Siegfried. Willem Anker
in sy pa se stories hy luister vir die perde die televisie raas. Die perde is nie meer daar nie hulle galop nie meer nie hy hoor net die televisie hy sien die lyf lê op die werf. Dan lê die lyf in die kamer. Die oë knip die kop kom regop die oë is oop hy skrik hy is wakker. Hy sien die groot swart skip wat hy sien as hy droom dit maak hom koud sy lyf is pap hy kan niks maak nie niks skree nie dis net die swart skip oor hom.
*
As hy tydens sy lang dae van woordsoekery oor die plaas gedwaal het, het hy gereeld vir Siegfried raakgeloop by die dam. Wanneer hy nie paddavisse gevang het nie, was hy gewoonlik besig om selfgemaakte bootjies op die bruin water te laat vaar. Blare, stokkies, bas. Hy wou altyd uitvind presies hoe hy met daardie hande wat skaars vuiste kon maak, dit kon regkry om die fyn bootjies te maak. As die wind waai, het hy hulle almal in die water gesit en gekyk hoe hulle vaar. Hy sou nie opstaan voor die laaste een gesink het nie. Ander kere het hy met sy knieë onder sy ken opgetrek gesit en staar hoe die modderwater klein branders maak as die wind waai. Nooit het hy hom sien swem nie. Dit was asof hy ’n soort respek vir soveel water gehad het, te veel om homself daarin te begeef. Dit was die laaste water wat nog nie deur die sand gevreet is nie.
Hy het een middag teen die damwal gelê en die idioot dopgehou. Die lang maer vingers. Die absurde geduld. Die webbe. Tyd het stilgestaan by die dam daardie dag. Net die son het beweeg.
Die bootjie breek middeldeur wanneer die hoofmasstokkie in die bas gedruk word. Hy staan op, gaan haal nog bas, begin weer die skuurproses teen die klip, totdat die bas soos ’n boot begin lyk. Dan is dit die skerpgemaakte stok se beurt om die boot uit te hol. ’n Sy van die boot breek waar hy te veel uitgehol het. Hy begin oor. Met dieselfde hipnotiese ritme. Hy sit sy skepping in die water en stap terug, versigtig, om nie die water te versteur nie. Met ingetrekte asem gaan sit hy op sy hurke en hou die vaart dop, hoe dit dobber, hoe dit die deinings vang, en dan meer as ’n halfuur later, hoe dit sink. Dan staan hy op en gaan trek nog ’n stuk bas van die boom langs die dam af. Altyd tyd vir nog een. Altyd tyd om van voor af te begin. Om iets te maak en dit te laat sink.
Hy kon dit nie langer aanskou nie; hy het weggestap met nat oë; hy het alles in sy pad geskop en gevloek. Hy het die trane wat in sy mond ingeloop het uitgespoeg. Met sy hande in vuiste het hy sy tikmasjien gedonder. Hy het saam met die bottel op sy bed gaan lê.
*
Smetsmid en EtterHans staan buite by die vuur met glase whisky. Die vent krap aan sy ken waar ’n paar verlore baardhaartjies deur die vulkane beur. “Oom lyk bietjie gekuier,” sê hy smalend.
“Ek sukkel om te slaap.” Hy onthou hoe hy in sy dronkenskap die H, E en M van sy Hermes-tikmasjien se naamplaatjie afgekrap het. RES het oorgebly.
In medias res. In medias grond. In medias bugs. In medias stront.
Die arrogante erfgenaam van hektare aarde kom agter hy staar na die rotstuin op sy wange. “Het oom nie ’n kar of iets nie?”
“Verkoop.” Die mannetjie lyk verward.
“Het dit nie nodig nie. Ek wou nêrens heen rondfoeter nie.”
Die twintigjarige puber krap voort in stilte.
“Wat’s oom se regte naam? Pa sê almal noem oom Willie Smet.”
“Smetsmid.”
“Wat van Willem?”
“Wie?”
Nog ’n stilte. Hierdie een langer.
“Rook oom dagga?”
“Dit sal gaaf wees.”
*
Die bank is diep hy sak weg daarin. Hy wil in sy eie bed slaap met al sy kussings sy pa sê hy gaan sy nek nog aflê op al die kussings dis lekker om die kussings so al om in die rondte te pak dan kruip hy tussen hulle in. Sy bed is groter as sy pa se bed. Sy pa sê dit was eers sy en Jou Ma se bed maar Siegfried moet liewer daarop slaap. Dis ’n dubbelbed. Sy pa se bed is smal en hard. Die matras het ’n duik in die middel. As hy daarop sit dan voel hy die planke van die bed. Sy pa sê dis beter vir sy rug. Sy pa sê as ’n man se rug eers gebreek is dan is hy in sy moer in.
