Siegfried. Willem Anker

Siegfried - Willem  Anker


Скачать книгу

      “Net hoere, vriend Siegfried.”

      “Watse moere oom?”

      “Hoere. Regte vrouens is heeltemal te veel. Hoerlywe is bladsye waarop elke drek sy eie storie naai.” Hy bly ’n oomblik stil. “En as jy klaar is. Dan betaal jy.”

      “Ek is dors oom,” sê Siegfried.

      *

      Hy vat die blaar tussen sy vingers hy vee oor die blaar hy voel die gladde lyf van die plant. Die plant maak hom rustig. Hy sien sy ma se gesig dis ver weg goue hare lank en krullerig die gesig is baie wit die lippe is baie rooi. Hy vryf die blare. Haar gesig is dof sy glimlag nie sy weet nie hy kyk nie. Haar oë is swart.

      *

      Aan tafel in Laingsburg se steakhouse vertel Lammie se vrou dat sy gehoor het Mejuffrou Agterkwart is verkrag deur twee vreemdelinge wat heelaand by haar worsbroodjies gekoop het. “En sy’s g’n mejúffrou nie, die flerrie is getroud met Kabous se oudste. Wat word van die wêreld?”

      Smit bestel ’n burger. Siegfried kry ’n bordjie calamari.

      “Hoe oud is jy, ou maat?” Lammie probeer geselskap maak.

      “Twee en dertig oom. Siegfried oom.”

      “My magtag, man. Nee kyk, die naam is Dawie, of Lammie, nes jy wil.”

      “Goed oom.”

      Die paartjie lag lekker vir die grappie. Siegfried vra nog ’n glas water. Toe die water kom, stap hy daarmee buitentoe. Die paartjie lyk verward. Smit trek sy skouers op. ’n Stilte sak neer, al drie maak of hulle na die R&B-musiek in die agtergrond luister. Hy weet nie wat om te sê nie. Tot nou toe was alle aandag op Siegfried gevestig.

      “Weeluise moet nie met ware luise, orde Phthiraptera, verwar word nie, want hulle is eintlik net bloedsuigende, vlerklose stinkbesies wat van die bloed van mense, voëls en vlermuise leef.” Hulle gaap hom aan.

      “Issit?” mompel Lammie.

      Stilte. Drie dikkopvlieë eet tesame.

      Siegfried is godsydank gou weer terug. Lambrechts kyk hom vraend aan.

      “Ek het vir Plant gaan water gee oom.”

      Lammie se uitdrukking verander nie. “Jy sal eendag ’n goeie tuinier maak,” sê die vrou met ’n flou glimlaggie.

      “Mens moet net sorg dat almal genoeg water kry tannie.”

      “Sê jy in Laingsburg.” Lambrechts lag alleen vir sy grap.

      *

      Sy pa vra om te help met die windpomp. Windpompe is mooi as dit aand is hulle is swart die son is rooi hulle draai stadig saam met die wind en steun. Hulle gee water vir die grond. As die windpomp begin te skree weet hy die water gaan kom as die vlerke in die rondte draai. Sy pa sê hy moet ’n ding vashou terwyl hy ’n ander ding sweis. Hy kan nie die ding vashou nie. Die ding is te groot om sy hande oor te kry sy hande vat nie reg nie. Die ding gly. Sy pa sê hy moet met sy bootjies gaan speel. Hy wil nie met die bootjies speel nie. Hy gaan lê in sy kamer. Sy kamer is blou geverf daar is prente van visse en bote teen die mure wat hy uit boeke geskeur het. As hy in sy kamer lê is hy rustig hy is nie hartseer nie. Nou is hy hartseer die prente is simpel. Mens moet ’n windpomp kan regmaak om ’n tuin te kan maak plante kort altyd water. Hy kan nie ’n windpomp regmaak nie. Hy sal nie ’n tuin kan hê nie. Maar hy sal sorg vir die plant sy pa se Bietjie Donnerse Groenigheid.

      *

      “Ons moet klaarmaak,” sê Lambrechts. Hy neem Smit eenkant, arm om die skouer: “Is jy seker die outjie sal orraait wees agterop? Dis nog ver.” Smit kyk na Siegfried waar hy sukkel om agterop die vragmotor te klim, hoe die hande aanhou gly sonder vatplek.

      “Hy sal uithou.”

      *

      Die swart berg langs die lorrie is te naby. Hulle ry pas. Dis nag en koud die berg is die swart skip. Dis te naby. Alles is pap. Die swart skip is ’n seerowerskip met niks mense op nie skipmense is matrose niemand op die skip nie. Dis groot en swart en stil en kom altyd en maak hom bang. Die swart skip wil hom vang dit wil sy ma vang in die see al die meerminne is bang. Maar hulle kan ondertoe gaan daar’s niks daar onder nie net die onderwaterhuispaleis en mossels en kitare. Die skip is bo. Die swart skip vaar altyd. Die swart skip is altyd daar.

