Christine le Roux Omnibus 4. Christine le Roux
gedurende die winter toegesneeu lê, die beeste, die ou huis wat hy gerestoureer en moderniseer het; al sy aktiwiteite en belangstellings.
“As jy so oor die plaas voel, waarom op aarde mors jy jou tyd met rolprentwerk?” vra sy verbaas.
“Ek weet nie,” erken hy eerlik. “Ek het mos vir jou gesê ek het al afgetree toe Henri my gevra het om hierdie rol te vertolk. Maar ek sê ook dat hierdie een my laaste rolprent is.”
“Dit sit seker in jou bloed, al wil jy dit nie erken nie,” terg sy.
Hy glimlag net. Sy hare het nou droog geword en hang blink en glad om sy kop. Kort-kort skud hy dit van sy voorkop af weg of stroop sy vingers daardeur.
“Dis seker maar die eensaamheid op die plaas wat my vang,” erken hy na ’n ruk. “Dan verlang ek weer na mense en geselskap.”
“Bly jy dan stoksielalleen daar?”
“Nee. Ek het ’n huishoudster en natuurlik werkers wat my help met die boerdery. Daar is ook ’n bestuurder om ’n oog oor alles te hou wanneer ek weg is.”
“En jou ouers?” vra sy versigtig. Sy was nog altyd onder die indruk dat hy nie ’n mens is wat oor homself praat nie, maar vanaand is die atmosfeer tussen hulle so gemoedelik dat sy nie bang is nie.”
Sy gesig verstrak. “Hulle is geskei toe ek nog baie klein was. Ek het my pa nooit weer gesien nie. Hy het in Hongkong beland en daar is hy enkele jare gelede dood, ’n swerwer van wie ek niks geweet het nie. Ek het by my moeder gebly – as jy dit so kan noem. In werklikheid is ek deur ’n tante grootgemaak. My ma is weer getroud en woon in Engeland. Ek sien haar ook nie dikwels nie.”
“Waar kom die plaas dan vandaan?”
“Ek het dit self gekoop,” sê hy kortaf.
“Ek sien,” sê sy liggies. “Waarom doen jy dan nie iets omtrent die eensaamheid nie?”
“Soos wat?”
“Trou. Elaine lyk vir my meer as gewillig om met jou te trou.”
Sy het gedink sy terg hom net, maar hy haal sy arm van haar skouer af asof dit hom brand en die vyandigheid wat van hom uitstraal, is byna voelbaar.
“Ek wil nie oor Elaine praat nie,” sê hy koud.
“Ek is jammer,” sê sy onthuts. “Ek het gedink . . . ek bedoel, julle het dan ’n woonstel gedeel en . . .”
“Dit was lank gelede,” sê hy en versnel sy pas. Die hotel is reeds sigbaar en sy moet ook vinniger stap om by te hou.
Nou is sy ook kwaad. Hy vra haar uit na Charles en die oomblik toe sy dieselfde met hom doen, word hy koud en afsydig.
“Ek is jammer,” sê sy weer en die sarkasme lê swaar in haar stem. “Ek het maar net . . .”
“Kom,” sê hy. “Dis al laat.”
Sy is uitasem van die vinnig loop, maar sy is ook baie kwaad.
“Wag sy vir jou by die hotel? Dan is ek jammer as ek jou met al my praatjies vertraag het.”
“Sy is nie meer daar nie,” snou hy haar toe. “Sy is vanoggend reeds weg.”
“Ek begryp,” sê sy net so ysig. “Sy het net die nag by jou deurgebring.”
“My privaat lewe is my eie saak,” sê hy. “Dit het niks met iemand anders te doen nie.”
“Myne ook,” sê sy koud. “En onthou dit asseblief in die toekoms, menéér Ryan!”
Hoofstuk ses
Die volgende maand is vir Elize baie vermoeiend. Die aand nadat Robert saam met haar hotel toe gestap het, het sy probeer dink waarom hulle nie kan klaarkom nie, maar sy kon nie ’n oplossing vind nie. Waarom kan hulle een oomblik so lekker gesels, so vreedsaam saam verkeer en die volgende oomblik wil hy haar kop afbyt? Sy het tog die reg gehad om na Elaine te verneem – die vrou het per slot van rekening baie beledigende opmerkings teenoor haar gemaak. Waarom het Robert van ’n byna liefdevolle gesel verander in die vreemdeling wat met ’n koue, afgetrokke gesig die laaste entjie na die hotel geloop het?
