Soekers na die son. Ena Murray

Soekers na die son - Ena Murray


Скачать книгу
nie?”

      “Omdat sy my persoonlik die waarheid vertel het en ’n brief aan jou pa nagelaat het waarin sy ook eerlik gebieg het dat sy reeds vir Nollie verwag het toe hulle getroud is.”

      “Maar hoekom toe nie die man opspoor …?”

      “Sy het geen naam genoem nie, Janneman. Lida is met daardie geheim graf toe.”

      Janneman slaan met die palm van sy hand teen die stoeppilaar, sy gesig strak, sy stem grof: “Dis ’n helse ding hierdie, Ma. Dit gaan Nols breek. Hy is trots, baie trotser as ek. Om nou te moet uitvind hy is nie ’n Retief nie. En boonop weet hy nie eens wie sy pa is nie … Die arme Hantie.”

      “Hoekom sê jy so? Hy is baie lief vir Hantie.”

      “Ek weet … maar dis nie net Nols wat seerkry en vorentoe nog meer gaan seerkry nie. Dit raak vir Hantie ook.”

      Elise kyk haar seun skerp aan. Nie vir die eerste keer wonder sy of Janneman nie meer van sy broer se verloofde hou as wat goed is vir hom nie. Juis oor die groot kommer in haar, klink haar stem kortaf: “Moenie onsin praat nie. Daar is genoeg spoke uit die verlede opgejaag sonder dat jy nog spoke vir die toekoms ook moet optower. Hantie is lief vir Nols en sy sal hom deur hierdie krisis dra, ek weet dit.”

      Sy stap vinnig weg voordat hy haar nog meer kan ontstel en hy kyk haar agterna, sê dan sag: “Ek hoop so, Ma. Ek hoop van harte so.”

      Elise tref haar stiefdogter eindelik tussen die grafte in die ou familiekerkhof aan. Vir ’n oomblik huiwer sy by die hek, laat haar blik oor die grafte dwaal. Daar is die twee grafte van die eerste Nols Retief en sy vrou, daarnaas oupa Nols se vrou se graf met syne, vars bedek met kranse, net langsaan. Daar is die graf van Helgard en Arnold se suster, Annabel, wat as jong vrou in ’n motorongeluk dood is, en die graf waarlangs Isabé nou staan: dié van haar ma, Lida, Helgard se eerste vrou. ’n Entjie verderaan lê daar nog twee grafte, dié van haar eie pa, Jan Vermaak, sy lewe lank voorman op Paradys, en oom Klappies s’n, ta’ Vroeteltjie se oorlede man. Dié ou oom en tante het jare gelede toe oupa Nols se vrou hom ontval het, hul intrek in Paradys se groothuis geneem as huishoudster en tuinier. Twee mense wat, hoewel nie deur bloed nie, dan wel deur liefde en troue diens so innig deel van die Retiefs en Paradys geword het dat aan hulle die eer beskore is om ook ’n laaste rusplek in Paradys se aarde te vind. Snaaks, dink sy toe sy stadig nader stap na die meisie by die graf, hoe die mens se lewe van lief en leed, van hartstog en aanvaarding, van opstand en geluk op die end deur die witgekalkte mure van ’n kerkhof begrens word. Sy kyk af op die steen, lees die naam, geboortedatum, sterfdag en wonder: Was al die trane, die opstand, die sielswroeging, die bietjie vreugde en die bietjie lag dit werd, Lida?

      “Sê my, ma Elise, is ek nie miskien ook ’n hoerkind nie?”

      Haar kop ruk regop. Sy kyk geskok in die harde oë voor haar vas. “Isabé, moenie daardie woord gebruik nie!”

      “Hoekom nie? Dis tog wat julle vandag vir Nols vertel het. Hy is ’n …”

      Elise val haar vinnig in die rede: “Ek sal jou die verhaal vertel soos jou ma dit self vir my vertel het. Dan sal jy weet Nols is nie wat jy hom genoem het nie. Hy was maar net die resultaat van ’n jong meisie se liefde en goedgelowigheid. Miskien vind jy ook nog eendag uit dat ’n vrou wat werklik liefhet, soos klei word in die hande van die man wat sy bemin. Jy word weerloos, Isabé. Hoe hard jy ook al probeer vashou aan beginsels en norme en wat ook al, breek daar die oomblik aan dat jy van alles vergeet. Dis dan wanneer jy slegs bewus is van jou liefde vir ’n man en volgens ’n oeroue wet van die natuur aan hom wil behoort, móét behoort, al verg dit ook wát. Moenie jou ma veroordeel nie. Sy het maar net liefgehad. Dit was haar sonde. Nols was haar kind van liefde.” ’n Oomblik streel haar vingerpunte teer oor die meisie se wang. “Jy hoef nooit te twyfel nie, Isabé. Pa is werklik jou pa.”

