Boos en Bisar. Chris Karsten
verskriklike gevolge in die Columbine-skool in Colorado, Amerika.
Twee skoolseuns, Dylan Klebold en Eric Harris, skiet 12 skoolmaats en ’n leerkrag dood, wond nog 24 en pleeg selfmoord.
Die slagting lei tot debatte oor jong mense se beheptheid met vuur-wapens, skoolklieks, kinders wat op die speelterrein afgeknou word, en gewelddadige flieks en rekenaarspeletjies.
Ook in Suid-Afrika word hierdie voorval bespreek en ontleed en ’n jong akteur, wat besig is om opgang te maak, besluit om die Columbine-skietery as agtergrond te gebruik vir sy eenmanverhoogstuk. Nie oor die voorval self nie, maar om te tas na antwoorde op die vrae wat daaruit vloei, die inwerking van jong persoonlikhede op mekaar, die afwesigheid van rolmodelle, die kloustrofobiese skoolomgewings waarin individualiteit te dikwels misken word.
Bad Apple open op 11 Augustus in die Intimate Theatre in Kaapstad, word daarna ook Johannesburg toe gevat, en sleep gehore mee. Die akteur Brett Goldin skakel naatloos op die verhoog oor na verskeie karakters en karikature, totdat Derek, die moorddadige skoolseun, in die finale toneel voor sy selfmoord sy behoefte aan sigbaarheid op ’n skoolbank uitkrap: “Derek was hier.”
Vir die energieke Brett Goldin staan die wêreld oop. Sy eerste beroepsrol as akteur was as tiener in The Secret Diary of Adrian Mole. Daarna het hy rolle in prente soos Adrenaline, Racing Stripes, Citizen Verdict, Slash en ook in 2004 in Proteus, en op TV was hy in Yizo Yizo, Cavegirl, Madam & Eve, SOS, Scoop Schoombie, Fela’s TV en Charlie Jade.
Van Europa tot in Asië neem TV-kykers van hom kennis in ’n reeks gewilde satiriese videosketse bekend as Crazy Monkey, wat op die TV-musiekkanaal MTV tussen musiekvideo’s uitgesaai is.
In September 2005 verskyn hy saam met sy drie Crazy Monkey-akteursvriende, Trevor Clarence, Brendan Jack en Gavin Williams, in ’n plaaslike fliekkomedie, Straight Outta Benoni. Hy is B-Dog, saam met ander bekendes soos die Idols-aanbieder, Colin Moss, die sanger Danny K, en die aktrises Tanit Phoenix en Lee-Ann Liebenberg.
Oor dié fliek sê Brett: “Komedie is ’n wonderlike manier om sosiale kommentaar te lewer en taboe-onderwerpe te takel.”
Brett Goldin
Rapport
In die nuwe jaar, 2006, wys hy sy veelsydigheid op die verhoog in die Baxter in Kaapstad. Hy vertolk die beskeie rol van Guildenstern in Shakespeare se Hamlet, wat saam met die karakter Rosencrantz gestuur word om op prins Hamlet te spioeneer.
Intussen is die besprekings gedoen en die tasse gepak vir Brett om op Donderdag 20 April 2006 saam met dié toneelgeselskap Londen toe te vlieg waar hulle in Stratford-upon-Avon gaan deelneem aan die Complete Works-toneelfees van die Royal Shakespeare Company. Daarna hoop Brett om in Londen sy voet in die deur te kry in die dinamiese teaterwêreld van die West End.
Hy haal wel die vliegtuig, maar nie Londen toe nie. Sy lyk word Johannesburg toe gevlieg waar Brett Goldin (27) Saterdag 22 April saam met ’n vriend, die jong mode-ontwerper Richard Bloom (28), in Wespark se begraafplaas begrawe word.
“Komedie is ’n wonderlike manier om sosiale kommentaar te lewer en taboe-onderwerpe te takel.”
Hul bisarre dood stuur skokgolwe tot ver buite die land se grense.
Paasnaweek
Brett is in ’n opgewekte luim. Hy is altyd opgewek. Ook Richard is vrolik. Hy het Brett in sy donkergrys Polo Playa op pad na ’n partytjie gaan oplaai. Hulle ry na Craig Port se huis in Victoriaweg in Bakoven, net langs Kampsbaai. Dit is Saterdagaand 15 April 2006, Paasnaweek.
Brett en Richard ken mekaar goed, albei het hulle uit Johannesburg in Kaapstad kom vestig. Brett was eers in die hoërskool King David en daarna in Crawford College in Johannesburg. In 2000 het hy sy graad in drama en Engels aan die Universiteit van Kaapstad behaal.
