Terug na Eden. Ena Murray
is nie.”
“Ja, dis waar, maar …”
“Maar wat?”
“Ek gaan jou nou skok, maar … ek weet nie watter kant toe om te bid nie, Helmut!”
Hy kyk haar vraend aan. “Wat bedoel jy?”
“Ek het dit nog nie teenoor enigeen van Paradys se mense genoem nie, maar ek het reeds agtergekom dat daar wel al breinskade by klein Helgard is. Dis een van die haas onvermydelike gevolge van atresie. Moontlik het die dokters dit ook reeds agtergekom, maar dit liewer vir Hantie-hulle verswyg. Maar nou … al hierdie lyding van vier jaar, nie net syne nie maar ook nog sy ouers en almal s’n met wie sy lewetjie so verstrengel is. En nou nog die groot, riskante operasie … En al is dit ook ’n sukses, om dan te sit met ’n kindjie wat nooit werklik volwaardig mens kan wees nie. Hoe moet ek bid, Helmut?”
Hy knik begrypend, stap nader en neem haar hande in syne. “Laat U wil geskied.”
Lank kyk hulle oë in mekaar. Dan buig hy sy kop en lê vir die eerste keer sy lippe vlugtig, baie vlugtig op hare. “Gee my die krag, goeie Vader, dat ek my deel sal doen wat U vir my in hierdie hartseer situasie afgebaken het. Maar verder vra en bid en smeek ek niks meer as net dat u wil sal geskied nie.”
Sy sluit haar oë en bring sy hande spontaan na haar bewende lippe. “Dankie, Helmut.”
Hy staan terug. “Daar lui die klok en ek moet gaan reëlings tref dat jy kan vry wees wanneer jy moet gaan. Ek wil vanaand ook nog uitry Paradys toe. Kan ek jou kom oplaai?”
Maar sy skud haar kop. “Nee. Ek was vanmiddag daar. Hulle sal vanaand groter behoefte aan jou hê as aan my. Dankie, Helmut. Jy weet nie wat jy in die jaar dat jy hier is vir Paradys se mense beteken het nie.”
“Dis was my voorreg om iets vir hulle te kon doen. Tot siens, Isabé.”
Hy is ’n wonderlike man, dink sy toe die deur agter hom toegaan. Hy sal ’n wonderlike eggenoot wees, ’n wonderlike lewensmaat om aan jou sy te hê … Ag, Here, hoekom kan ek my dan nie losmaak van die verlede nie? Vanaand, netnou, was ek die naaste daaraan om ooit weer ’n man te bemin, só te bemin dat ek vir hom kon ja sê.
’n Meewarige glimlaggie pluk aan haar mondhoeke. Dominee Helmut Weich weet nie dat hy ’n oomblik gelede die beste kans ooit gestaan het om die jawoord van haar te kry nie. Of miskien het hy dit tog aangevoel, maar dit laat verbygaan. Want dis nie Helmut Weich se aard om ’n situasie uit te buit nie. Hy het geweet dat sy in daardie oomblikke ontsettend behoefte aan hom gehad het. Maar met die wysheid wat lewenservaring en mensekennis meebring, het hy ook seker geweet dat dit nie om hom persoonlik gegaan het nie. Hy wou nie misbruik maak van haar weerloosheid nie.
Indien moontlik styg Isabé se respek vir hierdie man nog hoër, maar sy ken alte goed die verskil tussen liefde en respek …
Toe die leraar later Paradys besoek, sien hy die tekens van geweldige stryd en spanning wat agter die oënskynlike kalmte en vriendelike ontvangs skuil. Die vier jaar wat verby is sedert daar ’n kleinseun vir Paradys gebore is, het nie in hulle klere gaan sit nie.
Hy gaan eers by die jong egpaar aan, stap met die vrymoedigheid van ’n jaar se ervaring as hul predikant by die voordeur in, en sy voete vind byna vanself die pad na die slaapkamer waar hy weet hy die wakende moeder sal aantref. Toe hy in die slaapkamerdeur tot stilstand kom, sien hy soos so dikwels tevore die skraal gestalte in bukkende, amper biddende houding langs die bedjie van haar kind. Ten spyte van haar jonkheid is Hantie Retief vir hom die versinnebeelding van die ware moeder. Haar hele lewe, haar daaglikse bestaan, haar elke asemtog draai net om die hulpelose, lydende bondeltjie mens wat die onbesonnenheid van haar jeug in haar lewe gebring het. Elke dag van haar lewe het ’n boetedoening geword. Elke dag bestaan ook uit gebed, gebed wat net om haar kind draai.
Hy draai stil in sy spore om, stap in die rigting van die kombuis, kry die jong pa wat net van buite af inkom.
“Janneman.”
