Haar naam was Marina Neser. Susanna M. Lingua
dit heel waarskynlik ook gereël het – ek bedoel hoeveel seuns en dogters daar in die familie moet wees.”
’n Heerlike lagbui oorval haar. Toe sy eindelik tot bedaring kom, vee sy die lagtrane uit haar oë en verklaar geamuseer: “Jy sê hy wil nou ’n poging aanwend om my te hervorm?”
“Ja, hy meen dis hoog tyd dat iemand jou tot ’n groter verantwoordelikheidsin oorreed, jou laat besef dat die lewe nie bloot ’n speelbal is nie. Maar laat ons liewer van Renaldo vergeet. Hy het my beslis genoeg uitgetrap oor nou die môre se onbesonnenheid. Laat ek jou liewer die stad gaan wys. Dit behoort immers interessanter te wees.”
In ’n veel opgewekter stemming sit Marina enkele minute later langs Ricardo in een van die marquês se vinnige sportmotors. Die motor se kap is afgeslaan en ’n ligte windjie speel vrolik deur haar goue krulle. Haar groot, pragtige oë vonkel van lewenslus en om haar sagte, sensitiewe mond is ’n uitdrukking van volkome tevredenheid.
Deur nou strate en tussen hoë geboue deur vleg hulle, en telkens verduidelik Ricardo die geskiedenis van die een of ander besienswaardigheid aan haar. Marina vind sy verduidelikings baie interessant, en te gou bereik hulle die middestad.
Nadat Ricardo die motor onder ’n reuse-jakaranda getrek het, neem hy haar vir ’n wandeling deur die belangrikste dele van die stad om die indrukwekkende katedraal, die praca do commercio, die akwaduk wat water na Lissabon voer, en nog talle ander plekke te besigtig. En toe die horlosie later aankondig dat dit tyd is vir middagete, neem hy haar na ’n luukse restaurant.
Met onverskuilde bewondering rus sy blik op haar fynbesnede gelaat daar waar sy regoor hom aan die tafeltjie sit, en ’n onweerstaanbare drang om haar in sy arms te neem, vlam soos ’n veldbrand in hom op. Nog nooit het hy ’n meisie so intens begeer soos wat hy Marina begeer nie. Sy is die allerliefste mensie wat hy ken; opreg in haar vriendskap, blymoedig, vrolik … en sommer al die dinge wat nodig is om van ’n huwelik ’n sukses te maak.
Maar dan dink hy meteens aan die streng en kieskeurige Renaldo, en aan die feit dat Marina nie uit sy eie volk is en dalk nie Renaldo se goedkeuring sal wegdra nie. Hierdie gedagte laat sy moed terstond sak. Hy voel byna oortuig dat Renaldo nie sy goedkeuring sal heg aan so ’n huwelik nie, en tog kan hy nie sy liefde vir haar onderdruk nie. Dis soos ’n verwoede stroom wat hom met krag en geweld meesleur, hom absoluut hulpeloos en kragteloos laat.
“Het jy al die magtige Tagusrivier gesien?” verneem hy later nadat albei reg laat geskied het aan die ryk Portugese geregte.
“Nee, nog nie,” antwoord sy, die ene belangstelling.
“Dan sal ek dit vir jou moet gaan wys, want dis ’n gesig wat jy nooit sal vergeet nie,” bied hy aan. “Terloops, ’n deel van die rivier behoort aan Renaldo, weens die feit dat dit deur die terrein van sy castelo vloei.”
“Wêreld, maar ek het nie geweet die terrein van sy castelo is so groot nie!” laat sy verras hoor.
“Renaldo is ’n vername grondeienaar,” verklaar hy goedig. “Afgesien van sy castelo besit hy twee quintas, en elkeen is duisende hektaar groot.”
“H’m, nogal ’n bevoorregte man,” merk sy ingedagte op, kyk hom peinsend aan en verneem belangstellend: “Wie gaan die volgende marquês wees … ek bedoel nou natuurlik na hom?”
“Sy oudste seun.”
“En hy sal natuurlik net so ’n koel komkommer soos sy pa wees,” laat sy spytig hoor.
“Hulle word so opgevoed, pequena,” verduidelik Ricardo met ’n glimlaggie. “Net soos Renaldo, sal sy seun in die ou Portugese tradisie van edelliede opgevoed word. Dis nie dat hy van nature koel en onverstoorbaar is nie; dis al die verantwoordelikheid wat hom in so ’n streng en ernstige persoon verander het. Jy besef natuurlik nie wat sy pligte alles behels nie, meisie. Benewens al sy verantwoordelikhede as grondeienaar, rus die verantwoordelikheid van die hele familie ook nog op hom. En glo my, die familiesake alleen is geen geringe taak nie. Hy was vanoggend, voordat ek die castelo verlaat het, nie minder nie as twee keer ontbied vir besprekings!”
