Christine le Roux Omnibus 4. Christine le Roux
is. Miskien kan jy eendag kom kyk hoe dit lyk.”
Sy kyk verras na hom, maar sy gesig is in die skaduwee en sy kan nie die uitdrukking daarop lees nie. “Ek sou graag wou,” sê sy opreg, “maar ek gaan huis toe wanneer die rolprent klaar is. Miskien kom ek eendag weer kuier; ’n mens weet nooit.”
Hy antwoord nie en sy kan sien dat hy ook afstaar na die meer.
“Kan ek ’n sigaret kry?” vra sy skielik.
Hy staan op en hou die pakkie na haar uit. “Ek het nie geweet jy rook nie?”
“Net soms.”
Sy kan nie vir hom sê dat sy net rook wanneer sy so verward is dat sy nie weet wat anders om te doen nie.
Hy steek dit vir haar aan en gaan sit toe weer. “Is dit nie mooi hoe die maanlig die toppe van die bome versilwer nie?” vra hy.
Sy knik.
Hy draai na haar en gee ’n laggie. “Jou kop ook,” sê hy stil. “Dit lyk asof jy ’n silwer mussie ophet.” En net so vinnig verander sy stemming en vra hy tergend: “Het jy natuurlike blonde hare?”
“Ja,” sê sy verontwaardig. “Het jy natuurlike donker hare?”
“Goed,” lag hy. “Ek het daarvoor gesoek. Ja, my hare is maar hierdie kleur sedert my tienerjare. Toe ek klein was, was dit spierwit.”
Sy glimlag en probeer die klein witkopseuntjie vir haar voorstel.
“Jy kan my nie verkwalik nie,” gaan hy voort. “Daar is baie min meisies wat rondloop met hulle natuurlike haarkleur.”
“Ek weet, ja. Maar ek verseker jou, alles wat ek het, is myne en ek is daarmee gebore. Niks kom uit ’n bottel uit nie.”
Hulle gesels nog ’n rukkie, maar toe word sy vaak en hy stap saam met haar terug en sluit al die deure. Net voordat sy na haar kamer gaan, steek hy sy hand uit en keer haar.
“Ek is jammer oor vroeër,” sê hy sag. “Jy weet ek het dit nie so bedoel nie.”
Sy knik net. “Kom ons vergeet daarvan. Lekker slaap, hoor.”
Goed, dink sy, voordat sy aan die slaap raak, hy het dit nie bedoel nie. Wát het hy nie bedoel nie – om my te soen, om met my te spot, om te oefen, wát?
Die volgende oggend is haar voet baie beter en alhoewel sy nie saam met almal afloop na die meer om te gaan swem nie, geniet sy tog die dag. Sy loop onder die bome deur, help Lucy om slaai te maak vir middagete en asem net die vars lug in omdat sy weet dat hulle weer die middag moet teruggaan.
Toe almal uitasem van die klim weer bo is, maak die mans vuur en almal sit op die gras en dennenaalde rond terwyl die vleis braai. Robert bring vir Elize ’n koeldrank en kom sit langs haar.
“Was die water weer so koud?” vra sy.
“Ja, maar dis verfrissend. Wat het jy gedoen?”
“Ag, hier rondgeloop; vir Lucy gehelp; niks besonders nie.”
“Maar jy het baie kleur in jou wange,” terg Henri waar hy staan en vleis omdraai. “En dié keer is dit seker nie van ’n stekelrige baard nie.”
Sy bloos bloedrooi en die kinders wil almal weet waarna hulle pa verwys sodat Henri die hele storie moet vertel.
“Ja, Pa kan lekker lag,” kom Loni tot Elize se redding. “Ek onthou toe ek klein was en Pa se stoppels my altyd so gekrap het. Dis deksels seer.”
Elize kyk dankbaar na haar en Robert lyk vir ’n wonder ook verleë.
“Maar sien,” gaan Loni voort, “dis waarom ek sê ek wil niks met rolprente te doen hê nie. Net oor ’n mens ’n aktrise is, moet jy jou wange laat krap deur ’n vreemde man.” Sy kyk verskonend na Robert. “Nie dat jy ’n vreemde man is nie, hoor! Maar jy weet wat ek bedoel. Jy kan maar enige tyd my wange krap!”
Dit laat almal weer lag en dan kondig Henri aan dat die vleis gereed is en dat hulle maar kan inskep. Dis stil terwyl almal eet en Lucy lyk moederlik tevrede dat almal gesond en gelukkig en aan die eet is. Toe hulle later begin opruim en die kinders langtand gereed maak om in te pak en toe te sluit, help Elize vir Henri en hy kyk na haar met ’n ondeunde blik in sy oë.
