Sterre is vir ewig. Ettie Bierman
Sterre is vir ewig
Ettie Bierman
Satyn
1
Erin kyk op haar horlosie. Dis drieuur. Die blonde kleurstof moet ’n halfuur aan haar hare bly; dit beteken sy moet dit halfvier afspoel. Dié sal sy sommer onder die stort doen, tegelyk met die avokado-gesigmasker. Alles vir vanaand … vir Jans se werksfunksie waarvoor sy hoegenaamd nie lus is nie. Korporatiewe maatskaplike beleggings was nog nooit haar forté nie, investering en sakestrategie ook nie. Gee haar liewer ’n sketsboek en ’n kwas, of ’n bol klei en ’n wiel.
Maar sy het Jans belowe om op te tof en saam te gaan. Arme hy is seker net so verveeld elke keer wanneer sy hom saamsleep na ’n kunsuitstalling, hy wat skaars die verskil ken tussen ’n almanakprentjie en ’n oorspronklike Pierneef. ’n Onpaar paar, net so teenoorgesteld soos Jans se debiete en krediete.
Wat maak hulle twee saam? het sy haar al meermale afgevra. Lojaliteit, gewoonte, kleintydse vriendskap? Genade, hulle ken mekaar al amper dertig jaar! Al sedert geboorte, toe hul ma’s beste vriendinne was en gehoop het om eendag soort van susters te word, as hul twee ewe oud spruite sou trou.
Jans se ma hoop dit steeds. Tannie Wanda maak gedurig planne om hulle saam te gooi. Dis ete-uitnodigings, teaterkaartjies wat sy “toevallig” present kry maar nie kan benut nie, en wil hulle tweetjies nie maar saam La Traviata gaan kyk nie, of ballet, of selfs rugby? Jans aanvaar dit as vanselfsprekend dat hulle ’n paartjie is. En sy? Erin weet nie. Miskien lê die fout by haar, dis dalk dat sy te veel verwag of nie weet wat sy wil hê nie. Miskien is dit waar wat die sterre-ghoeroes sê, dat ’n Vis en ’n Kreef teenoorgesteldes is wat mekaar aantrek. Albei hou van water, so wat is die probleem?
Erin is moeg geraai. Dalk word sy een oggend met hartkloppings wakker en besef dat sy smoorverlief is op Jans Duvenhage. Wie weet, dalk môreoggend, as hy vanaand mooi goeters sê, haar gryp en soen dat haar ore tuit, haar klere afpluk, die gang af sleep en uit haar bloedgroep en goeie naam uit vry.
Erin giggel lekker. Hy sal nie, dit weet sy. Altans, nie so wild en woes soos die prentjie wat sy in gedagte het nie. Jans is te ordentlik. Te skaam. Te netjies. Hy vou selfs sy skoenveters op en hang sy frokkies aan ’n hanger sodat hulle nie kreukel nie. Hy sal nooit haar klere afpluk en dit die hele gang vol gooi nie.
Haar tienersus spot altyd Jans sal vooraf ’n afspraak maak, soos by ’n tandarts – eers hande was en tande borsel, en dan vra of lyflike toenadering geleë is. Teen daardie tyd, sê kleinsus, is sy al vas aan die slaap, aan’t droom van ’n olie-sjeik in die Sahara wat haar op sy vurige hings ontvoer en met hartstogtelike passie in sy tent gevange hou. Lara is ’n tipiese eerstejaarstudent, ingestel op sexy en romantiese manne. Erin sidder as sy dink wat alles in daardie studentekoshuis aangaan, waar Lara se meer behoudende ousus nie naby is om te keer nie. Lara lees te veel vrystories, waar alle mans gespierde sitvlakke, sespakmae en slaapkameroë het, beskikbaar en gewillig om benut te word.
Soms wens Erin sy kan die kalender terugblaai, wens sy haar ma het nog geleef, sodat dit nie vir haar nodig was om so gou grootmens te word nie. Sodat daar vir haar ook meer tyd was om te droom, te jol en te jool en die studentelewe te geniet. Dan was sy nie nou so ’n versigtige, wantrouige oujongnooi nie. Dan het sy ook vrystories gelees van “tussen die lakens” en “onder die duvet” en geweet hoe om arme Jans te verlei – ’n bietjie vuur in hul verhouding te blaas. Soos Lara sou sê: ’n bietjie “water in sy gieter gooi”. Wat dít ook al beteken … Sy wil liewer nie weet nie.
Oor minder as ses maande tref die Groot Drie haar. Dértig. ’n Mylpaal en ’n rakleeftyd met ’n vervaldatum. Net daarna kan sy haar eerste grys haar verwag. Ouderdom kyk nie na datums nie. Dalk is die gewraakte Gryse reeds daar, netnou wanneer sy haar hare afspoel en ontdek die kleurstof het nie Vader Tyd se voortydige verjaarsdagpresent bedek nie.
