Bybelboodskappe. Jan Hulme
nie, maar die dinge wat uit die mens uitgaan, maak hom onrein. Dit wat ingaan, gaan na die maag en word daarna deur die liggaam uitgewerp. Maar wat van binne af uitgaan, kom uit die hart (Matt 15:10).
4 ’n Mens in wie die Heilige Gees woon, is gevul met liefde en deernis en dit straal uit hom of haar. Dié wat aan Jesus behoort, het hul sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig (Gal 5:24). As die Heilige Gees in ons woon, word sy geaardheid sigbaar in ons lewe; die Bybel sê ons “dra die vrug van die Gees”: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing (Gal 5:22– 23).
Sondes
1 ’n Mens wat Jesus nog nie aangeneem het nie, se hart is vol sonde en onrein. So iemand het nie die vrug van die Heilige Gees in hom of haar nie. Wat uit so ’n mens se hart uitgaan, is praktyke van die sondige natuur: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge (Gal 5:19–21).
2 ’n Baie groot sondige praktyk in vandag se lewe is hoogmoed. Baie mense sien neer op ander terwyl hulle vergeet dat alles wat ons is en wat ons het, nie uit onsself voortkom nie, maar uit die liefde en genade van God(Ef 1:3–14). Jakobus (4:16) sê duidelik dat God hoogmoediges weerstaan, maar aan nederiges reddende genade betoon.
3 ’n Ander groot sonde waarvoor ons moet ligloop, is om ander mense te veroordeel. Ons soek tog so so graag fout. Ons sien die splinter in ander se oë, in plaas daarvan dat ons die balk uit ons eie oog te haal. Matteus 7:1 sê so duidelik: “Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie; met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word.”
4 1 Petrus 2:1 gee verder aan Christene ook die duidelike instruksie dat ons moet ophou met elke vorm van kwaad, met alle bedrog, huigelary, jaloesie en kwaadpratery.
Tem jou tong
1 In Jakobus 3 lees ons baie oor die gevaar van ’n los tong. In verse 2–12 gee die apostel kosbare raad oor die beheersing van die tong. Hy beskryf die tong as ’n klein liggaamsdeeltjie wat egter groot mag het. Hy vergelyk dit met ’n vuur wat ’n hele lewe aan die brand kan steek. Jakobus sê selfs die tong is “’n rustelose kwaad, vol dodelike gif”, en dat geen mens dit kan tem nie. Gelukkig kan God in sy genade en liefde deur sy Seun Jesus se bloed ons reinig van die gif in ons harte. Ons kan tog nie God loof met die tong en dan met dieselfde tong mense vloek wat na die beeld van God geskape is nie. ’n Tong wat onverantwoordelik klets, is soos ’n brak fontein wat nie vars water kan gee nie. Dit beteken vir niemand iets goeds nie. Beheer dus die tong, want dit het mag oor lewe en dood. As jy die beeld van ’n gelowige wil uitdra, moet jy, soos Spreuke 13:3 en 18:21 asook Jakobus 1:26 sê, jou tong in toom en jou mond in bedwang hou!
2 Volgens Prediker 5:1 moet ons liewer min praat, maar reg praat. Daar is ’n gesegde dat ’n mens jou woorde moet “weeg” voor jy hulle uitspreek. Baie praat kan maklik lei tot onverstandige en onverantwoordelike woorde. Onthou, ons kan vrygespreek of veroordeel word op grond van ons eie woorde (Matt 12:37). Dit laat ’n mens wonder of dit so ’n goeie ding is om ons God met so ’n soms onnadenkende herhaling van woorde moet loof – soos deesdae nogal dikwels in kerke gebeur.
3 Ons moet ook nie met ’n stortvloed woorde “soos die heidene” bid nie. Ons moet bloot vra wat ons nodig het, want ons hemelse Vader weet wat ons nodig het, nog voordat ons dit van Hom vra (Matt 6:7–8). Tog wil God hê dat ons moet vra, want sy Seun word verheerlik as Hy aan ons voorsien. Ons sal nie ontvang as ons nie vra nie. Ons kry ook nie as ons gesindheid nie reg is nie, byvoorbeeld as ons net met dit wat ons vra ons eie selfsugtige begeertes wil bevredig (Jak 4:2–3).
4 Nog ’n rigtingwyser vir geredde mense is dat ons nie “die dood” oor alles en almal wil uitspreek nie. As ons byvoorbeeld gedurig vir ons kind sê: “Jy is dom, jy is onnosel, jy is vir niks goed nie, jy sal nêrens kom in die lewe nie,” gaan daardie kind dit mos uiteindelik glo en daarvolgens begin optree. Moet ook nie jou siektes gedurig met almal bespreek nie, dit laat jou net sieker voel. Moenie onnodig mismoedig word oor dinge wat verkeerd loop in ons land nie. Daar is ook baie wonderlike dinge wat gebeur en waarvoor ons God kan loof. Moenie deel wees van geselskappe wat ’n negatiewe invloed het op dié wat dit aanhoor nie.