      Die oë swaai blind weg, kyk oor die witgekalkte kerkhofmuur na waar die rantjies en die horison saamsmelt.

      “Ma moet die woorde onthou wat Ma vandag vir my gesê het.”

      “Watter woorde?”

      “Hoe ’n vrou is wanneer sy liefhet – waarlik liefhet. Ek mag Ma miskien weer eendag daaraan herinner.”

      Sy draai om, begin wegstap en Elise kyk haar fronsend agterna. Wat sou sy bedoel …? Kan dit wees dat Isabé eindelik iemand ontmoet het vir wie sy werklik begin omgee het?

      Sy stap vinnig agterna. “Isabé? Wag!” Sy bereik haar effens uitasem, kyk die jong vrou deursoekend aan. “Toe jy eergister hier aangekom het, het jy gesê daar is iets wat jy met my wil bespreek, maar dit kan wag tot ná die begrafnis. Wil jy nie nou daaroor gesels nie?”

      Die kop skud. “Nee, Ma. Dit moet maar nog ’n rukkie wag. Dis nie nou die regte tyd om daaroor te praat nie. Met hierdie skok van Nols … Laat dit maar bly.”

      “Isabé …” Sy bring haar met ’n hand op haar arm tot stilstand. “My meisiekind, jy is ons kind, net soos Nols en Janneman. Daar is altyd tyd vir jou ook. Ek wil graag hoor wat jy vir my wil sê. Jou geluk is vir my net so belangrik soos hulle s’n. Wat wou jy met my bespreek?”

      Maar die kop skud weer. “Julle het almal op die oomblik meer as genoeg om te verwerk en te hanteer, Ma. Ek wil nie nog daaraan toevoeg nie.”

      Elise frons, kyk Isabé vraend, bekommerd aan. “Dan het jy ’n probleem? Ek het dan gedink …”

      “Wat het Ma gedink?”

      “Dat jy … goeie nuus vir my het.”

      Daar is ’n meewarige, stywe glimlag om die jong vrou se lippe. “Soos wat? Dat ek eindelik ’n man raakgeloop het, want ek was darem al dertig?”

      Elise frons. Sy hou nie van die trant waarop dit gesê word nie.

      “Wel, ja, eintlik was dit wat ek gehoop het. Maar die feit dat jy al dertig is, het niks daarmee te doen nie. Isabé, jy weet ek wens jou in my hart alle moontlike geluk toe, ook huweliksgeluk. Jy was nog altyd ’n wonderlike dogter vir ons, en jy sal so ’n wonderlike vrou en moeder uitmaak. Niks sal vir my en Pa groter vreugde verskaf as dat jy die dag Paradys toe kom en ons vertel jy het ’n man opreg liefgekry en dat jy gaan trou nie.”

      “Dis groot woorde daardie, Ma. Groot woorde. Ek weet Ma bedoel dit baie opreg, maar baie keer sê ’n mens dinge waarvan jy die omvang nie werklik besef nie. Nee, ek gaan die saak nie hierdie keer met julle bespreek nie. Op ’n ander dag. Net een ding: onthou hierdie laaste woorde van Ma ook, asseblief. Kom ons gaan nou terug. Ek wil vir Nols gaan soek.”

      2

      Isabé kry hom waar haar intuïsie haar heen gelei het – op Ou Werwe. Sy stap die verwaarloosde huis binne, tref hom in die kombuis met sy karige ameublement aan. Ou Werwe se opstal word net gedurende skeertyd gebruik.

      Hy sit met sy rug na haar gekeer … met ’n glas in die hand. Hy het die voetstappe gehoor en toe hulle in die kombuisdeur aarsel, sê sy bars stem: “Wie jy ook al is, maak dat jy wegkom. Ek wil niemand sien nie.”

      “Jy hoef nie na my te kyk nie, dan sal jy my nie sien nie. Maar jy sal na my luister.”

      “Verdomp, Isabé!” Hy kom woedend orent. “Indien jy nie goed gehoor het nie, ék is nou die baas van Ou Werwe en ek sê trap!”

      Sy stap egter ongeërg na die kombuisrak, haal ’n glas af en sit dit langs syne neer. “Gooi vir my ook in.”

      “Wat?”

      “Ek sê ek sal ook iets drink. Ek het dit ook nodig.”

      Hy kyk haar nog met strak oë aan. “Wat het jy hier kom soek?”

      “Ek weet self nie.” Sy gaan sit op ’n stoel aan die ander kant van die tafel. “Ek wil net by jou wees.” Sy stoot haar glas nader. “Ek het nog nooit so na aan jou gevoel soos vandag nie.”

      Sy mondhoeke smaal en hy maak die bottel oop. “Juis vandag toe jy uitvind ek is nie regtig jou broer nie?”

      “Ja.


Скачать книгу