Ena Murray Omnibus 34. Ena Murray
Sy oë vernou effens. “Nou hel jy weer te veel na die ander kant toe oor. Julle vroumense kan ook nooit gebalanseerd na dinge kyk nie. Moenie van Jean-Paul so ’n vreeslike lydende held maak nie. Eintlik het hy baie van al hierdie ellende oor homself gebring.”
“Wat bedoel jy?”
“Dis nie nou ter sake nie. Wat wel ter sake is, is dat hy nie so kan voortgaan nie. Hy was ’n jaar in die hospitaal en is nou ses maande al hier by ons. Hy het hom teruggetrek in verbittering en vereensaming. Hy weier om uit hierdie huis te gaan en hy weier om van sy ou vriende te ontvang. Soos jy tereg gesê het, hy verstik in selfbejammering en selfverwyt. Met rukke is hy so morbied dat dit hom miskien maklik tot onverantwoordelike optrede kan dwing. Ek is te besig om genoeg tyd aan hom af te staan. Hy is te veel aan homself en sy eie morbiede gedagtes oorgelaat. Hy stuur op ’n afgrond én totale ineenstorting af as daar nie spoedig ’n verandering intree nie. Ek het nie die tyd nie en ek glo ook nie ek is die mens wat hom kan help nie. Maar net die feit dat hy ’n bottel in die see gegooi het, vertel my dat hy hulp soek, al wil hy meestal voorgee niks traak hom nie en hy wil niks met enigiemand te doen hê nie.”
“Dan was dit hy wat die bottel in die see gegooi het?”
“Dit kon net hy gewees het, seker pas nadat hy hier aangekom het. Dit was beslis nie ek nie. Ons is die enigste De la Buscagnes op die Comore. Toe jou brief hier aankom, het ek gevoel miskien sal dit goed wees as julle twee mekaar ontmoet. Miskien kan julle by en van mekaar leer.” Sy oë hou hare gevange. “Jean-Paul kan uitvind dat hy nie die enigste mens is wat al in die steek gelaat is nie, en dat niemand jou teleurstelling vir jou kan verwerk nie. Jy moet dit self doen. En jy kan miskien van hom leer dat dit nie die ergste is wat met jou kan gebeur om drie weke voor jou troue in die steek gelaat te word nie.”
Weer swenk haar oë weg van daardie reguit donker blik. Sy het die lessie klaar geleer, maar Jean-Paul moet nog syne leer.
“Ek sal graag help as ek kan,” sê sy gedemp. “Wat verlang jy van my?” En daarmee verdwyn al die vaste voornemens om haar nie by hierdie twee neefs se lewens te laat betrek nie.
“Kyk of jy hom uit hierdie groef kan kry waarin hy verval het. Probeer hom uitkry uit hierdie huis. Probeer sy belangstelling opwek in iets, enigiets. Geld is nie ’n kwessie nie, as dit geld gaan vra nie. Net vir een ding moet jy versigtig wees, Erika. Moenie dit oordoen nie. Moenie te betrokke raak nie, en moet hom nie van die bottel vertel nie.”
“Maar hoekom nie? Jy sê dan dis hy . . .”
“Juis. Maar as hy moet uitvind dat ek jou spesifiek hierheen laat kom het as gevolg daarvan, sal jy niks met hom uitgevoer kry nie. Hy sal hom terugtrek en jy kan dan maar ewegoed ophou voordat jy begin het.”
“Hoekom sal hy so optree?”
“Grootliks oor my aandeel daarin. Dis vir Jean-Paul baie moeilik om iets van my te ontvang. Driekwart van sy bitterheid is gesetel in die feit dat daar vir hom niks anders was as om saam met my te kom toe ek hom gaan haal het nie. Dis so bitter soos gal in hom dat hy nou van my afhanklik is. Enigiets wat ek verder doen om hom te probeer help, sal summier geweier word.”
Sy kyk hom simpatiek aan. Dit kan ook nie maklik vir die ouer neef wees nie. “Ek sal kyk wat ek kan doen,” belowe sy weer sonder om regtig die vaagste benul te hê hoe sy hierdie probleem gaan benader.
“Nog ’n drankie?”
“Nee, dankie.”
“Dan kan ons maar gaan eet.” Hy begelei haar na binne en toe Erika die keurig gedekte tafel sien, besef sy dat sy vandag nog nie veel geëet het nie.
“Ek wil maar net noem . . . as jy in Anna se goeie boekies wil kom, moet jy weglê aan haar kos.”
Erika glimlag. “Dit sal nie moeilik gaan nie. Ek is rasend honger,” erken sy reguit en hy knik goedkeurend.
“Ek het dan gedink julle vroumense is almal altyd pal op ’n dieet.”
