Christine le Roux Omnibus 4. Christine le Roux
rus.”
“Seker, seker,” sê hy en begin vroetel met sy kamera. “Gee u om as ek gou ’n paar foto’s neem?”
Sy poseer geduldig alhoewel sy die hele proses haat. Maar uiteindelik is die man klaar en neem hy vriendelik afskeid.
“Ek het nou ’n onderhoud met Robert Ryan,” sê hy vir haar net voordat hy loop.
Elize kry ’n hol kol op haar maag. Sê nou Robert vertel hierdie skepseltjie van hulle skielike troue? Nee, hy sal nie! Hy dúrf nie!
Sy was van plan om die aand in haar kamer te bly, maar Henri lui van onder af en vra haar om asseblief af te kom.
“Is dit ’n bevel?” vra sy ongelukkig.
Hy lag. “Nee. Sal jy kom?”
“Ja,” sê sy en begin gereed maak om af te gaan.
Sy kyk na haarself in die spieël. Die netjiese rok wat sy aangetrek het vir die onderhoud, grief haar nou. En tussen al die verwarde gedagtes en ongelukkigheid is daar ’n vreemde gevoel in haar. As sy nie beter geweet het nie, sou sy gesê het dit is hoop. Waarvandaan dit kom, weet sy nie, maar sy weet wel dat sy ’n onverklaarbare begeerte het om vanaand mooi te lyk.
Sy trek ’n wit rok aan wat sy nog nooit gedra het nie. Dis van dun, sagte materiaal gemaak en het lang moue en ’n hoë, ronde nek. Dit is die vroulikste rok wat sy besit en terwyl haar hande oor die fyn opnaaiseltjies op die bostuk streel, weet sy dat sy mooi lyk; baie mooi.
En vir wie maak jy jou so mooi? wonder sy bitter. Toe sy die sitkamer binnestap, sit Robert by Henri soos sy heimlik gehoop het. Sy oë rek toe hy haar sien, maar hy sê niks, terwyl Henri haar komplimenteer oor haar voorkoms.
“Dankie,” sê sy net.
“Is dit vandag ’n spesiale geleentheid?” vra Henri toe hy weer gaan sit. “Jou verjaardag of iets?”
“Nee,” sê sy senuagtig, “dis geen spesiale geleentheid nie.”
Sy sien ’n flikkering in Robert se donker oë, maar hy buk af om ’n sigaret aan te steek en vermy haar oë.
“Waar is daardie man met sy kamera nou?” sê-vra Henri spytig. “Hy sal mos pragtige foto’s van julle kan neem.”
“Nee,” sê sy vinnig. “Hy het klaar ’n hele spul foto’s geneem.”
Maar asof die mannetjie hulle gehoor het, verskyn hy van agter ’n potplant en staan nader. Robert lyk moedeloos en sy wonder bitter of sy onderhoud ook so vervelig was. Maar Henri, die regisseur, wil nou mooi foto’s van sy spelers hê en beduie hoe hulle moet staan. Robert moet agter haar staan, of op die leuning van haar stoel sit. Terwyl hy beduie, flits die man se kamera sodat haar kop daarvan draai.
“Ons troufoto’s!” murmel Robert sag teen haar oor en sy kyk bitter na hom.
“Jy het nie vir iemand gesê nie?” vra sy.
“Nee,” fluister hy terug. “Maar glo my, die landdros weet wie ons is en jy het hóm nie tot stilswye gemaan nie.”
“Hou op met die gefluister,” sê Henri. “Kyk op en lyk gelukkig.”
Gelukkig is die man gou klaar en draf deur die groot glasdeure van die hotel asof hy nie vinnig genoeg by sy base en die ontwikkelingslaboratorium kan kom nie.
“Jy het hom gelukkig gemaak,” sê Robert sinies. “Uit my het hy nie veel gekry nie en ek was ook nie lus vir foto’s nie.”
“Jy kon nog nooit met die pers klaarkom nie,” betig Henri hom. “Dis ’n wonder dat jy altyd sulke goeie resensies kry. Die pers kan nogal gemeen wees wanneer hulle voel jy speel nie saam nie.”
“Ek sien nie wat my privaat lewe met ander mense te doen het nie,” sê hy onverstoord. “Net omdat ek in rolprente speel, beteken dit nie dat almal nou mag weet watter naskeermiddel ek gebruik en of ek van pap of ontbytvlokkies hou nie. Hulle kan na die rolprent kyk en my spel beoordeel. Dis al.”
