In God se teenwoordigheid. Johan Smit
ophou. En miskien verlekker jy jou oor sy uiteindelike lot wanneer hy tussen die varke beland. Dit bly ’n ander man se storie. En dan het die storie vir jou heeltemal betekenisloos geraak. Die storie kry eers waarde wanneer jy een van die karakters word. En wanneer jy ontdek dat die vaderhuis en die ver land een en dieselfde plek kan wees, en om die waarheid te sê, meesal dan ook so is.
In die storie gaan dit oor ’n innerlike ingesteldheid en die wyse waarop dit in verhoudings uitdrukking vind. ’n Mens kan binne die veilige grense van die vaderhuis ’n verlore kind wees. As jy met selfsugtige verwagtinge leef, gedurig soek na bevrediging van natuurlike drange, niks vir die mense naaste aan jou omgee nie – dan is jy klaar in ’n ver land. Dit gaan dus nie oor die regte plek nie, maar oor die regte gesindheid. En ten diepste gaan dit oor liefde vir die vader en nie oor die vader se bankrekening nie.
Daar is so baie kerkmense wat lank nie meer tuis voel in die vaderhuis nie. Nog steeds kerkgangers, maar lankal uit pas met hulle Hemelse Vader. Prostitute is waarskynlik nie hulle probleem nie, maar ’n gebrek aan ’n innige gemeenskap met die Vader.
Hemelse Vader, bring my tog op koers as my gedagtes en dade na ver lande begin afwyk. Amen.
3 Maart
Ek het gesondig
Ek sal dadelik na my pa toe teruggaan en vir hom sê: Pa, ek het teen God en teen Pa gesondig! Lukas 15:18
Sondeoortuiging. Makliker gesê as gedoen. Dit is aftakelend. Jy moet strukture wat jy opgebou het, afbreek. En dit is nie sommer net ’n terloopse erkenning dat jy ’n ou foutjie begaan het nie; dit is ’n eerlike en onvoorwaardelike skulderkenning. Sonde is nooit sommer net ’n ou foutjie nie; sonde is altyd opstand teen God.
Eers die dringendheid. Ek sal dadelik na my pa toe teruggaan … Vir die seun van die storie het daar waarskynlik storiegewys ’n lang pad voorgelê. Maar waar jy jou ook al bevind, is die Vader net ’n enkele gebed ver. Die “dadelik” verwoord maar net die gehalte van jou sondeoortuiging. Oor ’n mens se verhouding met God durf jy nie uitstel nie. Dadelik is amper nie gou genoeg nie!
En dan die skuldbelydenis self. … ek het teen God en teen Pa gesondig. Die kind se wegloop van die ouerhuis vertolk ’n houding van oneerbiedigheid teen sy vader, en dus ’n oortreding van God se gebod. Dus: Ek het teen God gesondig. En teen Pa.
Sonde neem ’n duisternis vorms aan, nogtans het dit meesal op al twee tafels van die wet betrekking – God en my naaste. Ja, natuurlik moet jou saak met God heel eerste in orde kom. Ek bely my skuld omdat ek daarna soek om met God in die regte verhouding te kom. En dan kan ek na my pa (of wie anders dan ook al) draai en mens tot mens my skuld bely. Sondeoortuiging loop altyd uit op eerlike skuldbelydenis.
Here, dis nogal soms moeilik om my sonde onvoorwaardelik te bely. Gee vir my die moed om eerlik te wees. Met U en met ander. Amen.
4 Maart
Wat ek werd is
Ek is nie meer werd om Pa se seun genoem te word nie. Behandel my soos een van Pa se dagloners. Lukas 15:19
Die verlore seun doen ’n selfevaluering: Ek is nie werd om Pa se seun genoem te word nie. Dit is ’n mondvol. Hy wil as’t ware sê dat hy deur sy onbesonne optrede homself van sy kindskap beroof het. Hy sien sy skuld nie as ’n verskoonbare misdryf nie. Deur sy sonde, so meen hy, het hy sy status as kind van die vader verbeur.
Die seun het seer sekerlik ’n ander tipe selfbeeld gehad toe hy die dag van die huis vertrek het. Ontwerpersklere en ’n vol beursie – die wêreld aan sy voete. Maar daar is tog ’n groot verskil tussen materiële en sosiale waardes enersyds, en dieper geestelike waardes andersyds. ’n Mens ken dikwels net te veel gewig toe aan die tydelike en verganklike goed. Dit is so opmerklik hoedat mense aan materiële maatstawwe verknog raak. Duur klere en motors, sosiale aanvaarding en laatnagpartytjies – alles dinge wat buitengewone waardes verkry. Totdat jy op ’n dag van al die goed gestroop word en begin soek na dié dinge wat regtig waarde het. Die stroping van gewaande waarde kan op baie maniere geskied. ’n Skielike siekbed of die dood van ’n dierbare laat jou verder dink as die blink goed van die lewe.
