Bybelboodskappe. Jan Hulme

Bybelboodskappe - Jan Hulme


Скачать книгу
ons vryspreek óf veroordeel. Laat God liewer oordeel. Ons moenie ligtelik praat sonder om te dink wat die gevolge van ons woorde kan wees nie. Volgens Lukas 12:10 kan laster teen die Heilige Gees, nie vergewe word nie. Dit gebeur wanneer ’n mens God, sy Gees en Jesus se verlossingswerk volkome en volgehoue verwerp. Moenie ’n oordeel oor jou bring in ’n oomblik van onbesonnenheid nie.

      God sorg vir sy kinders (Luk 12:22–34)

      1 As kinders van die Here hoef ons ons nie te bekommerd oor môre nie. Ons Vader sorg vir die lelies en die kraaie. Hoeveel te meer sal Hy nie vir ons, sy erfgename, sorg nie? Jesus sê dat bekommernis nie ons lewe sal verleng nie, maar eerder stres veroorsaak wat mense op die lang duur kan vernietig. Dra jou behoeftes deur die werking van die Heilige Gees in gebed aan Jesus op, want ons Vader weet wat ons nodig het, nog voordat ons daarvoor gevra het (Luk 12:30; vgl Ps 56:9). Ongelowiges is oor dié dinge bekommerd, nie gelowiges nie. Daarom is daar verdeeldheid tussen dié twee groepe mense.

      2 God wil hê ons as sy kinders moet die lewe geniet en dat dit met ons moet goed gaan, daarom seën en sorg Hy vir ons (Luk 12:31).

      3 Ons moenie dink dat ons een keer tot bekering kom en dan nooit weer sal afdwaal nie. Ons moet weer en weer tot inkeer kom. Daarom sê die Woord ons moet gedurig bid en deur die krag van die Heilige Gees in Jesus, vir die Vader vra wat ons nodig het, anders ontvang ons nie (Matt 7:7–8; Joh 16:23–24). Deur die Heilige Gees lei Jesus, ons grootste vriend, ons gedurig. Hy is soos ’n lamp voor ons voet en die lig op ons lewenspad; boonop kan ons “gedurig” tot Hom bid oor enige saak (1 Tess 5:16–19), en kan ons die mense op ons pad in Jesus se Naam seën en sy vrede oor hulle uitspreek (Ef 6:23).

      4 Hoe vreemd dit ook al mag klink, kom Jesus se krag juis tot volle werking in jou wanneer jy swak is. Sy genade is altyd vir jou genoeg (2 Kor 12:9–10).

      Leef in vrede

      1 Maak vrede met jouself, vergewe jouself en dra die vrug van die Heilige Gees, volgens Galasiërs 5:22–23. Styg bo jou ou lewe uit en word ’n spieëlbeeld van Christus. As jy iemand veronreg het, maak liewer reg. Vra om vergifnis deur persoonlike kontak, of deur middel van ’n leraar, of deur ’n briefie. Jesus vergewe ons sondes en daarom moet ons mekaar vergewe. (Matt 6:12,14–15). Jesus se gesindheid teenoor die vrou wat in owerspel betrap is, soos wat Johannes 8:1–12 vertel, wys ons ook hoe ver sy vergifnis strek. Dit moet vir ons ’n voorbeeld wees. In hierdie verhaal sien ons ook dat ons álmal sondig – daar was immers nie een van die owerspelige vrou se haar aanklaers wat self so sondeloos was dat hy die eerste klip op haar kon gooi om haar tereg te stel nie. Ons is almal in sonde gebore en slegs deur God se liefde en genade word ons gered. Jesus het vir die vrou gesê Hy voltrek ook nie ’n oordeel oor haar nie, maar dat sy voortaan nie in sonde moes volhard nie.

      2 Ons moenie wraak neem nie (Rom 12:17–19); tog is ons hele lewe is vervleg met wraak en weerwraak. Daarom word ongeveer 20 000 mense elke jaar in Suid-Afrika vermoor; 55 000 en meer vroue en kinders verkrag, en word daar altesaam nagenoeg 250 000 geweldsmisdade in Suid-Afrika gepleeg. Die Bybel sê egter dat enige wraak of vergelding aan God oorgelaat moet word, en dat die verdoemenis reeds voorberei is vir geweldenaars wat hulle nie bekeer nie. Onthou, ons as gelowiges het Christus aan ons kant, en volgens Matteus 6:14–15 moet ons mense hul oortredinge vergewe. Het Jesus dan nie die voorbeeld gestel deur dié wat Hom gekruisig het en ook die misdadiger wat langs Hom aan die kruis gehang het, te vergewe nie?

      Ongelowiges

      1 Wêreldwyd sterf daar elke dag 50 000 mense wat nog nooit van Christus gehoor het nie. Nog meer mense sterf elke dag wat van Christus gehoor het, maar Hom nie aangeneem het nie of afvallig geword het. In Openbaring gebruik Christus die beeld dat Hy “lou”, onbetrokke Christene uit sy mond sal spuug (Op 3:16). Baie gaan volgens Matteus 7:21–23 by Jesus se wederkoms pleit om God se koninkryk te mag binnegaan, maar Jesus gaan hulle wegwys, want Hy ken hulle nie. Jesus sê in Lukas 13:24–28 dat baie sal probeer om by die smal deur in te gaan, maar sal nie ingaan nie, omdat hulle nie gedoen het wat reg is nie. Hulle sal weggejaag word en daar buitekant die koninkryk sal hulle huil en op hul tande kners, omdat hulle daarbuite die ewige straf gaan ontvang.

