Abel se lot. Chris Karsten
Sy draai om. Silas sug.
Dokter Koster wink met ’n krom vinger. “Kom.”
“Gaan hoor tog,” sê Silas. “Ek wag in die kar.”
Sy stap terug, kry die patoloog by die groot kluis in sy kantoor. Hy hou ’n masker na haar toe uit.
“Dit was oor Dorkas se gesig toe Silas-hulle haar in daardie huis gekry het. Moet die een of ander simboliek hê. Ek dog jy sal dit vir jou ondersoek wil hê, as bewysstuk, miskien ’n leidraad.”
“Ek’t die polisiefoto’s van haar en die masker gesien.”
“Outentiek, as ek moet skat. Dalk moet jy dit laat ondersoek, die oorsprong vasstel. Kan jou ’n nuwe insig gee in die psige van Abel Lotz.”
“Hy is lief vir maskers, het ’n maskergalery gehad. Het selfs een van sy maskers op ’n slagoffer se gesig agtergelaat nadat hy die gesigvel afgestroop het.”
“Gepla met gesigte, klink dit my.”
Sy het nie ’n keuse gehad nie. Nadat sy uit die hospitaal ontslaan is, is sy op verpligte siekteverlof geplaas.
Die wond aan haar maag het herstel, maar nog nie die letsel nie, ook nie die wond aan haar gees nie. Dié is Fred Lange se diagnose: die wond aan haar gees. Ella vermoed hy het dit iewers gehoor, of raakgelees. Doktor Landsberg noem dit geestelike trauma.
Staande orders, en daarvan is geen verslapping nie. Elke lid wat in ’n gewelddadige situasie was, móét berading vir trauma ondergaan, dit weet sy. Uit en gedaan. Basta. In die polisie is stresvlakke hoog, en daar is groot kommer. Op elke begrafnis van ’n lid sien sy hoe Die Generaal treurende naasbestaandes omhels en vertroos; op elke begrafnis weergalm sy oorlogskrete teen misdadigheid. Die Generaal word afgeneem en sy foto’s en uitsprake verskyn in koerante en op TV. Die Generaal kry goeie mediablootstelling. Sy – en sy vermoed elke polisielid in die ganse land – het die foto’s van Die Generaal se uitspattige troue verslind. Die gewaad van die jong bruid, die uitrustings van die bataljon strooimeisies, die vername bruilofsgaste met hulle elegante hooftooisels en spoggerige wiele (skaars een daarvan minder as ’n miljoen rand werd).
Die Generaal sê hy sal nie toelaat dat misdadigers sy lede, sy familie, doodskiet in die uitvoering van hulle pligte om hulle landgenote te beskerm nie. Hy het ’n groot ruiker van rooi swaard-lelies by haar hospitaalbed laat aflewer. Daarmee saam ’n beterskapkaartjie, in sy eie handskrif gerig aan: Adjudant Anna Nasser.
Sy wou teruggaan kantoor toe, weer die spoor van die Nagsluiper vat, maar sy is gestuit.
“Nie ’n goeie plan nie, Ella,” het Silas in haar huis kom sê. “Rus eers, jou emosies en gedagtes is in ’n warboel. Jy’t by die dood omgedraai, laat doktor Landsberg jou help.”
“Tog nie doktor Mimi Landsberg nie,” het sy gesug.
Mara Alkaster het saam met Silas gekom, haar hand op Ella s’n gesit en gesê: “Jy’s vir ons soos ’n eie dogter, Ella. Luister na Silas.”
Silas en sy vrolike weduwee wat nie tot trou kan kom nie.
Hy het self haar eerste afspraak by doktor Landsberg gemaak, kliniese sielkundige en konsulterende traumaberader vir die polisie. En die span van moord-en-roof het haar drumpel kom snuif trap. Fred Lange bring bier saam, sê dís hoe ou hande trauma verwerk. Jimmy Julies van forensies bring melktert, sê sy vrou bak die beste melktert in die hele sonnestelsel. Tabs Makgaleng van vingerafdrukke bring Midnight Velvet, sê sjokolade paai die emosionele sentrum van die brein. Jong Stallie Stalmeester van die radiokamer bring ’n gerf wit tjienkerientjees en blou vergeet-my-nietjies, soen haar op die wang en sê hy mis haar. Selfs streekkommissaris Pitso daag op, bring ’n bottel badolie uit Pick n Pay en vorms in triplikaat (verpligte siekteverlof) wat sy moet teken vir sy IN-mandjie, die een langs sy UIT-mandjie daar op die hoek van sy staatsdienslessenaar, neffens die staande orders oor kostebesparing.
