Helene De Kock Omnibus 10. Helene de Kock
van die Leidense Universiteit, wat ook in Rapenburg geleë is. Die grys eksterieur van die gebou, wat oorspronklik die kerk van ’n Dominikaanse klooster was, word verlewendig deur die rooi-en-wit geskilderde luike van die dakkapelle. Binnekant, in die groot lesingsaal wat dateer uit die jaar 1578, word Eugene bewus van die digte dampkring van eeue se geleerdheid. Dis asof dit ’n mens byna tasbaar omvou. Die hoë eikebalke en die koel teëlvloere dra by tot die gewyde stilte wat op sigself swye afdwing.
Eugene laat sy asem eerbiedig uit, en Elsje kyk glimlaggend na hom.
“Indrukwekkend, nè?” sê sy.
“Sjoe!” antwoord Eugene. “Peet is seker in sy element hier.”
“Hy is werklik,” sê Elsje en haar oë word sag.
Hulle gaan met die trap op na die beroemde “Zweetkamertje”, waar studente senutergende oomblikke beleef voordat hulle na die senaatsaal gaan om te promoveer. Eugene verkyk hom aan die illustrasies aan die mure, aan die menigte handtekeninge op die mure van almal wat al hier gesweet het, onder andere ook Churchill s’n, al het hy glo net ’n eredoktorsgraad hier ontvang. Hy lag lekker oor een inskripsie op die muur wat lui: Lei mij nie naar Lijden …
“So sal Peet en George ook nog hul beurt hier kry,” glimlag Sylvie. “En weet jy, hulle moet swaelstertpakke aanhê, hulle sowel as hul paranimfe wat al die reëlings vir die promosieplegtigheid moet tref.”
Die blote sprake daarvan verlig Elsje en Sylvie se gemoedere, dit kan Eugene goed sien.
“Klink my na ’n deftige affêre,” meen Eugene.
“O, dit is,” gaan Sylvie entoesiasties voort. “Na die plegtigheid is daar ’n onthaal wat ook deur die paranimfe gereël word, want hulle nooi almal in húl naam uit, sien!” Daar is ’n blos op haar wange en haar oë blink by die vooruitsig. Sy plaas haar hoop vir die toekoms op dié dag, besef Eugene, en nie omdat haar man se studie dan voltooi sal wees nie, maar omdat dit sal saamhang met hul vertrek. Sou Aaltje die eerste wees, of sou sy een van ’n reeks wees wat telkens verdwyn wanneer die Bosmans na iewers vertrek? Hy wonder. Hy weet net dat sy hart saamtrek ter wille van Sylvie.
“Sal dit in die nabye toekoms plaasvind?” vra hy.
“Min of meer. Hy en Peet sal stellig saam promoveer, so teen November se kant …”
“Ja, jy bly seker tot dan?” vra Elsje vinnig.
Eugene aarsel, glimlag oor haar gretigheid.
“As dit vir julle iets sal beteken, sal ek probeer bly.”
“Jy weet hoeveel dit vir Peet sal beteken, Gene …”
“Maar jy gaan gou verveeld wees,” konstateer Sylvie asof sy Eugene se geaardheid gou gelees het. Sy verkleur effens toe sy sy verbaasde blik op haar voel.
“Hoe weet jy?” vra hy reguit, maar sy haal net een skouer ligweg op en antwoord nie. Dis Elsje wat voorstel dat hulle mettertyd vir hom ’n werkie iewers moet kry. Eugene is dadelik daarvoor te vinde, sê aan hulle dat Mieke selfs nog beter as hulle sal weet waar hy geholpe kan raak.
“Wie’s Mieke?” wil Elsje en Sylvie tegelyk weet. En hy vertel hulle terwyl hulle weer deur Rapenburg aanstap na die nabygeleë Pieterskerk. Albei die meisies luister met ’n vrou se skerp oor, en toe hy klaar is, sê Sylvie sonder skroom: “Dié Mieke klink asof sy weet wat sy wil hê.”
“Sy’s agter jou aan,” verklaar Elsje met soveel grootogige verdoeming dat Eugene moet lag kry. Hy ontken dit ook nie, sê net paaiend dat hy nie op hom laat jag maak nie.
Maar hy, en stellig ook hulle, vergeet gou weer van Mieke de Kuiper toe hulle die groot, indrukwekkende Pieterskerk nader.
Hulle stap binne, waar hy die grootse, ruimtelike effek waardeer.
