Soekers na die son. Ena Murray
kan vir hom bid.” En vir my ook, Ma! Veral vir my!
Helgard sug en slaan sy arms om sy vrou se skouers. “Isabé is reg, my skat. Laat ons Nols eers alleen laat en vir hom doen wat ons kan: bid. Kom ons gaan eet nou. Rita wag met die kos.”
Elkeen neem sy plek aan die groot eettafel in. Almal probeer die leë plekke wat daar is, miskyk.
“Waar is Janneman dan?” wil Isabé tog weet.
“Hantie het netnou na Nols gesoek en toe het ons maar besluit Janneman moet oorgaan na die Hefers en hulle inlig oor die stand van sake. Hulle sal dit tog die een of ander tyd moet hoor. Hulle moet die besonderhede ken voordat dit rugbaar word. En miskien is Janneman die regte mens om dit oor te dra.”
Elise baklei teen haar eie beterwete toe sy driftig laat hoor: “Ek kan nie sien hoekom dit allemanspraatjies moet word nie. Niemand hoef te weet hoekom Oupa sy testament so opgestel het nie. Hy kon tog met sy goed maak wat hy wou.”
“My vrou, hierdie ding sal nie stil gehou kan word nie, en jy weet dit. Almal wonder nou al wat het in Nols Retief se testament gestaan. En almal gaan daaroor verbaas wees en wonder en gis.”
“ ’n Mens kan dink wat jy wil, maar nie sê wat jy wil nie!”
“Ja, Elise, maar ons almal weet daardie spreekwoord beteken niks nie. Partykeer is dit verstandiger om liewer met die volle waarheid vorendag te kom as om mense kans te gee vir allerhande gissings en bespiegelinge. Dit kan groter skade aanrig.” Hy kyk na sy dogter. “Wanneer moet jy weer terug?”
“Ek sal môre moet ry, Pa. Ek is oormôre weer aan diens.”
“Ek wens so jy kon nog ’n paar dae bly, my kind,” sê Elise. “Ons het jou nou hier nodig en ek sou nog graag ’n bietjie met jou wou gesels.”
Maar Isabé skud die kop. “Ek sal moet terug. Dit kan nie anders nie. Ek sal kyk wanneer ek weer ’n naweek kan vry kry.”
“Ons sal ook net ná die testament gelees is, moet ry,” laat Arnold hoor. “Die kinders is aan die eksamen skryf. Ek moet eenvoudig môre in die skool wees. Jy moet maar laat weet wanneer ek iets moet teken of so, Helgard.”
“Ja, natuurlik. Ons sal moet klaarmaak. Freek Combrinck sal nou elke oomblik weer hier opdaag.”
’n Rukkie later sit die klompie weer in die sitkamer en luister na Freek Combrinck se egalige stemtoon. Net Janneman en Nols junior is nie daar nie.
Die res van die testament is soos almal verwag het dit gaan wees en niemand opper enige beswaar nie.
Nadat Combrinck weer vertrek het, laat Helgard half ongemaklik hoor: “Arnold, voel jy gelukkig oor jou deel? Ek, of dan my seuns, erf al die grond …”
Arnold se blik is oop en eerlik, sy stem opreg: “Waaroor ek baie bly is. Ek is nie ’n boer nie, en jy weet dit. Ek en Rita het nie kinders nie. Dis net reg dat jou kinders die grond kry. Jy moet onthou ek en Rita het eintlik reeds al van Pa geërf toe ons destyds op sy koste verder gaan studeer het. Dit het hom ’n mooi klompie uit die sak gejaag. Nee, my broer, ek is heeltemal tevrede. Wees gerus.”
Helgard kyk sy broer dankbaar aan. Vroeër jare, toe albei nog jonk was, kon hulle mekaar nie altyd so goed vind nie. Maar met die jare kom wysheid, leer jy om verdraagsamer teenoor jou eie en ander se foute te wees. Helgard is steeds spyt dat dit nie sy broer beskore was om kinders van sy eie te hê nie. Rita het wel een keer verwag, maar iets het halfpad verkeerd geloop en sy het die baba verloor. Sy het nooit weer daarna swanger geraak nie.
Hy vra skielik: “Hoekom het jy en Rita nooit kinders aangeneem nie?”
Arnold haal sy skouers op. “Ag, jy weet hoe dit gaan. Ná die miskraam het ons maar bly hoop Rita sou weer swanger raak. Toe ons wakker skrik en daaraan dink dat ons maar ’n kind moet aanneem, het ons reeds al aangestap in die jare en, ek moet erken, ook al in ’n vaste patroon verval. Selfsug, jy weet. ’n Kleintjie sou toe net ontwrigting meebring waarvoor ons nie kans gesien het nie. Ons lewe egter hierdie leemte so vol in ons loopbane dat ons nie meer daarvan bewus is nie.”