“Ek is baie bly om te sien dat my onwillige spelers darem nou so goed klaarkom.”
“Onwillige spelers?” vra sy met geligte wenkbroue. “Ek dog ek is die enigste een.”
“O nee,” sê hy, “as jy dink ek moes hard aan jou arbei om jou te laat instem, is dit niks in vergelyking met hoe hard ek aan Robert moes werk nie!”
“Ek het dit nie geweet nie,” sê sy. “Ek bedoel, ek weet hy speel nie dikwels nie, maar ek het nie geweet jy moes so hard aan hom arbei nie. En mag ek vra hoe jy hom oorreed het?”
“Nee,” sê Henri, “dis my geheim.”
Hulle pak in en teen vieruur is alles in die motor gelaai en is hulle reg om te ry. Henri kyk na Robert se leë motor en toe na Elize, maar voordat hy enige voorstelle kan maak, vra Jack of hy saam met Robert kan ry.
“Die vroumense maak so ’n geraas in die motor,” voeg hy by.
Robert lag en wys dat hy moet inklim, maar Elize sien dat hy teleurgesteld lyk. Sy klim doelgerig agterin Henri se stasiewa en kyk nie weer na Robert totdat hulle gery het nie. As hy wou hê sy moes saam met hom ry, moes hy so gesê het, besluit sy beslis. Dis tyd dat hy begin duidelik maak hoe hy oor dinge voel; oor háár voel. Sy kan nie langer staatmaak op die teenstrydige dinge wat hy sê en doen nie. Een oomblik dink sy hy voel iets vir haar en die volgende oomblik is sy oortuig dat sy maar net een van sy duisende vriendinne is.
Dit is een van die dinge wat haar gedurig omkrap. As sy nie by hierdie gekkespul van rolprente betrokke was nie, sou sy nie so bewus gewees het van akteurs en hulle bewonderaars nie. En sy sterf voordat hy moet dink sy is verlief op hom!
En tog, een oomblik is sy sielsgelukkig omdat sy saam met hom is en die volgende oomblik betwyfel sy alles wat hy sê en doen. As hy van haar hou, waarom sê hy nie so nie? Waarom raak hy aan haar en trek dan weer weg? Waarom is hy nou liefdevol en teer en vyf minute later neutraal of selfs vyandig?
Sy weet nie. Sy kyk maar by die venster uit en sien hoe die landskap weer gelyk word en die berge deur die agterste ruit vervaag. Hef aan lê nog voor, dink sy skielik bedruk. Nou lê nog net die laaste en moeilikste skof voor en dan kan sy huis toe gaan, weg van al die kwellinge.
Hoofstuk sewe
Twee weke later is die rolprent voltooi, afgesien van die gevreesde laaste toneel. Die spelers van kleiner rolle maak gereed om te vertrek en Elize beny hulle met haar hele hart. Nog net ’n week, nog net ’n paar dae, dan kan sy ook huis toe gaan! Sy sal eers terug Los Angeles toe moet gaan om haar huur op te sê en al haar goed gepak te kry; dan gaan sy terug Suid-Afrika toe. Sy het Nanette al gebel en hulle het opgewonde gepraat van biltong en droëwors en lang aande van gesels. Elize wens net sy kan nou reeds daarna uitsien sonder dat haar gedagtes altyd struikel oor die laaste toneel.
Sy het dit vir haarself probeer ontleed. Waarom is sy so teësinnig? Sy wil nie in ’n liefdestoneel speel nie en sy wil dit veral nie teenoor Robert speel nie. Sy twyfel nie meer daaraan dat sy hom liefhet soos sy geen mens nog ooit liefgehad het nie. Sy wil by hom wees, sy wil deel van hom wees, maar sy wil nie kammatonele voor ’n ongenaakbare kameraoog speel nie. As sy kon weet of Robert vir haar ook iets voel, sou dit makliker gewees het, reken sy, maar sy is al so deurmekaar dat sy nie meer weet wat om te sê of te doen nie!
Die middag voordat hulle die laaste toneel repeteer, is sy en Robert albei vry. Henri skiet ’n paar laaste buitetonele en gebied hulle om te ontspan of te gaan swem. Robert sit en gesels met een van die ander akteurs met wie hy bevriend geraak het en Helen sluit by hulle aan. Elize sit na hulle en kyk en voel lus om haar naels te byt, maar die twee buitestanders is albei in ’n baie goeie luim omdat hulle huis toe kan gaan.
“Kom ons doen