Die enigste oplossing waaraan sy wel kon dink, was om uit sy pad te bly. Dit is in elk geval beter so. Sy kry haar rol as Anne beter gespeel as sy nie van Robert bewus is nie, en sy het op die oomblik net een begeerte en dit is om klaar te maak met die rolprent en huis toe te gaan. Dit voel vir haar asof al haar sielerus in ’n oomblik daarmee heen is, en sy blameer die rolprent en Robert daarvoor. Maar sy is ook eerlik genoeg om te erken dat dit grotendeels haar eie skuld is. Niemand het gesê sy moet meer vir hom voel as wat noodsaaklik vir die rolprent is nie. Dis iets wat sommer gebeur het en sy kan hom nie daarvoor aandadig hou nie.
Sy onttrek haar van die gesellige aande in die restaurant en sê vir Henri dat sy weer aan ’n boek begin het en graag saans daaraan wil werk. Sy sal sommer in haar kamer eet. Henri lyk nie asof hy haar glo nie, maar hy kan haar ook nie dwing om saam met hom en Robert te eet nie.
“Dis glad nie ’n goeie ding nie,” maan Lucy op ’n dag toe sy weer terug is nadat sy haar waterpypprobleme opgelos het.
“Hoekom nie?” vra Elize. “Die feit dat ons ’n rolprent saam maak, beteken tog nie dat ons elke sekonde in mekaar se geselskap moet wees nie.”
“Nee, dis waar, maar ek hou nie van die idee dat jy alleen in jou kamer sit nie.”
“Ek is saans moeg, Lucy, en ek wil vroeg gaan slaap.”
“Ek dink jy moet ’n bietjie wegkom,” sê Lucy.
“Wegkom? Die prent is nog lank nie klaar nie.”
“Ek weet, maar dis nie nodig dat ons elke naweek ook hier sit nie. Waarom kom jy nie een naweek saam met my en Henri en die kinders na ons hut in die berge nie?”
Elize kyk verlangend na haar. “Dit sal heerlik wees,” sê sy dan huiwerig. “Maar Henri sal tog nie kan wegkom nie. Hy werk dan altyd die hele naweek deur.”
“En dit is tyd dat dit end kry,” sê Lucy beslis. “Hy het ook ’n wegkomkans nodig. Sal ons dit hierdie naweek maak? Ek sal met Henri praat. Dalk kan julle Vrydagmiddag vroeër klaarmaak sodat ons sommer dan kan ry. Dis tog nie so vreeslik ver nie.”
“Dit sal baie lekker wees,” sê Elize en haar oë blink vir die eerste keer in weke.
Dis net wat sy nodig het en sy is so dankbaar dat Lucy dit voorgestel het. Sy het ’n behoefte daaraan om in die buitelug rond te loop en die spinnerakke uit haar kop te kry. Die rolprent is byna drie maande reeds die enigste ding waaraan sy dink en waaroor sy haar kwel. Dis ’n ongesonde toedrag van sake; sy moet wegkom en aan iets anders dink.
Henri stem saam, vertel Lucy haar daardie aand en Elize se vreugde neem toe. Sy was al ’n hele paar keer saam met die Drysons na hulle vakansiehut in die berge en dit was altyd wonderlik. Sy verbeel haar sy ruik reeds die dennenaalde en die bekende houtreuk van die hut.
Vrydagmiddag kan nie vinnig genoeg verbygaan nie, en gelukkig is sy nie nodig op die stel nie, aangesien ander tonele geskiet word. Sy bad dus vroeg al en dink geamuseerd aan die kouewaterstort in die berge. Daarna trek sy aan en toe Lucy haar teen laatmiddag kom haal, is sy gereed.
Toe sy deur die hotel se voorportaal loop, sien sy Robert uit die hoek van haar oog en haar hart trek onwillekeurig saam toe sy sien dat Elaine weer langs hom staan. Sy draai dadelik haar kop weg en stap reguit deur toe, maar Lucy waai vir hom en roep vrolik: “Sien jou weer!”
Henri lyk moeg en Lucy bestuur terwyl die drie kinders uitbundig lawaai agterin die groot stasiewa.
“Jy lyk gedaan, Henri,” merk Elize na ’n ruk op. “Is dit ons wat jou so klaarmaak?”
Hy glimlag effens. “Nee. Ek bereik altyd hierdie punt so driekwart deur ’n prent. Dis asof die emosionele betrokkenheid by en opgewondenheid oor ’n nuwe rolprent na ’n ruk sy tol eis.”
“Maar