Abel se ontwaking. Chris Karsten
op sy kop terug, verstel dit effens vir die regte hoek, en om sy bles teen die koel lug te bedek. Die herfs kom vanjaar gou, dink Bob Sweeney. Maar daar sál nog warm dae wees, hierdie koue vlaag sal weer wyk, want dit is laat Augustus, eintlik nog somer.
Die ander begrafnisgangers reeds weg, meestal oues, sy ma se vriende en tydgenote; kan nie meer te lank buite vertoef nie, moet gou die hitte van hulle klein kamers opsoek vir die pyn in rumatieklitte.
“Ek sal vanaand kom kuier, vir ons iets maak om te eet,” sê Lisa, ’n drukkie van vertroosting aan sy arm, haar lippe op sy wang.
“As jy besig is …”
“Ons kan eet en deur Ouma se goed gaan. As Pa wil.”
Bob Sweeney knik net. Dit is die plek, hierdie hoek onder die groot ou spar, waar ook hý hom onbetwisbaar en laastelik sal bevind, en dit hou vir hom geen vrees of trepidasie in nie. Die ewige rus wil hy ingaan op geen ander plek as by sy Sweeney-clan nie. Ook hy sal ’n klipkruis kry met sy naam uitgebeitel. Net die kruis en die sederkissie met sy as in, en bo-oor sal die grasperk van die tuin weer toegroei, die viooltjies sal blom, die Livingstone-madeliefies, die pienk meiblomme, en in die winter sal die sneeu kom en hy sal deel wees van die aarde.
By sy voete die klein vierkant grond omgedolwe waar Bob Sweeney sy ma se kissie ter ruste kom lê en toegegooi het. Op die grond ruikers met purperkaartjies van afskeid. Vir háár kruis het hy reeds opdrag gegee.
Mary Sweeney.
“Ek gaan nou eers. Pa moenie te lank bly nie, dit word koud, die mis kom aan.”
Hy lig sy kop op toe sy ’n paar tree weg is, hou sy dogter dop toe sy by ’n ander kruis buk, die blomme teen die stam van daardie kruis neerlê. Sy sit ’n oomblik stil op haar hurke, kop geboë. Kom dan orent, wuif vir hom en stap tussen ou grafstene deur hek toe. Hy haal sy hand uit sy jas se sak en wuif haar agterna.
Nou begin Bob Sweeney dwaal, weg van sy ma se hopie af na die kruis met Lisa se tweede gerf. Hier buig hy af, vee met sy vingers oor die mos wat die naam oorkruip. Maar ná vyftien jaar is die mos deel van die proses, dink hy.
Sarah Sweeney.
Lisa was net vyf toe háár ma dood is. Te vroeg weg. Sam sewe. Jammer dat Sam nie ook vir sy ouma se begrafnis kon kom nie. Maar Bob het begrip. Saskatoon is ver; in dieselfde land, maar ’n halwe wêreld weg.
Sy Sarah moes vandag hier saam met hom sy ma kom begrawe het. Dit is nie reg dat ’n mens so vroeg sterf nie. Sy ma was vyf en tagtig, of is dit ses en tagtig? Vol en goeie lewe, en hulle was bymekaar tot op haar einde, van Sarah se dood af. Sy ma het ingetrek en die twee kinders help grootmaak, vir Sam en klein Lisa.
In die mistige laatmiddag dwaal hy verder, om die spar se stam. Hiérdie kruis staan al twintig jaar hier ingeplant.
Sy pa, Samuel Sweeney.
Nou het sy ma haar ten laaste by hom kom aansluit, nou is hulle weer saam.
Hy dwaal na die volgende kruise. Sy Sweeney-grootouers, dan sy oumagrootjie. Hier steek hy opnuut vas, dié inskripsie onleesbaar, maar Bob ken dit.
Anne Sweeney, 1882 – 1900.
Net agtien jaar oud. Veels, veels te vroeg; nie ongewoon vir daardie tyd nie, ’n eeu en langer gelede, komplikasies van long-ontsteking kort ná die geboorte van haar baba. ’n Taai baba het oorleef sonder ma en pa, want onder die spar is ’n afwesige kruis. Anne lê alleen, sonder haar man.
Will Sweeney, Bob se oupagrootjie.
Ook Will het jonk gesterf. In September 1900, net twee en twintig, en Anne enkele maande later, in November van dieselfde jaar. Anne kon hulle baba vir twee, drie maande koester; Will het sy klein William nooit eens gesien nie. Will Sweeney se laaste rusplek is ’n ongemerkte gat in die grond, sonder kruis of kopstuk, iewers in ’n ver land, iewers in die noordoostelike binneland van Suid-Afrika, duisende kilometer van Kanada af.
