.
Andrew weg is, gaan Sylvia na haar slaapkamer in die groot huis en die honde tou agterna. Hulle los haar nooit alleen nie. Sy gaan sit voor die spieëltafel en kyk na haarself. Nou is haar eens dik, donker krulhare grys en haar bruin oë het lagrimpels aan die kante. Die spore van die jare sit daar, die myle wat almal kry. Maar sy hou darem nog goed. Sy wil nie soos haar oorlede man in siekte en ellende vergaan nie.
Op haar dag was sy baie mooi, dit het mense vir haar gesê. Toe haar Ewan terminaal was met kanker het sy gehoor mense spekuleer, nie óf sy weer gaan trou nie, maar wánneer.
Net toe kom die Buchanans uit Zimbabwe en sy raak verlore. Dat sy so desperaat lief sou word vir iemand wat vir haar verbode was, was nie iets wat sy ooit kon voorsien het nie. Haar gemoedstoestand het gewissel van ekstatiese hoogtes tot dieptes van ellende. Dit het haar met skuldgevoelens gelaat wat tot vandag nog voortduur.
Nou het sy net haar herinneringe en die verlange, nostalgie, melankolie en skuldige gewete van daardie onstuimige tyd oor. Ook die afgryse, die nagmerries en die eensaamheid wat haar soms beetpak en maak dat sy vriende gaan opsoek. Andrew kom kuier gereeld, maar hy is baie besig en nie haar portuur nie. Mac kom net naweke, en nie elke naweek nie. Sy praktyk in Pretoria hou hom besig en hy het darem daar ’n sosiale lewe ook. Veral nou ná die egskeiding. En natuurlik is klein Ewan by hom, besig met matriek, en hy het ook sý sosiale dinge, sport en alles.
Sy kuier ook nie so graag in die stad nie, al nooi Mac haar gedurig en het hy ’n lekker huis in Lynnwood. Die verkeer in Pretoria is te erg; dis erger as ’n miernes. Om by Mac te wees gee haar plesier, maar sy voel veel meer tuis op die plaas en verkies dat hy en Ewan hierheen kom. Sy word nou oud en verplaas nie meer so maklik nie.
Hoe groot is dié huis op Lothian nie. Mac het dit laat oorbou en heelwat vergroot. Luuks gemeubileer, een van die mooistes in die omgewing, maar leeg en vol eggo’s as Mac en haar kleinseun nie hier is nie. Sy geniet dit altyd om haar huishulpe in die kombuis of aan die skoonmaak te hoor gesels en lag. Dit bring lewe. Sy laat die radio blêr en in die aande raas die TV ook hard. Sy kuier en nooi gaste om die stilte te verdryf. Sy onthaal die mense wat op die gasteplaas kom wegbreek uit hul saai of besige lewens. Ongelukkig is dit baie stil in die winter en het Lothian nie tans baie gaste wat vrolikheid bring nie.
Elke dag loop sy na die kampe waar die paar brahmane is. Dit is altyd vir haar lekker om na dié pragtige beeste met hul groot skowwe en hangore te gaan kyk. Hulle is vir haar byna soos troeteldiere en sy gee hulle in die stilligheid name. Die bul heet Brutus en hy staan in sy eie afskorting – ’n reusedier. Sy gaan kyk gereeld of hulle goed versorg word. Dan is daar die drie lieflike arabierperde, Mac se trots. En haar swane, eende, ganse en hoenders. Sy kry rus in haar gemoed as sy na die diere op Lothian omsien. Hulle hou haar besig. Hoe kan sy dit alles prysgee?
Haar eie pa het nie met beeste geboer nie, maar met skape. Hulle het net enkele melkkoeie en een of twee bulle aangehou. Haar man het ook met skape geboer, maar ná die Buchanans se dood het sy al die skape wat op Annendale was, aan die bure, die Bells, verkoop.
Op Annendale is daar deesdae net boomplantasies. Silas Malaza, wat getroud is met die suster van John Mthembu, Lothian se voorman, het oorgebly op Annendale. Daar was eens baie werkers, toe die vee nog daar was. Ná die moord op die Buchanans het die meeste sommer self padgegee, maar van die Malazas raak jy nie ontslae nie. Hulle is te diep ingeburger. Die Mthembu’s is ook al baie lank in haar diens, en van haar man en sy voorgeslagte.
Sy het altyd al wat ’n blomsoort was wat in Matotoland wou aard, hier in Lothian se groot tuin geplant – rose, sweetpeas, Namakwalandse daisies, gesiggies, daglelies, salvias, plate kannas van alle kleure. Yslike potplante met varings en delicious monsters en olifantore het sy oral staangemaak. Die Hoëveldse winters is te kwaai vir blomme en alles ryp dood, dan begin sy elke lente weer van voor af saai en sit klein plantjies en bolle in. Deesdae is die tuin funksioneel en minder vol geplant, met standhoudende, meerjarige goed, meer grasperk en rotstuin as blomtuin, hoewel sy nog haar paar beddings het wat die blomme moet verskaf wat sy in potte in die huis rangskik. Die groot witstinkhoute en ouhout en die wilge by die water is inheems, maar die sederbome en sipresse, denne en bloekoms op en om die plaaswerwe het sy en haar man se voorgeslagte aangeplant. Hulle almal is nou reusagtig – ’n teken dat hulle, die bome én die mense, al diep wortelgeskiet het.