Sy kyk hom effens uit die hoogte aan. “Jy het baie wanopvattings oor ons vroumense, meneer De la Buscagne. Ons is nie almal eners nie.”
“Dis verblydend om dit te hoor, juffrou Hough. Daar is egter een foutjie wat julle almal gemeen het.”
“En dit is?”
“Dat julle julle te maklik deur jul gevoelens laat lei. En julle kan so maklik ’n verkeerde ding vir die regte aansien.”
Sy kyk hom verstom aan. Jean-Paul het haar reeds gewaarsku dat sy neef die vrouegeslag nie net vervelend vind nie, maar ook baie dom. Miskien moet sy haar maar nou dom hou.
“Hoe so?”
“Om iemand jammer te kry, beteken nie vanselfsprekend ook dat jy hom liefhet nie. Onthou dit, asseblief.”
Sy knip haar oë, hoef haar nie meer dom te hou nie. Sy ís dom.
“Moenie die fout begaan om jou jammerte vir Jean-Paul later miskien te begin aansien vir liefde nie. Dit sal ’n groot fout wees.”
“O?” Sy lyk ook nou dom, en hy frons skerp.
“Moenie my so sit en aanstaar asof jy nie weet waarvan ek praat nie! Jy is vooraf gewaarsku. As jy Jean-Paul wil help, moet dit bloot wees uit suiwer onselfsugtigheid . . . nie om iets daaruit te probeer kry nie.”
Erika is so stom van verbasing dat sy maar net weer haar oë in ongeloof kan knip, en dit irriteer hom blykbaar grensloos. “Moenie soos ’n kind lyk wat onverwags ’n onverdiende afjak gekry het nie! Jy is groot genoeg om te weet waarvan ek praat. Die moontlikheid dat Jean-Paul die een of ander tyd tot jou aangetrokke sal begin voel, is groot. Hy is emosioneel ryp vir so iets, al voel hy op die oomblik hóé bitter teenoor jou geslag. Maar jy weet dit nou vooraf, en daarom verwag ek dat jy die situasie onder beheer sal hou. Moet asseblief nooit vergeet dat Jean-Paul net lam is en dat daar verder niks met hom skort nie. Hy is nog volwaardig man en . . .”
Sy rys uit haar stoel uit op. As sy haar sonde nie ontsien nie, gooi sy hom met Anna se heerlike bord kos. Maar dit sal sonde wees terwyl sy regtig nog so honger is.
“Jy het nie juis ’n hoë dunk van ons vroulike geslag nie, het jy? Of vergelyk jy my maar net met die soort meisies met wie jy al deurmekaar was?”
Hulle meet mekaar met die oë. “Jy hoef jou nie so te wip nie, Erika. Jy weet self dat so ’n situasie maklik kan ontstaan. Dis ongewone omstandighede hierdie. Ek wys jou maar net op wat kan gebeur en dat jy vooraf gewaarsku is dat dit nie moet gebeur nie. Ek dink nie net aan my neef nie. Ek dink aan jou ook. Een groot liefdesteleurstelling in die lewe is seker genoeg, nie waar nie?”
Weer spreek hy daardie woord uit asof Anna se heerlike romerige nagereg in sy mond in gom verander het, en Erika voel hoe die gloede van verontwaardiging mekaar oor haar gesig en hals opvolg.
“Heeltemal reg. Een is genoeg . . . en behoede my van een met ’n De la Buscagne.” Weer klink dit soos ’n slang wat blaas en sy voel sy kan ontplof toe daardie glimlaggie skielik weer om sy mondhoeke huiwer.
“Gaaf. Dan verstaan ons mekaar. Ek het dus jou woord daarvoor dat ek geen komplikasies hoef te vrees nie?”
“Jy het my woord.”
Maar jy kan dalk vrees vir ’n moord, meneer De la Buscagne, want op die oomblik kan ek maklik jou nek omdraai, al is jy die mooiste mansmens op die aardbol. Maar jy is ook die vermetelste, dit sweer ek.
Net ná ete maak Erika verskoning dat sy ’n lang dag agter die rug het en gaan kamer toe. Dit was voorwaar die langste, gebeurtenisvolste dag van haar lewe. Sy kan skaars glo dat sy maar net vanoggend sesuur van haar buurvrou se woonstel in Pretoria af weg is. Hier lê sy nou duisende kilometers daarvandaan op ’n tropiese eiland in ’n Oosterse paleis, met soveel dinge wat in die paar uur daarna met haar gebeur het dat sy ’n boek daaroor kan skryf. Op hierdie dag het sy ook twee mans ontmoet, en tog voel dit vir haar waar sy nou in die bed lê, dat sy hulle veel langer ken. Haar lewe is klaar ineengestrengel met hulle s’n. Sy lê klaar haar kop en breek oor hoe sy die ongelukkige