Troukoek maak nie vet nie. Kristel Loots
nonsens opgevreet het? Nee, Dixie, jou pa het dwarsdeur my gekyk, gemaak of hy my nie sien nie. Of so nie probeer voorgee dat hy my van g’n adamskant af ken nie.”
Dixie staan op, raak aan haar ma se arm. “Ek is jammer, Ma.”
Haar ma snork. “Jammer sal niks regmaak nie, kind, maar dankie in elk geval. ’n Mens sou dink ek moet teen dié tyd gewoond wees daaraan om my eks saam met sy nuutste poppie te sien, maar …” Haar ma snuif. “Dit maak nog elke keer seer.” Nou raak haar ma se stem tranerig. Sy slaan op haar bors. “Hier! Hier aan die binnekant huil ek nog oor die ellendeling.”
Toe gaan Dixie maar kombuis toe om vir hulle tee te maak. Sy weet nie wat sou word van vrouens wat so deur mans vertrap word as daar nie tee in die wêreld was nie. Met ’n winkelkoekie by, besluit sy toe sy die skinkbord inneem. Sommige dae is net te trietsig om sonder ’n kalorieryke soetkoekie te oorleef.
2
Eers later die aand kom Dixie by haar rekenaar uit om haar e-pos te lees. Nie dat daar veel is nie. Sy is soos dryfhout eenkant toe gegooi. Die nuuskieriges het klaar hul vrae gevra, klaar die laaste druppel sensasie oor die troue wat platgeval het opgeslurp, en die res van haar vriende skaar hulle aan die bliksem se kant. Sy is persona non grata.
Die lewe, weet Dixie al teen hierdie tyd, is nie altyd regverdig nie. Jy kan skop en jy kan slaan en jy kan die klaagliedere van Jeremia die een na die ander aanhef, dit gaan nog niks verander aan die saak nie. Jy moet vat wat aan jou uitgedeel word en dit sluk. Partykeer met ’n dop in die hand, ander kere soos ’n duif wat ’n mieliepit opgepik het wat te groot vir sy keel is om af te sluk. Haar ma doen dit al ’n leeftyd lank, sy sal ook moet.
Vanaand is dit net Jo-Jo se e-pos wat in haar inbox lê. Jo-Jo wat met haar kop smokkel en baie goed weet waar haar achilleshiel sit.
Hoeveel langer kan jy dit daar by Ma uithou? As jy Kaap toe kom, kan jy in my woonstel bly. En jou eie baas wees.
En, wonder Dixie sinies, gaan jy my ’n salaris betaal, een wat jy uit jou eenbeen-bruidswinkeltjie genereer? Finansiële beplanning is nie een van Jo-Jo se sterk punte nie.
Die wins wat jy uit Bliss and Beautiful maak, indien enige, is joune, belowe Jo-Jo in haar e-pos. Sorg net dat jy af en toe ’n paaiement betaal sodat die bank nie die plek terugvat nie.
Sy wil vir Jo-Jo bel, maar nie terwyl Ma haar kan hoor praat nie. Ma het mos x-straaloë en die ore van ’n polisiehond. Dixie weet sommer wat gaan gebeur. Ma sal ingestorm kom om te hoor of dit met ’n inbreker of met haarself is wat sy gesels. En Dixie is nie seker waaroor Ma die meeste bekommerd sal wees nie.
Sy sal daarop aandring om ook met Jo-Jo te praat en dit sal ’n gepreek afgee wat vir niks skrik nie. Die preek sal vir Jo-Jo bedoel wees, maar sy wat Dixie is, sal ook na elke woord moet luister en met dubbele slae geslaan word. Twee vir die prys van een.
Wanneer Jo-Jo vir Ma van haar nuutste jag-avontuur Down Under gaan vertel, weet Dixie nie, net dat sy nie naby wil wees om daardie geweeklaag te hoor nie. Nie dat Jo-Jo haar daaraan sal steur nie.
Dixie skakel die rekenaar aan en gaan op Facebook in. Ja, sien sy, gelukkig is Jo-Jo beskikbaar om te chat.
Met wie chat jy? tik Dixie. Jou Aussie?
No ways. Dis al vroegoggend daar by hom. Hy’s by die werk. Nie die regte tyd …
Vir soet woordjies nie?
Of dirty talk nie.
Ek wil geldsake met jou praat.
Bliss and Beautiful se geldsake? Dis taamlik beroerd, ek moet sê. Maar as jy soms die paaiement betaal het en vir Coco iets in die hand gestop het, behoort daar ’n geldjie oor te wees vir kos en klere.
Coco?
My assistent.
Wat jy wáár kry? En waarmee betaal?
Coco is ’n sweetie-pie. Sy vra nie veel nie. ’n Bietjie mal in die kop, maar wie is nie? En die customers is gek oor haar.
