Siegfried. Willem Anker
die vertrek betree, word die gesprek onderbreek. In stilte het hulle gaan sit in een van die afskortings wat aan treinkompartemente herinner.
Die kroeg is uitgelê met riete wat uiteraard bedoel was om ’n absurde soort eksotiese ambience aan die plek te gee. Teen die mure is verskeie bokkoppe wat met glasoë waak oor die pool-spel. Hy bestel ’n bier vir die sitplek. Smit voel heeltemal te sober so laat in die dag. Siegfried sit sy sak met die plantjie op die tafel. Hy is slim genoeg om sy hande onder die tafel te hou. Goed geleer.
Die kroegman sit ’n Afrikaanse CD op waarin die hees sanger ’n vrou gebied om “daai lyfie” te “rock”; die gesprek word hervat.
’n Ontstellende groot vrou met ’n pers serp en gepoeierde gesig vul meteens die ruimte. Sy het te veel gedrink. Die koei stel haarself voor as Liezel van Franschhoek en koop vir die hele kroeg ’n rondte Springbokkies. Liezel kom sit styf teen hom en begin uitvra. Hy antwoord so vaag moontlik, terwyl die drankasem uit die te rooi mondjie in sy gesig blaas. Sy was hier vir ’n troue, sê sy. En nou wil sy nog dans. Sy sê troues maak haar wild. Sy gryp hom om die lyf en trek hom met een arm op.
“Sit ’n lekker ene op,” sê sy vir die kroegman en begin hom rondstuur om die pool-tafel. Die kroegman speel ’n nommer waarin ’n vrou opgewonde sing oor ’n fenomeen oënskynlik bekend as die “skarumba”, of iets drekliks. Hy voel duiselig van al die beweging. Sy druk al die wind uit hom uit. ’n Vent met ’n beetgevreet, wat ook die kroeg binneval, maak ’n einde aan die verleentheid.
“Liezeltjie, loop jy al weer rond? Kom hier, jou lekker ding, ek dog jy is in ’n ander man se bed.”
“Hoe ken jy my, Boetie,” lag sy. Sy soen Smit op die mond. Boetie gryp haar van agter om haar ekwator en maak haar los uit die doodsgreep wat sy op hom uitoefen. “Sorrie, oom, maar sy’s nou myne. Kom gee bietjie tong.”
Smit gee so gou moontlik pad en gaan sit weer by Siegfried.
“Ek en jy gaan vanaand hierdie plek rooi verf, sexy.” Hulle dans om die pool-tafel tot by die kroeg waar nog Springbokkies gekoop word. Smit kry twee. Dit is meer as welkom. Siegfried lyk nie of hy enigiets ongewoons opmerk nie. Die twee verliefde gedrogte verruil die kroeg vir ’n Ford backseat.
Hulle moet planne maak. “Reg. Wat maak ons nou?”
“My oom sal help oom.” Die paddakind lyk sekerder as ooit te vore. Hy voel naar; miskien is hy nie die een wat hierdie verdwaalde siel moet help nie. Siegfried sien die twyfel in sy oë: “Hy sal help. Oom Bert is familie.” Hy haal sy hande onder die tafel uit, sit hulle oopgesprei op die tafel. “Hy is Ma se broer.”
“Reg. Dan moet ons seker in die stad uitkom. Ek sal uitvind.”
Siegfried staar by die venster uit na dinge wat net hy sien. Hy kan die kind nie so los nie. Hy is nou eenmaal in hierdie ding en sal dit moet deursien tot die einde. Hy staan op en stap na die kroegman toe.
“Ek en my jong vriend is op pad Kaapstad toe. Weet u dalk van ’n geleentheid?”
“Jong vriend, sê jy?” Die kroegman is lus vir grappies maak. “Geleentheid waarvoor nogal?” Dreg dit.
“Meneer, uiteraard . . .”
“Luister, vriend.” ’n Pool-speler, Plato se Idee van die Boer, verskyn skielik langs hom. “My neef vat môre ’n lorrie Stellenbosch toe na ’n man daar wat die ding gekoop het. Julle is welkom om saam te ry. Ek’s seker hy sal nie omgee nie.”
Die neef is ene Dawie Lambrechts, die einste Dawie wat langsaan veg vir die genot van minute steaks.
“Dankie . . . uiteraard.”
“Reg, reg. En wat’s daai wat by jou mond uitsteek? ’n Poot of iets?”
“Dankie, meneer. Uiteraard, meneer. Poot?”
Hy haal die stekelrige voorwerp uit. Die agterpoot van die onbekende kewer. Hy is die een wat die eksoskelette moet fynmaal. Hy is die een wat insekte bestudeer en opvreet.
