Sterre is vir ewig. Ettie Bierman
Jans s’n nie. ’n Ander een wat sy ná vanmiddag enige plek sal herken …
“Ek het die klokkie gelui. Twee keer, maar jy’t nie gehoor nie. Het jy kuiermense of het jy met my gepraat?”
Haar kop het so geraas, sy het vergeet om die deur te sluit nadat Jans gery het. Van die sinsnedes wat sy gebruik het, weerklink in Erin se ore: “… die beeld van ’n buurman wat sulke vryerige gedagtes in my wakker maak … vir hóm flikkers gooi … ’n romantiese CD speel en styf teen hom op die bank sit …”
“Erina?” roep hy weer. “Die deur staan oop. Mag ek inkom?”
Sy probeer die hondepille wat gemors het bymekaar krap, maar haar vingers is dom en tas mis. “Wiessit?” vra sy. Asof sy nie weet nie …
“Francois van Schalkwyk. Jou buurman.”
Hoe ver dra ’n stem? probeer sy uitwerk. Is net die klank hoorbaar, of die woorde self? Dalk het sy sag en mompelend gepraat. Maar Erin weet sy het nie. As jy tien jaar al klas gee vir groepe van dertig tot veertig lawaaierige kinders wat meer belangstel in hul selfone as in Rembrandt en Van Gogh, raak jy in die gewoonte om jou stem te projekteer – die woorde hard en duidelik uit te spreek. Hoekom het Weiler nie ook duidelik verstaanbaar geblaf om haar te waarsku nie? Kastig ’n waghond. Maar wat help dit as mens nie verstaan wat hy sê nie?
“Erina …?” aarsel Francois toe die stilte lank rek. “Is jy daar? Kan ek maar inkom?”
Haar oë flits na die kaste. Nie een is groot genoeg om in weg te kruip nie. Of kan sy by die agterdeur uitvlug, tot in Australië?
“As jy wil …” Haar stem klink krakerig en sy druk ’n nat vadoek teen haar warm wange.
Toe hy in die kosyn verskyn, lyk hy twee keer so groot soos vanmiddag. Twee keer so mooi.
“Naand,” groet hy vriendelik.
“Hier was pas … iemand gewees,” hakkel sy. Selfs in haar eie ore klink dit onoortuigend. Erin tel ’n hand vol hondepille van die vloer af op en gebruik dit as ’n verskoning om hom nie in die gesig te kyk nie.
“Ja, ek het die motor in jou oprit gesien.”
Dan glo hy haar, dat sy kuiermense gehad het? En blykbaar kon hy nie mooi hoor nie. Erin blaas haar asem uit, ’n dankbare sug van verligting.
“Lyk my jou deurklokkie werk nie,” merk hy gewoonweg op, asof hy oom Bez is wat hom ’n leeftyd lank oor haar huis ontferm het. “Wil jy hê ek moet daarna kyk?”
“Na die klokkie?”
“Ja. Waarskynlik net die battery wat pap is. Ek het ’n spaar een wat sal pas. Sal ek hom gaan haal en insit?”
Erin ruk haar reg. “Dis nie nodig nie, dankie. Ek het ’n boks vol batterye. My kêrel kan ’n nuwe een insit.”
“Die ou met die BMW wat netnou hier was? Is hy jou kêrel?” vra hy belangstellend.
Erin knik. Voor sy haar kan keer, voeg sy by: “My aanstaande.”
Sy kan haarself skop. Jans ís nie eens haar kêrel nie, nie regtig of amptelik nie. Wat nog te sê haar aanstaande … Wat makeer haar? Hoekom vind sy dit nodig om kort-kort vir Francois van Schalkwyk te jok? Sy is heeltyd op die agtervoet, uit selfverdediging. Daardie sug van verligting netnou was optimisties. Hy het haar nie geglo nie. Hy het Jans se motor sien ry en weet hier was nie weer daarna mense by haar nie. Hy was maar net te beleefd om te stry, om reguit te sê sy lieg.
Erin probeer red wat te redde is en kyk hom waterpas in die oë. “Ek het netnou met die hond gepraat.”
“Die Rottweiler? Hy het vroeër vanaand kom inloer om met die nuwe intrekker kennis te maak. Besonder hoë IK, kon ek agterkom. Mens kan met hom lang gesprekke voer, hy verstaan elke woord.”
Erin kyk agterdogtig op in sy gesig. Dis sonder uitdrukking, tog is daar diep agter in sy blinkgrys oë ’n vonkeling. Lag hy vir haar?
