Haar naam was Marina Neser. Susanna M. Lingua
“Van … van … jou castelo?” stamel sy verward en blik die man nou self ontsteld aan. Hy merk haar ontsteltenis en besef dadelik dat sy sy eiendom onwetend betree het. “Dit … spyt my dat ek oortree het en jou dalk ongerief aangedoen het,” maak sy blosend verskoning. “Maar ek sal my sonder versuim van jou eiendom verwyder, señor.”
Sy groet hom met ’n bedremmelde glimlaggie en wil net wegstap toe sy meteens die ferm aanraking van sy hand op haar arm voel. Ergerlik kyk sy op. Maar die belangstellende uitdrukking in die marquês se donker oë laat haar meteens verward voel.
Daar is iets steurends in sy blik, iets sags en mensliks wat flussies afwesig was, en dit ontwapen haar totaal.
“Ek neem aan jy is met vakansie hier in Lissabon?” sê-vra hy en verwyder sy hand oombliklik van haar arm. “In watter hotel gaan jy tuis, señorita … e …?”
Sy blik rus vraend op haar, en Marina besef dat hy op ’n bekendstelling wag. Hy wil natuurlik weet wie die oortreder op sy eiendom is, flits dit deur haar gedagtes. “Neser … Marina Neser,” vul sy met ’n klein stemmetjie aan.
“Aangename kennis, señorita Marina. Ek is marquês Renaldo de Conna, tot jou diens … Maar jy het nog nie my vraag beantwoord nie!”
So, dan is hý Ricardo se neef, die kêrel wat ek my as ’n betreklik bejaarde man voorgestel het! dink sy. Wat ’n toeval! Maar hardop sê sy: “Jy het volkome gelyk, señor marquês, ek is met vakansie. Maar wat die naam van my hotel is, sal ek waarskynlik nooit kan onthou nie …”
“En as jy hier in Lissabon verdwaal,” onderbreek hy haar met ’n frons, “hoe dink jy gaan jy ooit jou weg terug vind sonder om eens te weet wat die naam van jou hotel is?”
’n Warm gloed sprei oor haar pragtige gesig. Hoe min sy ook al daarvan hou, sy sal aan hierdie vreemde aristokraat moet erken dat sy reeds verdwaal het.
Sy vee die vogtigheid van haar voorkop af en antwoord sag dog opvallend selfbewus: “Ek vrees ek het reeds verdwaal, señor marquês, maar ek is darem nie volkome sonder die hotel se adres nie.” Sy haal die velletjie papier uit haar handsak en hou dit na hom uit. “As jy miskien kan beduie hoe ek moet loop –”
“Daar is geen sprake van nie,” onderbreek hy haar kortaf. “Dis byna tyd vir middagete, dus sal jy maar eers moet bly vir ete. Daarna sal ek jou persoonlik by die hotel besorg.”
Voordat Marina iets hierop kan sê, neem hy haar saaklik aan die arm en lei haar oor die grasperk in die rigting vanwaar hy gekom het.
“Van waar af is jy afkomstig, het jy gesê?” begin hy gesels, en dit tref Marina dat sy stem gevaarlik aangenaam is om na te luister. Ja, die man se hele voorkoms en persoonlikheid is gevaarlik aantreklik.
Hulle stap tussen struike, bome en bloeiende plante deur wat ’n asemrowende geheel skep, en draai dan skielik links.
“Ek glo nie ek het gesê nie, señor,” glimlag sy fyntjies. “Maar aangesien jy so vriendelik is om my by die hotel te wil besorg, sal ek jou vertel.”
Sy kyk op, reg in sy oë wat geamuseer na haar kyk. ’n Kort oomblik hou sy blik hare gevange, dan raak sy meteens bewus van ’n eienaardige gevoelstroom wat soos vloedwaters deur haar bruis, en met ’n blos van verleentheid laat sy haar blik vinnig sak.
“Ek moet sê, dit klink geheimsinnig, señorita,” spot hy liggies.
“Hoegenaamd nie,” antwoord sy met haar ou selfvertroue. “Ek is van Johannesburg, Suid-Afrika, afkomstig, en daar is absoluut niks geheimsinnigs aan my besoek nie.”
Hy skud sy kop bedenklik, en ’n harde trek verskyn meteens om sy mond.
“Ek kan julle Suid-Afrikaanse ouers nie verstaan nie. Om ’n jong meisie soos jy so ver alleen op reis te laat, is absoluut ongehoord!”
“Ek is reeds een en twintig, señor marquês,” verdedig sy haar ouers se goed bedoelde optrede. “Trouens, deel van hierdie reis was ’n geskenk van my ouers vir my verjaardag. Maar nou ja, Suid-Afrikaanse gebruike en dié van jou land stem natuurlik nie ooreen nie.”