      *

      “Wat van my visse oom my paddavisse hulle lê en vrek almal hulle gaan nie kan uit nie. Gotta ek het vergeet toe vrek hulle.” Siegfried sit skielik penorent.

      “Dis maar vir die beste. Dreg, dreg weg. Niks salf nou te smeer nie.”

      “Nie salf nie oom. Water.”

      Siegfried het met paddavisse geboer. Behalwe die bote wat hy op die dam laat vaar en sink het, het hy ook by die dam sy eie paddavisplaas gehad. In die vlakwater het hy klein dammetjies uit die klei gebou, nege langs mekaar. Die damwalle is versier met kalksteenklippe vol fossiele. Landman het sy versameling fossiele van skulpe en seediere wat hy op sy plaas raakgespit het, aan sy seun gegee. In die dammetjies het Siegfried paddavisse aangehou. Elke dammetjie se paddavisse was min of meer op dieselfde ontwikkelingstadium. Die laaste dam, die neënde, was hoër as die ander, net hoog genoeg vir ’n volwaardige padda om oor te spring. Siegfried het die paddavisse met ’n lepel verskuif van dam na dam soos hulle gegroei het; by die laaste dam was dit die padda se eie plig om te ontsnap. Dit was duidelik dat Siegfried meer begaan was oor die eerste drie of vier damme. Dié damme is met meer noukeurigheid gebou, en die vissies daarin is met groter aandag dopgehou en na elke millimeter se groei na ’n volgende verskuif. Smit het verstaan: daardie eerste voorwêreldse fases van ewolusie is aangrypend, maar die res, die res is voorspelbaar en teleurstellend.

      “Wat gaan word van my paddas oom?”

      “Hulle sal vir hulleself sorg. Hulle het mos webbe en vinne, soos jy, hulle sal regkom soos jy regkom.”

      “Pa sê daar’s nog bietjie vis in ons almal.”

      “Trap versigtig, o altyd so versigtig, vir die gly, vir die terugglip tot vis . . .” Siegfried begin skater. “Ken jy dit, Visman?”

      “Dis wat Pa altyd sing in die bad.”

      Nou ja toe. Landman dan ook toonsetter? Smit het ook een nag woorde by musiek gesit, ’n banale versie wat hy nooit weer uit sy kop kon verban nie. Dit was ’n jaar of wat na sy intrek op Doerkyk. Dit was byna lig, een nag toe die sterre soos buckfever-kopligte uit die hemel geskyn het. Hy het wakker geskrik in ’n helse geraas en versigtig die gordyn gaan ooptrek. Dit was Wagner wat uit die huis gedonder het. Dit was die klimaks van Siegfried se begrafnismars uit Götterdämmerung. Twee groot luidsprekers is op die stoep uitgedra. Landman het dronk en kaal op die werf gestaan en dirigeer in die opstal se rigting. Lig het uit die huis gespoel; en uit die lig het Siegfried gehardloop gekom en sy pa omhels op die werf. Landman het hom weggestamp. Siegfried het langs sy pa plek ingeneem en ook begin dirigeer. Sy pa het in hom vasgesteier en iets geskree. Siegfried het begin huil en weer die lig ingehardloop. Landman het ’n paar minute op die werf bly staan en toe die huis ingegaan. Oomblikke later het Beethoven se Neënde uit die huis gebulder. Landman was terug op die werf, hierdie keer het hy nie gedirigeer nie, hy het deelgeneem. Die boer het uit volle bors en in ’n vloed trane die laaste beweging saamgesing. Smit het die gordyn toegetrek. Hy kon dit nie aanskou nie.

      Die musiek het al hoe harder geword. Smit het probeer om sy bottel in so min slukke moontlik leeg te maak. Hy het opgekrul van die brand in sy maag. Die bottel moes leeg sodat hy kon vergeet. Vergeet van die poel wat hy voor hom gesien het, die poel wat hom laat trek het Karoo toe. Sy huis in die Sederberge. Die vakansiehut wat hy opgepas het vir die Citrusdal-prokureur. Die huis in die kloof. Die huis langs die nartjiebome en die groot poel. Die poel waar die plaaswerker se dogtertjie verdrink het. Die poel waar hy haar sien inspring het. Die poel wat oor haar toegemaak het. Die geskree van die ma langs die poel. Die eggo’s in die kloof. Die mans wat groot draadhake en ploegskare aan toue gebind het en die poel begin dreg het. Die hake en skare wat met blikke en slik, met vrot katte


Скачать книгу