Soekers na die son. Ena Murray
nie, Nols! Ek het nie simpatie om uit te deel nie. Ek het simpatie nodig.”
Hy kyk haar verward, wantrouig oor die rand van die glas aan. “Waarvan praat jy, of is dit ’n soort sielkundige benadering wat jy probeer toepas?”
“Ek is te suf getob om enigiets sielkundig te probeer uitwerk.”
“Getob? Waaroor? Oor watter soort ma ons gehad het?”
Sy woorde skok haar soos haar woorde netnou in die begraafplaas vir Elise geskok het. “Nee, dit het eintlik niks met ons ma te doen nie. Maar terwyl ons nou van haar praat … Sy was regtig nie so sleg soos jy dink nie, Nols.”
“Sê wie? Die dame wat weet wie haar pa is, wat weet dat sy ’n Retief in murg en been is?”
“Ek begryp jou bitterheid, Boetie …”
“Moenie vir my Boetie sê nie! Ek is nie jou boetie nie.”
“Maar jy is. Ons het dieselfde ma. Maar al was jy van geen kant my boetie nie, sal jy dit nog altyd bly, Nols. Want vandat ek my verstand gekry het, was jy my broer. Ek het jou al dertig jaar lank lief as my broer. ’n Enkele paar woorde kan nie daardie liefde sommer net afsny of laat verdwyn nie. Nols, sal jy dit onthou wanneer jy weer by Pa en Ma kom?”
Hy draai sy kop weg, sy oë hard. “Moenie met my van Pa praat nie. Hy is nie my pa nie. Hy is ’n man wat my twee-en-dertig jaar lank bedrieg het, my in ’n gekkeparadys laat voortleef het.”
“Omdat hy jou liefgehad het, nog altyd liefhet. Nols, besef jy dat as Oupa nie ingegryp het nie, Pa jou nooit die waarheid sou vertel het nie? Besef jy dat hy sy eie vlees en bloed tekort sou gedoen het ter wille van jou? En hoekom sou hy dit doen? Omdat jy so ’n wonderlike mens is? Nee, my broer. Jy is glad nie so wonderlik nie. Hier sit en drink jy jou skok soos ’n onvolwasse bogsnuiter weg. Hy sou dit doen net om één rede: omdat hy jou liefhet. Wees bitter teenoor enigiemand anders, maar nie teenoor Pa nie, Nols. Hy het vir jou pa gestaan toe jou eie pa sy rug op jou gedraai het.” Sy druk haar vingers ’n oomblik om syne wat die glas vasklem. “Jy is nie regtig kwaad oor Paradys noudat jy die waarheid weet nie, nè, Nols? Dit gaan nie soseer om Paradys nie.”
“Nee. Dis natuurlik ’n groot teleurstelling, maar … Magtig, Isabé, om skielik op ’n dag te moet hoor jy is nie wat jy nog altyd gedink het jy is nie. Dink jy dis ’n grap? Kan jy jou voorstel hoe hierdie hele omgewing gaan skinder en agter my rug lag? Die grote Nols Retief wat toe nooit ’n Retief is nie! Afgejaag van Paradys na Ou Werwe se verwaarloosde werf!”
“As hulle agter jou rug vir jou gaan uitlag, sal jy self die oorsaak daarvan wees. Maar as jy hulle kan wys dat jy hierdie ding soos ’n man kan vat, dat jy van Ou Werwe ’n pragplaas kan maak soos Paradys is, sal niemand vir jou lag nie, Nols. Hulle sal jou respekteer en bewonder. En jy kán dit doen, Boetie. Ek weet jy kan. Want jy is meer ’n Retief as ek. As hulle my bloed trek en toets, sal hulle weet ek is ’n Retief. Maar dis al. Maar jy … jy het van kleindag af aan oupa Nols se voete gesit. Van kleindag af is jy die Retief-karaktertrekke en -eienskappe ingevoer soos met moedersmelk. Jy is deur Pa en Oupa ingeplant in Paradys se aarde. Hulle het jou laat wortel skiet daarin, laat groei, geleer om dit lief te hê, hoe om dit te respekteer en te behandel sodat dit weer alles aan jou kan teruggee. Jy is geleer om trots te wees om ’n Retief te wees, en dit is jy vandag nog – ’n Retief. Dis wat jý ís wat van belang is, wat deurslaggewend is, Nols … nie wie of wat jou pa of jou ma was of is nie.”
Hy kyk haar ietwat verbaas aan. Sy praat so dringend, met ’n soort koorsigheid in haar oë.
“Jy kan maklik praat.”