Die konsultasiekamer van die traumaberader is huislik ingerig, g’n strak kantoor vir lede wat aan bomskok ly nie, vermoed Ella. Warmte word gesuggereer deur die houtmeubels, die vars snyblomme in groot vase, geraamde foto’s van ’n vrolike gesin, gesinstydskrifte, boeke met boodskappe, sagte kussings oorgetrek met fleurige materiaal, teen die mure landskappe met vloeiende vorms en selfversekerde kwashale, die subtiele aroma van potpourri. Die dekor sorgvuldig versamel en gerangskik om ’n lid met ’n wond aan die gees te sus.
“Tee?” vra doktor Landsberg.
“Koffie, swart, sonder suiker,” sê Ella. Soos die patoloog sal die traumaberader nog moet leer van haar koffie.
“Jy is kwaad. Ek kry ’n gevoel van onderliggende woede …”
“Natuurlik is ek kwaad, ná alles wat gebeur het. Sou jý nie ook kwaad gewees het nie, doktor?”
“My gevoelens is nie ter sake nie, Ella.”
“Maar jou handtekening is. Op ’n amptelike verslag kan jy my afteken. Ek’s gesond, reg om te gaan werk.”
“Ek’s seker dit sal nie te lank vat nie, net ’n paar sessies. Dis belangrik dat ons by jou gevoelens en emosies uitkom. Hoe voel die wond aan jou maag?”
Sessies. Gevoelens. Emosies.
“Wil jy sien?”
“Dis nie nodig nie.”
Sy trek haar T-hemp op, rem haar jeans ’n entjie af, ontbloot die pers riwwe, die geskende, verskrompelde vel van haar maag.
“Ek’s sewe en twintig en sal nooit weer in ’n bikini kan loop nie.”
“Kosmetiese chirurgie sal help. Dit doen deesdae wondere.”
“Een skalpel was genoeg.”
“Jy moet positief wees, Ella. Sien die glas as halfvol. Dis die eerste tree op die pad na herstel: die regte ingesteldheid.”
“Ek kon dood gewees het. Nog tien minute en ek’s geplant, die laaste taptoe. Is dit positief?”
“Dis positief dat jy leef.”
“Ek leef, maar vier ander is dood, en ek kon dit gekeer het.”
“Selfverwyt is nie goed nie. Ons moet aan jou selfverwyt ook werk. Jy kon dit nie gekeer het nie, dis nie jou skuld nie.”
“Ek kon die laaste moord verhoed het as ek nie so koppig was nie.”
“Wil jy daaroor praat, oor die laaste een?”
“Nee.”
“Vertel my van die ander?”
“Nee.”
Waarom al die draaie? wonder Ella. Waarom nie by die punt uitkom nie, die kern van die probleem?
“Wil jy oor hóm praat?”
Abel. Waar ís jy, Abel?
“Hoekom het hy my nie ook doodgemaak nie? Ek was in sy hande, hulpeloos. Hy kon dit gedoen het, al is hy gesteur. Hy’t tyd gehad voor hy gevlug het.”
“Hoekom dínk jy het hy jou lewe gespaar?”
Albei hande om die koppie wat sy na haar mond toe bring. Proe die sigorei van die kitskoffie. Nie ordentlike koffie nie. Sy soek die smaak van koffiebessie, die aroma van sterk Java.
“Ek wil nie oor hom praat nie.”
“Ek verstaan, Ella. Jou kop is soos ’n tuimeldroër. Ons sal dit stap vir stap vat. Maar dit moet uit, alles móét uiteindelik uitkom voor die herstelproses kan begin.”
Herstelproses. Ons moet wérk aan jou selfverwyt. Voor sy afgeteken kan word, voor sy kan teruggaan kantoor toe.
“Miskien op die volgende sessie.”
“Trauma,” sê doktor Landsberg, “is ernstige emosionele skok en pyn