Christine le Roux Omnibus 4. Christine le Roux
sê Robert onverwags beslis. “Ek speel nie daardie soort toneel sommer met enigeen nie.”
Dit maak haar stil. Sy weet nie presies wat hy impliseer nie.
“Waarom wil jy dit nie speel nie?” vra Henri met sy sagte, bemoedigende stem.
“Ek dag ons het ooreengekom om nie oor die rolprent te praat nie,” kom Lucy se bedaarde stem van waar sy sit en brei.
“Nee, wag,” keer Henri, “ek dink dis nou die regte tyd om rustig daaroor te gesels.”
“Ag Henri!” sê Elize heftig. “Jy weet tog hoe ek daaroor voel. Ek bedoel . . . om ’n liefdestoneel teenoor . . .” Sy skud haar kop. “Jy weet tog. En ek is nie ’n gesoute aktrise wat reken alles is aanvaarbaar ter wille van die kuns nie.”
“Om jóú as aktrise in te breek, is moeiliker as om ’n jong en baie wilde perd in te breek,” sug hy.
“Ek is jammer,” sê sy styf. “En dan is dit boonop nog alles verniet en ’n gejaag na wind.”
“Wat bedoel jy nou?” laat Robert van hom hoor.
“Ek gaan tog nie weer in ’n rolprent optree nie,” sê sy geïrriteerd.
“Dus is al Henri se harde werk tevergeefs.”
“Nie regtig nie,” sê Henri. “Ek gaan ten minste een uitstekende rolprent daaruit kry. Maar kyk, om terug te kom tot die laaste toneel. Jy het tog reeds ses weke lank gesien hoe die hele ou sakie inmekaar steek. Jy weet nou hoe ek rolprente maak. Dis ’n gemoedelike en intieme soort van ding. Jy is tussen bekendes en mense van wie jy hou. Jy hou van Bill, die hoofkameraman, nie waar nie?”
“Ja,” gee sy toe.
“En jy ken vir my en Robert.”
“Ja,” sê sy minder selfversekerd.
“Nou goed. Die stel sal gesluit wees vir al die ander tegnici. Jy staan voor die venster, só.” Henri staan op en gaan leun teen die vensterraam. “Dan draai jy om en kyk na Roy.” Hy draai om en kyk Lucy aandagtig aan. “Hy sal nou nie sit en brei nie, maar jy weet wat ek bedoel. Hy sal oorkant jou staan. Dan loop jy na hom en kyk hom diep in die oë, en dit is die oomblik van waarheid. Julle besef albei dat julle mekaar nodig het, dat julle nie meer sonder mekaar kan klaarkom nie. En van daar . . . nou ja, van daar sal dit natuurlik wees.”
Elize kyk net na hom. Dis maklik vir hom om so iets te sê. Hy is besig om die toneel teenoor sy vrou te speel en hy weet hoe hy oor haar voel en hoe sy oor hom voel. Hy speel dit nie teenoor ’n vreemde mens nie. Sy kyk vinnig na Robert en sien dat hy ook baie gespanne is. Hy leun effens vorentoe in sy stoel en sy lang, skraal vingers is inmekaar gestrengel sodat sy kneukels wit deurskyn. Hy voel haar oë op hom en hy kyk vinnig na haar en sy sien hoe hy doelbewus ontspan.
“Onthou een ding,” sê hy strammerig. “Dit sal nie die eerste keer wees dat ék in so ’n toneel speel nie. En dit bly steeds moeilik.”
“Jy spot seker,” sê sy ongelowig.
“Nee. Dis die waarheid,” ondersteun Henri hom. “Robert het al in vurige omhelsings beland, maar enigeen kon sien dat hy dit baie teësinnig doen. Langtand, sou ek sê. Het jy nog nie van sy vorige rolprente gesien nie?”
“Nee,” erken sy. “Net een.” Sy noem die naam van die rolprent. “Ek is nie ’n groot fliekganger nie.”
“Ek weet,” sê Henri. “Jy is ’n skryfster.” Hy gaan sit weer en steek sy pyp aan nadat hy die dooie as uitgekrap het. “Ek het julle twee saamgenooi vir hierdie naweek in die hoop dat julle gemoedeliker met mekaar sal raak. Ek wil nie twee vreemdelinge teenoor mekaar hê in daardie laaste toneel nie.”
“Dit gaan Roy en Anne wees wat daardie toneel speel,” herinner Elize hom vinnig. “Dis wat jy nog heeltyd vir my sê.”
“Julle argumenteer in sirkels,” maan Lucy. “Wanneer die tyd aanbreek vir daardie laaste toneel, sal daar nie probleme wees nie. Moenie probleme agter die bult gaan haal nie.”
