Christine le Roux Omnibus 4. Christine le Roux
lag en klop haar op die skouer. “Dis goeie nuus. Dan kan ek jou later weer gebruik?”
“Nee,” sê sy beslis. “Dit het ek nie gesê nie. Ek sal dit hierdie een keer doen, maar nooit weer nie.”
“Maar as jy dit een keer gedoen het en gesien het dis nie so erg nie, sal dit die volgende keer makliker wees,” sê Henri.
Sy skud net haar kop. “Dit mag wees, maar dis die eerste en enigste keer wat ek dit sal doen. Wanneer die rolprent klaar is, gaan ek huis toe – plaas toe.”
“Vir altyd?” vra Robert en daar is iets onleesbaars in sy oë.
“Vir altyd,” sê sy beslis. “Ek sal weer moet gaan leer hoe om ’n skryfster te wees. Ek het lank genoeg hier rondgespeel.”
Henri maak sy mond oop om iets te sê, maar voordat hy dit kan doen, word hulle in die rede geval deur ’n pragtige rooikopmeisie wat die restaurant binnegekom het en haar arms om Robert se nek gooi.
“Robbie!” gil sy en soen hom vol op die mond. “Waar kruip jy weg? Ek het my doodgesukkel om jou in die hande te kry. Ek het die plaas gebel en jou suur ou huishoudster wou my nie sê waar jy is nie. Toe het ek jou agent gebel en al wat hy wou sê, is dat jy weer besig is met ’n rolprent. Waarom het jy my nie gesê waar jy sal wees nie?”
Sy gaan sit sommer op die vierde stoel, terwyl sy nog aan sy hand vashou.
“Wag ’n bietjie,” probeer Robert keer en hy lyk baie ongemaklik. “Elaine, laat ek jou voorstel. Dis Henri Dryson, ons regisseur, en dis Elize Böhmer.”
Die rooikop steek ’n slap handjie uit en skud halfhartig albei se hande. “Aangename kennis,” sê sy en fladder haar ooglede in Henri se rigting. “Van jou het ek al baie gehoor. Dis mos elke aktrise se droom om onder jou te werk.”
“Dankie,” sê Henri droogweg.
Elaine kyk Elize berekenend op en af. “En jy is?”
“Sy vertolk die vroulike hoofrol,” antwoord Henri namens haar.
“O?” Elaine neem sommer ’n sluk van Robert se wyn. “Ek het die naam nog nooit vantevore gehoor nie. Kan jy my ’n paar van jou vorige rolprente opnoem?”
“Nee,” sê Elize koel. “Hierdie rolprent is my eerste.”
“O,” sê Elaine liefies. “’n Beginner.” Dan besluit sy blykbaar
dat Elize nie die moeite werd is om verder mee te praat nie en sy wend haar weer na Robert. Met ’n pruilmond tik sy hom speels op die neus: “Jy was baie stout, weet jy? Om sommerso te verdwyn. Ek het nie geweet wat om met ons woonstel te doen nie.”
Elize neem deeglik kennis van die “ons woonstel” en hou haar oë op haar bord. Die feestelikheid van die aand is daarmee heen. Die nuwe en brose kameraderie tussen haar en Robert is met een slag aan skerwe. Sy wens sy kon opstaan en loop, maar dit sal ongeskik wees en buitendien kook haar boerebloed oor die meisie se ongenooide inmenging.
“Waarom het jy my nie gesê waar jy is nie?” teem Elaine nog voort terwyl sy omtrent halflyf oor die tafel hang.
“Ek is besig om aan ’n rolprent te werk,” antwoord Robert stroef. “Jy weet hoe ek daaroor voel. Ek wil nie gesteur wees nie.”
Elaine lag en druk sy hand teen haar wang.
“My ou kwaaikop! Natuurlik weet ek hoe jy voel, maar dit sluit tog nie jou eie Elaine in nie?”
Elize kyk gefassineerd hoe Robert se sterk hand hulpeloos tussen Elaine se rooi geverfde kloue vasgevat word. Sy haal diep asem, want sy het ’n ongegronde en onredelike begeerte om die meisie te klap.
“Wil iemand nagereg hê?” probeer Henri die situasie red en trek die spyskaart nader.
“Nee dankie,” sê Elize sag.
“Ek dink ons sal nou gaan,” sê Robert. Hy probeer Elaine aan die hand optrek, maar sy bly koppig sit.