“Dag, dominee.” Daar is ook spore van lyding om hierdie mond en oë, spore wat nie op so ’n jong gesig hoort nie. “Hantie is seker in die kamer.”
“Ek weet, maar ek wil nie nou met haar praat nie. Eers met jou. Ek verstaan van Isabé daar is nou finaal besluit om te opereer.”
“Ja. Bietjie koffie?”
“Ja, dankie.” Helmut neem langs die kombuistafel plaas en toe die koffie klaar geskink is, kom sit Janneman regoor hom. Dis ’n oomblik stil terwyl die jong boer van Paradys ingedagte sy koffie sit en roer en die dominee hom net sit en aankyk. Wat sal ek hóm noem, wonder hy. Die versinnebeelding van die volmaakte eggenoot? Die onselfsugtigste mens wat hy ooit leer ken het? Net een keer, een enkele keer het Janneman die sluiers vir hom gelig, hom al die frustrasies en verydeling laat sien wat in die hart lê. Nie altyd is ’n predikant so gelukkig om op ’n gemeentelid af te kom terwyl hy ’n swak oomblik beleef nie. As dit maar meermale kon gebeur, sou hy van soveel meer nut vir sy gemeente kon wees. Maar mense is mos geneig om net altyd die beste voetjie voor te sit wanneer die predikant by die voordeur instap, en wanneer hy weer vertrek, is hy nog niks wyser nie. Maar daardie namiddag het hy Janneman in die perdestal aangetref waar hy met gebalde vuiste en ’n vertrekte gesig gestaan het, en dit was reeds te laat om weer die masker te laat val toe die predikant langs hom praat.
“Janneman, is daar iets wat ek vir jou kan doen, iets waarmee ek kan help?” het Helmut dadelik gevra.
Toe het dit uitgeborrel uit ’n hart wat al vier jaar lank honger ly: “Ja. Jy kan vir my vrou gaan sê sy het nie net ’n kind nie. Sy het ook ’n man.”
Met daardie enkele woorde is ’n skokkende werklikheid voor Helmut Weich se oë oopgeruk. Vir die eerste keer het hy besef wat die werklike situasie op Paradys is.
Toe het Janneman homself met die selfbeheersing waarin hy hom oor vier jaar geskool het, reggeruk en sy kop weggedraai, skor gesê: “Ek is jammer. Ek bedoel dit nie regtig nie.”
Maar ’n hand het op sy skouer gedruk en ’n stem vol begrip het gesê: “Ek weet presies wat jy bedoel en ek stem saam. Hantie het ook ’n man en iemand moet haar dit laat besef.”
Maar Janneman het sy kop geskud. “Daarvan kan jy maar vergeet. Dit sal geen indruk op haar maak nie. Sy leef, eet en slaap haar kind, en so lank hy lewe, sal dit nie anders wees nie. Jy weet, ek het al gedink … as daardie kind moet sterf … Hantie sal saam met hom sterf, en ek bedoel letterlik sterf. Sy gaan haar dood treur oor hom, want hy is haar hele bestaan, die rede hoekom sý bestaan.”
“Maar sy het jou lief, Janneman. Dis …”
“Het sy? Nee. Hantie het my nog nooit liefgehad nie. Daar is net twee mense wat sy liefhet: my broer en sy kind.” Hy het gegrynslag toe hy die skok in die ander se oë sien. “Jy moet tog al van die skandaal van Paradys êrens in die gemeente gehoor het, dominee!”
Die predikant het reguit geantwoord: “Ek weet nie van ’n skandaal nie. Wat ek gehoor het, is dat jou broer Nols weggeloop het toe hy ná jou oupa se dood hoor jý erf Paradys en nie hy nie. Ek weet hy was verloof aan Hantie en dat jy later met haar getroud is toe Nols nie weer sy verskyning gemaak het nie.” Hy laat na om te sê dat die res van die storie was dat hulle, wie die hulle ook al mag wees, later bedenkinge daaroor gekry het of Nols werklik so vinnig padgegee het net omdat hy nie Paradys geërf het nie. Hy het tog immers Ou Werwe gekry. Dit was eers ’n paar maande later toe Janneman met Hantie, toe reeds ver swanger, getroud is dat “hulle” twee en twee bymekaargesit het en by vier uitgekom het, húlle vier: Nols is weg omdat hy ontdek het dat sy jonger broer agter sy rug ’n verhouding met sy verloofde gehad het en dat sy ’n kind by hom verwag. Geen wonder die arme Nols het sommer die pad gevat nie.
“Dan ken jy net die barre feite, dominee – en hulle is nie eens heeltemal waar nie. Gaan sit daar op die hooibaal dat ek jou die storie van Paradys en sy mense vertel.”
Toe, in kortaf, afgekapte sinne het die hartseer verhaal voor Helmut Weich ontplooi.
“En nou is ons daar, dominee,” sê Janneman. “Nou