Troukoek maak nie vet nie. Kristel Loots
jy verf?” vra sy.
Ek moet my kop laat lees, dink sy.
“Kan ek verf?” Hy lig hom van die pilaar af weg. “Of ek kan verf?” Hy wys na die berg. “Sien jy daardie berg daar? Ek kan hom vir jou pienk paint as jy hom pienk gepaint wil hê.”
Pienk! dink Dixie. Die perfekte kleur. Nie vir die berg nie, maar vir Bliss and Beautiful. Sy sien prentjies in haar kop. Pragtige prentjies. As sy haar sin kry, raak Bliss and Beautiful nog ’n landmerk hier in Langstraat. Die Pienk Plek, dis hoe mense daarna sal verwys.
“Wil jy my help verf aan my plek?” Sy wys met haar kop na Bliss and Beautiful. “Ek betaal jou vir elke muur wat jy klaarmaak.”
Hy knik sy kop geesdriftig. “As jy daai plek geverf wil hê, sal ék hom vir jou verf. I’m your man. Ek het verf saam met my moedersmelk ingekry.”
Dixie kan maar net hoop dis nie waar nie – en dat hy nie te gereeld met sy neus in die verf betrap sal word om die walms in te asem nie.
“Dop jou sakke om,” vra sy.
Nee, sy vra nie, sy beveel, besef Dixie met ietwat van ’n skok.
“Vir wat?”
“Ek wil sien wat jy met jou saamdra. Jy vat nie steekgoed of skietgoed by my winkel in nie.”
“Ek steek nie en ek skiet nie, ek fight met my hande.”
Maar hy dop tog sy sakke om, wys vir haar die paar munte daarin, ’n opgefrommelde sakdoek en ’n plastieksakkie wat met ’n rekkie toegebind is.
“Wat is dit daardie?” wil sy weet.
“Dis my rookgoed, dis al wat ek oorhet.”
Dis nie rookgoed wat jy by die kafee op die hoek koop nie, weet Dixie. Wel, in elk geval nie wat jy openlik by die kafee op die hoek koop nie.
“Jy kan nie jou rookgoed invat nie. Ek soek nie moeilikheid met die polisie nie.”
“Is goed so. Hier is ’n ander outjie wat dit vir my sal hou. Ek vat dit gou vir hom.”
Dixie betrap haar dat sy bekommerd wonder of hy die outjie kan vertrou. Of hy nie ingeloop sal word met sy rookgoed nie, die laaste bietjie wat hy nog oorhet. Sy skud haar kop in ’n poging om nugter te dink. Sy moet régtig haar kop laat lees.
“Jy vertel nie vir die ander outjie jy werk vir my nie. Ek soek nie ’n aanloop hier na die winkel toe nie.”
Hy skud sy kop. “Niemand anders kom hier nie. Dis mý corner dié.”
“En jy dra niks weg uit die winkel nie.”
“Wat sal ek nou uit daardie plek wil wegdra?” Hy snorklag. “ ’n Paar haaipolfaais? Om wát mee te maak? Ek dink in elk geval nie hulle het my size nie.”
Dixie het die rakke vol haaipolfaais gesien toe sy haar koffie gedrink het. Waar Jo-Jo daaraan gekom het, kan sy net wonder. Heel moontlik is dit vir ’n vertoning in Artscape gebruik, vir iets waar ’n hoogskopdans soos die can-can gedans is.
“Dan het ons ’n deal?”
“Dis oukei met my. Ons het ’n deal.”
Daar kom meer lewe in hom as wat Dixie sou vermoed in daardie rankerige lyf skuil en hy vertrek om sy aardse skatte in veilige bewaring te laat.
Toe hy tien minute later aan die deur kom hamer, wil Coco hom wegjaag, maar Dixie keer haar. Sy druk die veiligheidsknoppie om die deur vir hom oop te maak.
“Wat soek hý hier?” wil Coco weet.
“Hy gaan my help. Ek wil hê ons moet die plek binne uitverf.”
“Maar hy’s ’n skollie!” herinner Coco haar.
“Ek’s niemand se skollie nie,” keer Slons dadelik.
Coco trek haar skouers op. “Oh well, whatever. As jy mý wallet steel, skop ek jou waar dit seermaak. Ek doen kick boxing, jy weet?”
“Wat sal daar in jou wallet wees wat ék wil hê? Lipstick en eye shadow? Ek is nie ’n cross dresser nie, jy weet?”