“Besprekings! Watse besprekings, Ricardo?” Sy kyk hom met ’n ernstige blik aan.
“Jy sal nie verstaan nie, pequena,” glimlag hy vriendelik. “Ons gebruike is heeltemal anders as julle in Suid-Afrika s’n. Hier besit ’n meisie geen seggenskap oor die keuse van ’n lewensmaat nie. Renaldo doen die finale keuse. Die meisie se ouers kies nou wel die man vir haar as lewensmaat, maar net met Renaldo se goedkeuring.”
“En as hy die man nie goedkeur nie?” wil sy nuuskierig weet.
“Dan word daar samesprekings gehou, soos vanoggend, en kies hy self ’n bruidegom vir die betrokke dametjie … Dis waarom ek gesê het al die laste en kommer van die familie rus op sy skouers. Glo my, dis ’n geweldige verantwoordelikheid om vir iemand ’n lewensmaat te kies. En moenie dink Renaldo besef dit nie. Maar hy is besonder knap en sy sin vir regverdigheid en billikheid is spreekwoordelik; daarom koester die familie so ’n hoë respek en agting vir hom. Maar kom, dit word laat en ek wil jou nog die rivier gaan wys.”
Hulle staan op en nadat Ricardo die rekening vereffen het, verlaat hulle die restaurant.
Na ’n rit van ongeveer ’n halfuur bereik hulle die oewer van die breë rivier. Tot haar verbasing merk Marina dat die castelo slegs ’n paar honderd tree van die rivier af geleë is.
Hoflik maak Ricardo die motordeur vir haar oop. Met ’n sjarmante buiging neem hy haar arm en help haar uit, onbewus van die lang, vorstelike gestalte wat ’n entjie van hulle af verskuil agter ’n magnoliabos staan en elke beweging met ’n streng blik waarneem.
“O, maar is dit nie salig hier in die lieflike natuurskoon nie!” roep Marina in ekstase uit en gaan botstil staan. “Ek is seker die marquês het al hierdie sierbome, struike en blomme laat aanplant!”
“Reg geraai, pequena. Hierdie paradys was Renaldo se idee.”
“Jy weet,” en sy kyk hom koketterig aan, “ek begin glo dat hierdie marquês-neef van jou regtig ’n merkwaardige man is!”
“Jy behoort Renaldo beter te leer ken, Marina,” antwoord hy met die wêreld se wysheid in sy stem. “Hy kan jou baie dinge leer waarvan jy nog niks weet nie.”
“Jy bedoel meer verantwoordelikheid?” Haar blik rus ondeund op hom, en dit ontgaan die jong man se oog nie dat sy besig is om met hom te spot nie.
“Jy spot nou, pequena, en ek is baie ernstig, weet jy?” bestraf hy haar goedig en gaan langs haar staan. Sy oë liefkoos elke trek op haar fraai gelaat toe hy vervolg: “Dit was beslis nie baie verantwoordelik van jou toe jy gister …”
“Kom, Ricardo,” lag sy hom heerlik uit. “Ek dink die lewe moet bitter oninteressant wees as ’n mens so pynlik verantwoordelik soos jou neef, die marquês, moet wees. Laat hy gerus maar onfeilbaar wees. Ek is volkome tevrede soos wat ek is – met my foute en al.”
Asof hierdie woorde van haar die gegewe teken is, strek Ricardo sy hande uit, neem hare in syne en trek haar vas teen hom aan.
“Ek hou ook van jou soos wat sy is, pequena,” sê hy hartstogtelik met vurige oë wat brand in hare. “Maar ek hou nie net van jou nie, ek het jou …”
“Hartstogtelik lief, guerida, liefste,” vul die marquês sinies aan onderwyl hy van agter die magnoliabos te voorskyn tree en hom by hulle aansluit. “Boa tarde, señorita,” groet hy Marina met die gewone hoflike buiging. Onverstoord draai hy na die onthutste jong man en vervolg: “Celesta soek na jou. Jy moet haar stad toe vergesel, Ricardo.”
“Maar ek het dan ’n gas, Renaldo!” protesteer hy, duidelik teleurgesteld, en blik sy neef gesteurd aan oor sy onwelkome teenwoordigheid.
“Ek besef dit, my vriend,” antwoord die marquês onverstoord. Dat Ricardo bitter omgekrap voel, is vir hom geen geheim nie.
“Maar kan Celesta nie haar besoek uitstel tot môre nie, Renaldo?” probeer hy hoopvol. “Die wêreld sal tog immers nie vergaan as