Tryna du Toit-omnibus 6. Tryna du Toit
dertig, taamlik kort, maar breed en sterk gebou. Hy groet haar vriendelik, en sy is bewus van sy donker, nuuskierige blik.
“Ek is Sam Serfontein, ’n broerskind van tant Bettie,” stel hy homself voor. “Frans was hier om jou te kom haal, maar die trein is alewig laat en hy moes teruggaan plaas toe. Frans verbeel hom Poortjie sal vergaan as hy nie daar is om persoonlik na alles te kyk nie.”
Sy kyk op in sy glimlaggende gesig en dink: dit is dan Sam Serfontein. Erns se seun, aspiranterfgenaam van Poortjie en mede-eienaar van ’n garage op die dorp.
“Is Frans ook ’n familielid?” vra sy onskuldig op ’n skielike impuls, en Sam Serfontein snork verontwaardig.
“Frans Naudé is glad nie familie van die Serfonteins nie. Hy is maar net tant Bettie se bestuurder, maar te oordeel na sy houding sou jy sweer Poortjie behoort aan hom en aan hom alleen. Net die een tas?” vra hy, en sy knik weer.
Al geselsend lei hy haar oor die brug na ’n groot swart motor wat daar naby staan.
“Hoe gaan dit met die pasiënt?” vra sy toe sy langs hom in die motor sit en hy wegry.
Hy haal sy skouers op. “Dit gaan nou weer beter, maar ek twyfel of tant Bettie weer sal opstaan. Sy is amper sewentig en haar hart is die afgelope jare nie sterk nie.” Lydia bly stil en hy vervolg: “Jy is jonger as wat ek verwag het, maar miskien sal dit help om die atmosfeer op Poortjie ’n bietjie op te vrolik. ’n Man kan dit die laaste tyd nie eens waag om te glimlag nie. Waar ’n plaas soos Poortjie op die spel is, is dit verstandiger om maar in jou pasoppens te bly.”
Sy stem is lig en sy glimlag effens in die donkerte, maar dis tog ’n nare gedagte dat die klomp soos aasvoëls sit en wag dat Bettie Serfontein doodgaan.
“Is Poortjie ’n mooi plaas?” vra sy sag. “Onthou, ek is ’n vreemdeling hier.”
Sam is maar te gereed om sy hart aan haar uit te stort. “Een van die beste in die distrik,” sê hy met nadruk. “En daar is ook nie ’n sent skuld op die plaas nie. Nou is daar ook nog sprake van goud in die distrik …”
Lydia luister terwyl hy uitwei oor Poortjie se aantreklikhede, en sy kan die versoeking nie weerstaan om te probeer uitvind wat hy dink van sy kanse om te erf nie.
“Ek verstaan tant Bettie was ongetroud. Wie is haar erfgenaam?”
“Dis wat ons almal graag wil weet, maar vervlaks of die ou heks – ekskuus, ek het dit nie so bedoel nie – maar vervlaks of tant Bettie wil praat! Na regte behoort die plaas na tant Bettie se dood na my toe te kom. Poortjie is die ou familie-plaas van die Serfonteins en ek is die enigste Serfontein-man wat vandag oorbly.”
“Het tant Bettie geen ander familie nie?” vra sy onskuldig, en effens suur antwoord hy: “Daar is natuurlik nog Mercia, oom Jakob se dogter, ook. Sy is ook ’n broerskind van tant Bettie. Maar sy is ’n vroumens en weet niks van boerdery af nie. ’n Paar duisend rand sal ’n baie gepaste erflating vir haar wees.”
“En tant Bettie weier om te sê wie haar erfgenaam is?”
“Sy lê soos ’n sfinks in die bed, kamtig dodelik siek.”
Dit was na tienuur toe hulle op die plaas aankom. Nuuskierig loer Lydia om haar rond, maar in die donkerte kan sy net die donker skaduwee van die huis onderskei, met die nog donkerder silhoeëtte van die hoë bome wat daaragter staan. Moeg en stram klim sy uit die motor, dankbaar vir die vriendelike lig wat nou uit die oop voordeur stroom. Meteens storm twee honde blaffend om die huis, en verskrik bly sy in haar spore staan.
Dan hoor sy ’n gebiedende stem: “Nero! Kaptein! Kom hier!”
Dadelik gehoorsaam die honde, en ’n man stap hulle uit die donkerte tegemoet.
“Jy moet die honde vasmaak, Frans. Ek sê jou hulle is gevaarlik,” brom Sam ergerlik. “Lydia, dis Frans Naudé, tant Bettie se bestuurder en regterhand.”
