Die afreis van Abel Lotz. Chris Karsten
rand vir elke naamsverandering. Jy wag tot dit in die Government Gazette gepubliseer word, en dis al.”
“Nommer twee: nuwe identiteitsboekie vir my nuwe naam.”
“Vorm B1-9.”
“En een vir my bruid.”
“Jy gaan trou? Kan ons daarop klink, met nog ’n Chivas?” Meneer Heilbron se vinger tik op die rand van sy leë glas.
Die tong raak losser, dink Jake, wink die kelner nader. “My bruid kan nie ’n ID-boek kry sonder ’n huweliksertifikaat nie.”
“Vorm B1-27.”
“Fokkit, meneer Heilbron, jy ken jou vorms, nè!”
“Ek’s nie ’n priester nie, maar ek kan julle trou, sommer in my kantoor. Ek’s gesertifiseer vir huweliksbevestigings, ingevolge wet 25 van 1961. Die huweliksertifikaat is gratis.”
“Reg,” sê Jake. Hy leun oor, elmboë op die tafel. “Die vierde ding . . .” Hy swyg toe die kelner die Chivas bring, espresso vir Jake.
“Die vierde ding is die paspoorte, vir my en my bruid.”
“Ek sien jy’t dit mooi uitgewerk, stap vir stap, die een ’n vereiste vir die volgende een. Jy kan dit alles maklik doen, deur die normale kanale, hoekom my betrek?”
“Dis wat Wasim se vriend se advies was: as die normale kanale nie werk nie, gaan sien vir meneer Heilbron. Wel, die normale kanale werk nie vir ál die stappe nie. Die verandering van my naam en van is nie ’n probleem nie. Ook nie my nuwe ID-boek nie.”
“Jy’s nie meer tevrede om Jake Diamond te wees nie? Wat’s dit in elk geval, Diamond? Joods?”
“Jip, Joods.”
“Boerejood, dis hoekom jy Afrikaans praat? Wat wil jy nou word, Van der Merwe?”
Jake skud sy kop. “Yusuf.”
Meneer Heilbron frons. “Yusuf? ’n Boertjie met Joodse bloed wil Yusuf word?”
“Ek’t ’n epifanie oor ’n bekering gehad.”
“En jou bruid?”
“Dis die ánder probleem, hoekom ek nie die normale kanale kan volg nie,” sê Jake, merk nou vir Joe, fotograaf van die Rekord, kamera om die nek in die straat tussen die geparkeerde karre, lang telefotolens op hulle tafel gerig. Tafel 12 op die Moosehead se patio, het hy vir Joe gesê, maar moenie dat die man jou met die kamera opmerk nie. Neem steelfoto’s, duidelike een van sy gesig. En moenie rondslenter met die kamera nie, neem die foto’s en gee pad.
“Nog ’n Chivas, meneer Heilbron?” Moet sy aandag wegkry van Joe se kamera. “Ja, dankie. Die ánder probleem?”
“My bruid,” sê Jake. “Fauzia . . . beeldskoon.”
“Fauzia? Ook bekeer?”
“Nee, dis haar regte naam.”
“Ek kan nie sien wat die probleem is nie.”
“Die probleem is Fauzia is van Rawalpindi.”
Dít laat die ratte in meneer Heilbron se kop knars, sien Jake, die frons terug, oë stip gefokus.
“Jy bedoel Pakistan?”
“Einste. Is dit ’n probleem, as die liefde g’n grense ken nie?”
“Kán ’n probleem wees. Maar nie onoorkomelik nie. Is dit liefde, ek bedoel wáre liefde wat jy en jou bruid vir mekaar voel? Of . . .”
“’n Gerieflikheidstroue, is dit wat jy dink? Hel, meneer Heilbron, die jare stap aan, ek’s nie meer ’n piepkuiken nie, en dis my eerste bruid. Die eerste keer dat ek só oor ’n vrou voel, bereid is om my hele lewe te verander, selfs my naam. Ja, ek glo dis liefde.”
“Hoe’t jy haar ontmoet, was jy in Pakistan?”
“Nee, sy’s hier met vakansie by familie, by die Khans. Wasim, jy weet, hy’t my aan haar voorgestel, dis sy niggie.”