Dank vader daar is nie ’n eis op Lothian ook nie!
Sandy Buchanan het altyd gesê dit maak nie saak hoeveel geslagte lank jy geboer het en hoe goed jy die wildernis tem nie, as die politiek teen jou draai en mense die mag en brutaliteit het om jou van jou grond af te jaag, dan doen hulle dit.
Sê nou net dit gebeur hier? Dit voel regtig asof die regstelsel waarop mense hulle beroep, besig is om ook hier in duie te stort.
Sy sug en kam haar hare, staan weer op. Sy sal vir haar en Mac lekker tee gaan maak, met koekies, en daarna kan hulle saam na die brahmane gaan kyk. Dalk voel sy dan ’n bietjie beter.
3
Erin en Ferdie ry in stywe, ongemaklike stilte van Pretoria af. Die radio moet die leemtes van die gebrek aan kommunikasie vul. Toe hulle op die pad na Chrissiesmeer en Lothair is, onthou Erin hoe beïndruk Ferdie was toe hy die eerste keer die mooi landskap, boomplantasies en golwende heuwels gesien het. Hy het nog beweer dit is soos die shires wat hy in Engeland geken het, net nie so smaraggroen soos daar nie. Hy het hom verwonder aan hoe ongelooflik blou die panne is.
Destyds het hy in alles belang gestel. Sy het hom vertel dit is die meredistrik van Mpumalanga, met tweehonderd paddaspesies, en Matotoland is juis ’n naam wat van die siSwati-woord “maxoxo”, wat padda beteken, ontwikkel het. Sy het hom vertel van haar pa se skaapboerdery, sy kampioenramme, dat hy ondervoorsitter van die Wolkwekersvereniging is. Ferdie was beïndruk. Sy moes hom belowe om haar pa te vra om vir hom die kampioenramme te wys. Later het sy hom hul plaas Onverwacht in die Laeveld gaan wys, naby Badplaas en Barberton, langs die Komatirivier, waarheen die skape in die ou dae in die winter gejaag is.
Hulle ry verby Chrissiesmeer en Lake Banagher en kom by die grondpad waarop Dunedin, Misty, Lothian en Annendale aangedui word.
“Die bosbou neem toe hier,” merk Ferdie meteens op en verbreek die stilte.
Sy forseer haar om te praat. “Ja. Sylvia sê Annendale is tagtig persent of meer onder bloekom- en dennebome. SAPPI en MONDI het teen dié tyd al baie van die grond opgekoop vir kommersiële plantasiebedryf. Sylvia byt nog vas en beoog om een van die plaaslike saagmeuleienaars te kry om vir haar te kap.”
“Dalk moes sy al verkoop het aan een van die groot maatskappye, dan het sy nie nou met die probleem van die grondeis gesit nie.”
Erin kyk vlugtig na hom. “Maar jy weet tog dis haar erfgrond en sy wil nie daarvan ontslae raak nie.” Hy kan tog so gevoelloos wees. Sy hét mos die boere se sentimente aan hom verduidelik.
“Hierdie plase is ongemaklik naby die Oshoek-grenspos,” merk hy op. “Oupa Rob het juis al hoeveel keer vertel dis waarheen rowers, skaapdiewe en moordenaars vlug nadat hulle klaar hulle misdade gepleeg het. Oorkant die grens raak hulle tjop-tjop weg in Swaziland se berge en valleie.”
Erin bly stil totdat hulle die afdraaipad bereik: Dunedin. JR Bell.
“Hier’s ons by die Bell-tuisland,” kondig Ferdie spottend aan.
Erin kyk met liefde na die groot ou plaashuis, die groot tuin en hoë bome. Hierdie is ook haar hartland. By die buitegeboue anderkant die draad staan ’n skaapvragmotor geparkeer. Die werkers is daar besig. Sy waai vir hulle.
Drie groot boerboele kom aangehardloop toe Ferdie se nuwe Pajero na die oop motorhuis aangery kom. In die motorhuis is haar pa se Mercedes en ’n ouerige Land Rover. Erin spring uit toe Ferdie onder die prieel stilhou.
Die voorste hond dans blaffend om haar en probeer opspring, maar sy keer. Sy praat met hulle en streel hul koppe. Iemand roep en raas met die honde. Dit is haar pa, glimlaggend, in kakieklere en ’n skaapvelbaadjie, met ’n pet op die kop, wat van die huis af aangestap kom.
Erin omhels hom. “Paps, hoe gaan dit?”
“Nee, ons hou.