“Inderdaad. Maar ek moet sê, ek hou niks van jul volksgebruike nie. ’n Meisie behoort soos ’n juweel opgepas te word en nie so aan gevaar blootgestel te word soos wat dit vandag met jou die geval was nie, señorita.” Hy blik haar koel, berekenend aan. “Jy was inderdaad gelukkig om hier by my castelo uit te kom.”
“Ja, ek besef dit …” Toe verstar haar blik meteens, want wat sy voor haar sien, slaan byna haar asem weg.
’n Eeue oue kasteel, soos waarvan sy nog net in boeke gelees het, doem soos ’n vors van ouds voor hulle op met sy talle skerp torinkies en koepels, kruisraamvensters en geboogde ingange. Vir Marina voel dit kompleet of sy in ’n droom verkeer, ’n heerlike droom waaruit sy aanstons sal ontwaak en vind dat sy in ’n hotel op haar bed lê.
Hulle beweeg nog steeds oor ’n sagte, groen grastapyt tussen bloeiende oleanders en frangipanibome deur. Toe plaas hy sy hand sjarmant onder haar elmboog en lei haar versigtig met ’n menigte kliptreetjies op, van die een terras na die ander, totdat hulle die indrukwekkende geboogde ingang bereik.
Hy stoot die swaar, massiewe deur oop, buig galant en nooi haar om binne te gaan.
“Ek veronderstel daar is ’n verduideliking waarom jy verdwaal het, señorita. Ek sal dit graag wil hoor,” merk hy terloops op onderwyl hy haar in die rigting van die leeskamer lei.
Weelderige dik tapyte bedek die vloere. Marina kan byna nie alles inneem nie. Sulke kosbare, antieke meubels het sy nog net in rolprente gesien. Dis voorwaar oorweldigend. En nou is sy meer as ooit oortuig daarvan dat sy in ’n salige droom verkeer, want dit alles kan tog nie met haar gebeur nie.
Ek, ’n doodeenvoudige mens, dogter van een van Johannesburg se swoegende prokureurs, hier in ’n Portugese kasteel! Nee, dit kan nooit waar wees nie, besluit sy weer.
Byna aan die end van ’n lang gang stoot die marquês ’n deur oop en staan opsy. Hy buig weer sjarmant en versoek haar saaklik om binne te gaan. Toe trek hy die deur sag op knip, bied haar ’n stoel aan, en nadat albei plaasgeneem het, kondig hy aan: “Ek is gereed om na jou verduideliking te luister, señorita Marina.”
Sy kyk die marquês reguit aan en sê sag: “Daar is nie veel om te verduidelik nie, señor. Soos jy reeds weet, is ek ’n vreemdeling hier in jul hoofstad. Ek het twee dae gelede hier aan wal gestap en wou graag vandag die stad besigtig …”
Sy vertel hom van die busrit stad toe, hoe verdiep sy in haar omgewing geraak het, van die restaurant waar sy ’n koppie tee geniet het en dat sy vermoedelik daarna die verkeerde straat gekies het.
“Jy het inderdaad verkeerd opgetree, señorita,” bestraf hy haar saaklik nadat hy haar verhaal enduit gehoor het. “Dis absoluut ongehoord vir ’n meisie om so onbeskermd op straat rond te slenter. Maar ek sal reël dat vandag se … e … eskapade nie herhaal word nie. En as jy enigsins voel dat jy my oor die een of ander saak wil spreek, doen dit gerus. Ek is te alle tye tot jou diens.” Hy kom orent. “Ons sal nou na die sitkamer gaan.”
Ook Marina kom orent. Die marquês stoot die deur oop, buig weer galant en lei haar verder met die gang af. Hulle stap by ’n menigte deure verby tot waar die gang ’n draai maak, en eindelik bereik hulle die kolossale sitkamer. Lae tafeltjies en stoele en banke met diepblou en wynrooi fluweelbekleedsels versier die vertrek. Teen die mure hang waardevolle skilderye en oral pryk vase met die keurigste gerwe wit en pienk lelies.
Die marquês lei haar na ’n bank waar twee vroue druk in gesprek verkeer. ’n Entjie van hulle af, voor ’n oopslaanvenster, is slegs die netjies geklede rug van ’n man sigbaar.
“Laat my toe om my suster, Elena, en my niggie, Celesta Mendoca, aan jou bekend te stel, señorita … Señorita Marina Neser sal ons gas wees tot vanmiddag, wanneer ek haar sal terugneem na die hotel waar sy tuisgaan,” laat die marquês ietwat styf hoor.
Daarna draai hy na die man wat voor die venster