*
Die neef is nog in die restaurant. Die gesin het intussen stil geword; die geveg is ontlont. Die vrou lyk nog moerig, sy sit met ’n pruilmondjie haar man en aanstaar, die trane opgewel in haar oogkasse soos ’n verstopte drein. Lammie, soos die man homself bekendstel, lyk totaal onbewus van die tweestryd waarin hy betrokke is. Die stuk sening en laaste bleek aartappel op die bord verg al sy konsentrasie.
“Nee reg, reg, alles reg.” Hy wil duidelik die twee vreemdelinge so vinnig moontlik wegkry van die tafel. Die reëlings word getref vir tienuur die volgende oggend. Hy sou graag vroeër wou ry, maak hy verskoning, maar vanaand is die Wildfees en hy dink nie hy gaan vroeg slaap nie. Daar is ’n dans, sy vrou wil gaan langarm. Smit word genooi na die fees by die skougronde; ’n paar skuins kyke word rojaal aan Siegfried uitgedeel.
“Daai oom se hande is soos Donald Duck se voete, Pa.”
“Eet jou blerrie kos.”
*
Hy staan in die hotdog-ry en steek die laaste Camel in die pakkie op. Hy kyk na die chaos rondom hom. Die Wildfees is ’n groot affêre, ’n uitgelate opelyf. Die skougronde is gepak met alles wat asem het in die omgewing. Die skoolkomitee verkoop drank in ’n markiestent. In die danssaal staan seuns en hul vaders en bekyk hul ma’s, susters en dogters. Die ou mans sit geplak teen die mure op opslaanstoele en drink en rook en spoeg. Die plek ruik bok.
Hy wag in die ry waar twee studente die pasgetroude laerskooljuffrouens wat hotdogs verkoop, probeer oorreed om hulle foonnommers weg te gee. Hy veronderstel hulle leuse is “ ’n Ring maak nie ’n gat toe nie”. Die pasgetroude laerskooljuffrouens besef dat die studente nie sal ophou hotdogs koop voor die nommers nie gewissel word of voor hulle eggenote opdaag nie. Hulle het ’n akute sin vir besigheid en wys nie klandisie weg nie. Hy merk bo die juffrouens se koppe ’n pienk plakkaat met baie belofte: Kom hier vir Tonnelworsies. Party goed moet liewer onvertaal bly.
Toe hy sien dat hy nie vinnig gehelp gaan word nie, gaan koop hy calamari by die stalletjie langsaan. Hy gaan sit buite saam met Siegfried. Die kind lyk beangs en opgewonde, sy kop ruk heen en weer. Soos ’n seuntjie by sy eerste sirkus. Hulle deel die calamari. Siegfried is mal daaroor en wil nog hê. Hy sê Siegfried moet self gaan koop. Hy voel oud vanaand. Siegfried druk die plant in sy hande. “Hierso oom praat bietjie met Plant. Hy weet.” Hy sit die plant langs hom neer op die trappie. Hy vat ’n paar slukkies whisky. Sy gewebde vriend het deur die middag vir hom gesê dat hy nie so baie moet drink nie, “anders gaan oom omval en versuip”.
Dit is moeilik om te sien of Siegfried werklik besef dat sy pa dood is. Miskien is dit beter as daardie besef hom nooit binneskiet nie; dit sal hom breek. Nie een van die twee sal werklik sonder die ander kan oorleef nie. Pa en seun het ’n vreemde simbiose gehad. Landman het hom laat begaan in sy wêreldjie van bote en paddas en selfs saamgespeel deur saans, as hy nie te moeg en bedonnerd was nie, vir Siegfried stories te vertel. Hy was een aand in die huis tydens die storievertellery. Siegfried was sewe of ag en twintig en het in sy blou pajamas geluister na sy pa se storie, een oor die ou Grieke.
As hy self geselskap gesoek het, het hy baie maal saans saam met Landman op die stoep sit en praat oor mitologie en letterkunde. Daar op die stoep het dit nie na ontoereikende wêrelde of ’n klomp esoteriese stront geklink nie. Landman kon ook interessante aanvullings maak tot sy kennis van die sespotiges. Hy was nooit op universiteit nie, maar het, soos sy seun, op daardie plaas grootgeword. Die ouer broer, Dirk, was al uit die huis uit toe Jan Landman sy verstand gekry het. Landman het vroeg leer lees en vroeg verleer om met mense te praat.
O om ’n boer te wees wat werk met sy hande in die son die hele ongoddelike dag.
Dreg WEG Louw.
Net ’n bedonnerde belese boer sou ’n naam soos Siegfried aan sy vertraagde nasaat toevertrou. Die paddaman moes vroeg in sy lewe reeds besef het dat sy naam by hom gepas het. Hy was trots daarop. Landman het eendag op die groot koue stoep stilgeraak en ’n minuut of so voor hom sit en uitstaar. Hy het na hom gedraai met ’n glimlag: “Siegfried het gelag met sy geboorte,