“Hier het Peet die uur van jou pa se begrafnis kom deurbring,” sê Elsje gedemp, en dit ontroer Eugene so dat hy moet wegkyk en toe moet uitstap na buite. ’n Rukkie later voeg hulle hulle weer by hom, en kan hy hulle weer in die oë kyk. Hulle besluit om maar weer van die Hondatjie gebruik te maak, want Elsje lyk moeg, al protesteer sy ook dat sy nie is nie. Oplaas moet sy ingee vir ’n hoesbui wat haar uitasem laat. Dis Eugene wat besluit dat hulle genoeg gesien het vir een dag en dat dit buitendien al lank na middagetenstyd is – en hoe lyk dit met ’n rustige ete en ’n wyntjie daarby? Hulle is dadelik geesdriftig, maar wys hom daarop dat hy in die studenterestaurante waarheen hy graag wil gaan, dié tyd van die dag net ’n boterham te ete sal kry, want dis al wat die Hollanders smiddae eet. Op sy verstomde navraag kom dit uit dat boterhamme doodgewone toebroodjies is. Hy erken ruiterlik dat hy ’n bedorwe plaasmens is en liefs nou iets behoorliks wil eet. Hulle knik net vir mekaar en weet dat hy gou sy deuntjie sal verander hier tussen die Hollanders. Maar hulle verwys hom nietemin na ’n restaurant wat in braaigeregte spesialiseer, en erken dat hulle darem self watertandlus is vir vleis wat nie na hoender of maalvleis lyk of ruik nie.
Hulle gaan na Steenstraat 51, na ’n restaurant genaamd Oudt Leyden, waar hulle in gesellige stilte heerlike biefstuk en wyn by handgekerfde Middeleeuse stoele en tafels geniet. Daarna gaan Eugene die twee by Rapenburg 49 aflaai en beloof om die aand weer in te loer vir koffie. Die Honda los hy onder die eikeboom en stap terug na De Witte Singel.
Toe hy instap by die klein hotelletjie, sien hy Mieke de Kuiper in ’n stoel sit en gesels met die eienaar, en toe haar blik op hom val, glimlag sy ingenome en sê: “Ek het vir jou gewag.”
5
Dis eienaardig, dink Eugene toe sy oë op Mieke de Kuiper rus, wat ewe gemaklik vertel dat sy al lank op hom wag, hoe sy skielik verskyn asof sy net gewag het op ’n sleutelfrase om toetrede tot die verhoog te kry.
Sy lag en knik kameraadskaplik vir die plomp eienaar van De Witte Singel, wat met haar gesit en gesels het voordat Eugene ingekom het.
“Ek het gehoop op ’n vriendelike ontvangs,” sê sy steeds glimlaggend.
Dit laat Eugene besef dat hy haar met ’n frons staan en aanstaar. ’n Laggie plooi om sy mondhoeke.
“O nee,” spot hy, “ek is maar net verbaas dat jy so gou jou belofte nagekom het om my te kom besoek!”
“Ek is maar gou om te belowe,” sê sy en skreef haar amandel oë. “Kom drink saam met ons koffie, dan gesels ons.”
“Gaaf,” sê Eugene en gaan sit by hulle, hang sy parka oor die rugleuning van die stoel.
“Ek sien jy het klaar by die Hollandse weer aangepas – gereed vir enige gebeurlikheid,” sê Mieke, haar oë op die parka.
Eugene beskou haar ’n oomblik lank voordat hy antwoord. Sy lyk goed. Haar witblonde hare is soos hy haar laas in Utrecht gesien het, styf teen haar kop weggevat in ’n bolla in haar nek. Sy is baie fyn geklee in ’n donkergroen pakkie wat haar blondheid en haar liggroen oë beklemtoon. Die vol mond lyk steeds asof dit klaar alles gesê het, die laaste woord gespreek het. Haar wit wimpers flikker onder sy blik, maar sy verloor niks van haar serene selfvertroue nie. Háár moet ’n mens trompop loop, besluit Eugene. Jy sal jou asem en jou tyd mors deur fyn te werk te gaan.
“Sal ons oor die Hollandse weer praat?” vra hy reguit.
Sy maak haar mond oop, maar sluk ’n antwoord weg, bekyk hom met ’n nuwe oog. Die hoteleienaar staan op en maak verskoning. Hulle knik.
“Ek het jou net kom nooi om Sondag saam met my na Keukenhof te gaan,” sê sy kalm. “Dis werklik iets om te sien, eie net aan Holland.”
“Ek wil graag gaan. Maar ek is nie alleen hier nie. My vriende sal dit vreemd vind as ek die eerste Sondag wat hulle werklik aan my aandag kan gee, sommer net weggaan. Buitendien gaan ek op Sondag graag eers kerk toe.”
Sy sit ’n ruk stil, net haar lang vingers beweeg effens asof hulle nie weet of hulle op haar skoot hoort nie. Maar sy herstel gou.
“Ek is seker jou vriende sal dit ook geniet om ’n slag daar uit te kom. Wil jy hulle nie saamnooi nie?”