“Nee, maar oukei dan, dan’s dit fine met my.”
Dit raak ’n besonder besige middag. Met Coco wat tranerig afskeid neem van Piet en Griet Muis toe hulle in ’n hokkie daar weggedra word. En met die eerste amptelike meeting wat seker nog ooit in Bliss and Beautiful gehou is. Met Dixie as voorsitter, Coco as sekretaresse of so iets en Slons as ’n grootooglid van die nuut gestigte direksie.
“Bliss and Beautiful gaan nie meer net daar wees vir weirdos om ’n tiara vir die bruidegom en ’n paar stewels vir die bruid te huur nie,” kondig Dixie aan.
“Jy meen seker andersom,” brom Slons.
“Nee, Slons, ek bedoel presies wat ek sê,” help sy hom reg. “Maar dit gaan verander. Bliss and Beautiful moet ook daar wees vir doodnormale mense op soek na something old, something new, something borrowed, something blue. Maar niks gaan verniet wees nie, behalwe miskien vir die something borrowed.”
Coco lyk nie gelukkig nie. “En wat van die weirdos? Waarheen moet hulle nou gaan?”
“Hulle is nog steeds welkom hier by ons, Coco. Ons diskrimineer nie, ons help graag waar ons kan. Voor die voet.” Dixie sluk. Sy hoop nie sy steek haar kop in ’n byenes wat deur ’n hele swerm vreemdsoortige bye bewoon word nie.
Van nou af, besluit sy, gaan daar gewoel word hier in Langstraat. Die bestuur het so besluit en die bestuur sal toesien dat dit uitgevoer word. Daar gaan geverf en verander word, en na dese gaan daar van Bliss and Beautiful gewéét word. Sy’s moeg daarvan om met haar kop tussen haar skouers ingetrek soos ’n weggooiding onder die bed weg te kruip.
Gelukkig weet niemand hier in die Kaap van haar eie treurige troue of van enige van haar skandes en skades nie.
Toe Bliss and Beautiful se voordeur daardie aand gesluit is en dit stiller raak om haar, gaan sit Dixie kruisbeen op haar opblaasmatras met ’n boksie van die kolonel se hoender om aan te smul en ’n botteltjie wyn binne bereik. ’n Baie klein botteltjie wyn, maar darem ietsie om te sorg vir ’n bietjie feestelikheid.
Sy is alleen, sommer nou regtig stoksielalleen. Om haar hoor sy die geluide van Langstraat. Die musiek van die naglewe. Stemme, soms hard, soms gedemp. ’n Sagte gelag, ook ’n paar kragwoorde eie aan die Kaap.
En sy hoor iemand hoes, sommer hier naby onder haar venster. Rou, harde hoese soos ’n hond wat vir die volmaan blaf. Iemand, so vermoed sy, wat op straat slaap. Dalk nog Slons, of een van sy straatfamilie. Miskien, dink Dixie afgetrokke, kan ek ’n botteltjie hoesstroop koop en onder my onmiddellike bure uitdeel.
Sy hoor motors stilhou en wegtrek en sy weet as sy by die venster uitkyk, sal sy dinge in die straat sien afspeel wat haar heel moontlik sal skok. Dinge waarvan ’n mens nie wil weet nie, dinge waarvoor jy jou oë wil sluit.
Ek is tevrede om hier te wees, besef sy. Hier waar ek van die dinge van Langstraat weet, maar nie regtig deel is daarvan nie.
Sy leun terug teen die muur en vat-vat na haar handsak om haar sigarette uit te haal. Toe sy die pakkie raakvat, voel sy die bekende beklemming oor haar toesak. Die beklemming wat van ’n roker ’n psigopaat kan maak. Die teleurstelling, die angstigheid, die hunkering, die histerie wat dreig om van jou besit te neem.
Die pakkie is leeg!
Sy sit hier op haar eentjie-alleentjie in haar pajamas sonder sigarette. En dis donker daar buite. En gevaarlik. Sy wíl nie, sy gáán dit nie nou buite waag om ’n pakkie sigarette te gaan koop nie.
’n Oomblik lank oorweeg sy dit om haar kop by die venster uit te steek om ’n sigaret by een van die straatwandelaars in hul kort rokkies te bedel. Sy sal betaal, tienvoudig betaal net om ’n sigaret in die hande te kry. Net om die rook in haar longe te trek, die aroma in te asem, die heerlike verlamming deur haar ledemate te voel trek.
“Dêmmit!”