Hoeveel is jy werd? Elke Christen behoort te weet dat ons dit nie werd is om God se kinders genoem te word nie. Ons verdien dit nie. Dit is en bly maar net ’n genade onbeskryflik groot. Jesus het dit vir ons verdien. Maar ons kan dit eers behoorlik geniet as ons minder van onsself dink en besef hoe afhanklik ons van God is. Dagloner, nee, bedelaar voor God.
Here, ek bly maar net ’n bedelaar om genade! Dankie dat U my u kind gemaak het. Amen.
5 Maart
Teen U alleen het ek gesondig
Ja, my oortredings ken ek en van my sonde bly ek altyd bewus. Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë. Psalm 51:5–6
Dawid is in sak en as. Die magtige koning het hard geval. Die befaamde digter en sanger, die man na God se hart, het in ’n oomblik van onbewaakte wellus met ’n reeks ernstige oortredings vorendag gekom. Owerspel, bedrog, moord – geen geringe klagstaat nie! En dan kom hy tot inkeer. Dadelik wil ’n mens vra of hy wel tot inkeer sou kom as die profeet Natan nie sy sonde uitgewys het nie. Niemand weet tog nie … Maar God weet en Dawid se sonde kom op die lappe. En toe die inkeer … Ja, ek reken dat mense nogal dikwels hulle sonde so goed moontlik wegsteek, solank niemand net daarvan uitvind nie. En hulle “vergeet” geriefshalwe dat God van alles weet.
Soms gryp God in deur van ’n profeet, ’n boodskapper, gebruik te maak. Soms gryp God in deur omstandighede wat jou verborge sondes op ’n breekspul laat uitloop. Maar dis nie nodig dat God ingryp nie. Kom liewer betyds tot inkeer. Ons glo dat Dawid se berou opreg was. Indien jou verhouding met God vir jou van betekenis is, sal jy ook gedring voel om met opregte berou jou skuld voor God te bely.
Ek ken my sonde. Ek hoef nie meer daaroor doekies om te draai nie. Daar is net geen verontskuldiging nie. Ek het gedoen wat in God se oë verkeerd is. En nou is dit ’n saak tussen my en God. Is jy bereid om jou versteekte sondes na God te neem?
Deurgrond my, o God. Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad (Ps 139:23–24). Amen.
6 Maart
Die implikasies van sonde
Toe het ek my sonde bely, my oortreding nie weggesteek nie. Ek het gesê: Voor die Here bely ek my opstandigheid; en U het my skuld vergewe. Psalm 32:3, 5
Ons meet die impak van sonde dikwels aan verkeerde maatstawwe. Dit gaan meesal oor die wins en verlies van ons sondedade. Ons doen sonde omdat ons meen dat dit vir ons voordeel inhou. Die nadeel is dan gewoonlik die risiko daaraan verbonde. Ons weet tog heeltyd dat sonde die nare gewoonte het om te boemerang. En dan stuur dit op ’n verlies af. Wins en verlies van aardse goed. Maar ons vergeet om tred te hou met die groter verlies, die verlies aan gemeenskap met God.
Die digter van Psalm 32 het uitgevind dat sonde wat nie bely word nie ’n mens heelwat groter skade as ’n verlies in rand en sent kan berokken. Wanneer jou verhouding met God in die gedrang kom, ontstaan daar ’n innerlike stryd. En dit bly nie net by ’n geestelike ongemaklikheid nie; dit tas jou liggaam en gees aan. Jy roep om hulp, maar jy laat na om die heel eerste stap na herstel te neem, naamlik sondebelydenis. Daar is so baie gelowiges wat so hardnekkig bly vasklou aan hulle ou “troetelsondetjie” en dan verstaan hulle nie waarom dinge vir hulle bly skeefloop nie.
Die digter getuig dat toe hy sy sonde voor die Here bely het, het sake dadelik ’n ander verloop begin neem. Die Here het sy skuld vergewe en die lewe het vir hom weer nuut geword.
Here, bewaar my van troetelsondes wat my soveel skade kan berokken. Ek wil graag bely wat verkeerd is. Vergewe asseblief my skuld. Amen.
7 Maart
Vreugdelose sondaar
Laat my weer blydskap en vreugde belewe. U het my verbrysel; laat my weer jubel.