“Ek het verneem jy is ’n baie knap onderwyser,” laat Helgard met broederlike trots hoor en Arnold lag.
“Ek sou dit graag wou glo, al weet ek van al die gebreke wat daar maar is. Rita is egter ’n briljante kindertuinonderwyseres. Die kind wat deur haar hande gegaan het, is seker van die regte grondslag. Ek kan die Here nooit genoeg dank dat Hy haar in my lewe gestuur het nie. As dit nie vir haar was nie …”
Albei se gedagtes loop die lang pad van die verlede terug, tot by daardie jaar toe die jong Arnold van die grens af huis toe gestuur is nadat hy sy een been verloor het. Vir Paradys se mense was dit ’n moeilike tyd. Nols Retief se twee seuns het toe albei deur ’n krisis gegaan. Helgard en hul voorman, Jan Vermaak, se dogter, Elise, se verhouding het pas skipbreuk gely. ’n Verbitterde Helgard het toe sommer oorhaastig met die blonde Lida getrou en ingestap in ’n ongelukkige huwelik wat ’n paar jaar later tragies beëindig sou word deur die dwelmverslaafde Lida se selfmoord. Arnold, ewe verbitter oor die wrede slag wat hom getref het, het in so ’n mate in selfbejammering verval dat hulle selfs gevrees het hy is geestelik geknak. Toe het Rita by een van die plaaslike dokters begin werk en dit was sy wat die jong, hartseer Arnold Retief weer geleer het om te lag en te aanvaar dat hy met een been deur die lewe moet gaan – en nie net móét nie, maar kán gaan en nogtans gelukkig wees. Ná hulle troue was dit sy wat besef het Arnold is, benewens die feit dat hy nie in murg en been ’n boer is nie, ook nie fisiek opgewasse vir die taak nie. Dis sy wat hom geïnspireer het om verder te gaan studeer en, meer om hom by te staan as met die bedoeling dat sy self sukses sou behaal, saam met hom vir verdere studie ingeskryf het. Vandag is hulle ’n onderwyserspaar wat ’n groot aanwins is vir hulle skool en hulle gemeenskap.
Helgard se lippe plooi in ’n glimlag. “Onthou jy nog hoe jaloers jy geraak het op jou kunsbeen wat Rita Stompie genoem het? Jy het gevoel sy gee meer aandag aan hom as aan jou. As ek reg onthou, wou jy Stompie ’n slag in die plaasdam gaan versuip!”
Arnold lyk effens verleë, maar hy moet tog lag en erken: “Ja. Ek was hopeloos verlief en siek van vrees dat sy van my weggeneem sou word. Selfs my kunsbeen was ’n potensiële mededinger.”
“Dis nog steeds!” terg Rita met warm oë en Elise voel ’n knop in haar keel van dankbaarheid dat die lewe so mooi vir hierdie vrou uitgewerk het. Haar blik gaan na haar eie man, en sy moet weer sluk. Die lewe het ook vir haar so mooi uitgewerk. Sy het soveel stof tot dankbaarheid. As alles net wel is met Nols … En daar is nog iets wat vaag hinder. Isabé … Isabé het ’n probleem … maar sy wil nie nou daaroor praat nie. Dit moet iets van taamlike omvang wees, want Isabé was van kleins af baie selfstandig. Sy en Helgard was nog nooit bekommerd oor haar nie. ’n Verstandige en selfstandige jong vrou wat weet wat sy wil. Miskien is dit juis hierdie twee eienskappe wat gemaak het dat sy op dertig nog nie ’n man na haar sin kon kry nie. Isabé moet ’n sterk man kry, ’n man wat in alle opsigte haar meerdere sal wees, want sy moet na hom kan opkyk om hom te kan respekteer. Intuïsie vertel die moederhart dat Isabé se probleem met ’n man te doen het … ’n spesifieke man … maar as sy dié man gevind het, wat kan die probleem dan wees? Is hy miskien reeds getroud? wonder sy vlugtig. Dan weet sy tog instinktief dit gaan nie dáárom nie. Isabé is te koelkop om emosioneel by ’n ander vrou se man betrokke te raak. Dis hoekom sy so ’n bekwame operasiesuster is. Maar wat is dan fout?
“Elise, ons moet ry.”
Sy knip haar oë vinnig, keer na die hede terug. Rita en Arnold is reeds aan die groet. Sy stap saam motor toe.
“Sê baie liefdegroete aan Elske en Vegter, hoor? En sê hulle moet ’n slag kom kuier.”
“Ek sal sê. Hulle wou baie graag vir die begrafnis kom, maar daar was ’n paar krisisse wat hulle nie kon laat nie. Jy weet hoe daardie liewe vriende van ons is. Sterkte, Elise. Ons dink aan julle.”
“Dankie, Rita. Julle moet mooi ry.”
In die sitkamer van die Hefers is dit ’n rukkie stil nadat Janneman vertrek het. Die drie