“Jy’t die skoot hoog deur, nè?” sê meneer Heilbron.
“Sal jy dit kan doen?”
“Trousertifikaat, ID én paspoort vir jou bruid uit Pakistan? Dis ’n bekvol, meneer Diamond.”
“Jake. Noem my Jake, dis soos sy my ook noem, voor ek Yusuf word.”
“Ek weet nou omtrent als van jou persoonlike lewe, Jake, maar wat’s jou nering?”
Hy het hierdie vraag verwag. “Jy bedoel jy wil weet of ek ’n largesse kan bekostig vir al jou moeite? Ek’s in die juweliersbesigheid. Het ek genoem dat my oupa op die delwerye was? My oupa Judel.”
Hy moet dringend by ’n toilet uitkom, maar die gesprek het ’n kritieke punt bereik.
“My oupa se nering was diamante en goud. Indië is die grootste goudmark in die wêreld, onversadigbaar, hulle vrek oor bling daar . . . Bollywood-aktrises, krieketspelers met goue kettings om die nek.” Jake wag dat dit insink, sê: “Die familiebesigheid is nou in my hande. Ek sê vir Wasim die dag as ek en Fauzia van ons Karibiese wittebrood terugkom, bou ek vir hulle ’n splinternuwe moskee in Fordsburg. Hy kan solank die planne laat optrek, ses minarette, maak nie saak wat dit kos nie – natuurlik ás meneer Heilbron kan help. Waaroor ek twyfel.”
Die man staar na hom en Jake wonder of hy die pap ’n bietjie dik aanmaak. Hy hoop Joe het goeie foto’s gekry, inkriminerend van meneer Blinkstefaans Heilbron wat besig is om sy eie korrupsiegraf te grou.
“Luister, Jake,” sê meneer Heilbron hartliker, “natuurlik kan ek julle help, vir jou en Fauzia. Ek’s die toesighouer, alles gaan deur my hande, al daardie dokumente vir jou en jou bruid. Verstaan wat ek bedoel?”
“Kan jy dit doen, meneer Heilbron? Dis nie gevaarlik nie? Ek wil nie in die moeilikheid kom nie.” Jake leun gretig oor die tafel, vir die sensitiewe mikrofoon van die opnemer in sy hempsak.
Dan merk hy uit die hoek van sy oog die twee mans wat ’n groot, swart BMW X5 staan en beskou. Sonbrille op, een met ’n kadot soos ’n fes, die ander ’n pet, tuit laag oor sy voorkop. Die een met die pet het ’n sel in die hand.
“Ek weet wat ek doen, dis nie die eerste keer nie,” sê meneer Heilbron. “Maar dit sal jou kos, ek’s nie goedkoop nie, het ander om te betaal met die lyn af, niemand kan so iets alleen doen nie. Die . . . uhm . . . largesse vir alles is tagtig duisend.”
Hét hom!
“Wat?” sê Jake. “Tagtig duisend?”
“Helfte met bestelling, balans met aflewering.”
“Hoe lank?”
“Ses weke.”
“Niks gouer nie?”
“Ek’s toegegooi. Bestellings uit die hele Afrika, ook baie klante uit Pakistan. Hoe oud is jou bruid? Ek hoop ouer as agtien, anders . . .”
“Vat jy ’n tjek?” Tussen die voetgangers op die sypaadjie merk Jake weer die twee mans, kom aangestap met hulle sonbrille en hoede, swenk in die heupe.
“G’n tjeks nie, streng kontant. Laat weet wanneer jy die deposito wil betaal, veertig duisend in note.”
Die twee mans staan nou by ’n straatsmous, bekyk die snuisterye van hout, draad en sweiswerk: maskers en reiers en tarentale, kameelperde en ape.
“Ek moet toilet toe gaan, kan nie meer knyp nie.” Jake staan op.
“Sal ek nog ietsie bestel?”
“Natuurlik. Espresso vir my.”
Jake stap tussen die patiotafels deur, die meeste nog beset. Vrydag se lang middagete, al word nou net gedrink. Dis al drie-uur en lekker sonnig, die kwik by die dertig grade, skat hy.
Hy