Dit is die afwesige Will Sweeney wat al hoe meer, veral nou ná sy ma se dood, in Bob se gedagtes kom krap en woel en dolwe. En aan mites en stories leen Bob nie sy ore uit nie. Feite. Dit is sy werk en sy geaardheid.
Hy draai om en drentel weg om huis toe te gaan. Vanaand, nadat hulle klaar geëet het, sal hy en Lisa in sy ma se kamer ingaan en haar persoonlike besittings uithaal en sorteer. Dit sal nie lank duur nie. Die kledingstukke wil Lisa by die welsynswinkel gaan afgee. Hoede, skoene en warm jasse is daar altyd welkom. Die dokumente is in die hoededoos bo in haar hangkas. In die boks ook haar testament. Karige nalatenskap, maar die testament sal die eksekuteur help om die afhandeling van die boedel te bespoedig, om die lewe en dood van sy ma af te sluit. In die boks verwag hy nie aandelesertifikate in winsgewende hout-, velle- of gaskorporasies nie, ook nie bankdokumente oor ’n seldsame muntversameling in ’n kluis in die Bank of Nova Scotia nie. Nee, geen sprake van so iets nie. Dog vir haar meer werd as al die goud van die Klondike, is die sentimentele skat wat in haar hoededoos bewaar word; die briewe en geskriffies en aandenkings, oorgeërf en aangevul, geslag op geslag, vandat Edward en Rhona Sweeney tydens die groot Aartappelskaarste op die Billow uit Ierland padgegee het, deel van die instroming van verhongerde en verflenterde Ierse immigrante na die Nuwe Wêreld.
Onder die spar wel, maar in sy ma se hoededoos, weet Bob, het Will Sweeney nie ’n leemte gelaat nie. Bob ken die buitelyne uit familievertellings, en wanneer hy en Lisa om die tafel in daardie boks gaan delf, hoop hy, sal hy self sien en lees hoekom dit dan so bestem was dat Will in die jaar 1900 in ’n ver land moes sterf. Hy sal graag wil weet, dieper wil delf, na die feite wat deur al die mites en stories toegespin is. En wie sal hom verkwalik? Nou op aftrede het hy iets nodig om hom besig te hou en die soeke na afstamming is ’n gewilde tydverdryf, mense sit selfs voor die TV en kyk hoe wildvreemdes hulle stamboom uitpluis.
9
Op dokter Koster se wange is grys stoppels wat sy skeermes gemis het. Sy het dit aan haar pa se wange ook opgemerk; ouer mans is nie glad geskeer nie, miskien oor die ruheid van die vel se vore en groewe en kreukels, miskien oor swak oë in ’n skeerspieël. Of dalk gee hulle maar net nie meer om nie.
Haar pa val in ’n ander kategorie, en nie deur sy eie toedoen nie. Haar pa val in die kategorie van misdaadstatistieke, selfs nie eens meer “slagoffer” nie, lankal afgemerk tot net ’n vergete syfer. Nie vir haar nie, nie vir haar ma nie, en sy weet, ook nie vir Silas Sauls nie. In ’n koma met ’n koeël in die kop en ’n sertifikaat vir dapperheid in ’n laai.
Miskien ’n syfer, maar sy vel is, ten minste, nou altyd glad vandat haar ma hom soggens skeer. As sy gaan kuier, gesels sy en haar ma en hou sy haar ma se vingers dop. Sy doen moeite om sy rimpelvel met die een hand se vingers plat te stryk vir die delikate roete van die elektriese skeerder, ’n sagte gebrom oor sy wange, oor sy bolip, sy ken, af in sy keel. En agterna die streling met die rugkant van haar vingers vir stoppels wat sy kon gemis het. Maar hy weet dit nie, voel nie haar teer vingers aan sy gesig nie.
Sy het die linnemasker oor haar mond en neus, haar oë op die patoloog, op die grys bakkestoppels. Tussen hulle op die tafel van vlekvrye staal die naakte liggaam van die jong vrou van Alberts Farm. Die tafel teen ’n effense helling vir die afloop van water en liggaamsvloeistowwe na die afvoerklep.
Sy kyk af na die kop met die rooibruin hare, die haarwortels valerig, versuim met die Clairol Nice ’n Easy Root Touch-Up, dink Ella.
Sy betrap haarself nou by die vrou se borste, by die chirurgiese litteken onder elke bors. Ferm, mollige borste. Die plastiese chirurg het goeie werk gedoen, wonder wie hy is. Nie dat sy hom nou al benodig nie, miskien oor ’n paar jaar. Skoongeskeerde oksels.
Sy hoor die patoloog se stem. “Blokkasie van die lugweë en nekslagare sny die vloei van suurstof en bloed na die brein af en serebrale hipoksie tree in. Petegiale bloeding kom voor, soos hier in die oë. Kan jy dit sien, adjudant? Die klein rooi kolletjies in die wit van haar oë waar haarvaatjies gebars het? Van drukking aan die nekare