“Ek weet nie,” sug Elize. “Ek sal my seker maar moet opdrink, soos my ma se bediende altyd gesê het voordat sy ’n moeilike taak moes aanpak.”
Dit laat almal lag en Elize verduidelik hoe dit al ’n familiegesegde geword het en dat dit nie noodwendig beteken dat iemand letterlik dronk word nie.
“Nee, maar dis goed dat jy my betyds gewaarsku het,” lag Henri. “Ek sal sorg dat daar baie sjampanje rondstaan. Sal sjampanje reg wees?”
Hulle skerts en gesels nog ’n ruk totdat Lucy opstaan om te gaan slaap. Sy bring ’n arm vol komberse en kussings en Robert help haar om die divan op te maak. Elize staan skewerig op en loop mank na die venster. Die maan het opgekom en skyn in ’n silwer streep oor die meer. Daar is geen wind buite nie en die punte van die dennebome is blink gesproei deur maanlig. Sy verwens haar seer voet en wens sy kon nou ’n entjie gaan stap het, of sommer net onder ’n boom gaan sit het en kyk na die sprokiestoneel daar buite.
“Elize,” hoor sy Robert se stem en sy draai weg van die venster en kyk na hom. Henri en Lucy is reeds kamer toe, besef sy en raak verleë, maar Robert se intense oë hou hare teen wil en dank gevange. “Kom hier.”
Soos ’n slaapwandelaar draai sy weg en stap na hom totdat sy voor hom bly staan. Hy lig sy hand op en raak saggies aan haar wang. Die lamp is laag gedraai en die kamer lê gebaai in die stil maanlig. Dis asof sy betower is, asof sy deur ’n mag vasgehou word waarteen sy geen verweer het nie. Sy lig haar hand ook op en hou dit teen sy wang. Hy trek haar saggies nader en soen haar – nie hartstogtelik nie; sy lippe raak net aan hare en toe beweeg sy hand af teen haar nek. Sy hou haar asem op, maar hy lig sy kop op en tree weg van haar.
“Sien jy,” sê hy baie sag, “dit is eintlik baie maklik.”
Haar oë sper wyd en sy snak na asem. “Is jy . . . is jy net besig om te oefen?” vra sy en haar stem is rou van die skok.
Hy draai van haar weg en buk om sy sigarette op te tel. Sy hare val oor sy voorkop sodat sy nie sy oë kan sien nie.
“Nee,” sê hy en skielik klink hy baie moeg. “Ek oefen nie. Dis laat. Ons moet seker nou gaan slaap.”
Sy draai weg en stap so vinnig na haar kamer as wat haar seer voet toelaat. Toe sy die deur agter haar toedruk, begin die trane loop. Sy gooi haar neer op die bont laslappiedeken en druk haar kop in die kussing. Hoe durf hy so met haar speel?
Wat wil hy dan hê, wonder sy vir die hoeveelste maal. Haat hy haar of hou hy van haar? Is sy maar net vanaand die enigste beskikbare meisie omdat die rooikop nie teenwoordig is nie? Die enigste ding waarvan sy seker is, is dat Robert Ryan die enigste man is oor wie sy nog ooit so gevoel het. Haar gevoel vir Charles was broederlik en onskuldig in vergelyking met hierdie hewige liefde.
Sy sit regop op die bed en druk haar hand oor haar mond. Liefde? Wie het gepraat van liefde? Hoe kan sy so iets erken? Sy verwens Henri en Lucy wat die naweek bederf het deur Robert ook te nooi, maar terselfdertyd weet sy dat sy ook half bly is dat hy wel gekom het. Sy is so totaal verward oor alles dat sy glad nie kan slaap nie en nadat sy opgehou huil het, staan sy versigtig op en loop kombuis toe.
Die hele huis is nou stil en donker; sy maak die agterdeur versigtig oop en loop hinkende om die huis na die groot boom waaronder ’n klein houttafeltjie en bankies gebou is. Daar gaan sy sit en staar oor die donker bome en die verligte meer.
Hoe lank sy daar gesit het, weet sy nie, maar mettertyd raak sy kalmer en laat haar hart leegloop van die baie botsende emosies.
“Kan jy ook nie slaap nie?” vra Robert skielik langs haar en sy sien die gloeiende kooltjie van sy sigaret in die donker.
Sy is nie verbaas om hom te sien nie – dis amper asof sy hom verwag het. “Ja,” sê sy kalm en beheers. “Ek wou ’n bietjie buite kom sit. Dis so mooi.”
Hy sit op die bankie oorkant haar. “Ja, is dit nie pragtig nie? So is die uitsig van die stoep van my huis af. Daar is darem nie