Tryna du Toit-omnibus 6. Tryna du Toit
’n ouetehuis is glad nie so sleg nie,” probeer Lydia paai. “Ek ken ’n ou dame wat al jare in een woon en sy is baie gelukkig daar. Sy sê sy bly liewer daar as saam met haar kinders.”
“Nee, my kind. Ek sal dit nooit in so ’n plek uithou nie. Ek is my hele lewe lank gewoond om te doen wat ek wil en buitendien hou ek ook nie van oumense nie. Ek dink hulle kan tog so vervelig wees.”
Lydia onderdruk ’n glimlag. Besef tant Susie dan nie daar is ’n baie sterk moontlikheid dat Bettie Serfontein nie weer uit haar siekbed sal opstaan nie? Maar sy sê niks nie.
Na ’n rukkie sê tant Susie: “Dié Sam is tog ’n liewe seun. Hy is die enigste een wat tyd het om na ’n ou tannie se klagtes te luister. Hy het my belowe dat hy sal sorg dat ek nooit na ’n tehuis toe hoef te gaan nie. Dink jy nie dis lief van hom nie?”
“Dis gaaf van hom,” sê Lydia. Sy het Sam Serfontein blykbaar te haastig geoordeel.
“Hy behoort natuurlik Poortjie te erf – as die enigste oorblywende Serfontein-man dink ek dit is sy regmatige erfenis. En as ek die geleentheid kry, sal ek dit beslis vir Bettie sê.” ’n Rukkie brei sy in stilte, dan vervolg sy: “Sal dit nie wonderlik wees as Sam Poortjie erf nie? Dan sal ek weet ek is veilig en hoef ek nooit weer bang of eensaam te wees nie.”
Lydia stoot haar stoel agteruit en lê haar hand in die verbygaan vir ’n oomblik op tant Susie se skouer. “Moenie so bekommerd lyk nie, ek is seker alles sal regkom. Vir wie brei tante die mooi sokkies?” vra sy dan op heeltemal ’n ander toon.
“Ek wou dit vir Sam vir Kersfees maak, maar die jig in my arm pla my die laaste tyd so baie en ek kon dit nie betyds klaarkry nie. Hy weet darem daarvan, en sodra dit klaar is, sal ek dit vir hom gee.”
“Sal ons nie vir dokter iets vir die arm vra nie?” stel Lydia voor terwyl sy saggies oor die seer skouer vryf. “Hy kom netnou weer plaas toe.”
“Nee, dankie, my kind,” sê sy heftig en die blou oë lyk skielik onrustig. “Ek wil niks met dokters te doen hê nie.”
Lydia kyk haar effens verbaas aan – tant Susie klink regtig ontsteld – dan glimlag sy gerusstellend: “Niemand sal u dwing om die dokter te sien as u nie wil nie, tante.”
“Dis wat jy dink – dis wat Ellie Swart ook gedink het. Toe sy nog dink die dokter behandel haar vir asma, toe het hy klaar die sertifikaat geteken en was sy in die malhuis. En glo my, sy was net so min mal soos ek of jy. ’n Bietjie neulerig en vergeetagtig soos oumense soms kan word, maar by haar volle positiewe. Ja, dis wat die kinders doen as hulle van jou ontslae wil raak,” eindig sy bitter. Moeisaam staan sy uit haar stoel op. “Ek sal dan maar by Mercia gaan sit. Sy voel seker maar ’n bietjie eensaam. As ’n mens siek is, verlang jy altyd huis toe.”
“Mercia slaap, tante,” keer Lydia haastig. “En ek sou u aanraai om liewer uit haar kamer te bly. Griep is baie aansteeklik en ons het op die oomblik genoeg pasiënte.”
“Het sy griep? Ek het nie geweet nie. Dan sal ek maar liewer wegbly – ek het gedink dis net verkoue. Ek sal dan maar vanoggend vir Sabina gaan help appelkose skil – as ek nie daar ook in die pad sal wees nie.”
Lydia het gehoop dat sy op die stil, rustige ou plaas nie net haar kragte nie, maar ook haar verlore gemoedsrus en geesdrif vir die lewe sou herwin. Nou blyk dit dat die lewe op die plaas glad nie so eenvoudig sal wees nie. Wel, sy het nie enige plan of begeerte om haar met ander mense se sake in te meng nie. Sy het weggevlug van haar eie hartseer; sy wil nie met ander mense s’n belas wees nie. Sy wil net rus hê, en vrede vir haar gemoed. Sy sal haar pasiënt na die beste van haar vermoë verpleeg en basta met die ander. Dit gaan haar nie die minste aan wie eendag vir Poortjie erf, en of tant Susie die res van haar dae in ’n ouetehuis moet deurbring nie.
Die veraf gerinkel van ’n klokkie dring meteens tot haar deur en sy skud die gevoel van bedruktheid wat haar oorval het, van haar af. Doelbewus stap sy met die lang, breë gang af om te hoor wat haar pasiënt nodig het.