Dixie is bly om te hoor daar ís darem customers, gek ofte nie.
En waarvan gaan jý dan leef as ek die wins vir my vat? wil sy weet.
Van liefde en koue water, wat anders?
Dixie weet sommer sy moet hierdie gesprek beëindig voordat sy ’n hoofpyn kry wat haar lank uit die slaap gaan hou.
Gelukkig betaal Saamwerk Versekering my pensioenbydrae een van die dae uit. Maar ek moet Pa en Ma seker terugbetaal vir die troue. Hulle het elkeen ’n deel betaal om my getroud te kry. Nou sit hulle nog steeds met my opgeskeep. Wel, Ma in elk geval. Ek dink Pa het intussen weer van my bestaan vergeet.
Sy hoef nie lank op reaksie te wag nie.
Dis die bliksem wat daarvoor moet betaal, nie jý nie. Sleep hom hof toe vir troubreuk!
Dis asof Dixie se vingers skielik tam raak. Miskien moet ek die geld wyslik belê. Aangesien ek alleen gaan oud word en vir myself sal moet sorg, tik sy traag.
Daar sal altyd iemand wees wat Jo-Jo wil help, selfs wanneer die oudag eendag daar is. Een of ander omie wat sy laaste kragte sal inspan om haar suster aan die lewe te hou. Daar is net iets aan Jo-Jo wat die ridder in mans wakker maak. Jo-Jo is een van daardie vroue wat vertroetel word, maar nie sý nie. Sy wat Dixie is, sal haar sente moet omdraai om brood en melk te kan bekostig.
Gaan jy dit doen? wil Jo-Jo ewe hoopvol weet. Met of sonder jou pensioen-neseiertjie?
Ek moet my kop laat lees as ek dit enigsins sou oorweeg.
Dis nie asof jy ander opsies het nie, of hoe? Of sien jy kans daarvoor om weer by Saamwerk Versekering te gaan werk? Wil jy jou teen die bliksem vasloop?
Dixie antwoord haar nie, log summier af sonder om te groet. Hierdie gesprek put haar uit. Dis nie ’n grap om jou ellendes die een na die ander so voor jou oë op die rekenaarskerm uitgepak te sien nie.
Nee, natuurlik sien sy nie daarvoor kans om haar gesig ooit weer by die versekeringsmaatskappy te wys nie. Oor haar dooie liggaam. Nie ná die kombuistee wat vir haar gereël is en al die grappies wat oor die huweliksnag gemaak is nie. Nie ná die grootste skande waaroor daar ooit in die gange van die grys gebou gefluister is en die armsvol trou-presente wat vroegtydig aangedra is en wat sy een vir een moes terugstuur nie.
Die briefie van verduideliking was bitter moeilik om saam te stel, maar sy moes dit doen, en ordentlik ook. “Asseblief, Dixie,” het die bliksem gevra, “kom ons probeer ten minste ’n sekere mate van waardigheid behou.”
Hy! Hy wat haar so onwaardig behandel het! Die … die absolute audacity daarvan! Sy wou hom … Sowaar, sy sou hom met ’n pan oor die kop kon slaan as daar een tussen die trougeskenke beskikbaar was. Sy wou op hom spring totdat daar nie ’n teken van waardigheid aan hom te bespeur sou wees nie.
Maar sy het nie.
Sy het agter die rekenaar gaan sit en op Google gaan soek na ’n voorbeeld van hoe ’n mens ’n brief skryf waarin jy waardigheid behou nadat jy reg voor die preekstoel gelos is. Left at the altar, het sy ingetik, maar sy kon niks kry wat gepas was nie. Selfs Google het voor haar vernedering gesteier, Google wat raad het vir alles onder die son, van luise op die kop tot aambeie.
Toe moes sy maar self improviseer. Sonder om te veel te verklap en haar vernedering vir elke Jaap en sy maat verder uit te stal.
Liewe vriende, baie dankie vir die pragtige broodrooster (drukkoker/ nagemaakte Persiese matjie/ stel kastrolle/ linne/ tafeldoeke) wat julle aan ons gestuur het. Ongelukkig sal ons nie daarvan gebruik kan maak nie en stuur ek dit hiermee aan julle terug. Wees verseker daarvan dat ons die gebaar waardeer. Vriendelike groete, Dixie. (En die bliksem wat haar nie meer wou hê nie.)
Teruggaan? Terugkruip met ’n kardoessak oor haar kop? Haar voormalige kollegas in die gesig kyk? Sien hoe hulle agter bak hande oor haar fluister? Vir haar lag?
Nee, dan maar eerder werkloos wees totdat daar iewers vir haar iets opduik. Dixie sug. Asof