Richard is korter in die Kaap, nog net ’n paar jaar. Hy is ’n ontwerper en produkbestuurder van Craig Port se klerereeks Maze Clothing. Hulle het groot planne in die klerebedryf.
Richard Bloom
Rapport
Craig Port het Richard hierdie Saterdagaand genooi vir ’n partytjie by sy huis, saam met ander gaste. Maar Richard se lewensmaat, Bryan Hellman, het ’n ander afspraak. Nou ry Brett saam en hulle gesels geesdriftig. Brett is veral opgewonde oor sy komende besoek aan Stratford en Londen.
Sy ma, Denise, het reeds uit Johannesburg in Kaapstad aangekom om die laaste paar dae saam met hom deur te bring voordat hy Donderdag Engeland toe vlieg. Sy pa, Peter, en ouer suster, Samantha, is in Johannesburg; hulle kon nie kom nie.
Brett is ook nie van plan om tot te laat partytjie te hou nie. Hy en sy ma het ’n ontbytafspraak môreoggend, Sondag, om elfuur.
Dit is, soos altyd, ’n groot geselligheid in Craig se huis, maar omstreeks kwart voor twaalf die nag groet Brett en Richard om huis toe te gaan. Hulle stap in Victoriaweg uit na Richard se Polo. Dis Paasnaweek en die strate is in hierdie middernagtelike ure stil.
Maar dan is daar skielik ligte en ’n ouerige blou BMW swaai voor hulle in en hou stil. Vier jong mans klim uit.
Denise Goldin word Paassondag wakker en begin gereed maak vir die ontbyt saam met haar seun. Ma en seun is baie geheg aan mekaar. Hy daag nie elfuur op nie, ook nie later nie. Sy begin rondbel. Dit is nie sy aard om sonder rede weg te bly nie, veral nie van ’n afspraak met sy ma nie. Sondagmiddag is sy rasend van kommer, en bel haar man, Peter, by hul huis in Sandhurst in Johannesburg. Sy bel ook die polisie.
Peter bel hul dogter, Samantha (31), in Johannesburg. Oor die onsekerheid daardie Sondag vertel Samantha self só:
“Ek sal nooit die verskriklike nagmerrie vergeet wat my werklikheid geword het ná my pa se oproep daardie Sondagmiddag nie: ‘Brett word vermis. Hy moes Ma vir ontbyt kry en het nooit opgedaag nie,’ het my pa gesê. Die woorde eggo. Die vrees in sy stem is tasbaar. Ons jaag om my pa te gaan oplaai en lughawe toe te vat sodat hy my ma in Kaapstad kan gaan ondersteun. Sy was reeds in Kaapstad om Brett af te sien vir sy vlug Donderdag Londen toe.
“Ek slaap nie daardie Sondagnag nie, maak ure lank frenetiese telefoonoproepe, bel elke kennis, bid dat ons ’n oproep sal kry vir ’n losprys. Ek is bereid om alles prys te gee om my broer lewend te kry. Die nagure gaan verby, my vrese word groter. Ek bly bid, bly oproepe maak.
“Dan ontvang ek ’n oproep, Maandagoggend net ná agtuur. ‘Sam,’ die speurder se stem verklap dit, ‘ons het nie goeie nuus nie …’
“Die gruwel en hel wat ons vol en gelukkige lewe sou oorneem, het begin. My broer en Richard is dood; tereggestel. Brett se magiese lewe, sy liefde, sy talent, sy ontluikende potensiaal, al sy hoop, emosies, drome en wense is in ’n sinlose oomblik uitgedoof, deur vulgêre, walglike en demoniese boewe.”
“Ek slaap nie daardie Sondagnag nie, maak ure lank frenetiese telefoonoproepe, bel elke kennis, bid dat ons ’n oproep sal kry vir ’n losprys. Ek is bereid om alles prys te gee om my broer lewend te kry. Ek bly bid, bly oproepe maak.”
Die tragiese nuus word ook oorgedra aan Richard se ouers, Tony en Sandra Bloom, en aan Richard se tweeling-broer, Derek, en ouer broer, Gary (31), in Australië. En sy lewensmaat, Bryan Hellman.
Dit is inderdaad ’n gruwelike en helse moordtoneel waaroor die son daardie Paasmaandagoggend opkom. Dit het vroeër die naweek gereën in die Kaap, en die lappie grasveld tussen Klipfonteinweg en die afrit van die M5 af in Mowbray is modderig. Daar groei ’n paar hoë dennebome. Onder hierdie bome, op die dennenaalde, lê Brett en Richard langs mekaar. Elkeen lê op sy maag, gesig in die grond. Albei is kaal; hulle het net sokkies aan.
In elkeen se agterkop is twee skote. Die kragtige koeëls het voor uitgekom. Dit is op die