Hoofstuk 3
Lydia was sowat ’n week op die plaas toe die dokter weer op ’n oggend onverwags daar aankom. Tant Bettie het regop teen die kussings gesit en Lydia was besig om vir haar uit die koerant voor te lees. Haar kleur was beter en haar asemhaling makliker, en die dokter het goedkeurend geglimlag. Terwyl hy tant Bettie ondersoek, het Lydia gou uitgeglip kombuis toe om vir hom ’n koppie koffie te gaan maak en toe sy terugkom, sit hy en tant Bettie oor landsake en gesels.
“Sy is beslis beter,” sê hy later aan Lydia toe sy saam met hom motor toe stap. “Maar dit kan net ’n tydelike opflikkering wees. Julle sal haar nog ’n tyd lank baie mooi moet oppas. Sy mag haarself glad nie vermoei nie, maar sodra sy sterker voel, wil ek hê sy moet elke dag ’n uur of twee in die stoel sit, anders word sy te swak. Jou ander pasiënt kan môre ’n bietjie opstaan en behoort binne ’n paar dae weer op die been te wees.”
Hy kyk ondersoekend na haar en vervolg effens besorg: “Jy lyk self nie te goed nie. My broer het vir my gesê jy was siek. Hy het gedink die rus en verandering sal jou goed doen, maar ek is bevrees as dit so aangaan …”
Sy glimlag effens.
“Dit hét die week ’n bietjie dol gegaan, maar as Mercia eers weer op die been is en my af en toe kan aflos, sal dit heeltemal ’n ander storie wees. My siekte is in elk geval iets van die verlede. U hoef u nie oor my te bekommer nie, dokter.”
“Ek bekommer my tog ’n bietjie. Ek het so half vir Piet belowe dat ek ’n ogie oor jou sal hou.”
Sy vriendelikheid bring ’n knop in haar keel en sy kyk weg. Dan sê sy sag: “Ek sal nooit dokter Theron se goedheid tydens my pa se dood en daarna vergeet nie. Maar dis tyd dat ek weer op my eie voete staan. As ’n mens besig is, het jy nie tyd om aan jou eie moeilikhede te dink nie. U is verniet bekommerd. Ek is seker dit sal nou heelwat rustiger gaan.”
Hy kyk af na haar asof hy nog nie heeltemal tevrede is nie, en Lydia glimlag. Die dokter sien egter dat die mooi groenbruin oë nie saamlag nie en hy probeer onthou wat sy broer vir hom gesê het: dat sy haar pa in tragiese omstandighede verloor het en self siek was, en hy verbeel hom dat sy broer ook van ’n liefdesteleurstelling gepraat het. Nou ja, dié dinge gebeur heeldag en as ’n verpleegster het sy al geleer dat daar in die meeste mense se lewens donker dae ook kom, maar dat die lewe voortgaan ten spyte daarvan. En sy lyk soos iemand wat haar nie maklik van stryk sal laat bring nie.
Hy glimlag onverwags en steek sy hand uit om haar te groet.
“Nou ja, sterkte dan, en moenie aarsel om my te laat roep as julle my nodig het nie. Oor ’n paar dae kom kyk ek weer hoe jou pasiënt vorder. Intussen weet jy wat om te doen.”
Lydia staan die dokter se motor peinsend en agternakyk. Die somerson brand warm op haar neer en op die horison sien sy haelwit donderwolke wat stadig in die blou lug klim. Miskien reën dit nog vanmiddag. Die weer was die afgelope dae besonder drukkend en sy het gehoor Frans sê aan tant Bettie dat die mielies al weer reën nodig het. Al lê sy hulpeloos in die bed, stel tant Bettie nog net so intens belang in die boerdery en Frans moet haar gereeld op hoogte van sake hou.
Lydia draai om en stap stadig terug huis toe. Dis of daar skielik ’n skaduwee oor die helder somerdag geval het. Net die noem van dokter Theron se naam was genoeg om weer die ou herinneringe wakker te maak. Sy besef opnuut dat die gebeure van die afgelope jaar diep spore gelaat het, dieper as wat sy aan die begin gedink het. Effens radeloos wonder sy of Tertius se harteloosheid ’n skaduwee oor die res van haar lewe sal werp. Daar is tye wat sy daarin slaag om te vergeet, en dan kan die noem van ’n naam, die geur van ’n blom of die hoor van ’n bekende wysie weer al die ou pyn en hartseer terugbring. Dis nie dat sy hom wíl onthou nie, dis net dat dit so bitter swaar is om te vergeet.
Toe sy met die stoeptrap opklim, kom Frans haastig aangestap. “Is dokter al weg?” vra hy dadelik. “Ek wou graag ’n bietjie met hom gesels het.”
“Hy is nou net weg. Ek het jou nie so vroeg terug verwag nie.”
“Ek