Christine le Roux Omnibus 4. Christine le Roux

Christine le Roux Omnibus 4 - Christine le Roux


Скачать книгу
dit wil nog nie regkom nie en Elize, wat as ’n ineengedoke Anne op die gras sit, kyk op na hom en sê sag: “Ek is nie Elaine nie. Ek is nie Elize nie. Vandag is ek net Anne.”

      Robert kyk vinnig af na haar en ’n oomblik lank lyk dit asof hy haar iets wil toesnou, maar hy bedink hom en ontspan merkbaar.

      “Jammer,” sê hy gelykmatig en daarna gaan dit veel beter.

      Maar met die einde van die toneel is daar weer ’n haakplek. Die eerste keer toe hy haar van die gras af opruk om haar teen hom vas te druk, doen hy dit so hardhandig dat sy ’n gilletjie gee en haar hand in die lug waai.

      “Eina, jy het my gewrig omtrent uit lit uit geruk,” sê sy vies.

      Robert lyk uit die veld geslaan en staan net na haar en kyk. Henri kom nader en kyk van die een na die ander voordat hy begin lag.

      “Robert,” vra hy kopskuddend, “wil jy nie eers ’n boomstam gaan stukkend slaan voordat ons verder gaan nie? Ek wil nie hê jy moet Elize vandag beseer nie!”

      “Ek is jammer,” sê hy verdwaas.

      “Toe maar,” help sy hom reg. “Dis nie so erg nie. Kom ons probeer dit weer.”

      Hierna gaan dit beter, maar sy vind dit ’n baie moeilike toneel om te speel. Toe hy haar die eerste keer teen hom vasdruk, gaan haar hart onkeerbaar te kere, en ten spyte van sy spottende oë net voor hy sy mond op hare druk, is sy uitasem toe hy haar los en staar net na hom.

      “Nee, Elize,” tree Henri tussenbeide, “jy moenie verdwaas lyk nie. Sy soen laat jou koud. Dit raak jou glad nie, soos niks jou raak wat hy aan jou sê of doen nie.”

      “Ja, natuurlik,” sê sy werktuiglik en vee oor haar mond. “Dit laat my koud.”

      Die grimeerder vee eers weer ’n poeierkwas oor haar gesig voordat hulle die toneel herhaal.

      Elize konsentreer hard om afsydig te bly. Dink aan iemand van wie jy niks hou nie, maan sy haarself. Dink aan daardie man wat jou uitgeneem het op universiteit. Hy was vreeslik aantreklik en al die meisies het jou beny, maar jy kon net nie opgewonde raak oor hom nie. En nadat hy jou ’n paar keer gesoen het, het jy hom die trekpas gegee, want sy soene was so sielloos soos sy karakter.

      Sy slaag daarin om haar gevoelens in toom te hou en uiteindelik is Henri tevrede en kan hulle moeg en papnat gesweet begin klaarmaak. Sy haas haar na die woonwa wat vir haar gerief ingerig is en gaan sit voor die wasbakkie waar sy haar gesig met mening begin skrop.

      Hoe doen aktrises dit? wonder sy magteloos en haar maag draai toe sy dink aan die heel laaste toneel wat genadiglik eers oor baie weke geskiet word. Maar jy is verspot, sê haar koel brein. Waarom is dit vir jou so moeilik om deur Robert gesoen te word? Wie is hy in elk geval? Sy druk sommer haar gesig in die koel water en probeer haar gedagtes orden. Daar is ’n krapperige klein stemmetjie wat niks met die koel stem van haar brein te doen het nie en vir haar vertel dat sy veel meer vir Robert Ryan omgee as wat sy wil voorgee.

      Dis belaglik! Dis verspot en verregaande! Een van die dae is jy vir goed weg en jy sal hom nooit weer sien nie. Miskien sal jy eendag vir jou kleinkinders vertel dat jy saam met hom in ’n rolprent gespeel het. Dis al. Jy het mos gesien hoe lyk die meisies van wie hy hou.

      Sy kan ook nie help om te wonder wat van Elaine geword het nie. Sy het haar nie vanoggend gesien nie, want sy het ontbyt in haar kamer geëet.

      Daar is ’n klop aan die deur net toe sy haar gesig in die handdoek druk en dit begin afdroog. Sy kyk om. Dis Henri wat daar staan, sy donkerbril teen sy voorkop opgeskuif. Die bles kol waar sy hare begin yl word, glim van die sweet.

      “Jammer, man,” sê hy. “Daar was fout met die beligting. Ons moet die toneel herhaal. Jy sal weer moet grimeer.”

      Sy staar hom net aan totdat hy verdwyn. Dis darem te erg! Sy is so ontsteld dat sy sommer wil begin huil. Maar dan bestraf sy haarself. Dit is nou jou werk. As jy gevra word om op ’n baie warm dag herhaaldelik ’n man te soen deur wie jy graag gesoen sou wil word, en daarna moet lyk asof dit jou koud gelaat het, al het dit nie, dan moet jy dit doen.