Afspoel … Die gedagte laat haar brein inskop. Hier staan sy soos ’n tiener en droom oor lakens en gieters, en vergeet om die horlosie dop te hou, vergeet van die kleurstof en gesigmasker. Dis kwart voor vier! ’n Kwartier oor die tyd! Sy los als en storm die gang af na die stort toe.
Anders as Jans Duvenhage, het Erin haar prioriteite reg. Haar sandale, denim, top en onderklere lê die hele wêreld vol gestrooi toe sy onder die stort induik en die krane oopdraai.
Niks water nie. Sy klap teen die stortkop, stamp aan die waterpype en draai die krane anderkant om. Dit bly droog. Sy hét mos haar rekening betaal, dink sy. Sy is nie agterstallig nie en daar was geen kennisgewing van die munisipaliteit dat die watertoevoer onderbreek gaan word nie.
Erin probeer kophou. Sy toets oplaas weer die twee krane en ook dié by die wasbak, maar al wat uitkom, is asmatiese gorrelgeluide. Asof die water afgesny is, ’n pyp gebars het of iets die munisipaliteit se toevoerkraan buite op die sypaadjie beskadig het. Dalk ’n trok of ’n ding … Die nuwe bure het gistermiddag ingetrek, besef sy. Daar was ’n reusetreklorrie wat ’n paar keer op en af gesukkel het om by die hek ingedraai te kom. Dis natuurlik hy wat haar watermeter raak gery het!
Sy gryp net die nodigste stukke klere – jeans en ’n top – en pluk dit halsoorkop aan. Toe sy kaalvoet by die voordeur uitdraf, tref Erin ’n rivier aan wat vanaf die erf langsaan deur haar agapantebedding spoel. Dit dam op teen die stoeptrap en loop in die oprit af. Sy gly in die onverwagse modder en val byna haar wind uit.
“O, ag ekskuus!” roep ’n stem.
Erin vee modder van haar hande af en sit verdwaas regop.
“Het jy seergekry?” vra dieselfde stem. ’n Manstem, iewers van anderkant die ligusterheining. Seker die nuwe buurman. Blykbaar het húlle water, maar sy kan nie verstaan waarom dit besig is om deur haar erf te loop en haar tuin te verspoel nie.
“Skies vir die gemors! Is jy orraait daar?” roep hy weer.
Plat op haar sitvlak in ’n moddermoeras? Natuurlik is sy nie orraait nie. Erin sukkel gly-gly op haar voete.
“Wat gaan hier aan?” vra sy.
’n Gestalte met ’n graaf kom orent agter die heining, waar hy blykbaar besig is om ’n sloot of ’n ding te grawe.
“Dis als my fout! Vreeslik jammer! Ek het ’n pyp raak gespit en die kraan buite by die meter toegedraai, maar ek kry nie die water gestop nie. Dit hou aan spuit. Ek weet nie wat aangaan nie …”
Erin loer tussen die ligusterstruike deur. Anderkant die draad spuit ’n fontein die lug in, soos foto’s waar olie in Texas raak geboor is. Die swembadpatio wat oom Bezuidenhout aangebou het, is oorstroom. Vandaar het die water teen die skuinste afgestroom, deur die varings en broodbome, die ligusters en haar agapante. Haar erf lê laer en as sy nie keer nie, gaan die water haar motorhuis oorstroom.
“Ek probeer ’n wal gooi!” roep haar buurman.
“Jy was by die verkeerde meter, jy het mý water toegedraai!” roep Erin. “Jou meter is by die verste grens, oorgroei deur die gras.”
Hy gooi die graaf neer en beur ’n opening tussen die ligusters deur, stut hom met ’n hand op die hoekpaal en wip ligvoets oor die draad. “Waar? Kom wys my!”
Erin bly botstil staan, nie in staat om ’n tree te gee in enige rigting nie. Oom Bezuidenhout en tannie Mart is pensioenarisse en het die groot dubbelverdiepinghuis verkoop om na ’n aftreeoord te trek. Die oom het gesê die koper is ’n aangename man, ’n argitek uit die Kaap, vriendelik en hulpvaardig en sy sal van hom hou. Allerhande ander inligting ook, maar nie hoe oud die Kapenaar is nie. Sy het aanvaar dis ’n ouerige man, min of meer oom Bez se portuur. Maar hy is jonk, skaars ouer as sy, en Erin is onvoorbereid op die impak wat sy brute manlikheid op haar het. Macho mán in oormaat … Dit tref haar soos ’n vuishou op haar midderif. Sy is met lamheid geslaan.
Die man het nie ’n hemp aan nie en sy bolyf is bruingebrand en gespierd, met die breë skouers van ’n swemmer. Hy dra jeans wat styf om sy heupe en lang bene span. Sy hare is kortgesny, glimswart en krullerig, sy oë blinkgrys – byna silwer, met lang wimpers. Ek-soek-jou-oë, soos haar negentienjarige kleinsus hulle sou beskryf. Dit alles let sy binne enkele sekondes op, terwyl sy soos ’n rubberpop daar staan.
“Waar’s die meter?” wil