“Ek praat nie maklik nie. Ek wéét waarvan ek praat, maar jy sal nie nou verstaan nie. Dis ook nie ek wat nou ter sprake is nie. Dis jy.” Sy gee ’n sug, neem ’n klein slukkie van die brandewyn. “Jy weet, ek het al baie oor hierdie ding gedink. Ons mense is te gesteld op oorsprong, waar ons vandaan kom, uit wie ons kom. Is dit werklik van soveel belang? Is wat jy self is, wat jy self in die lewe vermag, nie die belangrikste nie?” Sy kyk reguit in sy oë, en dis amper of sy pleit. “Elke mens is tog ’n mens uit eie reg, nie waar nie? As jy ’n mens is wat die respek van jou medemens afdwing deur die lewe wat jy lei en deur wat jy in die lewe bereik het, maak dit saak of jy ’n ellelange familieregister kan toon en of jy ’n onbekende pa gehad het?”
Hy skud sy kop, sy brein reeds half beneweld deur die drankies en die bitterheid en ontnugtering in hom. “Ek verstaan nie heeltemal wat jy wil sê nie, Isabé. Ek weet net een ding: dit was vir my nog altyd belangrik dat ek ’n Retief is … een van die Retiefs van Paradys. En nou is ek dit nie, was dit nooit gewees nie. Vir sekere mense is sulke dinge miskien nie so belangrik nie. Vir ander is dit. Vir mý is dit. Ek besef vandag eers hóé belangrik, noudat ek gehoor het ek is dit nie.” Hy neem ’n groot sluk. “Dis of … alles onder my skielik padgegee het … Ek voel soos ’n mens voel wanneer jy aan die stap is, en skielik is daar nie meer grond onder jou voete nie. Jy is skielik aan die val en jy weet nie hoe ver en tot waar nie.”
“Maar jy kan probeer om jou balans terug te kry en waar jy ook al grondvat, op jou voete te lande te kom.”
“Ja. Jy kan probeer … maar jy sal die wete altyd in jou omdra jy is nie meer waar jy was nie. Jy het ver geval. Jy is onder, nie meer bo nie.”
Sy stoot haar glas weg, staan op, lê ’n hand op sy kop, spreek hom aan op die ou kindernaam: “Nollie, jy moet hierdie ding verwerk, asseblief!”
“Ja. Dis wat almal gaan sê, maar dis omdat dit nie hulle is wat dit moet verwerk nie. Dis maklik om vir ’n ander te vertel hoe hy ’n situasie moet hanteer as jy goed weet jy sal self nooit voor so iets te staan kom nie.”
“Ons het almal dinge om in ons lewens te verwerk, my boetie. Laat ek jou vandag iets vertel. Wat ék moet verwerk, is veel groter as jou probleem. Jy sal my nou nie glo nie, maar wat nou vir jou na so ’n onoorkomelike probleem lyk, is kinderspeletjies teen myne.”
Hy kyk haar skerp aan. “Waarvan praat jy? In watter moles is jy?”
Sy glimlag effens, ’n onpeilbare glimlaggie. “Jy kan dit ’n moles noem. Maar ek gaan nie nou daaroor praat nie. Jy sal nie nou verstaan nie.”
Hy staan op. “Maar jy dink jy verstaan myne.”
Sy knik, sug weer, lê haar kop ’n oomblik teen sy bors. “Jy het gelyk. Elke mens se probleme is uniek vir homself, net deur homself oplosbaar en nie op voorskrif van ’n ander nie. Want dis net jy wat werklik weet wat jy in jou hart omdra, net jy wat jou heil self moet uitwerk. Niemand anders kan jou lewe vir jou lewe.” Sy staan terug, kyk hom vas in die oë. “Goed, Nols. Ek gaan nie aan jou voorskryf hoe jy hierdie ding wat jou getref het, moet hanteer nie. Maar net dít.” Sy tel die bottel op, hou dit omhoog. “Wanneer jy môreoggend weer nugter is, hoop ek jy sal besef hierdie goed kon nog nooit enigiets oplos nie. Tot siens, my boet.”
Dis twee bekommerde mense wat haar op die stoeptreetjies van die groothuis inwag.
“Het jy hom gekry?”
“Ja, Pa.”
“Waar is hy?” vra Elise met dikgehuilde oë.
“Op sy erfplaas.”
“Sy …? Jy bedoel, Ou Werwe?”
“Ja.”
“Hoe … hoe gaan dit met hom?”
“Hy gaan hom vanaand dronk drink en môre gaan hy ’n bul van ’n kopseer hê. Wanneer dit verby is, gaan sy verstand hopelik weer begin werk.”
“Ag nee, my kind! Hy …”
“Los hom, Ma. Los vir Nols doodstil. Hy moet sy eie manier vind om hierdie ding te verwerk. Julle kan dit nie vir hom doen nie.”
Elise se trane begin weer loop. “Maar ons wil net graag by hom wees, hom laat verstaan dat ons hom liefhet en …”
“Ek weet, Ma,” sê sy teer. “Maar hy weet dit reeds. Hy weet dit.”
“Maar