Elize stem heelhartig met hom saam, maar sy sê dit nie. Sy kyk net vraend na Henri. Waarom wou hy haar hier hê?
“Ja,” sê hy dan asof hy haar gedagtes kon raai, “daar is ’n paar goed om te bespreek. Ons begin môre repeteer aan die laaste toneel. En êrens moet ons ’n fotosessie inpas van jou, Elize.”
“Watse fotosessie?”
“Ek wil hê jy moet net in die woonstel ronddwaal, jou hare borsel, koffie maak – daardie soort van ding – en ons sal jou afneem.”
“Hoekom?”
“Dis deel van die karakterskepping van Anne. Maar oor ’n week behoort julle klaar te wees. Dan lê my werk voor; die redigering en aanmekaarsit van die rolprent.”
“Henri,” sê sy en sit vorentoe. “Jy het vir my gesê dat die laaste toneel sonder klank opgeneem word, maar dat die temamusiek daarin sal uitbou tot die uiteindelike klimaks.”
“Dis reg?” sê hy vraend.
“Het jy die musiek?”
“Ja, ek het dit al gehoor en ek het sommer ’n klein kasset met die musiek daarop saamgebring. Hoekom?”
“Ek het net gewonder . . . Jy sien, ek vind musiek baie inspirerend, meeslepend, en ek het gedink as jy die musiek speel terwyl ons die toneel doen, dit dalk makliker sal wees.” Sy kyk na hom met ’n fronsende uitdrukking op haar gesig. “Verstaan jy wat ek bedoel? Wanneer ek skryf, speel ek byvoorbeeld dikwels musiek en dis asof alles makliker loskom.”
“Natuurlik,” sê hy bly. “Ons kan dit doen.”
“Moet dit die temamusiek wees?” vra Robert. “Henri het al grepe daarvan vir my gespeel en dis onbekend. Dit roer my nie eintlik nie, omdat ek dit nie ken nie. Ons kan mos enige musiek speel?”
“Ja,” sê sy en kyk weg. “Dis selfs ’n beter plan.”
“Besluit julle watse musiek julle wil hê en ons sal dit speel,” sê Henri gemoedelik en staan op toe Lucy by hulle aansluit.
“Maar jy lyk pragtig!” sê Lucy vir Elize. “Ons is al so gewoond om jou in slenterbroek en bloese te sien. Jy lyk soos ’n bruid, dink jy nie ook so nie, Robert?”
Elize krimp inmekaar, maar Robert knik net. ’n Ruk daarna staan hulle op om te gaan eet. Vir die eerste keer in ’n lang tyd het Elize geen aptyt nie en sit en peusel aan haar kos. Sy wens Noag was nog hier sodat sy en hy ’n lang ent kon gaan stap, maar dit was te moeilik in die hotel met die hond en sy het hom saam met Lucy teruggestuur sodat die kinders hom kan oppas.
“Jy eet dan nie,” sê Henri.
“Ek is nie honger nie.”
“Wil jy ’n bietjie wyn hê?”
“Nee dankie,” sê sy beslis.
“Sjampanje?” vra Robert met ’n vreemde lig in sy oë.
Sy gluur hom aan. “Nee dankie. Ek háát sjampanje!”
“O my tyd,” lag Henri. “Ek het skoon vergeet dat ons jou moes vol gooi met sjampanje voor die laaste toneel.”
“Dit was net ’n grap,” sê sy haastig. “Ek het dit nie bedoel nie.”
“Ek sou dit ook nie aanraai nie,” verseker Robert hulle. “Ek het
al gesien wat gebeur wanneer sy sjampanje drink. Dis beter om haar weg te hou van die goed.”
Sy staar na hom. Wat probeer hy nou sê? Dat dit alles háár skuld is net omdat sy twee glase sjampanje gedrink het? Sy wens die ete is verby sodat sy kan gaan slaap. Die dubbelspel is besig om haar te verlam.
Toe sy die volgende oggend wakker word, lê sy ’n oomblik stil en wonder waarom sy so anders voel. Dan onthou sy van die troue en sy sit vervaard regop. Het dit regtig gebeur? Is sy en Robert regtig gistermiddag getroud?