Dis te donker om die man se gesig te sien, maar sy hand sluit vas om hare en kalm antwoord hy: “Ek is jammer as jy geskrik het. Die honde het maar net kom kyk wie so laat op die plaas aankom. Maar kom in. Jy is teen dié tyd seker doodmoeg en flou van die honger. Kom, Sam, kom drink eers gou ’n koppie koffie voor jy teruggaan.”
“Ja, dankie, ek sal graag ’n bietjie koffie drink,” sê Sam koel.
Frans Naudé tel haar tas op, en hulle drie stap saam na die groot wit huis wat Lydia die volgende weke haar tuiste gaan maak.
Hoofstuk 2
Deur die breë, halfdonker gang stap Lydia saam met die twee mans na die eetkamer waar die lig helder en verwelkomend brand. ’n Oomblik moet sy haar oë knip teen die onverwagte helderheid. Dan, as sy aan die lig gewoond raak, sien sy ’n ruim, gesellige vertrek met ’n groot klipkaggel in die muur. Die lang geelhouttafel en die geelhoutbuffet teen die muur glim soos goud in die helder lig en naby die kaggel is daar ’n riempiesbank en twee gemaklike riempiestoele met helder geweefde kussings. Lydia dink dat die vertrek seker veral in die winter die bymekaarkomplek van die familie is. As die gordyne toegetrek is en die houtstompe gloei in daardie heerlike ou kaggel, sal ’n mens voel jy is veilig teen die koue en die donkerte daar buite.
“Laat ek jou aan tant Susie voorstel,” sê Frans Naudé saaklik langs haar, en effens verskrik kyk Lydia om. Sy was so verdiep in haar waarneming van die vertrek dat sy nooit die klein, verkrimpte ou vroutjie gesien het wat op ’n regop stoel naby die tafel sit en brei nie. Sy is al oud, seker diep in die sewentig, dink Lydia, maar ten spyte van die rimpels en die spierwit hare waarop ’n fraai kantmussie pryk, is die blou oë nog helder en vol belangstelling.
Lydia neem die klein, benerige handjie in hare en is bewus van tant Susie se vriendelike, nuuskierige blik.
“Jy is seker moeg, my kind,” sê sy terwyl sy haar breiwerk neersit. “Kom dat ek jou na jou kamer toe neem.”
“Slaap tant Bettie al?” vra Sam vir haar en tant Susie knik.
“Ja, my kind. Dokter was vroeg vanaand hier en het haar ’n inspuiting gegee. Sy het die hele dag weer baie pyn gehad.”
Terwyl sy agter tant Susie aan in die breë, donker gang afstap, wonder Lydia waar die ou tannie met haar mooi wit hare en aristokratiese voorkoms in die prentjie pas. Dis vreemd dat haar reisgenoot, wat blykbaar alles van die familie en hulle geskiedenis weet, niks van tant Susie gesê het nie.
Tant Susie neem haar na ’n kamer waar haar tas reeds op haar wag. “Hier is jou kamer, kind. Jy moet maar vra as jy nog iets nodig het. Die badkamer is net om die hoek. Die koffie is klaar. Kom maar gerus sodra jy gereed is.” Daarop draai sy om en verdwyn weer soos ’n skaduwee in die donker gang.
Lydia kyk nuuskierig om haar: dit is ’n ruim, lugtige kamer met vensters na die ooste en suide. Oudergewoonte stap sy na die bed om dit te betas – sy verwag nie om ’n binne-veermatras hier op Poortjie te vind nie, maar die matras is in elk geval nie hol nie en die lakens en deken is spierwit. Die lekker wit bed sal egter nog ’n rukkie moet wag. Sy het nie as gas Poortjie toe gekom nie, maar om te werk.
Lydia was haar hande en kam haar hare. Sy is inderdaad doodmoeg en flou van die honger. Dit was ’n lang, vermoeiende dag. Sy stap terug na die eetkamer waar sy net die twee mans aantref. Iemand het intussen ’n spierwit kleedjie oor die geelhouttafel gegooi, en toebroodjies, koue vleis en koffie wag reeds op haar.
Terwyl sy eet, bestudeer sy ongemerk haar gasheer, die ander aspiranterfgenaam – die een wat volgens Sam nie reg of seggenskap op die plaas het nie omdat hy nie ’n Serfontein is nie.
Frans Naudé is ouer as wat sy verwag het, seker by die dertig jaar. Hy is lank en skraal gebou – van die taai, seningrige soort – en sy gesig en arms is bruin verbrand van die son en wind. Hy is nie so aantreklik soos Sam met sy reëlmatige gelaatstrekke, donker oë en blonde hare nie, maar sy dink dat hy in geen opsig vir Sam Serfontein hoef terug te staan nie.
Skielik draai hy sy kop, asof hy bewus geword het van haar blik, en ’n oomblik kyk sy in die koel grysblou