5 Spreek “lewe”! Wees positief. Ons is in Jesus se hande; ons het niks om te vrees nie.
6 Voor ons beloftes aan God en ook aan mense maak, moet ons baie mooi dink oor wat ons belowe. Moenie belowe as jy ’n vermoede het dat jy dit nie sal kan nakom nie. Ons maak byvoorbeeld beloftes aan God by ons troue, by ons aanneming tot lidmate van Christus se gemeente; wanneer ons ons kinders laat doop; wanneer ons inwillig om op die kerkraad dien, wanneer ons die Here vra om onsself of ’n geliefde van ’n ernstige siekte te genees; wanneer die Here ons seën; en wanneer ons te kenne gee dat ons iemand in nood sal help. Maar gou vergeet ons ons beloftes. As ons as Christene beloftes maak aan mense en ons voer dit nie uit nie, dan is ons nie soos Christus nie. So kan ons gedrag mense weghou of wegdryf van die Here af, want – soos ons reeds gesê het – hou ongelowiges ons doen en late noukeurig dop om te sien of ons leef volgens wat ons sê ons glo.
Bely jou sondes
1 Volgens 1 Johannes 1:9 kan ons die vrymoedigheid hê om ons sondes voor God te bely, Hy sal dit ter wille van Christus se offer vir ons vergewe. God is getrou en regverdig en reinig ons van alle ongeregtighede. Die daaropvolgende vers waarsku ons egter om nie voor te gee dat ons nie sonde het nie, want dan maak ons God tot leuenaar en is sy Woord nie in ons nie.
2 Sondes van die verlede wat ons reeds bely het, hoef ons nie weer te bely nie, hoe groot of hoe klein dit ook al was. Jesus het dit in die dieptes van die see gewerp of so ver van ons af verwyder as wat die ooste van die weste af is – twee uiteindes wat nooit bymekaar kan uitkom nie. Jesus het aan die kruis selfs ’n misdadiger vergewe wat erken het dat hy gesondig het en regverdig gestraf word.
3 Nie een van die mense wat die vrou wat owerspel gepleeg het, kom aankla het, kon haar met ’n klip gooi toe Jesus hulle uitdaag dat die een wat geen sonde het nie die eerste klip moes gooi om haar te stenig nie. Die rede? Daar was niemand sonder sonde nie en dus kon nie een ’n oordeel oor háár voltrek nie. Jesus het haar ook nie geoordeel nie, maar haar wel daarop gewys dat sy nie verder moes sondig nie (Joh 8:1–12).
4 Ons moet gereeld ons nuwe sondes en selfs dié waaraan ons onwetend skuldig was, bely. Kolossense 2:11–14 en 20 troos ons met die wete dat ons sondige menslike natuur saam met Christus gekruisig is en dat ons in beginsel saam met Hom opgestaan het (vgl Kol 3:1–2). As wedergebore mense verloor ons mettertyd die begeerte om met die mond of die tong of op watter manier ook al te wil sondig. Ons moet egter bid vir die Gees se beskerming teen versoekings, want ons leef in ’n sondige wêreld.
5 Romeine 8:38–39 sê: “Geen dood of lewe of engele of bose magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.”
Wees ’n mondstuk vir Jesus
1 As ons self oortuig is van, en aangeraak is deur God se boodskap van verlossing en genade, behoort ons dié boodskap verder te verkondig. Die Skrif is deur God geïnspireer (2 Tim 3:16–17). Ons geloof het immers gekom deur die prediking en getuienis wat óns gehoor het (Rom10:17). Maar ons getuienis en verkondiging moet gesond en nie-aanvegbaar wees, soos Titus 2:7–8 aandui. God sal jou dié vermoë gee deur die werking van sy Heilige Gees, wat sy Woord vir ons sal oopmaak, soos Efesiërs 4:11 belowe. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid en dank God vir sy reddende genade (Kol 3:16).
2 Wees ’n mondstuk vir Jesus in al jou daaglikse doen en late: “En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom” (Kol 3:17).
3 As God met ons praat en ons sy stem hoor, moet ons nie hardkoppig wees nie, maar glo, ons bekeer en ingaan in sy rus (Heb 4:6–11; 2 Kor 6:2). Paulus het die volgende gebed vir die Efesiërs gebid. Dit is ook God se wens vir ons en vir hulle aan wie ons die Goeie Nuus van God se