      2 Net mense wat God se wil gedoen het, ontvang die ewige lewe (Matt 25:46). Geen onreinheid word in God se koninkryk toegelaat nie, sulke mense gaan na die verdoemenis. Volgens 2 Korintiërs 13:5 moet gelowiges hulleself telkens op die proef stel en ondersoek of hulle gered is en in Jesus lewe.

      Christus is die fondasie

      1 Die kerk van Christus se fondasie is 2 000 jaar gelede gelê. Ons hoef nie meer ’n fondament te lê nie, Christus self is ons fondasie; ons moet net sy kerk op aarde uitbou. Óns is die kerk. Ons moet God se boodskap van verlossing in Christus, van sy koninkryk, en van die inwoning van die Heilige Gees ín ons verkondig met onaanvegbare prediking (vgl Tit 2:7–8). Ons is nou sy dissipels en moet lewe volgens sy nuwe gebod van liefde vir God en liefde vir ons naaste (Joh 13:34–35).

      2 Ons woorde en dade, trouens, ons hele wese moet ’n sprekende voorbeeld van ons Christenskap wees, want ongelowiges hou ons doen en late dop as ons sê dat ons Christus se volgelinge is. En as ons woorde en dade nie ooreenstem nie, is dit ’n klad op die naam “Christen”.

      3 Ons weet dat, wanneer ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ’n vaste gebou in die hemel het, ’n woning wat deur God vir ons voorberei is (2 Kor 5:1).

      4 Ons lewe is soos ’n wolk wat verby trek. Vandag sien ons hom; môre is dit al weer weg. Is jy gereed om uit hierdie lewe te gaan en God te ontmoet? Is jy seker dat jy gaan aansit by die feesmaal in God se Koninkryk (Luk 13:29–30). As jy nie seker is van jou redding nie, neem die belangrikste besluit van jou lewe vandag: om Jesus se verlossing te aanvaar. Lees 1 Johannes 4:7–21, of gaan gesels met ’n predikant of geestelike werker. Môre kan vir ewig te laat wees.

bible_newnew.jpg Boodskap 5 Die tong en die mond

      Skrifgedeelte

      Jakobus 3:1–12

      1My broers, julle moenie almal leermeesters wil wees nie, want julle moet weet dat ons wat leermeesters is, strenger as ander beoordeel sal word. 2Ons struikel almal in baie opsigte. As iemand nooit struikel in wat hy sê nie, is hy volmaak, by magte om ook sy hele liggaam in toom te hou. 3Vir perde sit ons ’n stang in die bek, en dan gehoorsaam hulle ons en het ons hulle hele liggaam onder beheer. 4Dink ook maar aan skepe:al is hulle baie groot en al is die winde wat hulle aandryf, baie sterk, word hulle tog met ’n baie klein roertjie gestuur net waarheen die stuurman wil. 5So is die tong ook maar ’n klein liggaamsdeeltjie, en tog het dit groot mag.

      ’n Klein vuurtjie kan ’n groot bos aan die brand steek. 6Die tong is ook ’n vuur, ’n wêreld vol ongeregtigheid, die deel van die liggaam wat die hele mens besmet. Dit steek die hele lewe, van die geboorte af tot die dood toe, aan die brand, en self word dit uit die hel aan die brand gesteek. 7Alles wat loop, vlieg, kruip of swem, elke soort dier word en is al deur die mens getem, 8maar geen mens kan die tong tem nie. Dit is ’n rustelose kwaad, vol dodelike gif. 9Met die tong loof ons die Here en Vader, en met die tong vloek ons die mense wat as die beeld van God gemaak is. 10Uit dieselfde mond kom lof en vloek. My broers, so moet dit nie wees nie. 11’n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars en brak water opborrel nie. 12’n Vyeboom, my broers, kan tog nie olywe dra nie, of ’n druiwestok vye nie. ’n Brak fontein kan mos nie vars water gee nie!

      Wat jy sê, wys wie jy is

      1 Dit wat ’n mens praat, openbaar jou karakter, jou eie ek. Dit is daarom so belangrik dat ’n mens ’n wag voor jou mond moet hê en voor jy praat, moet oordink wat jy wil sê.

      2 Ons sien dit so duidelik in die huwelik. Die huweliksformulier sê twee mense wat trou, word één in die huwelik (1 Kor 6:16). Dit beteken dat die paartjie nie net seksueel vereng nie, maar ook mekaar se taal begin praat, mekaar se intelligensie, kennis, gewoontes, ensovoorts, aanleer, al is hulle steeds ook individue. Die teendeel gebeur wanneer die een se mond- of lyftaal nie meer inskakel by die ander nie – dan kom daar verwydering.


Скачать книгу