      Sy laat gelate toe dat hulle haar weer grimeer en gaan sit op die gras sodat Robert haar kan optrek. Haar ore sing van die hitte en vermoeienis en Robert lyk self nie asof hy gelukkig is met die situasie nie. Toe sy twee keer ’n fout maak met haar dialoog wat sy tog eintlik baie goed ken, word hy ergerlik.

      “Hemel, Elize,” sê hy. “Jy ken tog darem al teen hierdie tyd jou woorde. Ons het hierdie toneel nou al ten minste tien keer gedoen.”

      “Natuurlik ken ek my woorde,” sê sy bitsig en vee oor haar gesig. “Dis juis omdat ons dit al soveel keer herhaal het dat ek deurmekaar begin raak.”

      “Goed,” paai hy skielik. “Jammer. Kom ons probeer dit weer.”

      “Moenie haar kwaad maak nie, Robert,” tree Henri tussenbeide. “Kyk hoe gloei haar wange al. Sy is veronderstel om tam en lusteloos te lyk.”

      “My wange gloei nie,” sê sy kwaad. “Dit brand. Dis al rooi geskuur deur sy baard.”

      “My báárd?” vra Robert verbaas en vryf oor sy wang. Hy voel die krapperige stoppels en kyk skuldig na Henri. “Inderdaad, ja. Sy is heeltemal reg. Ek het vergeet dis al so laat in die dag. Ek sal gou weer gaan skeer.”

      Elize voel verspot en sonder dat sy dit kan keer, rol die trane oor haar wange. Die produksiesekretaresse lei haar na ’n stoel en bring vir haar ’n glas yskoue suurlemoenkoeldrank.

      “Hier,” sê sy troostend. “Ek weet jy is al moeg.”

      Henri staan ook nader en kyk haar ondersoekend aan, maar in sy oë dans ’n duisend duiwels en dit maak haar kwaad.

      “Dis alles jou skuld!” sê sy gebelg. “Dis jy wat my in hierdie gekkespul ingesleep het. Watter ordentlike vrou spandeer die hele warm dag om’n wildvreemde man te soen totdat al die omstanders tevrede is met die eindresultaat?”

      Hy lag, maar nie baie vreugdevol nie. “Gaan jy my nou die res van jou lewe blameer?”

      Sy stemtoon laat haar skuldig voel en sy steek haar hand na hom uit. “Ek is jammer, Henri. As my pa nog geleef het, sou hy gesê het ek het myself in ’n ding begewe en nou durf ek nie kla nie. Ek is jammer dat ek so aanhoudend kla. Dis seker maar die . . . die hitte en die ongewone werk – as ’n mens dit werk kan noem.”

      Hy kom langs haar sit. “O ja, dit is werk,” sê hy ernstig. “Dis hoe jy daaraan moet dink, dan sal dit nie so moeilik wees nie.”

      “Ek weet,” sug sy. “Maar ek kan nie help om dit ’n vreemde werk te vind nie. Ek mag nie my eie gevoelens in ag neem nie; ek mag net aan Anne dink. Maar die feit bly staan: dit is ék wat alles moet doen en nie ’n fiktiewe karakter nie! Daar is geen regte Anne nie, dus hoef sy haar nie oor soene te kwel nie.” Sy druk haar hare reg en maak ’n gebaar met haar hand. “Aag, ek weet tog nie hoe om dit te stel nie. Al wat ek sê, is dat dit ’n vreemde spulletjie is.” Dan staan sy vasbeslote op toe sy Robert sien aankom. “Genoeg gekla. Ek belowe ek sal jou nie weer verwyt nie.” Sy lag tergend. “Ek kon mos nee gesê het, nie waar nie?”

      Henri staan ook op en al die tegnici beweeg na hulle poste. Robert kom staan langs haar en vryf oor sy wang. “Wil jy eers voel of ek jou nie weer sal krap nie?”

      Sy voel verleë en kyk weg. “Nee. Ek is jammer ek het gekla.”

      Toe Henri die bevel gee dat alles gereed is en dat die kameras kan begin rol, is Elize heeltemal kalm, en speel sy die toneel vir die eerste keer presies soos dit gespeel moet word. Dis asof Robert haar veranderde houding kan aanvoel, en toe hy haar teen hom vastrek en afkyk in haar oë, is die spottende lig weg. Hy laat sak sy kop en soen haar met ’n nuwe en roerende deernis.

      Anne is van haar sinne beroof, dink Elize verward. So ’n soen sal tot haar móét deurdring! Dit sal iets in ’n mens moet wakker maak!

      Maar sy onderdruk haar eie onstuimige gevoelens en toe Robert sy kop oplig


Скачать книгу