“Ek het nog nie geëet nie,” pruil sy. “Ek wil eers iets eet.”
“Ons kan na ’n ander plek in die dorp gaan,” sê hy vasbeslote. “Dan kan ons gesels.”
“Nee,” sê sy hardkoppig. “Ek het vir my ’n kamer in dié hotel gekry en ek wil hier eet. Ons kan mos hier ook gesels.”
“Ek is nou klaar,” sê Elize vinnig en kyk na Henri. “Ek wil net koffie hê en dit kan ons in die sitkamer gaan drink.”
“Dis reg,” snel Henri haar te hulp. “Sal julle ons verskoon? Ek het buitendien nog sake om met Elize te bespreek. Môre is daar ’n moeilike toneel wat geskiet moet word.”
“Seker,” sê Elaine en glimlag eers weer teatraal en oordrewe vir Henri. “En as . . . aag, ek het al weer haar naam vergeet!”
“Elize,” sê Henri koud.
“Dis reg. As Elize ’n groentjie is, het sy seker baie te leer.”
“Nee,” sê Henri hard. “Vreemd genoeg is jy heeltemal verkeerd. Elize is ’n gebore toneelspeelster. Dis ’n rare en wonderlike verskynsel om so iemand te vind. Daar is soveel duisende ou meisietjies wat klasse en kursusse loop en dan nog nêrens kom nie. Goeienag,” sê hy ferm en stoot Elize voor hom die restaurant uit.
“Sjoe!” sê hy toe hulle in die sitkamer gaan sit. “Waar sou Robert aan die klein flerrie kom?”
Elize begin hulpeloos lag. Sy vind die situasie nie regtig snaaks nie en sy wil nie eers aan haarself erken hoe seergemaak en verpletter sy is nie, maar dit lyk asof lag die beste oplossing is.
“Nou ja,” sê sy kopskuddend toe sy tot bedaring gekom het. “Robert is ’n baie gewilde rolprentster. Dis seker te verstane dat die meisies gek sal wees oor hom.”
Henri klik net sy tong, maar sy kan sien hy is meer ontsteld oor die voorval as wat hy te kenne wil gee. Sy wonder waarom? Hy is tog seker sulke meisies gewoond!
“Vergeet van haar,” sê hy kortaf en haal ’n paar los bladsye uit die tassie wat hy altyd by hom dra. “Gee jy om as ons ’n bietjie werk? Daar is ’n paar dinge waarop ek jou wil wys.”
“Natuurlik,” sê sy en dwing haar aandag weg van die meisie en Robert. Sy het tog geen rede om hartseer te voel nie. Robert is ’n medespeler, niks meer en niks minder nie. Sy sal moet oppas dat sy dit nie vergeet nie.
Hoofstuk vyf
Die volgende oggend tree Robert op soos ’n beer met ’n seer kop.
Elize het self nie baie goed geslaap nie en is dus ook nie baie vriendelik nie, sodat dit eintlik net Henri is wat blykbaar vol entoesiasme vir die dag se werk is.
Die toneel wat hulle repeteer, is een waar Roy die afsydige Anne sover gekry het om saam met hom te gaan piekniek hou. Dis ’n buitelugtoneel en dis vroeg die oggend reeds verskriklik warm. Daar is oral sambrele opgerig en die bome gooi ook skaduwee, maar dit bly benoud warm en die hitte dra by tot almal se irritasie.
Anne is veronderstel om vir die eerste keer toegeeflik te word. Sy probeer uit haar benoude kokon ontsnap en vertel vir Roy van haar liefdelose kinderdae en die skok van haar man se dood. Hy luister simpatiek, maar voel tog dat sy haar oorgegee het aan selfbejammering.
“Jy moet leer om weer te voel!” gebied hy haar.
Maar sy skud net haar kop en dit word ’n rou toneel tussen die twee. Hy gooi sy eie ellendige verlede teen haar kop en probeer haar dwing om in te sien dat ander mense ook swaargekry het. Die toneel eindig waar hy haar ru aan haar hande opruk en teen hom vasdruk. Hy wil haar soen om ware emosie uit haar te dwing, maar selfs die soen laat haar koud en die twee gaan hulpeloos en hopeloos uitmekaar, weer eens alleen.
Die toneel wil net nie vlot nie. Robert is nie simpatiek genoeg nie. Hy snou haar toe van die begin af en Henri moet keer op keer sy hand lig en vra dat hulle van voor af begin.
“Robert,”