“Ek is jammer as my hond lastig was,” sê sy styf. “Hy was daaraan gewoond om by oom Bez en tannie Martie te gaan kuier en hy verstaan nie dat daar nou ander mense in hulle huis woon nie.”
Francois streel oor Weiler se breë kop en vryf sy ore. “Hy was nie lastig nie, ons het dadelik vrinne gemaak. Ek is lief vir diere. Ek het ’n kat.”
Erin antwoord nie. Wat het hy hier kom maak? Die man bring haar oorhoeks van koers af, laat iets in haar roer wat sy nie geroer wil hê nie. Sy wens hy wil loop, voor sy weer goeters sê wat sy nie moes nie en agterna spyt is.
Sy oë gaan na haar hare. “Het jy al vrede gemaak met die kleur?”
“Nee.”
Dit lyk nie of haar bot reaksie hom afskrik nie. “Wat dink jou aanstaande van jou nuwe voorkoms?”
Wat het Jans se mening met hom te doen? Erin wil nie vir Jans met hom bespreek nie, wil nie met Francois van Schalkwyk gesels of hom in haar huis hê nie.
“Ek is besig,” sê sy kortaf. “Het jy ’n koppie suiker of meel kom leen, of wat?”
“Nee.” Sy mondhoek trek op in ’n skewe glimlag. “Ek kom niks leen nie. Ek kom in vrede … As ek geweet het in watter boks die linnegoed gepak is, het ek ’n tafeldoek uitgegrawe om as ’n wit vlag te gebruik. Dit hinder my dat ons as bure op ’n verkeerde voet weggespring het. Ek is jammer ek het jou watermeter toegedraai wat veroorsaak het dat jy die horlosie vergeet het, jou tuin verspoel het en as gevolg van my dommigheid op ’n Saterdagaand alleen tuis sit. Was jou aanstaande kwaad vir jou?”
“Nee.”
“Hoekom het hy dan gery en jou alleen gelos?”
“Sommer.”
“Was dit vir ’n belangrike afspraak saam met hom dat jy jouself wou mooimaak?”
Erin raak ongeduldig. Wat karring die man so, erger as ’n kurktrekker? Het hy niks beters om te doen nie?
“Ek neem aan julle sou gaan uiteet het – êrens deftig, met romantiese kerslig en musiek. Nou is jy dit kwyt as gevolg van my. Ek ken nog nie die omgewing nie, maar toe ek laas hier was om blyplek te soek, het ek ’n oulike restaurant in die deurloop gesien. Fernando’s. Hulle het miskien nie kreef en kaviaar nie, maar kan ek vir jou ’n steak gaan koop, en ’n lekker bottel wyn, om te vergoed?”
“Nee dankie.”
“Hoekom nie?”
Sy sê die eerste ding wat in haar kop kom. “Ek het te veel werk.”
Hy lyk verbaas. “Wérk?”
“Nasienwerk.”
Die halfmane van sy wenkbroue lig hoër. “Op ’n Saterdagaand? Wat is so dringend? Kan dit nie wag vir blou Maandag nie?”
“Ongelukkig nie.” Toe hy aanhou skepties lyk, voel Erin gedwonge om te verduidelik. “Die puntelyste moet vroeg Maandag in wees – voor skool. Dis eksamenvraestelle, stapels daarvan, wat moet nagesien word.”
Vier onwaarhede in een asem … Haar swart boekie loop seker al oor. Erin is kwaad vir haarself en vir die situasie. Maar meestal vir die knaende, dikvellige Kapenaar. Endorfiene is goedvoelgoeters wat vrygestel word as jy gelukkig is, maar Francois van Schalkwyk het die teenoorgestelde uitwerking op haar – hy krap haar en haar hormone verkeerde kant om.
Sy strek haar tot haar volle lengte uit en gebruik haar intimiderende onderwyserstem. “Meneer Van Schalkwyk, lyk my jy verkeer onder ’n wanindruk. Miskien is Bolanders meer sosiaal en gewoond om gesellig met hul bure te verkeer. Dis prysenswaardig, en ek glo so ’n situasie hou voordele in. Maar hierdie is Gauteng, meneer Van Schalkwyk. Mense hier is professionele, beroepsgedrewe burgers in die vinnige baan. Dié situasie veroorsaak ’n minimum hoeveelheid tyd om saam met vriende deur te bring, en ’n totále gebrek aan tyd om bure se drumpels deur te trap.”
Hy klap hande toe Erin klaar is.
“Bravo,