblik van onsekerheid begin sy maar gehoorsaam. Die droë baadjie gaan ten minste belangstellende oë keer.
“Gaan jy self stap, of wil jy hê ek moet jou my harem indra?” is die formele vraag en met ’n stywe nek en ewe stywe rug val sy in die paadjie voor hom in.
Wel, sy het haar bes gedoen. Wat nou ook al op haar wag, is onvermydelik. Maar dat haar eindbestemming op aarde ’n harem sou wees, sou sy in haar wildste nagmerries nie kon droom nie. Sy bars in trane uit, nou heeltemal oorstuur.
Toe sy voel hoe hy haar optel en met haar aanstap, het Erika eenvoudig nie die krag meer oor om haar teë te sit nie.
5
’n Paar blou oë rek in verbystering toe Philippe met sy halfdroog, halfnat vrag die sitkamer van die “Oosterse Paleis”, soos dit sedert ’n uur of twee gelede gedoop is, binnestap.
’n Franse uitroep ontval die blonde jong man. “Wat op aarde het jy daar?”
“Nog ’n histeriese vroumens.” Die vrag word sonder seremonie op die naaste bank neergeplak. Die baas van die paleis klink ongeduldig en geïrriteerd. “Het Anna al van hare herstel?”
Die jonger man glimlag, iets wat blykbaar skaars by hom is, want dis ’n bietjie stram. “Ja. Ek het haar ’n dop ingejaag. Waar kom jy aan haar?” vra hy met sy blik op Erika wat teen wil en dank haar rooi oë moet oopmaak. Sy is immers ’n vroumens, en ly aan die normale kwota vroulike nuuskierigheid. Harem of nie, sy wil darem weet hoe lyk haar toekomstige tronk.
“Ek het haar in die middel van die meer gekry – besig om selfmoord te probeer pleeg.”
“Hoekom?”
Sy vee die halfdroë slierte uit haar oë. Die twee bespreek haar asof sy horende doof is!
“Vra my. Ek sal nie weet hoe ’n vrou se binnegoed werk nie. Hulle weet dit gewoonlik self nie.”
“Ek het g’n selfmoord probeer pleeg nie!” protesteer Erika luid en vererg.
“Nie? Dan wou jy seker maar net terugroei Suid-Afrika toe,” is die sarkastiese antwoord. “Dis Erika Hough van Suid-Afrika. En dis my neef, Jean-Paul.”
Jean-Paul se blou oë vonkel geamuseerd.