*
Die boer se seun stap na die skuur, hy agterna. Hans steek ’n daggasigaret aan. Hy sê hy het dit van die universiteit af gebring. Die dwelm laat hom ontspan. Die roach, soos die student die zol noem, sien sy gat. Hans besluit om in te gaan, want dis “cool om stoned TV te kyk”. Hy karring agterna.
Hou aan beweeg, aanhou geraas maak, aanhou grawe, al in die damwal in.
Toe hulle saam met Siegfried in die TV-kamer met ’n bottel wyn beland, vra hy vir Hans Huid wat hy nou eintlik doen.
“Studeer tale by UCT.” Die mannetjie is skielik nie meer so spraaksaam nie. Die boer en sy vrou is besig by die vuur en in die kombuis. Na nog twee biere en ’n groot sluk uit ’n glas witwyn, begin hy uit te vra: “Uiteraard ken jy ‘The Waste Land’ van Eliot?”
“Nog nie gesien nie. Is dit al op video?” EtterHans se kykers boor aan die TV. ’n Halfkaal, ligpienk vrou vul die skerm. Hans por Siegfried in die sy. “Check daai, Friedrich.”
“Siegfried,” sê Siegfried.
Hy sluk aan sy wyn en sit weer terug in die groot leerstoel. Die vrou op TV is besig om nog klere te laat waai. “It feels as if I know you from a previous life, Emmanuelle,” sê die kaal man.
“Yes, we were all slaves back then; I’ve kept the whips,” kom die antwoord.
Smit haal een van sy insekboeke uit sy rugsak. Hy lees daaruit voor. “Het julle geweet dat mierkewers ’n stof afskei in mierneste wat dieselfde uitwerking op miere het as heroïen op die mens? Die miere offer selfs hul kleintjies op om die kewer langer in die nes besig te hou sodat die miere nog van die sogenaamde mier-heroïen in die hande kan kry.”
Dit voel of die student vir hom lag.
EtterHans trek gesigte terwyl hy na die sekstoneel staar. Die televisie-akteurs se handelinge herinner aan miskruiers se paringsgedrag. Miskruiers is in Egipte as heilige diere gesien. Hulle is geskape om kak aan te jaag. Hy wonder wanneer laas iemand draadgetrek het oor die blaaie in ’n roman.
“Besef jy dat die sensuele . . . sensasies wat ’n vrou ervaar tydens voorspel en seks oorspronklik biologiese prikkelings was wat sy met geboorte of borsvoeding ervaar het? Om die oorlewing van babas te verseker. Die feit dat ’n man haar wel sou bevrug was uiteraard ’n feit. Ewolusionêr gesproke het dit geen nut gehad dat sy tydens omgang enige plesier sou ervaar nie. Moederskap was die gevaararea. Die mynveld.”
Die student skuif sy een been oor die ander om die bult in sy broek te verberg. Siegfried se lyf krul op.
Hoe lank sal die mensdom nog moet wag voor dit moontlik is om ’n plasmaskerm te penetreer? Hy wonder of daar nog wyn in die kombuis is.
*
Aan tafel, die boer aan die kop met sy gesin aan die regterkant en die gaste aan die linkerkant, word nie veel gesê nie. ’n Gesin wat nie voor gaste baklei nie en niks vir mekaar te sê het nie. Die vrou kyk aanhoudend na Siegfried. Sy het haar beste eetgerei uitgehaal vir die gaste. Lepels, vurke en messe, almal met die bekende apostelmotief gegraveer op die stele. Afrikaner-kitsch uit die boonste rakke.
Hy is bekend met hierdie optrede van huisvrouens: toe haar man haar vertel van die tragedie, het sy besluit dat die agtergeblewene vanaand net die beste sal kry. Dus: braaivleis en aartappels, kool met kaas bedrup, en wortels in daardie sieksoet sous. Op die een of ander manier glo sy, en miljoene soos sy, dat dit sal help om die pyn en wanhoop te verlig. Sy kan dit egter nie wegsteek dat sy ongemaklik voel in Siegfried se teenwoordigheid nie. Hy eet met sy hande: ’n groot seedier wat aan land gekruip het en met fyn bewegings van sy vinne die kos by sy mond inwerk. Hy maak sagte steungeluidjies terwyl hy eet.
Die boer en sy vrou laai hulle vurke met dooie skape en knolle en wortels en druk dit alles saam die mondgate in. Hulle vee met groot wit lapservette die kos af wat by hulle monde uitpeul. Die spoeg wat spat as hulle praat.